2024-11-13
NOTA
WANNEER WOORDE IN ‘N TEKS, OF ELDERS, IN ROOI GEKLEUR IS, IS DIT REEDS IN ‘N VROEËRE GIDS BESPREEK: KLIK ASB. DAAROP OM DIT TE SIEN.
DIE BRUIDEGOM HERVAT SY MINNELIED
DIE BRUIDEGOM: 7:1 Hoe mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter! Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade, ‘n werk van kunstenaarshande.
Hy spreek haar aan as, “edele dogter” want sy is ‘n kind van God, ‘n prinses uit die adelstand van die Koning van die heelal. Die sonverbrande Sulamitiese boerinnetjie is deur haar wedergeboorte uitgelig uit haar gevalle aardse stand en ‘n goue stoel met purper bekleedsel in die raadsaal van die Paleis daarbo gegee want dié wat Hy verordineer het, het hy geroep, geregverdig en verheerlik (Rom 8:30). Hulle sit nou reeds in die hemele in Christus Jesus (Efes 2:6).
Haar skoene is nie die vellies van die skaapwagter of die hoëhakke van die danseres nie, maar die alle terrein wandelskoene van bereidheid om te gaan waar die Evangelie van Vrede haar ookal lei (Efe 6:15). Sy klouter daarmee oor berge van menslike onmoontlikheid, slof deur moerasse van twyfel en deurkruis doringlaagtes van pynlike ondervindinge. Gedurende haar “40 jaar” van wandel deur die aardse wildernis, sal hulle nie slyt nie (Deut 29:5) ja, selfs ‘n skoenveter sal nie eers losraak nie.
… Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! (Rom 10:15).
Haar treë (skrede) is vas en doelgerig hemelwaarts want sy wandel in sy spore van geregtigheid (Ps 23:3). Sy laat haar nie mislei deur allerhande vreemde padwysers nie want sy tree stap vir stap op die plaveisel van sy Woord (Ps 119:133, Ps 17:5). Sy struikel nie, want sy Gees versterk haar enkels sodat haar voet nie sal swik nie (Ps 121:3).
DIE BRUIDEGOM: 2 U nawel is ‘n ronde kom—laat die gemengde wyn nie ontbreek nie. U liggaam is ‘n hoop koring, omring deur lelies.
Wanneer ‘n kind vir ‘n vrou uit die adelstand gebore was, het die vroedvrou die baba professioneel versorg. Die naelstring is, volgens die gebruik van daardie tyd, tot die regte lengte afgesny en afgebind. Daarna is die liggaampie skoon afgewas en met sout ingevryf. ‘n Naelband is om die baba gedraai om te verseker dat die naeltjie nie later onoogtelik na buite sou uitbult nie maar eerder na binne sou induik. Laastens is die kleinding stewig in doeke toegewikkel om dit veilig te laat voel en in die moeder se arms gelê. ‘n Baba dogtertjie wat tydens geboorte so versorg is, se naeltjie sou, wanneer sy ‘n jongmeisie word, bydra tot haar skoonheid, deurdat dit ‘n sagte bykomende kurwe tot haar slanke middellyf sou toevoeg. (Deels afgelei uit Ese 16:4).
So het die Heilige Gees die toekomstige Bruid van Christus tydens haar wedergeboorte versorg. Sy was vanaf haar eerste oomblik geestelik professioneel hanteer; geen letsel uit haar ou lewe is oorgedra nie. Sy is volmaak vanaf die oomblik dat die Gees die Lewe in haar ingeblaas is.
Haar nawel is nou “‘n ronde kom” – ‘n lus vir sy oog. Dit herinner Hom ook aan sy koninklike drinkbeker gevul met wyn van verskillende kultivars. Hy sirkel om die rand daarvan met sy wysvinger terwyl Hy die heerlike geur inadem. Só begeerlik is haar middeltjie vir hom. Dit kan moeilik met ‘n spesifieke geestelike deug verbind word, maar is deel van die liefdesskoonheid wat sy Hom bied, waarmee sy Hom na haar toe trek. Hy omsirkel dit met sy vinger en fluister: “Jy is algeheel mooi vir my”.
Haar liggaam is waardevol soos ‘n hoop uitgedorste koring, die vrug van ‘n volle seisoen van oorgawe aan sy toegeweide verbouing. Haar hart was vrugbare grond. Eers het Hy die saad van die Woord daarin gesaai. Toe het Hy dit gereeld besproei met lewende water, die onkruid wat die vyand daarin gesaai het, uitgeskoffel en die onvrugbare stingels verwyder. Dit was pynlik maar sy het nie teruggedeins; Hom nie weggestoot nie. Dag vir dag was sy gewillig vir sy tugtiging (Heb 12:11). So het die seisoen ten einde geloop en is die oes ingebring: 30-, 60- en honderdvoudig (Mark 4:20).
In haar blomtuin, langsaan, het Hy lelies gekweek, mooier as al die rykdom in Salomo se koninkryk (Luk 12:27). Die spreekwoord lui: “In die swartste modder, groei die witste lelie”. So was dit met haar. Sy het in ‘n sondige samelewing groot geword, omring deur die kwaad, maar sy het oor haar reinheid gewaak en haarself vlekkeloos vir haar Bruidegom bewaar:
Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld. (Jak 1:27).
DIE BRUIDEGOM: 3 U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van ‘n gemsbok. 4 U hals is soos ‘n ivoortoring, u oë vywers in Hesbon by die poort Bat-Rabbim; u neus soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus toe uitkyk.
Haar hals. Dié is soos ‘n ivoortoring. Ivoor word natuurlik verkry uit olifanttande maar die tande van seekoeie, vlakvarke, ens. is ook van ivoor. Die stroping van, veral olifante, maak dat ons deesdae nie graag enigiets wat ivoor bevat, koop nie. Deur die eeue heen was dit egter nog altyd ‘n gesogte kommoditeit wat deur konings en rykes versamel is. Dit is veral gebruik om die fyns denkbare sneewerk op te doen.
Maar die kunstenaar moes eers so ‘n tand bekom. Soms moes dit uit veraf lande ingevoer word. Salomo het sy troon van ivoor laat maak (1 Kon 10:18). In die Boek Amos lees ons ook van rusbanke (6:4) en selfs huise van ivoor (3:15) en in Eseg 27:6 van skeepsdekke wat met ivoor ingelê was. Die waarde van die voorwerpe van ivoor was subjektief gekoppel aan die waagmoed van die jagters waarvan sommige hul lewens in die proses verloor het. ‘n Besitter van groot hoeveelhede ivoor was ryk en magtig.
En hierdie Bruidjie se hals word geestelik vergelyk met ‘n TORING van ivoor, hoër as al die geboue van Jerusalem. Met groot inspanning en opoffering het sy dit gedurende haar leeftyd versamel en saamgevoeg. Geen kenner van geestelik ivoor kan daarby verbystap sonder om eers stil te staan en dit te bewonder nie; te poog om die die kunstige sneewerk daarop te ontsyfer. Sommige daarvan is getuienisse na buite, vir almal maklik om te verstaan, maar andere bevat diep verborge geheime waaarvan haar Bruidegom alleen weet.
Haar oë. Wanneer Hy in hulle kyk, sien en hoor hy die murmelende, glinsterende waters wat vrolik uitborrel uit die fonteine by Hesbon se Bat-Rabbim ingang. O, hoe verkwik dit nie die tam, stofbelaaide reisiger wat sedert dagbreek al daarheen op pad is nie. Hy hou ‘n kruik omhoog onder die vallende stroompies en wanneer dit vol is, laat hy die inhoud sag na binne vloei. Hy vul sy bak hande uit die dansende oorvloed en spoel sy gesig daarmee af. ‘n Rustige vrede neem besit van sy gemoed. Soos die vrou by die put van Samaria, vind hy lewende waters van verlossing in haar midde. Onsigbaar kyk haar Bruidegom toe en verheug hom in die geboorte van nog ‘n sonde verskroeide bruidjie.
Haar neus: “Soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus toe uitkyk”. Nie net haar hals nie, maar ook haar neus word as kolossaal hoog voorgestel om die uitnemendheid daarvan te beklemtoon. Hierdie toring was blykbaar op die Libanon gebergte gebou as wagpos teen vyande wat uit die noorde in aantog was. Die neus is ook ‘n waarnemingsorgaan. In die diereryk is dit hoogs sensitief om die andersinds weerlose bokkie te waarsku teen die bekruipende leeu, luiperd, jakkals of ander roofdier, lank voordat dit nog sigbaar en ‘n gevaar is.
So is sy Bruid ook: sensitief vir dreigende kwaad. Die spreekwoord lui: “Sy het dadelik onraad geruik”, bedoelende dat die persoon gevaar bemerk het, lank voordat dit vir andere sigbaar was. Sy Beminde is ingeskerp om geestelike aanvalle te bemerk en te vermy. So bespaar sy haarself die trauma van konfrontasie. Dit laat die bose verward en gefrustreerd.
In 2Kon 6:12 lees ons dat die profeet Elisa aan die koning van israel te kenne kon gee wat sy vyand, die koning van Aram, selfs in die geheim van sy slaapkamer teenoor hom beplan het. Sodoende kon hy die plekke waar die Arameërs se rowerbendes hom voorgelê, vermy het. Dit het herhaaldelik gebeur sodat die koning van Aram later hoogs gefrusteerd was en gevrees het dat daar ‘n verraaier in sy midde was. Die koning van Israel, daarenteen het homself deur hierdie bonatuurlike kennis baie moeite en lewensverlies gespaar.
Die ongelowige trap onverhoeds in ‘n strik maar die gelowige loop fluit-fluit ‘n wye draai daarom.
DIE BRUIDEGOM: 7:5 U hoof op u is soos die Karmel, en die golwende hare van u hoof soos purper—’n koning gevang in haarlokke!
Haar hoof is soos Karmel. Weereens ‘n berg waarna almal rondomheen opsien. Geestelik is sy ‘n voorbeeld vir almal om haar, ‘n toonbeeld van geregtigheid en sorgsaamheid soos ‘n bekwame eerbiedwaardige koning wat goed regeer oor sy ryk; indrukwekkend. (Lees meer oor so ‘n bruid/vrou in Spr 31:10-31).
Haar hare is purper van kleur; die kleur van konings en golwend in haarlokke gestileer wat onder andere dui op haar eiesoortige persoonlikheid, haar uniekheid. Die Bruid, universeel, is wesentlik radikaal anders as die gemeenskap om haar en die individuele bruid daarbinne is boonop elk uniek van persoonlikheid maar altyd in lyn met dié van haar Bruidegom. Dit maak haar so interessant en aanloklik vir Hom, maak dat elkeen vir Hom besonders is en Hy elkeen so ‘n klein bietjie anders as die ander liefhet.
DIE BRUIDEGOM: 7:6 Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!
Liefde. Hy noem haar LIEFDE. Liefling? Sy is die goddelike liefde in menslike gestalte, die beeld van die Vader, Seun en Heilige Gees. In Gen 1:26 lees ons dit:
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis …
Die wedergebore mens is die vergestalting van God se liefde! Die liefde tussen Vader, Seun en Heilige Gees is so intens en versadigend dat God, Drie-Enig, niks buite Homself nodig het om volkome vervuld te lewe nie. Op aarde geniet Hy wel alles wat Hy daarop geskape het, maar net die mens kan sy liefde beantwoord. Die diereryk kan slegs die vrug daarvan ervaar. Vir hulle is dit ‘n eenrigting liede. Daarom roep die Bruidegom uit: hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!
DIE BRUIDEGOM: 7:7 U hoë gestalte daar lyk soos ‘n dadelpalm, en u borste soos vrugtetrosse. 8 Ek het gedink: Laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat u borste tog wees soos trosse van die wingerdstok, en die geur van u asem soos dié van appels, 9 en u verhemelte soos die beste wyn wat vir my beminde saggies na binne gly, en oor die lippe vloei van die wat inslaap.
Eerstens komplimenteer hy sy Bruid met haar hoë gestalte. Sommige dadelpalm spesies word 10 meter en hoër. Sy troon uit bo alles om haar. So sien Hy sy universele Bruid. Sy is vir Hom belangriker as enigiets anders: as die hoogste wolkekrabber, die grootste, sierlikste, vinnigste straler wat deur die blou ruimte klief.
Sy dra die aanloklike geestelike vrug van haar liefdesgroei buite bereik van almal behalwe haar Beminde. Hy hoof net sy hand daarna uit te strek soos na die trosse van die druiweprieël. Dan tree Hy nog nader en word die geur van haar asem gewaar. Sy gedagtes voer Hom nog verder deur die werking van die Heilige Gees wat bedwelmend is soos wyn wat oor haar lippe na binne vloei selfs wanneer sy insluimer.
Dit is verrukkend om uit die mond van die Seun van God self te verneem hoe Hy oor ons as sy Bruid voel, wat die uitwerking is wat ons liefde op Hom het.
O GEES VAN GOD, LEER ONS OM LIEF TE HÊ MET MET DIESELDE PASSIE AS WAT ONS DEUR DIE SEUN BEMIN WORD!
~~~~~~~~~~