Water

Kom ek in, is ek groen,

Breek ek stukkend, is ek wit.

Hoe verklaar jy dit?

.

Sit ek nou die dag, bene oorkruis, op die breekwater en kyk uit oor die groot groen dam. Dié dag was daar ‘n swaar deining wat van links uit die diepsee aanstu en na regs voor my verby golf. Groen heuwels en vlaktes van deinende waters skuif onkeerbaar aan. Nader aan die strand rys hulle op tot reuse walle. Hul maanhaar kimme hel oor, rolval na vore. Dawerend tref hul die vloed daaronder en breek op in ontelbare skitter-wit, hoog-spattende druppels. In ‘n oogwink sluit hulle weer saam tot ‘n tafelgladde vloed wat sissend teen die skuins sand opjaag.

Dan is hul krag ineens gedaan.

Vinnig snoer die druppels tot ‘n eenheid saam.

en glip weer t’rug in die groot oseaan.

So herhaal die siklus, van vooraf aan.

.

Verder weg uit die see rys ‘n rots

waarteen die golwe klots en slaan.

Mettertyd krummel dit tot korrels, en vergaan.

Maar die waters wat breek, sluit vinnig weer saam.

Mikro atome herenig tot ‘n groot oseaan.

.

Voor my speel ‘n skool dolfyne

Verder weg baljaar tornyne,

Uit die blou lug duik meeue

In die waters van die eeue

Want dit wemel van vis,

Vir alle skepsels ‘n heerlike dis.

.

Ja, die see is ‘n huis.

Biljoene diere is daarin tuis.

Diep-verborge strome is hul paaie.

Hulle swem daarin in kringe en in draaie.

In drie dimensies kan hul gaan.

Seepglad en sonder gate is hul baan,

geen verborge snelheidstrikke,

of tollende blou ligte.

Nogtans, glo my, geen botsings of ongelukke.

.

Sonder om te sug,

dra die see op sy rug,

‘n ellelange skip, soontoe, en weer terug.

Die see, die pad sonder grense,

‘n Kortpad, na al die kontinente.

.

Waar die son op hom skyn,

voel hy geen pyn,

maar verander in ‘n wolk,

kyk, daar gaan dit vort,

op wieke van die wind,

voortgedra, soos ‘n baba kind.

In die vêrre binneland word dit druppels van reën

Uit die hand van God, ‘n milde seën.

In vlae stort dit neer,

en vinnig groei dit aan tot ‘n reuse meer!

.

Ja, water kan aanpas,

van ‘n vloeistof tot ‘n gas.

En maak jy hom koud,

word hy hard, – soos goud.

.

By die aarde se pole,

op sagte voetsole,

waggel ysbere rond,

want die ys is hul grond.

.

Ook die Eskimo is daarop so tuis.

Vir hom en sy vrou bou hy ‘n huis.

Blokke van ys, dié stapel hy op,

vorm daarmee ‘n koepel oor sy kop.

Solied soos ‘n kroon,

is die waters waarin hy woon.

.

En hier waar ek sit en dink en wens,

is ek 6 druppels water per 10 druppels mens.

Daarom groet ek die golf, “Goeiedag ou neef!

Deur water sal ons albei leef.

Bes moontlik is jy,

binnekort, ook ‘n deel van my”.

.

Daar’s ook water in my huis.

Met ‘n pyp kom dit tuis,

deur ‘n donker kanaal,

om my kraan te kan haal.

.

Dan vries ek dit tot blokkies,

In my drinkglas klingel hul soos klokkies.

So nie, in my ketel moet dit gaan

tot die dampe daarop staan.

Vandaar in my koppie.

Behaaglik slurp ek my stomende koffie.

.

Daarmee was ek my kop,

daarin dompel ek my mop.

Daarmee was ek my breekgoed.

Daarin reinig ek my wasgoed.

Dan, vuil en gedaan,

terug moet dit gaan,

na die groot oseaan.

.

Toe die Heer besin,

om die aarde te begin,

Het Hy vooraf voorsien,

Water, om alles te bedien.

Ja, water is die basis vir alle lewe,

water ons deur God gegewe.

.

Maar wat van my hart

wat ween in sy smart?

Ook daarvoor voorsien Hy,

vir jou en vir my.

Sy Woord en sy Gees,

Les my dors en genees.

Laat my opspring en juig,

Van sy goedheid getuig.

.

Here, ek is U kind,

in vodde het U my gevind.

My hart het ek aan U gegee.

U volg ek nou, so tree vir tree.

.

Voor U kom ek nou hier te staan,

bied ek my alles U nou aan.

Soos water in U grote hand,

gebruik my Heer, in hierdie land.

.

Maak my koud soos ys,

teen verleiers op my reis.

Die bose sal ek weerstaan,

Die sonde sal ek neerslaan,

Soos golwe van die see,

Onvermoeid staan ek hul teë.

Oorgegee aan U Bloed en U Gees;

sal ek gedurig gewas wees van die sondes van die vlees.

.

Ter wille van U Naam,

laat my sorge deurstaan,

soos water in ‘n pyp,

onderweg na ‘n kraan.

.

Bekwaam wil ek wees deur die werking van U Gees,

om sondaars te bad in die waters van U Woord,

hul harte saam te snoer in een akkoord.

Hul gereed te kry vir die Bruidegom,

op die spoedige dag wat Hy weer sal kom.

.

Soos die water in die pot,

maak my gedwee,

om my smaak prys te gee

ter wille van die geur van die sop.

.

Laat my borrel van lof

vir my Koning daarbo,

in Sy Hemelhof.

.

Van vreugde laat my fluit,

soos stoom uit my ketel se tuit.

.

Rustig vloei ek saam,

al is ek een kleine druppel in die groot oseaan,

Uit die hemel sien U oog, my ook aan.

Ja, ek is ook ‘n deel

van U groot geheel.

.

U Gees neem my mee,

soos damp bo die see,

dan word ek ‘n wolk en sien ek neer,

op die nasies doer onder wat heftig kompeteer.

.

Mag ek nooit nie vrees,

vir die winde van U Gees,

wat my weg wil voer na die vêrre horison,

sonder om te weet waar ek sal kom.

.

AMEN

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → WATER . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha