2025-06-07A
A. PINKSTER, ‘N GROOT DAG VIR DIE HEILIGE GEES
Die meeste Christelike kerke gee erkenning aan die belangrikheid van Pinksterdag deur die gebeurtenis wat meer as twee duisend jaar gelede in ‘n bokamer in Jerusalem en in die strate daaromheen plaasgevind het, by wyse van ‘n spesiale diens of reeks dienste te vier – waarom so? Eerstens is dit natuurlik omdat die Heilige Gees, die derde Persoon van die Drie-enige God, op daardie dag sigbaar na vore getree en begin het om sy funksie in die hervestiging van God’s koninkryk wat tot op daardie dag begrensd was, ten volle te vervul. Dit het Hy gedoen by wyse van ‘n magtige demonstrasie van sy mag.
Tevore was Hy net so werksaam, maar meer in die agtergrond. In Gen 1:2 lees ons byvoorbeeld dat die Gees van God op die waters gesweef en dus, by implikasie, betrokke was by al die skeppingswerke wat daarop gevolg het. Veel later bid koning Dawid, “Neem U Heilige Gees nie van my weg nie” (Ps 51:13). Hy was bekend met die Gees van God en Sy salwing was vir hom ‘n kosbare realiteit.
Jesus moes egter eers die wetlike vereiste vir vergifnis van die mensdom se sonde nakom deur die straf daarvoor aan die kruis te dra, voordat die Heilige Gees in volheid op die kinders van God uitgestort kon word. 49 Dae na sy kruisiging, was alles gereed en het dit gebeur en het die taak van wêreldevangelisasie deur gewone mense, vervuld met die krag van God, op dramatiese wyse begin. Pinksterdag was dus in ‘n sin, die Heilige Gees se dag. Voor dit het Hy oor die mensdom gesweef en in hulle kom woon, maar op daardie dag is Hy salwend op hulle uitgestort om Jesus, wat na die hemel opgevaar het, se taak op aarde voort te sit.
B. PINKSTER, ‘N GROOT DAG VIR JESUS
Maar hierdie was ook vir Jesus ‘n besondere mylpaal onderweg na sy doelwit, naamlik die skepping van ‘n nuwe hemel en aarde waaroor Hy, met sy volmaak wedergebore Bruid aan sy, sy sal heers.
Om te besef hoe groot hierdie dag vir Hom was, moet ons ook by die skepping begin toe die mens vir die Seun as bruid gegee was. Die huwelik en wittebrood het egter nooit ‘n werklikheid geword nie want toe die Bruid voor ‘n keuse gestel was, is sy deur die duiwel verlei om haar eie onafhanklikheid bo onderworpenheid aan die Bruidegom te stel. Dit sou haar vir ewig van hom vervreem, maar Hy het onmiddellik begin om haar terug te wen.
Vier duisend jaar lank het dit geduur om die Ou-Testamentiese voorbereiding te voltooi. Gedurende daardie tydperk sien ons Hom soms vlugtig, sigbaar as die “Engel van die Here” aan die mens verskyn om hulle uit verknorsings te verlos. Deurented was dit Hy wat die mensdom van selfvernietiging bewaar het, dink maar aan die sondvloed waartydens net agt mense oorleef en ‘n nuwe godvresende geslag op ‘n skoongewaste aarde ontstaan het.
Maar die kwade was diep in hul harte gewortel en toe hulle getalle aansienlik aangegroei het, draai die Bruid weer teen haar Bruidegom en bou die Toring van Babel om na hom op te klim en Hom te onttroon. Hy verhoed dit deur taalverwarring sodat sy in enersprekende groepe wegtrek en oor die aardbol versprei.
Vervolgens roep Hy ‘n enkelling, Abraham uit hul midde, bou deur hom ‘n reuse volk, Israel, en gee aan hulle ‘n eie land wat oorloop van melk en heuning waarin hul rustig kon woon en Hom kon aanbid. Sy doel was om deur hierdie volk homself aan al die volke van die wêreld te openbaar en so hul harte te verower. Maar nee, hulle begeer konings om tussen hom en hulle te staan. Enkele van dié konings het hom gevrees maar die meerderheid het die afgode van die omringende volkere aanbid.
Weer gryp Jesus in en versprei sy volk in ballingskap oor die ganse wêreld, maar nadat sommige die pyn van ‘n lewe onder heerskappy van die slang vir 70 jaar verduur het, gryp die Seun weer in en open deur koning Kores vir sommige die deur om na hul stad Jerusalem terug te keer en sy tempel te herbou.
Was die Bruid se hart nou met die Seun? Helaas, nee. Die bose kom weer tussenby en oorreed haar om haar soewereiniteit, onafhanklikheid, te behou, deur te poog om sy liefdeswette volmaak te onderhou. So sou sy nie van hom afhanklik hoof te wees nie, maar deur eie inspanning heilig (in haar eie oë), op gelyke voet langs hom kon staan. Natuurlik was dit weer die aartsverleier en leuenaar wat dit in haar oor gefluister het. En so word die wig tussen haar en haar Bruidegom al dieper ingedryf. Sou Hy ooit haar hart kon wen, haar liefde kon verower ? So oneindig groot was sy liefde vir haar dat Hy net volgehou het om Hom daarvoor te beywer.
Teen hierdie tyd het die wêreldbevolking tot honderde volkere bestaande uit miljoene siele aangegroei en was die potensiaal daar om hulle in groot getalle uit die mag van die bose terug te wen. Toe het Jesus uit die geestesryk na vore getree, mens geword, tussen ons kom woon en die onsienlike God in heiligheid, liefde en mag aan ons openbaar deur ons siekes te genees, melaatses te reinig, dooies op te wek, en duisendes deur die wonderbaarlike vermeerdering van enkele vissies en brode te voed.
Ook het Hy ‘n korps van twaalf manne opgelei wat Hy sou gebruik om die harte van ‘n menigte mense wat die Vader na hom sou trek, uit elke volk, taal en nasie te herwin. Hulle, en andere, het Hy by geleentheid op ‘n proeflopie uitgestuur om die heerlike Boodskap van verlossing in die omliggende dorpies te gaan verkondig. Hulle het met vreugde teruggekeer en vertel hoedat selfs die bose geeste aan hulle onderworpe was:
En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val. (Luk 10:17,18).
Dit was toe dat Hy ook sy hartsbegeerte uitgespreek het dat die oomblik sou aanbreek dat Hy sy Bruid (volk, burgers van sy Koninkryk) sou kon bekragtig deur sy Gees sodat hulle die wye wêreld kon ingaan en andere vir hom kon wen.
Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! … (Luk 12:49,50)
Maar was sy Bruid nou, nadat Hy so, in persoon, sy liefde en krag aan haar betoon het, bereid om haarself aan hom te gee? Helaas, NEE. Sy het hom gekruisig!
Maar sodoende, onwetende, het sy meegewerk dat Hy die losprys vir haar betaal.
En nou, op Pinksterdag was Jesus se wens vervul; die prys vir al sy uitverkorenes was gelewer, sy aardse bediening volbring, na die hemel het Hy opgevaar en vanaf daardie verhewe posisie die Heilige Gees gestuur soos wat Hy vooraf aan sy dissipels beloof het.
Tonge soos van vuur het verskyn, verdeel en op die hoofde van elkeen wat in gebed op hierdie belofte gewag het, gekom. Skielik het alle vrees verdwyn en is hul harte gevul met ‘n intense begeerte om andere van Jesus se groot dade te vertel en van die verlossing wat hulle deur geloof in sy Naam kon ontvang. Hulle het uit die bokamer na onder gehaas en die versamelde skare in die strate daaronder elk in sy eie taal toegespreek. Die elf uitgesoekte sendelinge het saam groepeer en Petrus, die eenvoudige, eertydse visserman, wat nie lank tevore nog vir Jesus by sy verhoor verloën het, het die leiding geneem om die menigte toe te spreek en die Evangelie van Jesus in ‘n kragtige preek oor te dra. Die lont vir wêreld evangelisasie was nou aangesteek en sou nooit weer uitgeblus word nie.
Daarom was PINKSTERDAG OOK JESUS SE DAG waarvoor Hy meer as vier duisend jaar lank onverpoosd gearbei en aan die einde daarvan die grootste prys ooit met sy eie bloed betaal het.
C. PINKSTER, ‘N GROOT DAG VIR GOD DIE VADER
Hy, ja Hy, ons wonderlike alwyse liefdevolle Hemelse Vader, is die argitek van die ganse heelal. As Hoof van die Drie-eenheid is sy funksies om alles vooruit te beplan en bepaal Hy wat, waar, wanneer, hoe en deur wie alles gedoen moet word. God die Seun en God die Heilige Gees voer sy besluite tot in die fynste besonderhede uit. So is daar dan volkome harmonie binne die Godheid. Dit wat die Vader vooraf beplan het, is hoe die eindproduk sal wees. Vir al die pogings om sy wil te dwarsboom het Hy vooruit al oplossings in sy Meesterplan ingebou. Die sondeval van die mens en die trauma van die kruisdood van sy geliefde Seun was dus van meet af aan al deur Hom voorsien. Hy het die geskiedenis van die skepping vooruit al geskryf.
Maar kan ons probeer om ‘n idee te vorm van die dikte van daardie profetiese geskiedenisboek ? Die hoogtepunte waarin Jesus, sy Seun, betrokke was en reeds hierbo vermeld is, was natuurlik vir die Vader net so belangrik want op sy vorderingsdiagram kon Hy die dik groen lyn al verder trek en die hoofmomente met mekaar verbind, bv. die skepping van die heelal, Adam en Eva, sondeval, sondvloed, …, … , kruisiging, hemelvaart en toe Pinksterdag, die wegspringpunt vir sy gesalfde wêreldevangelisasieatlete. Daarom sê ons dat Pinkster vir ons Hemelse Vader net so ‘n groot dag was. Daardie aand kon Hy ‘n groot rooi regmerkie agter die datum plaas.
D. PINKSTER, ‘N GROOT DAG VIR DIE MENS
Maar PINKSTERDAG WAS EINTLIK DIE MENSDOM SE DAG, die dag waarop die eerste gerwe van die oes vir God se ewige ryk uit elke stam en volk en taal en nasie ingesamel sou word. Op daardie dag alleen is ongeveer drie duisend siele toegebring. Die magtige werk wat in Jerusalem begin het, het daarna nie net territoriaal wêreldwyd uitgekring nie maar ook tydsgewys deur die dekades voortgedy om u en my, twee duisend jaar later te bereik en sal aanhou om voort te stu tot op die wederkoms van onse Heer op die wolke.
Om die heerlikheid wat hierdie dag vir die mens ingehou het, te waardeer, moet ons ook so ‘n bietjie terugblaai in die geskiedenis en kyk na wat hy verloor en op hierdie dag grotendeels terug ontvang het. Toe die Heer hemel en aarde geskape het, het Hy die ganse skepping in die mens se hande oorgegee, sonder dat hy daarvoor gewerk het (ook die buitenste ruimtes, as ons sien hoe ons deesdae met vernuftig ontwerpte vaartuie daarin baljaar en selfs beplan om op Mars te gaan tent opslaan). Adam en Eva en hul nageslag moes oor die tuin, en mettertyd oor die ganse aarde heers; dit bevolk, bewaar en bewerk (Gen 1:28; 2:15).
Deur die sondeval het hy egter die heerskappy daaroor verloor en self ‘n slaaf van sonde en die bose geword. Vier eeue lank het dit so voortgeduur en het die kroon van God se skepping elke konfrontasie met die slang verloor, homself die gramskap van sy Skepper op die hals gehaal, pynlike tugtiging verduur en mekaar besteel en uitgemoor.
Toe kom die Bruidigom tot sy redding en word Hy die eerste mens wat die duiwel kon oorwin deur nie aan sy versoekinge toe te gee nie (Matt 4:1-11). Na drie veldslae in die wildernis, seil die slang in die stof van die aarde gekneus, vernederd en verskrik van hom af weg. Daarna volg oorwinning op oorwinning wanneer Jesus bomenslike wonders bewerk.
Mettertyd stuur Hy eers 12 en later 70 weergebore, geheiligde, opgeleide werkers uit soos wat die Vader Hom gestuur het. Hulle keer na hul uitreike na omliggende dorpe, stralend terug en rapporteer van hul oorwinnings oor die vyand. Die grondslag om hul, en sy wêreld, terug te wen en sy Koninkryk weer op te rig, was gelê, maar die mens was nog nie heeltemaal paraat vir die eise wat wêreldwye evangelisasie aan hom sou stel nie.
Op Pinksterdag stort die Hemelse Bruidegom-Prins, die Heilige Gees, soos belowe, uit op sy soldate, rus Hy hulle toe met bonatuurlike geestelike wapens, krag en outoriteit om uit te gaan en burgers te werf, ja, te verower uit die mag van die bose in elke land, volk, taal en nasie. Nou kon die mens sy kop weer oplig, was sy vernedering verby en het die vervolgde, die vervolger word.
E. HOE RAAK PINKSTERDAG U EN MY ?
Eerstens roep dit my as mens op om dadelik deel te word van Jesus Koninkryk van wedergebore, verloste siele, van sonde gewas in die Bloed van die Lam. Tweedens moet ek onverwyld ag gee op Jesus se Groot opdrag aan sy verloste skare om die mensdom vir hom te verower soos opgeteken in Matt 28:19,20:
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
Net soos op Pinksterdag is die vertrekpunt om allereers met die Heilige Gees vervul (gedoop) te word waardeer ek bonatuurlike krag ontvang en met goddelike gawes toegerus word vir die werk wat voorlê (Hand 1:8):
… maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Voor Pinksterdag het Jesus se 11 apostels, sowel as sy wyere dissipelkring, vreesgatig agter geslote deure in ‘n bokamer vir die vyandige Joodse leiers weggekruip, maar onmiddellik daarna het hulle die trappe afgehaas en vreesloos in die strate die Evangelie verkondig en die vrug op hul werk gesien deurdat 3000 siele ingebring en gedoop was. Uit hierdie geesvervulde weermag het Jesus krygers vir verskillende posisies aangewys en uitgestuur terwyl andere hulle deur hul gebede en materiële middele ondersteun het.
F. HOE MOET EK TE WERK GAAN ?
- Wag op die Heer in gebed vir die vervulling met die Heilige Gees. Vertrou Hom dat jou gebed verhoor en toegestaan is, al voel dit nie vir jou so nie. Wanneer jy daarna na andere begin uitreik sal sy krag deur jou begin vloei en sigbaar word.
- Begin om teenoor almal om jou te getuig van die groot werk wat Jesus in jou hart deur die wedergeboorte van jou gees verrig het en van die verandering wat Hy besig is om in jou lewe te bewerk.
- Pleit ernstig by andere om hul lewens ook aan Jesus te gee.
- Bid nie net vir jou eie behoeftes nie, maar eerstens vir die uitbreiding van God’s Koninkryk soos wat Jesus gedoen en ons geleer het om te doen (Matt 6:10): laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Bid in besonder vir jou gemeente en sy ampsdraers.
- Doen navorsing oor wat deur ander Christelike organisasies wêreldwyd gedoen word om dissipels van mense te maak en ondersteun sommige van hulle deur jou gebede en uit jou tiendes.
SODOENDE SAL JY NIE LEDIG OF ONVRUGBAAR WAG OP DIE WERDERKOMS VAN ONSE HEER EN HEILAND NIE.
Moet ek gaan met leë hande,
moet ek so my Heer ontmoet ?
Nie een siel gelei na Jesus,
niks te offer aan sy voet.
O die jare van verkwisting !
Kon ek hulle weer deurleef,
ek sou hul my Heiland toewy,
na sy eer gedurig streef.
//////////