EFÉSIËRS 3 en 4

A. DIE REGTE PERSPEKTIEF OP PAULUS SE LYDING

3:1-13

  1. Paulus wil hê die Efesiërs moet verstaan dat die rede waarom hy so baie ly, is omdat hy ‘n uitsonderlike bedreiging vir die koninkryk van die duisternis is, omdat hy uitverkies is om God se boodskapper te wees, van boodskap wat hy deur bonatuurlike openbaring ontvang het, wat hom ‘n sonderlike insig gee in die misterie van die verlossing van die heidene.
  2. Dit moet ook hulle laat besef hoe kosbaar hulle vir God is om ontvangers van hierdie besondere genade te wees. Hulle behoort eerder vereerd in plaas van moedeloos te voel omdat hulle verdruk word (3:13).
  3. Aangaande hom, die boodskapper: hy is nie gekies vanweë sy uitnemendheid nie, inteendeel, hy was die geringste van al die heiliges (omdat hy die Liggaam van Christus tevore vervolg het); dit was God se genade om hom desnieteenstaande sy verlede so te vereer en te bemagtig.
  4. Aangaande die boodskap:
    1. Gedurende die eeue wat verby is, is dit nie so duidelik aan die mensdom geopenbaar soos nou nie; trouens, dit was geheim gehou.
    2. Nou is die geheim onthul (veral deur die openbaring wat aan Paulus gegee is) en word dit deur die Heilige Gees aan al God se heilige apostels en profete bevestig. (3:5)
    3. Dit is die Evangelie (Goeie Nuus) wat behels dat die heidene mede-erfgename is van die oneindige rykdom van Christus en mede-lede van sy liggaam vanweë die beloftes wat God in Hom gemaak het (3:6).
    4. Die bewaarheiding van hierdie geheimenis, dat Jood en nie-Jood gelyk is voor God en een word in Christus, kan gesien word in die samestelling van die gemeentes van gelowiges en getuig selfs teenoor die engeleskares van God se oneindige wysheid (3:10).
    5. Dit verleen dan ook aan beide Jood en nie-Jood vrymoedigheid om God se troon te nader deur geloof in Een en dieselfde Christus, Jesus.

 B. PAULUS SE GEBED DAT DIE EFESIËRS HIERDIE WAARHEDE VOLLEDIG SAL BEGRYP

 3:14-21

  1. Sy gebed:
    1. Hy bid tot God die Vader met geboë knieë (in groot eerbied en opregtheid.) (3:14).
    2. Hy bid met die diepe besef dat sy versoek alleen vanweë Christus is, na wie se Naam elke geslag genoem sal word (3:14,15).
    3. Hy bid dat die Heilige Gees hulle gees mag bekragtig tot die volheid van die rykdom van die Vader sodat (3:16):
      1. Hulle geloof so sterk mag wees dat dit hulle in staat sal stel om hulle lewens heeltemal oop te maak sodat Christus in hulle tuis kan wees (3:17).
      2. Hulle, nadat hulle liefde as die basis van hulle nuwe lewens ontvang het, voortdurend kan vooruitgaan om te verstaan wat liefde werklik is, totdat hulle die liefde van Christus ten volle begryp; die liefde wat nimmereindigend (oneindig) is en  in alle rigtings uitstrek (3:18). Hierdie hartskennis van liefde oorskadu blote verstandskennis algeheel en lei daartoe dat ‘n persoon geestelik vervul word tot al die volheid van God.
  1. Sy doksologie (lofprysing):

Nadat Paulus sy versoek vir die Efesiërs aan God voorgelê het, prys hy Hom nou deur:

    1. Sy vertroue in Hom uit te spreek dat Hy die mag het om ver bo wat ons bid of dink, te doen, weens die krag van die Heilige Gees wat in ons werk (3:20).
    2. Sy oortuiging uit te spreek dat God die Vader, in Christus Jesus, in sy aardse gemeente verheerlik sal word deur alle geslagte heen en tot in alle ewigheid (3:21).

 C. EENHEID BINNE DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS

 4:1-16

  1. Kweek van eenheid:
    1. Soos God sy begeerte vir eenheid van sy volk gedemonstreer het deur Jood en nie-Jood te verenig, is dit sy begeerte dat eenheid onder lede in die liggaam oral moet heers.
    2. ’n Gemeente wat saamstaan, sal die agting van die gemeenskap geniet, terwyl een wat deur faksies verskeurd is, geminag sal word (4:1).
    3. Sommige bestanddele van die resep vir die kweek van eenheid, is die volgende: nederigheid, sagmoedigheid, geduld, innerlike vrede en die verdra van mekaar se foute omdat die lede mekaar liefhet (4:2).
    4. Eenheid slaan nie vanself op nie, maar moet volhardend soos ‘n brose plant gekweek word (4:3).
  2. Eenheid soos gesien in geestelike Liggaamstruktuur :
    1. Een Liggaam (4:4).
    2. Een Here (Jesus Christus) (4:5).
    3. Een (Heilige) Gees (4:4).
    4. Een God en Vader van almal, oor almal, deur almal en in almal (4:6).
    5. Een hoop (om te sien hoe al God se beloftes in elke gelowige vervul word) (4:4).
    6. Een geloof (in die Vader, die Seun en die Heilige Gees) (4:4-6).
    7. Een doop (in die Liggaam van Christus) (4:5).
  3. Eenheid groei na mate lede volwasse word
    1. Lede word volwasse wanneer hulle in God se waarhede onderrig word (4:12).
    2. Die mensdom het sulke onderrig ontvang toe Jesus na die aarde neergedaal en God en die voorskrifte van sy Koninkryk deur Hom aan hulle geopenbaar het.
    3. Jesus se offerdood en daaropvolgende oorwinnende opstanding het onbeperkte skatte vir die groei van sy Liggaam ontsluit (4:8).
    4. Hy het na die hemel opgevaar sodat Hy, as Hoof van die Liggaam, van daar af die hele verlossingsproses kon rig en dit tot finale volheid kan bring (4:9,16).
    5. Een van die maatreëls wat Hy vervolgens ingestel het om groei te bewerkstellig, was om sy Liggaam te voorsien van ampsdraers wat met verskillende vermoëns toegerus is, sodat hulle sy Liggaam kon onderrig en opbou (4:11).
    6. Die volgende is die bedieninge wat Hy as gawes aan sy Kerk vir hierdie doel voorsien het (4:11):
      1. Apostels
      2. Profete
      3. Evangeliste
      4. Pastore (Herders)
      5. Leraars van die Woord.
    7. Sy bedoeling was dat sy heiliges sou groei tot (4:13):
      1. Eenheid van geloof (een en dieselfde begrip van God se waarhede).
      2. Eenheid in hul feitelike en ervaringskennis van Christus.
      3. Geestelik mans (en vroue) van die volle gestalte van Christus.
    8. Dit sou die teenoorgestelde wees van ‘n dwerg-, onvolwasse, verdeelde, ontwrigde Liggaam waarvan die lede onseker is oor wat om te glo en maklik gemanipuleer word deur listige, valse mense, soos (4:14):
      1. Golwe van die see wat geen eie rigting het nie, of,
      2. Klein kindertjies wat geen diep oortuigings van reg en verkeerd het nie en maklik oorreed word om die wil te doen van die persoon onder wie se invloed hulle beland.
    9. Die volwasse Liggaam, aan die ander kant, put krag uit die ondersteuning van die individuele lede, wat elkeen sy unieke rol speel om die beoogde eenheid te bewerkstellig (4:16).
    10. (Verse 8-10 word deur verskillende Skrif studente soos volg geïnterpreteer:
      1. Dat Christus na die doderyk neergedaal, die Evangelie van verlossing aan sommige van die gevangenes verkondig, diegene wat tot geloof gekom, vrygelaat en dat hulle toe saam met Hom na die hemel opgevaar het – daar is nie veel bewyse in die res van die Skrif om hierdie siening te ondersteun nie.)
      2. Dat Hy na die aarde neergedaal en dat die gelowiges wat uit hulle grafte opgestaan toe Hy opgestaan, saam met Hom na die hemel opgevaar het.)
      3. Dat Hy na die aarde, wat baie laag in heerlikheid is, in vergelyking met die hemel, neergedaal het.
      4. Miskien moes ons eerder volstaan deur te sê dat die betekenis van hierdie teksgedeeltes nie duidelik is nie.)

 D. DIE CHRISTELIKE LEWENSWANDEL IN KONTRAS MET DIE HEIDENSE LEWENSWYSE (Deel 1)

4:17-32

Die volgende kontrastering word gegee ten einde die gemeente tot groter oorgawe te beweeg en daardeur tot  groter geestelike volwassenheid te lei.

  1. Kyk mooi na die verdorwe heidense lewenswyse (sodat jy dit kan verafsku) en let op dat:
    1. Hulle heeltemal verward is oor wat gepas en wat onvanpas is (4:17).
    2. Hul geestelike persepsie verduister is; hulle leef in ‘n skemerwêreld gedompel in morele duisternis (4:18).
    3. Hulle vreemdelinge is vir die werklike lewe wat slegs in God gevind kan word (4:18).
    4. Hierdie onkunde oor hulle gekom het omdat hulle hul harte verhard het toe die lig van die waarheid na hulle gebring is (4:18).
    5. Hul geestelike persepsie geleidelik afgestomp het en hulle hulself oorgegee het aan allerhande verdorwenheid, gierigheid en ‘n vuil lewe (4:19).
  2. Beskou daarenteen Christus en wat Hy leer, aan die ander kant (as jy die waarheid aangaande Hom heelhartig angeneem het) naamlik dat:
    1. ‘n Lid van die Liggaam die ou mens (vorige leefstyl)  wat tot sy ondergang sal lei (deur hom te oorreed om hom aan die hunkering na verbode dinge te onderwerp) moet aflê (4:22).
    2. Hy ‘n nuwe denkwyse moet aanvaar en homself met die nuwe mens moet beklee wat na die beeld van God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (4:24). In die praktyk beteken dit dat hierdie nuwe mens (wat hy is):
      • Nie meer leuens sal vertel nie, maar die waarheid sal praat, veral teenoor die ander lede van die liggaam (4:25).
      • Wanneer woede binne hom opkom, hy dit in toom sal hou sodat dit nie oorkook en tot sonde (soos wraak) sal lei nie; ook dat dat hy sal kalmeer voor hy gaan slaap sodat sy woede nie in bitterheid sal ontwikkel nie (4:26).
      • Geen plek (nie ‘n enkele kamer nie) aan die duiwel sal gee nie (selfs al het sy hart 100 kamers) want die bose sal gou-gou in een kamer na die ander insluip totdat hy elke kamer van hierdie mens se hart besit. (Moenie argumenteer dat ‘n bepaalde sonde baie, baie klein is nie want, alhoewel klein, betrek dit tog een kamer van jou hart (4:27).
      • Al het hy sy hele lewe lank van steel geleef, nie meer van sy naaste moet steel nie, maar eerder iets eerliks moet verdien deur die hande te gebruik wat God hom gegee het, sodat hy nou die naaste van wie hy gesteel het, met ‘n geskenk kan seën (4:28).
      • Sy tong in toom moet hou. Geen vuil woord wat ander sal besoedel mag uit sy mond kom nie, maar slegs woorde wat sy gehoor sal seën en sal opbou (4:29).
      • In gedagte sal hou dat die verkeerde wat hy ookal bedink, sê of doen, hartseer (pyn) vir die Heilige Gees veroorsaak en Hy is juis dié Een wat moet waarborg dat die gelowige aanvaarbaar sal wees op die dag van finale verlossing (4:30)
      • Sy innerlike huis moet reiniig van alle bitterheid, woede, geskreeu, lastering en elke ander bose meubelstuk wat hy mettertyd vergader het en dit moet hermeubileer met die splinternuwe meubels van vriendelikheid en teerhartigheid wat hom vir ander sal laat omgee en laastens die heelhartige, onverdiende vergifnis waarmee God ons in Christus vergewe het (4:3, 32).

///////////

NA INDEKS                                                                                                          NA VOLGENDE HOOFSTUK



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha