2024-08-08
NOTA
Die skrywer se sienswyse is dat hierdie Boek ‘n uitbeelding is van Jesus, die Hemelse Bruidegom, in verhouding met sy aardse bruid, die wedergebore mens.
DIE BRUID: 1:2 Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn.
Om mond tot mond te soen, die fermheid van die man se lippe op die sagtheid van die meisie s’n, is verruklik; dit is om baie intiem te verkeer; om julself aan mekaar oor te gee; in mekaar te verlustig; te vergeet van die wêreld om julle. Die een behoort dan aan die ander. Om jouself geestelik so aan die Hemelse Bruidegom oor te gee, is om te sweef in die sfeer van die Gees; om te sweef soos ‘n arend; hoog bo die gewoel en die stof van die aarde.
Wyn bedwelm die verstand, laat jou vergeet van jou probleme, laat jou opgewek en vrolik voel sodat jy jouself oorgee aan die mense om jou. Jy verloor jou selfbeheer en waaksaamheid. Jy doen verspotte dinge. Die Skrif waarsku om nie aan wyn toe te gee nie want dit lei tot losbandigheid. Die Here bied jou iets veel beters, naamlik om met die Heilige Gees vervul te word (2Kor 5:17). Daarin is geestelike genot sonder latere berou. Die vloei van die Bruidegom se liefde na die bruid is “kosteliker as wyn”.
DIE BRUID: 1:3 U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief.
Ons reuk sintuig kan aangename gewaarwordinge by ons opwek, soos wanneer ons by ‘n bakkery verbyry en die geur van varsgebakte brood gewaarword of die geur van braaivleis wat van ons buurman se braaiplek af oorwaai. Die veldblomme- en plante se geur in Namakwaland; die rose in ons voortuin; die geur van duur parfuum wanneer ‘n dame met goeie smaak in ‘n hysbak instap. Die heiligdom van die tabernakel was gekenmerk deur die geur van ‘n spesiaal bereide reukoffer wat gedurig vanaf ‘n altaar na God opgestyg het. Die liefdesoffer wat Jesus aan die kruis gebring het, was vir die Vader ‘n lieflike geur (Efes 5:2) omdat dit die reuk van die sondedood, die reuk van haat, oneerlikheid en wellus verdryf het. ‘n Geur is onsigbaar, ontasbaar maar ook onstuitbaar; dit versprei oral waar die bron beweeg. So is die Naam van Christus. Wanneer sy bruid daardie Naam hoor, roep dit in haar gedagtes op alles wat regverdig, ryn, eerbaar, lieflik en loflik is. Daarom het elke bruid van Christus hom so lief.
DIE BRUID: 1:4 Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief.
Die binnekamers van ‘n koning is nie vir almal beskore nie; hy moet jou daarin innooi; sy hofbeamtes opdrag gee om jou in te begelei; sy septer na jou toe uitsteek. So ook kan geen mens ongenooid in die heerlikheid van God instap nie; dit is heilige grond, ontoeganklike lig. Moses moes sy skoene uittrek en op ‘n afstand bly staan vanaf die braambos waarin die Here homself in vlammende glorie openbaar het.
Ons kan wel ons arms oplig, ons handpalms na hom toe uitbrei, in smagting tot hom roep totdat Hy met sy septer na ons wys en Sy Gees ons na binne begelei. Dikwels gebeur dit waar ‘n aantal lede van sy bruid vergader is en in lofprysing en aanbidding hul liefde aan hom betuig. (Die woorde “ons” en “hulle” dui daarop dat die bruid hier bestaan uit verskeie persone wat saam verkeer.)
DIE BRUID: 1:5 Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo. 1:6 Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie.
(Laat ons net uit die staanspoor daarop wys dat dit nie hier gaan om die natuurlike kleur van die bruid nie. Verskeie Oosterse volke, onder wie Israel ook tel, is van nature bruin van kleur. Sommige Westerse meisies wat van nature wit van kleur is, lê urelank in die son om ‘n gesonde bruin kleur te bekom; dit is vir hulle mooi. Dit gaan daaroor dat sy onversigtig was, “don’t care” en haar vel deur die son lelik laat verbrand het.)
In die kultuur van ons Boerevolk was dit van ‘n vrou verwag om haar vel spierwit en sag te bewaar. Selfs toe hulle die ossewatrek oor berge en vlaktes na die binneland moes meemaak, het hulle hulself geklee in lang rokke wat tot op die voete gereik en moue wat ook die arms bedek het. Selfs die nek is met ‘n hoë kraag teen die son beskerm en die gesig met ‘n breërand kappie. So het ‘n vrou haar vel pragtig wit en sag bewaar vir wanneer sy en haar man alleen in hul tent was. ‘n Vrou wat haarself verwaarloos het deur selfs net haar gesig en arms bloot te stel sodat dit grof en geskend was deur die strale van die son, sou verseker deur ander vroue skeef aangekyk en deur haar man streng aangespreek gewees het. Sy het die kultuur en lewenswyse van haar volk en gesin geminag. Ons bruidjie het juis so opgetree en haarself die grimmigheid en verontwaardiging van haar mede-bruide, die dogters van die Godstad Jerusalem, op die hals gehaal.
Sy verweer haarself deur hulle daarop te wys dat die tente van Kedar (tente van die nakomelinge van Esau) ook bruin was; hoe anders dan want hulle het heeldag die blakende son in diens van hul eienaars verduur.
Ja, erken sy, bruin is die kleur van die grond, die kleur van die aarde; nie blou soos die hemel daarbo of purper soos wat konings dra nie, maar die grote Salomo het ook bruin gordyne in sy paleis gehad, ongeag wat andere daarvan gedink het.
Wat meer is, sy leef binne ‘n uitgebreide gesin. Haar stiefbroers het gesag oor haar, haat haar en verplig haar om te maak soos hulle wil; sy kan nie haar eie begeertes en siening uitleef nie; sy moes heeldag in die blakende son in hul wingerde werk, daarom lyk sy soos sy lyk en is haar tuin vol bossies en haar wingerd ongesnoei en die opbrengs so swak. Tog is sy nog beeldskoon in die oë van haar Koninklike minnaar. Het Hy nie self so gesê nie? “So what!” En so verdedig sy haarself; baie slim.
Wat maak ons hiervan? Ja, ons, as kinders van God, behoort aan twee gesinne; eerstens aan die wêreldse Adam’s gesin waaruit ons aanvanklik gebore is en tweedens aan die geestelike God’s gesin waarin ons weergebore is. Ons is gedurig tussen twee vure. Die seuns van my aardse moeder, Eva, het die duiwel as vader en hy en sy seuns haat my en plaas geweldige druk op my om hul koninkryk te dien en te bevorder.
Selfs ‘n gelowige seuntjie of dogtertjie ondervind dit reeds op skool en kom soms met betraande gesiggies huistoe oor die spot en selfs fisiesie afknouery wat hul op skool beleef het omdat hulle die Here Jesus dien en nie aan andere se stoutigheid wil meedoen nie. In die huwelik tussen ‘n weergeborene en ongelowige is daar gedurige wrywing en verskille oor belangrike besluite wat geneem moet word. En nou praat ons nie eers oor die hewige veldslae wat daagliks in die Parlement, beroepslewe en sommer net op straat plaasvind nie. Die bruid van Christus is soms, aan die einde van ‘n werksdag, heimlik beskaand oor hoe haar geestelike lewe gedurende die verlope ure skade gely het.
Mede bruide, dogters van Jerusalem, laat ons in hierdie vyandige wêreld versigtig wees om mekaar nie te skerp aan te kyk oor die uiterlike letsels van sonde nie. Laat die een die ander eerder in liefde aansien, nie soos wat hy of sy is nie, maar soos wat ons probeer om te wees. Maak soos Jesus: visualiseer sy bruid, jou mede bruid, soos wat sy eendag sal wees wanneer die Heilige Gees se werk in haar voltooid sal wees – ‘n deelsvoltooide rok lyk mos nie te waffers nie en sy is nog besig om aan hare te werk..
Maar daar is ook jou eie kant, bruid van Christus, jy kan jou verdedig voor andere, maar in jou hart weet jy waar jy verkeerd gaan. Jy bedek die brandmerke van jou son(de) wanneer andere dit uitwys, maar wanneer jy vanaand alleen is en die kleed van selfregverdiging uitgetrek het, is jy spyt oor wat jy gedoen, gesê en gedink het. Jy weet verseker dat jy versigtiger moes gewandel het. Dink dan daaraan: Jou Bruidegom het, net soos jy, hierdie aardse lewe deurleef maar homself smetteloos bewaar (Heb 7:26). Jy kan deur dieselfde krag van die Heilige Gees waarmee Hy homself bekragtig het, jouself ook onbesmet bewaar sodat jul aardse verlowing ‘n ononderbroke lekkerte kan wees.
DIE BRUID: 1:7 Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met ‘n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle?
In haar eensaamheid spreek sy haar verlange hardop uit; miskien sal die wind haar woorde na Hom dra. “My Herder waar is U met u troppie vee wat in U voetspore volg, wat altyd na aan U is; hulle wat gedurig in groen weivelde wei en wie U gedurende die middaghitte in die skadu van koeltebome laat rus?” Sy luister maar kry geen antwoord nie.
O, sy mis Hom tog so. Sy kan nie maar net so voortgaan nie. Mag haar mede-bruide tog net nie agterkom dat sy weggedwaal het nie. Sy versluier haarself agter ‘n front van vrolikheid, wuif met die hand; maar dié wat die Weg al langer en verder geloop het, dring in die Gees deur tot haar donkerte. In onbewaakte oomblikke sien hulle die frons op haar gelaat; dit verraai dat sy diep ingedagte is, soekende na ‘n oplossing. Hulle bid vir haar.
DIE BRUIDEGOM: 8 As u dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van die skape en laat u bokkies wei by die hutte van die herders.
Sy bloos van genot: “Mooiste onder die vroue.” Ja, vir die hals-oor-kop verliefde jongman is sy bruid altyd die mooiste van almal; in haar ontdek hy iets wat hy nog in geen ander gevind het nie. God self het dit beskik dat elkeen verskillend is, in voorkoms en persoonlikheid en dat elkeen se smaak uniek is; daarom, wanneer ons op God wag, sal die huweliksmaat wat Hy na ons lei, net soveel begeerliker wees as enigiemand anders.
So ook is ons elkeen vir ons Hemelse Bruidegom die mooiste. Vir Hom is daar iets in elkeen wat uniek is; waarin ons vir Hom mooier as enigiemand anders is.
Maar haar probleem is nog nie opgelos nie. Sy koester sy woorde van aanprysing, maar smag na sy teenwoordigheid. Hy het ook gesê dat as sy self nie weet waar om Hom te vind nie moet sy tussen die herdershutte gaan soek na die skaapspore; hulle sal haar na hom toe lei. Sy soek al verder weg, tot by die hutte van sy metgeselle, die herders en besluit om in te gaan.
In die eerste hut praat die herder oor die verskriklike afvalligheid in hierdie laaste dae en die oordeel van God oor die goddelose. Di’s waar maar … Sy draai haar mantel stywer om haar en sluip uit, geniet die sonskyn daarbuite. Dan sien sy ‘n tweede hut. Sy glip in en sit in die agterste bank. Die herder praat ernstig oor die verlies aan skape wat hy ondervind; hulle loop oor na ‘n ander herder wat net die lekker groen dele uit die Woord vir hulle sny en voer. Ernstig waarsku hy die handjievol getroue oues wat oorgebly het om tog nie ook verlei te word nie. Sy luister fyn of hy tog nie iets laat val oor waar haar Geliefde kan wees nie, maar kry nie ‘n antwoord nie. Di’s reeds donker toe sy ‘n derde herdershut ontdek. Die ligte brand en hulle daarbinne sing van Hom. Sy kry ‘n sitplekkie. Teen die voorste muur hang ‘n beeld van haar Geliefde soos op die dag toe Hy vir haar sondes gekruisig was. Sy is opgewonde; nou gaan sy van hom hoor! Die herder is baie mooi aangetrek en vertel van haar Geliefde se moeder en hoe ‘n mens vandag nog tot haar kan bid en dat sy vereer moet word. Sy bly luister maar daar eindig sy woorde.
Neerslagtig koers sy huistoe. Op pad ontmoet sy ‘n vriendin; dié neem haar hande in haar eie, kyk diep in haar oë en fluister: “Vrou, soek tússen die herdershutte vir die bloedspore van hulle wat in Sy voetspore volg; dit is die geregtigheidspore van nederigheid, sagmoedigheid en diensbaarheid; hulle sal jou na die Goeie Herder toe lei wat sy lewe vir jou afgelê het. Hy is ook die Opperherder oor sy metgeselle.”
Sy haas haar na haar binnekamer, blaai deur haar Bruidegom se liefdesbriewe en vind die voetspoor van ‘n profeet van weleer. Met haar vinger volg sy woorde:
Isa 57:15 Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
Skielik begryp sy en stort haar hart uit: “O Here, in my opgewondenheid oor U het ek myself hoër geag as hulle wat u nog nie so ken nie. Ek het weggedwaal; U voetspoor verloor. Skielik was ek alleen. Toe is my hart verbrysel omdat ek u nie kon vind nie. Is dit verby met my?
En toe, skielik, is Hy daar, by haar, en vloei sy woorde soos vroeër; geen verwyt, net asof niks intussen gebeur het nie.
DIE BRUIDEGOM:1:9 Met die perde voor ‘n wa van Farao vergelyk ek u, my vriendin! 10 Lieflik is u wange tussen die kettinkies, u hals in die snoere. 11 Ons sal vir u goue kettinkies maak met silwerknoppe.
Salomo het sy perde van Egipte af ingevoer omdat daar geen beter op aarde te vinde was nie. Die beste van die bestes het hy voor sy koets ingespan. Met gekromde nekke en pote hoog opgelig het hulle voor sy wa uit gepronk; die vel van hul koppe en nekke sag en blink soos satyn, geraam in kettingkies wat van die halter gehang het. Wanneer hy dan vanaf sy koets oor hulle sou uitkyk, sou sy hart gegloei het van trots. Die menigtes langs die paaie sou hul in die skouspel verlustig, gejuig en hande geklap het. So is die Bruidegom se bruid vir Hom. Hy kyk uit die hemel neer en is trots op haar. Deur sy Gees sal Hy vir haar nog mooier versierings smee van egte onverganklike goud en silwer.
1Pe 3:3: Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. 5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, …
[Die Hooglied is uitgelê soos ‘n kunsgalery waarin talle skilderye met uiteenlopende inhoud teen die mure of op staanders uitgestal is. Hulle hou nie noodwendig verband met mekaar nie en hoof ook nie sonder meer in ‘n bepaalde volgorde besigtig te word nie; elkeen dra sy eie boodskap, het sy eie bekoring. Dit wat binne elke raam uitgebeeld word, hoort natuurlik bymekaar soos die skilder dit wou hê.
Ons moet ook weet watter van die tekse wat ons bestudeer, binne dieselde raam gelees moet word; watter bymekaar hoort. Soms kon daar ‘n aansienlike tyd tussen twee insidente verloop het.]
DIE BRUID: 12 So lank as die koning aan sy tafel was, het my nardus sy geur gegee. 13 My beminde is vir my ‘n bossie mirre wat tussen my borste rus.
Die bruid getuig van haar beminde. Sy sien haarself as ‘n kelnerin wat haar Bruidegom bedien. In sommige kulture is dit die gebruik dat ‘n man se vroue nie saam met hom aan tafel gaan nie; hulle bedien hom eers met die beste disse. Hulle eer lê in die maal wat hulle aan hom voorsit – hulle spog daarmee. Hulle hou ook ‘n bak met gegeurde, seperige water na hom uit om sy hande in af te spoel en ‘n handdoek oor die voorarm om homself mee af te droog. Eers wanneer hy na hartelus geëet, sy genoegdoening betuig en die tafel verlaat het, sit hulle aan en geniet wat oorbly. As hul heer ‘n ryk man was, sou hul steeds ‘n oorvloed hê om as groep in ‘n meer ‘n onspanne, vrolike atmosfeer te geniet.
Hierdie kelnerinnetjie doen egter meer: sy salf haarself met nardus sodat haar Bruidegom nie net die voedsel wat sy berei het kan geniet nie, maar ook die heerlike geur van haar nardus kan inadem, elke keer wanneer sy nader tree om hom te bedien. Haar hart is in dit wat sy vir Hom doen. Sy stap die tweede myl vir Hom. Sy is soos ‘n dienskneg wat, nadat sy die hele dag hard in sy wingerd gewerk het, vir hom ‘n tafel dek en hom self daarby bedien (Luk 17:7-10). Die geur van haar diens lê in die gesindheid van haar hart; dit is die die geur van die liefde.
Hoe kry sy dit reg om elke ete so te bedien? Omdat die geur van sy liefde soos ‘n bossie geurige mirre is wat sy heeldagdeur inadem. Sy kies elke oggend om dit na aan haar hart vas te speld sodat sy gedurig daarvan bewus sal wees.
DIE BRUID: 14 My beminde is vir my ‘n tros henna-blomme in die wingerde van Éngedi.
Oos van die Godstad Jerusalem, vind ons die Dooie-See waarvan die waters weens die hoë sout inhoud onbruikbaar is vir mens en dier. Dit is ook die laagste plek op aarde: ongeveer 413 meter onder seëspiëel. Wes, en aangrensend daaraan, is ‘n gebied bekend as Éngedi (Ein Gedi), ‘n onhergbersame klipperige bergwoestyn. Dit is hier waar Dawid, die Heer se uitverkorene koning, rondgevlug het om te ontvlug van koning Saul wat gedurig op hom jag gemaak het. Dikwels was daar maar een tree tussen hom en die dood; so getuig hy self. Hier het hy en sy manne in grotte gewoon, wagtende op die dag dat die Heer hom sou verhef en op die troon sou plaas. Maar in dié dorre landstreek het die Heer ten minste ook een oase voorsien waar helderskoon water uit onderaardse riviere bo die oppervlak uitgeborrel en lewe aan mens en dier voorsien het. Dawid en sy manne het waarskynlik ook dikwels by Éngedi lafenis gevind.
In vers 14 lees ons dat hier ook wingerde aangeplant was. Terwyl Dawid en sy dorstige manne met toegeknypte oë koel waters uit kruike geslurp het, kon hulle ook, met die rug geleun teen ‘n skaduryke palmboom, smul aan ‘n Éngedi druiwetros. Asof dit nie genoeg was nie, het die Heer hier ook Henna plante laat uitspruit wat die moeë woestynbewoner met hul lieflike geur verkwik het. Vir die meer ongevoelige vegters soos Joab, sou blomme waarskynlik niks beteken het nie. Andere egter, soos Dawid, die Psalmdigter, harpspeler en koordanser sou dit opmerk, ruik, opstaan en na die blom toe stap. Hy sou sy hande om die trosse vou, vooroor buig om die geur dieper in te adem en dan sy oë na die hemel ophef om heilige oomblikke met sy Hemelse Bruidegom daar deur te bring.
Die naam “Éngedi” sou hom bybly as die Hennablom oase, die tuin van God, ‘n aardse Paradys. Hierdie belewenis sou hy in later jare met sy seun Salomo kon deel, wat dit weer in sy liefdeslied ingeweef het.
Sò, sê die sonverbrande bruidjie, soos ‘n tros hennablomme in ‘n dorre land, is haar Bruidegom. Wanneer sy op die laagste van laagtepunte in haar lewe in ‘n geestelike woestyn rondvlug om van die bose te ontkom, voorsien Hy ‘n oase met lewende water en trosse sappige, voedende druiwe om haar te verkwik. En hoe weet sy dat dit van Hom is? Deur die heerlike geur van sy persoonlike teenwoordigheid. Daarom getuig sy: My beminde is vir my ‘n tros henna-blomme in die wingerde van Éngedi. O, die heerlikheid van sy Persoon. Die meeste van God’s kinders kan getuig van wonderlike uitkomste wat Hy vir hulle bewerk het; hetsy, finansiëel, liggaamlik, uit gevare gered of hoe ookal, maar die bruid ontdek haar Bruidegom persoonlik opnuut by die oase van Engedi. Vir haar is die Gewer kosbaarder as sy gawes.
DIE BRUIDEGOM: 15 Hoe mooi is u tog, my vriendin! Hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe!
Nou is die Bruidegom weer aan die woord. Hy getuig nie teenoor andere oor sy bruid nie, maar gesels met haar. Hy kan sien sy voel vandag nie alte goed oor haarself nie en besluit om haar op te beur. Hy spreek haar aan as, “My vriendin.”
Manne, hoe lyk dit: is jou huweliksmaat nog jou vriendin, jou “Date” jou meisie, of bloot net jou vrou: jou kook-vrou, jou wasgoed-vrou, jou kinderoppasser-vrou? Is sy aan die etenstafel jou vriendin met wie jy grappies maak sodat sy die druk van die dag so ‘n bietjie kan vergeet? Komplimenteer jy haar oor haar parfuum? Het jy opgemerk dat sy haar hare laat doen en so bietjie anders gestyleer het? Bly jou een oog op die Tv of gaan haal jy haar geliefkoosde blatjang vir haar in die kombuis. Wanneer sy ná jou van haar werk af tuiskom, wag jy haar in, neem jy haar handsak uit haar hand; is daar ‘n vonkel in jou oë; groet jy haar met ‘n “Haai my meisie”, en gee jy haar ‘n saakmaak soen?
Ons kyk verder na die teks. Die Hemelse Bruidegom praat met sy bruid oor haar oë. Hy sê hulle is tog vir Hom sò mooi. Is dit omdat Hy van bruin, blou, groen of gryserige oë hou en sy juis daardie kleur oë het? Jakob het nie erg aan Lea gehad nie, onder andere omdat haar oë dof was, maar was dolverlief op Ragel omdat sy skoon van aansien was en, in teenstelling met Lea, waarskynlik ook vonkelende, ondeunde, laggende, uitlokkende oë gehad het (Gen 29:17,18).
Ons sê soms dat die oë die vensters van die siel is, omdat dit iets van die betrokke persoon se innerlike wese weerspiëel. Die bruidegom in ons verhaal se bruid se oë was vir hom mooi omdat hulle soos duiwe was. Hoe is duiwe?
Ons kan hulle beskryf as vreedsaam, rustig, beslis nie veglustig nie. Ons weet ook dat die duif vinnig en vêr kan vlieg en en op bonatuurlike wyse koershou om sy bestemming sekuur te bereik. Daarom is dit vroeër jare as posduiwe gebruik om boodskappe te van een plek na ‘n ander te dra. Noag het ‘n duif uit die ark weggestuur om die wêreld rondomheen te verken. Dit het met ‘n groen olyfblad in die bek teruggekeer; ‘n goeie boodskap dat die waters wat die aardebol bedek het besig was om weg te dreineer en groen plante weer hul verskyning gemaak het (Gen 8:11). Die duif was dus ‘n boodskapper, draer van ‘n blye boodskap van hoop.
God die Vader het ook ‘n duif gebruik as simbool van die Heilige Gees wat in liggaamlike gedaante op sy geliefde Seun, Jesus, neergedaal het (Luk 3:22). Die boodskap wat Hy daarmee aan die skare oorgedra het, was dat Hy sy Seun op daardie oomblik gesalf het om in die vredevolle gesindheid van die duif te bedien. Hy sou deur die werking van die Hemelse Duif, tussen die mense rondbeweeg, nie om oorlog te ontketen nie, maar om vrede op aarde te bewerk; vrede met God en vrede tussen mens en mens.
Jes 42:2 Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.
Die Bruidegom sê dus dat sy bruid se oë boodskappers is van wat binne in haar hart gebeur en die boodskap wat hulle uitdra, is dat die Hemelse Duif in haar woon. Daarom straal haar oë al die mooi eienskappe uit wat Hy in haar bewerk: kalmte, vrede, vreugde, blydskap, vriendelikheid, innemendheid; kortom, alles wat in die liefde van God opgesluit is.
(Vergelyk dit nou met wat die oë van die wêreldling uistraal: haat, afguns, wellus, spot, minagting, woede, kille liefdeloosheid. Sommige wil andere met die kyk in hul oë verskroei.)
DIE BRUIDEGOM (vervolg): 16 Hoe mooi is u tog, my beminde, ja lieflik; ook is ons bed in die groenigheid. 17 Die balke van ons huise is seders, ons paneelwerk sipresse.
Ons het vroeër gesê dat hierdie paartjie nog nie in ‘n getroude verhouding met mekaar is nie. Daarom is hierdie nie die beskrywing van ‘n slaapkamerepisode nie, maar van ‘n afgesonderde ruskamer. Ons kan nie aanhoudend met ons Hemelse Bruidegom in gesprek wees of in omhelsing terwyl Hy ons geestelik kus met die kusse van sy mond nie. Die mens is broos en sy liggaam en sy gees is ook beperk in die hoeveelheid aktiewe lofprysing en aanbidding waartoe hy in staat is. Daar kom tye dat die bruid net rustig in die teenwoordigheid van die Bruidegom wil verkeer.
Dan is dit soos wat Dawid dit in Ps 23 van die Heer se skape beskryf: Hy laat hulle neerlê in groen weivelde. Die Bruidegom in ons verhaal sê weer: “Ons bed is in die groenigheid”. Die skaap wat in groen gras lê, is versadig, sit gewig aan en sy wol groei terwyl hy lê en herkou. Ons groei nie net Sondagoggend in die kerk geestelik nie, maar ook Sondagnag wanneer ons slaap. Die kos moet tyd gegee word om te verteer en in geestelike krag omgesit te word.
Ons rus egter nie soos skape in die oop veld nie, maar in ‘n luukse gastekamer waarvan byde die dakbalke en die muurpanele van die beste hout gemaak is. Ook in die donker nag wanneer ek rus, waak Hy geestelik oor my; is my Vader se hande van beskerming oor my; is my Bruidegom langs my en die Gees van God in my.
//////////
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.