2024-10-04
DIE BRUIDEGOM GAAN NOG VOORT OM SY BRUID SE SKOONHEID TE BESING.
DIE BRUIDEGOM: 9 U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad.
Om iets te steel, is om ‘n ander persoon se eiendom heimelik, sonder sy toestemming en sonder reg daarop, te neem, met die voorneme om dit nie weer terug te gee nie. Die steler kan die eienaar se aandag aftrek deur ‘n gesprek met hom aan te knoop en terselfdertyd, stilletjies, sy selfoon van sy tafel of lessenaar af gaps. Dit is min of meer waarvan die Bruidegom die Bruid “beskuldig”: “Haai, Meisie, terwyl jy My in die oë kyk en jou halssnoer voor my swaai, het jy My hart gegaps! En nou dat jy dit eers het, sal Ek dit natuurlik nooit weer sien nie!”
Wil jy nou meer: dat die alwetende Seun van God se kosbaarste besitting, sy hart, deur ‘n kleine mens gesteel kan word en Hy maar net hande in die lug gooi en die onreg gelate aanvaar. Wat is dit wat sy aandag so vasgegryp het?
Wel eerstens sekerlik die liefde en verering vir Hom wat uit sy Bruid se oë gestraal het:
… verlustig jou in die HERE; dan sal Hy … . (Psa 37:4a).
Wanneer jou kontak met Hom vir jou lekkerder, aangenamer is as enigiets anders waaraan jy ookal kan dink: sewelaagkoek, elke laag verskillend van die ander; appeltert met gegeurde roomys wat daarvan afdrup; ‘n vlug, Mars toe en terug, met Elon Musk se nuutste ruimtetuig; kaalvoet stap oor die oseaan; sweef soos ‘n arend oor die hoogste berge, … as jy Hom meer geniet as wat jy enige so-iets sal geniet, dan steel jy sy hart met een straal van jou oë want dan sal sy hart veilig wees in jou hande.
Tweedens is daar ook die goue halssnoer wat jy met die kantel van jou nek voor Hom swaai. En wat is dit? In 1Pet 3:3-5 lees ons van so ‘n goue halssnoer:
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, 4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. 5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie. (Die beklemtoning is deur die skrywer aangebring).
Alhoewel hierdie teks eerstens op getroude vroue in ‘n aardse huwelik van toepassing is, is die kosbare waarheid wat daarin opgesluit is vir een en elk van ons bedoel. Laat daardie woorde diep in ons harte insink: n sagmoedige en stille gees, onderdanigheid, gehoorsaamsaamheid. Hierdie is halssnoere van soliede suiwer goud. Hulle is duur, baie duur. Ons koop hulle deur op ons knieë te gaan en die voete te was van hulle wat om die tafel sit of op die sy lê en eet en, onbewus van ons, met mekaar gesels. Dit is daar waar Jesus buk en die goue halssnoere vir ons omhang – die kunstige snoere wat die Heilige Gees self vir ons voorberei het. Daarin sien die Vader, die Seun en die Gees hul eie handewerk in ons.
DIE BRUIDEGOM: 10 Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye! 11 Heuningstroop drup van u lippe af, bruid, heuning en melk is onder u tong, en die geur van u klere is soos die geur van die Líbanon. 12 My susterbruid is ‘n geslote tuin, ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein.
Ons praat eers oor die fisiese bruid. Haar liefde is skoon, dit is nie wellus gedrewe nie. Dit is ten eerste ‘n liefde van hart tot hart, nie van liggaam tot liggaam nie; dit is ‘n liefde wat haar bruidegom as totale mens in alles eerste plaas; sy belange bo hare plaas; dit kan jaar na jaar so voortgaan. Tewens in verse 9 tot 12 kom die woord “susterbruid”, driemaal voor. Haar liefde is soos die van ‘n suster tot ‘n broer.
Fisiese omgang is vir eers uitgesluit. Hulle is nog slegs verloof, nie getroud nie. Die latere vleeslike omgang sal die gevolg van die huidige geestelike band wees, nie andersom nie. Sy is ‘n “geslote tuin, ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein”. Sy bewaar haar maagdelikheid met groot sorg. Sy bewaar dit vir haar bruidegom. Hulle bewaar dit saam vir hul huweliksdag.
Wat so pas oor die fisiese bruid gesê is, kan net so op die verhouding tussen Jesus en sy geestelike Bruid toegepas word. “Susterbruid” mag dalk ook sinspeel op die menswording van Jesus waardeur ons in ons mensheid sy broer of suster is.
Dit kan egter eerder dui op die kwaliteit of inhoud van hul verhouding: dit is vlekkeloos rein. Sonder om afbreuk te doen aan die kontekstuele betekenis van Open. 14:4,5 ,kan ons tog ook die verband met die teks onder bespreking sien:
Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.
Ons dink ook aan ‘n teks soos Jak 3:17:
Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. (Beklemtoning deur skrywer aangebring).
Ons gaan verder en kyk na vers 11. Hier word gepraat van melk en heuning. Kanaän, die beloofde land, was aan Israel voorgehou as ‘n land van melk en heuning (Ex3:8). Vir hulle was dit die simbool van ‘n droomland; die beste wat daar was.
Heuning is soet en helend en melk is voedend vir jonk en oud. Albei is God se gedagtes, sý skeppings, nie die mens se idees of kunsmatig vervaardigde plaasvervangers nie. Melk maak Hy uit spesiaal aangepaste kliere, gaar dit op en stel dit beskikbaar, aan mens en dier, wanneer en waar nodig. Vir die vervaardiging van heuning gebruik hy honderde klein bytjies wat baie kilometers moet vlieg om die regte stuifmeel te vind, dit in een skuur te versamel en om te skakel in geel, soet, blink, heuningstroop – ook iets wat die mens nie kan doen nie. Ons kan net maar die volryk koeke uit die korwe haal, die warm heuning in ‘n skottel uitwaai en huistoe dra. Toe Jonatan flou was na ‘n hewige geveg, het hy sy staf uitgesteek, dit in ‘n heuningkoek gedoop, sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword (1Sam 14:27).
So is die Bruid se woorde: versamel uit ‘n menigte pragtige studies uit sy Woord en die luister na lering deur sy uitgesoekte gesante. Oor ‘n lang tydperk het sy dit bymekaargebring en verwerk in bruikbare, helende, vertroostende, opbouende woorde waarmee sy beide haar Bruidegom en haar omstanders verkwik. Die Gees van God wat haar Bruidegom na sy mensheid toegerus het vir die taak wat Hy op aarde moes volbring, woon en werk ook in haar:
Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge. (Isa 50:4).
Hoe wonderlik kan ‘n glas koel geestelike woordemelk tog nie die moeë geestelike reisiger op sy aardse reis na die ewigheid verkwik en sy voetstap weer flink en vrolik maak nie. Dit alles is ‘n werking van die Gees van God waaraan die mens niks kan toevoeg nie.
DIE BRUIDEGOM: 13 U spruite is ‘n park van granate met kostelike vrugte, henna-blomme met nardus,
14 nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye. 15 U is ‘n fontein van die tuine, ‘n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.
Ons kyk na Eden, die eerste Tuin wat God self geplant het:
En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. (Gen 2:10).
Gewoonlik versamel die stroompies wat uit hoërliggende bergagtige streke vorm, in spruite wat weer saamvloei en ‘n rivier vorm, maar in Eden was dit andersom: God het eerstens ‘n rivier (moontlik uit ‘n kragtige fontein) gegee en dit in spruite laat verdeel wat die hele tuin besproei het. Hý is die Bron en ons is die kanale waardeur Hy sy tuine besproei.
Deur die water wat elke uithoek van haar lewe besproei, het sy ‘n park aangelê, nie vir haar eie genot nie maar vir haar Bruidegom om in rond te wandel, die lieflike plante en vrugte soos die lewegewende granaat, te bewonder en die mees eksotiese geure te geniet.
Ons vertoef net eers vir ‘n oomblik by die “Park van granate”. Hierdie vrug was van vroeg af al in Israel baie gesog. Toe Joshua se verspieders uit Kanaän terugkeer, was dít een van die soorte vrugte wat hulle saamgebring het as bewys van die vrugbaarheid en rykheid van die land (Num 13:23). Verder lees ons dat die kleed van Aäron omsoom was met klokkies en goue afbeeldings van granaatjies (Ex 28:34). In en om die tempel was daar ook honderde sulke granaatjies aangebring. Die granaat was dus vir die mense van daardie tyd ‘n simbool van lewe en gesondheid.
Wat sê die moderne dieëtkundiges daaromtrent? “Granate het ‘n lae kalorieë en vet inhoud maar is ryk aan antioksidante, vesel en ‘n verskeidenheid van vitamines en minerale. Dit mag selfs kanker beveg, uithouvermoë gedurende oefening bevorder en skadelike kieme teëwerk”. Ons kan hierdie stelling nie bevestig of weerspreek nie, maar dit verklaar ten minste waarom vroeëre geslagte dit so hoog aangeskryf en Salomo dit meermale in sy lied vermeld het. Dit bring ons dan by die belangrikheid van hierdie vers: Die Bruid het ‘n hele PARK van granaatbome/bosse/struike vir haar Bruidegom aangelê! Hy het haar natuurlik daartoe geïnspireer want:
… Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. (Joh 10:10).
‘n Park, ‘n hart, oorvloedig in bonatuurlike Lewe!
En nou wandel ons saam met hulle Twee/twee deur hul liefdespark van parfuum. Kan u die geure van die plante wat hier genoem word identifiseer en van mekaar onderskei, naamlik die geur van nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, en ook nog allerhande ander kostelike speserye? Nie? Ek ook nie. Miskien hier en daar een. Sommige lesers van die Skrif sal dalk nog minder kennis hiervan hê. Waarom het die Heer dan gegee dat die slimme Salomo die name van al hierdie vreemde plante in die Skrif ingevoeg het, terwyl dit niks vir ons beteken nie?
Hier is ‘n moontlike rede: Hy wil hê dat ons moet besef dat die geestelik prag wat Hy in ons tuin wil kweek, alle verstand te bowe gaan. Selfs die heerlikheid van een enkele geestelike plant is so asemrowend dat ons geen begrip daarvan kan vorm nie! Dink byvoorbeeld net aan die die vrug van vrede te midde van geweldige beproewing:
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus (Fil 4:7).
Hoeveel te meer die gekombineerde heerlikheid van al die geestelike plante wat die hemele in u hart wortel kan laat skied.
Ons dink bv aan Paulus en Silas wat met stukkend geslane rûe, en voete in blokke, in die stikdonker van die gevangenes van Filippi op hul volgende dag se verdere verhoor lê en wag het. Maar teen middernag het die wind van God’s Gees deur hul park begin waai en die lieflike geur van hul lofliede na elke sel versprei. Die effek wat dit op die Hemelse Bruidegom gehad het, was so geweldig dat Hy die gebou geskud het totdat die deure oopgeswaai, die blokke van die prisoniers se voete afgeval en die sipier so aangegryp was, dat hy sy hart ook as tuin aan die Seun van God oorgegee het (Hand 16:19-34).
Dan was daar natuurlik ook die granaatpark van Stéfanus wat vanaf die tempel in Jerusalem tot buite die mure van die Stad gestrek het. Daar het die lieflike geur van sy kragtige prediking die Joodse owerstes tot raserny gedryf sodat hulle hom ter dood veroordeel en gestenig het. Maar toe die klippe op hom neerreën, het sy Bruidegom die hemele geopen sodat hy Hom aan die regterhand van sy Vader sien staan het. Dit het sy hart so verruim dat die Heilige Gees deur hom kon waai en die soete geur van vergifnis kon versprei deurdat hy vir sy moordenaars gebid het: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! (Hand 7:60). Met dié woorde het hy ontslaap. So het hy in die volkome, ewige vereniging met sy Bruidegom ingegaan.
En so het die lieflike geur van martelaarsofferhandes deur die eeue heen voortgegaan om die Bruidegom te verkwik. Dit is offerhandes wat meeste van ons nooit sal bring nie, waarvan ons dus nie die geur (belewenis) in woorde kan beskryf nie; daarom word speserye hier vermeld wat nie aan almal van ons bekend is nie. Die eer om daardie lieflike geur aan die Bruidegom te mag offer, is net vir hulle vir wie Hy dit bestem het. Dit kan ook u of ek wees maar ons sal eers weet wanneer die oomblik daarvoor aanbreek.
DIE BRUID: 16 Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet.
Nadat die Bruidegom lank aan die woord was en die lieflikheid van die tuin van sy Bruid besing het, antwoord sy daarop met ‘n uitroep gebed tot die Gees van God om sterker en van alle kante deur haar tuin te waai sodat die geur daarvan sal uitgaan en haar beminde na haar tuin, wat sy aan Hom gewy het te lok.
Ons praat van die beweging van die Heilige Gees. Na veertig dae se gebed het die magtige gedruis van die Wind van God se Gees deur die bokamer gewaai en totaal nuwe lewe en rigting in die lewens van die aanwesiges en van die mense van Jerusalem gebring (Hand 2). So kragtig was die geur wat daarvandaan uitgegaan het, dat ‘n menigte toegestroom en die nuus van die bonatuurlike werking van God soos ‘n veldbrand deur Jerusalem en vandaar wêreldwyd versprei het. Die sluimerende kole in die harte van duisende gelowiges het opgevlam en die soete geur van die Goeie Tyding van Verlossing vir die mensdom, is deur baie gretiglik ingeadem.
Waar die Gees is, is daar beweging en is daar lewe. Toe die Gees van God oor die donker waters van die aarde begin sweef het, was alles gereed vir die geboorte van ‘n nuwe wêreld; toe kon die Bruidegom uitroep, “Laat daar lig wees!” en was daar lig, en het die skeppingsproses momentum gekry (Gen1:2,3).
Toe die Joodsgebore dissipels die Messias net vir hulself wou toeeien, het die Gees van God ‘n laken vol onrein diere na Petrus wat op die dak gesit en bid het, laat afsak en hom uitgedryf om die Boodskap na die huis van die heidense Nikodémus te neem.
Toe die Christene knus in hul vinniggroeiend, welvarende gemeente in Antiochië vergader het, het die Gees in hul midde kom waai en Paulus en Barnabas na die wagtende heidenvelde van Europa weggevoer.
Wanneer die Gees ophou waai en ons die heerlike geure van Verlossing en die nuwe lewe in Christus net vir onsself, ons gesinnetjie, kringetjie, kerkie, kultuurgroepie hou, stagneer ons vinnig. Stuifmeel, geur en water is bedoel om te versprei. Versprei joue? Wanneer laas het daar uit jou, jul midde, ‘n kragtige uitvloeiing van die Woord na nuwe velde plaasgevind?
Die fontein van Lewende water wat God in jou tuin geopen het moet, soos vers 15 sê, ‘n fontein wees vir baie ander tuine. Dit moet ‘n put van lewende water wees; ‘n put waar diep gegrawe en ‘n kragtige aar oopgebreek is, sodat die water bo die oppervalk uitstoot en wegvloei na laerligginde, dorstige tuine.
Die Bruid se leuse moet altyd wees: “Ek is hier om te gee: eerstens aan my Bruidegom en tweedens aan die mensdom wat Hy om my geplaas het.
~~~~~~~~~~
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.