1 Korintiërs 9 tot 11

TERUG NA INDEKS                                                                                                NA VOLGENDE HOOFSTUK

A. PRYSGEE VAN JOU REGTE

9:1-27

1. Paulus verduidelik wat hy bedoel met die prysgee van ‘n mens se voorregte ter wille van ander, deur te wys hoe dit sy eie lewe (en dié van Barnabas, sy medewerker) geraak het.
2. Hy gaan vervolgens voort om dié regte te lys wat hy kon uitgeoefen, maar prysgegee het:

a. Eerstens was hy ‘n apostel (‘n spesiale boodskapper) van God wat deur hom bevoorreg was om die lewende Christus in ‘n hemelse visioen te gesien het (wat impliseer dat hy geregtig was om onderhou te word uit die werk wat hy gedoen het.).
b. God self het erkenning gegee aan sy werk in Korinte deur hierdie gemeente op te rig.
c. Hulle was onderhoud aan hom verskuldig omdat hulle deur sy arbeid die ewige lewe ontvang het.
d. Hy en Barnabas kon van die gerief gebruik het om deur hul vrouens wat hul kon versorg het, soos die ander apostels, selfs Cefas en die Here se broers, vergesel te word, maar het dit nie gedoen nie (om nie die gemeente te belas nie).
e. Aangesien hulle besig was met so ‘n belangrike taak soos om die geestelike grondslag van ‘n nuwe gemeente te lê, is dit nie redelik dat hulle bevry moes van die handearbeid om in hul eie behoeftes te voorsien nie?
f. As jy geestelike saad saai, is dit te veel gevra om ‘n blote materiële oes te mag insamel?
g. Saai ‘n boer nie ook in die verwagting om iets te maai nie?
h. Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy druiwe nie?
i. Wie pas ‘n kudde vee op en lewe nie uit sy opbrengs nie?
j. Waar sal jy ‘n soldaat vind wat sy eie fondse gebruik om na die gevegsfront te gaan?
k. Bepaal selfs die Wet van God, aangeteken deur die hand van Moses, nie dat ‘n os wat graan uittrap nie gemuilband mag word nie?
l. Eet die priesters en Leviete wat aangestel is om die heilige pligte in die tempel te verrig nie ook van die offergawes nie?
m. Die Here Jesus self het dit tydens sy aardse bediening duidelik gemaak dat diegene wat die Evangelie verkondig, deur die opbrengs daarvan onderhou moes word.

3. Nadat hy al hierdie onweerlegbare argumente aangevoer het om sy regte te bewys, toon hy wat dit beteken om ‘n mens se regte af te lê deur te sê: “Nie een van hierdie regte het ek egter uitgeoefen nie, maar dit verbeur en eerder vir myself voorsien om nie vir julle te belas en daardeur vir julle ‘n struikelblok in die weg te lê vir die ontvangs van, en groei in Christus nie.”
4. Sy rede daarvoor was sy innige liefde vir hulle.
5. (‘n Mens kan nie anders as om die vraag te vra: “Hoeveel bedienaars van die Evangelie ken ons, wat eweneens hul regte sou neerlê en met hul eie hande sou werk om hulself te onderhou sodat hulle mans en vroue na Christus kan trek en die een gemeente na die ander kan opbou?”)
6. Die doel waarom hy hierdie waarhede in soveel besonderhede aan hulle te verduidelik, sê hy, is dat hulle die belangrike les mag daaruit mag leer dat, alhoewel ‘n Christen allerhande voorregte mag hê, die uitoefening daarvan onderworpe is aan die wette van nederigheid, diensbaarheid en liefde, wat beteken dat hy dikwels nie sy regte sal uitoefen nie.

B. OM JOUSELF OP TE OFFER TER WILLE VAN DIE EVANGELIE

9:15-27

1. Die grondbeginsels van bediening (deur God en mens):

a. Vader, Seun en Heilige Gees het Hulleself opgeoffer om verlossing as ‘n geskenk (vryelik) aan die mensdom te kon gee.
b. God roep en beveel persone wat aan Hom behoort, om hierdie Evangelie aan ander te bedien.
c. So ‘n geroepene is onder sy streng bevele en wee hom as hy nie daaraan gehoor gee nie.
d. In die uitvoering daarvan moet hy dien in die gelykenis van Christus wat homself gegee en nooit persoonlike dienste daarvoor geëis het nie.
e. Aangesien ‘n mens hierdie werk doen omdat hy deur God geroep is, kan hy nie teenoor mense roem dat hy hulle ‘n groot guns bewys waarvoor hulle hom moet vergeld nie.
f. (God sal op sy eie manier in die behoeftes van sy geroepe dienaar voorsien.)
g. Deur hierdie opdrag met blydskap te aanvaar en dit met vreugde en uit vrye wil uit te voer, kwalifiseer die geestelike werker vir ‘n hemelse beloning.
h. Om ‘n gestuurde van God of selfs net ‘n Christen te word, beteken dat jy ‘n gewer word; jy ontvang verniet van God en gee verniet aan God en mense.

2. Die verkeerde gesindheid in die bediening:

a. Om ‘n mate van beloning van die mens te eis, is om in stryd met die beginsel van ‘n vrye verlossing op te tree.
b. Deur teen die wil van God te gaan, verloor die gesant sy hemelse beloning want hy het dit met ‘n aardse vervang.
c. Selfs om nie bereid te wees om op watter wyse ook al op te offer ter wille van die Evangelie nie  (om te mor) kan meebring dat ‘n bedienaar sy hemelse beloning verloor.
d. In daardie geval bedek God ook nie meer sy foute uit genade nie, maar hou rekord daarvan en hou hom aanspreeklik soos ‘n rekenmeester wat rekenskap moet gee van elke rand wat hy ontvang. (Hy sal nie sy redding verloor nie maar sy hemelse beloning vir diens verloor.)
e. Dit sal vir so ‘n persoon beter wees om van honger te sterf as om sy ewige beloning te verloor deur ‘n aardse quid pro quo (iets vir iets) vir sy dienste te eis.

3. Hier is riglyne oor hoe dit prakties moet uitwerk in die opoffering van jouself om andere te red:

a. Moenie jou vryheid in Christus op ‘n hoogmoedige, beterweterige wyse beoefen omdat jy meer lig ontvang het nie.
b. Sonder om jou Christelike oortuigings en lewenstyl op te offer, leef en dink soos ‘n Jood om die Jode te wen, as ‘n wêreldse mens om die wetteloses te wen en as ‘n baie sensitiewe persoon om diegene te wen wat in vrees leef vir die skending van hul kultuur, sodat ten minste sommige van hulle gered kan word.
c. Deur dit te doen, sal jy self geestelik die dieper beginsels van die Evangelie belewe: nederigheid, liefde en diens, en ‘n lewende voorbeeld word van die boodskap wat jy verkondig.

4. Wanneer jy jouself so opoffer, sê Paulus, moet jy die houding van ‘n atleet hê:

a. Hy eet of drink of doen niks wat hom daarvan sal weerhou om die hoogste moontlike spoed te behaal om die wedloop teen sy teenstanders te wen nie, want hy weet dat die opposisie baie fel is en die minste swakheid wat hy homself veroorloof, sal hom die kroon van oorwinning kos.
b. Hy spaar nie sy liggaam nie, maar oefen dit om pyn te kan verduur en sal geen verskoning aanvaar om teen ‘n rustiger pas te hardloop nie.
c. (Dit beteken nie dat die Christen sy mede-Christene in die lewe of bediening moet klop (wen) nie. Hy wat homself heelhartig gee om die Here te dien, het reeds dieselfde gesindheid as die atleet en is inderdaad besig om die wedloop dag vir dag te wen.)
d. Nog ‘n voorbeeld om na te volg is dié van ‘n bokser wat nie bloot ‘n vertoning daarvan maak deur voor te gee dat hy iemand slaan nie; nee hy slaan met alle mag reguit na sy opponent met die doel om hom ‘n uitklophou toe te dien.
e. Atlete betaal hierdie hoogste prys van die opoffering van hulself ter wille van die wen van ‘n menslike kroon van takkies, blomme en blare wat oor ‘n dag of twee sal verwelk; hoeveel te meer ons wat hardloop om ‘n immergroen kroon te ontvang.
f. Die bedienaar van die Evangelie (en inderdaad elke Christen) moet doen wat hy verkondig en sy liggaam onderwerp aan watter pyn dit ookal mag meebring om nie self die toets van toewyding te druip nie.

C. OM ‘N LIDMAAT VAN ‘N GESEëNDE GEMEENTE TE WEES IS GEEN WAARBORG DAT JY DAARDEUR BY GOD IN GUNS SAL WEES NIE.

10:1-13

1 . Jy kan nie die kwaliteit van ‘n sokkerspan beoordeel aan die pragtige truie wat hulle as geskenk ontvang het nie.
2. Net so kan jy nie die kwaliteit van die lidmate van ‘n gemeente beoordeel aan die rykdom van bediening wat hulle van God ontvang het nie.
3. Neem God se volk, Israel, wat Hy uit Egipte uitgelei het as voorbeeld; as vergelykbaar met ‘n hedendaagse gemeente.
4. Hulle het almal deel gehad (is gedoop) in die bediening van Moses, dws. hulle het wonderbaarlik deur die droë bedding van die Rooi See gestap, is beskerm, gelei en getroos deur God se wolk, het geëet van die hemelse manna; ja, hulle het inderdaad geëet en gedrink van die lewe van Christus wat later vir hulle sou sterf en tog was die meeste van hulle nie in guns by God nie en het Hy hulle dooie liggame in die woestyn verstrooi.
5. Dit het Hy gedoen omdat hulle afgode aanbid het, seksuele onsedelikheid beoefen en Hom versoek het deur te murmureer wanneer hulle behoeftes ook al nie bevredig was nie.
6. Die Here het dit neergeskryf as ‘n waarskuwing aan ons wat in die laaste dae lewe.
7. Laat niemand dus spog oor hoe sterk hy geestelik staan ​​nie; hy kan onverwags struikel en val.
8. Aan die ander kant, wees bemoedig, God sal nie toelaat dat die versoeking waarin ‘n mens kom, groter is as wat hy kan weerstaan ​​nie en sal op die regte tyd ‘n uitweg bied.

D. DIE BENUTTING VAN CHRISTELIKE VRYHEID TE MIDDE VAN AFGODERY

10:14-11:1

1. ‘n Christen weet dat daar net een God is wat alles geskep het en is dus vry om te eet wat hy ook al wil, maar moet net nie daardeur die idee skep dat hy aan afgode hulde bring nie.
2. Wat jy eet, waar jy dit eet en saam met wie jy eet, weerspieël jou geloof:

a. Die Ou Testamentiese gelowiges het hul gemeenskap met God uitgebeeld deur van die vleis te eet wat hulle aan hom geoffer het.
b. Christene gee uitdrukking aan hulle gemeenskap met Christus wanneer hulle die Nagmaal geniet.
c. Die heidene weer, gee uitdrukking aan hulle gemeenskap met demone wanneer hulle eet van die vleis wat aan afgode geoffer is.

3. Moet daarom nooit deel hê aan die heidene se rituële maaltye nie.
4. Daardeur sal jy die indruk skep van hul afgode te dien.
5. (Dit sou beteken dat ‘n Christen nie mag deelneem aan ‘n maaltyd wat voorberei is as deel van ‘n ritueël van offerande aan die geeste van voorvaders nie.)
6. Om vleis by ‘n slaghuis te koop, is ‘n ander saak: koop en eet sonder om navraag te doen oor waar dit vandaan kom.
7. As iemand jou egter meedeel dat dit aan afgode geoffer was, moet dit nie koop as ‘n swakker Christen deur jou voorbeeld in versoeking kan kom om iets te doen (te eet) wat hy glo sondig is en waardeur hy deur sy gewete veroordeel word nie.
8. Die reël wat vroeër verduidelik is, geld ook hier: geniet jou vryheid, maar as iemand anders daardeur benadeel sal word, moet jy dit liewer nie doen nie (nie jou vryheid ten volle benut nie).
9. Hierdie gesindheid is vir andere tot seën en bring aan God die eer.
10. Dit is wat Paulus gedoen het en wat hy nou andere aanbeveel om te doen.

E. VLAKKE VAN GESAG EN WYSES OM DIT TE BEOEFEN

11:2-16

1. Die mens se funksionele gesag in die Koninkryk van God:

a. Een van die kenmerke van die Koninkryk van God, is dat dit funksioneer op grond van gesagsvlakke.
b. Hierdie beginsel word eerstens in die Godheid gevind waar die Vader die Hoof van die Seun en die Gees is.
c. (Die Vader is egter nie in wese verhewe bo die Seun en Gees nie – daarin is hulle gelyk.)
d. Gesagsvlakke word ook gevind in die ryk van die engelewêreld.
e. Met die skepping het God aan Adam gesag gegee oor die hele aarde wat hy moes beskerm en ontwikkel.
f. Om vlakke van gesag te hê om die funksionering van God se Koninkryk te orden, is dus goed en nodig.
g. Wat die Christendom betref, het die Here beveel dat Christus die Hoof van elkeen moet wees.
h. Onder hom, so het Hy georden, moet die man die hoof van die vrou wees. Twee redes vir hierdie beslissing, is dat:

i. Die vrou uit die man geskep was en nie andersom nie: sy is dus deel van hom (en nie hy van haar nie). (Die man moet homself nie om hierdie rede verhef nie en moet in gedagte hou dat hy weer uit ‘n vrou gebore is.)
ii. Tweedens is die vrou geskep ter wille van die man en nie die man om die vrou se behoefte te vervul nie.

j. Gesag bring verantwoordelikheid: die een wat in gesag staan, moet die een onder sy gesag beskerm en maksimaal ontwikkel.

2. Sigbaarheid van vlakke van gesag in Christelike byeenkomste.

a. Onder die Ou Verbond is geestelike waarhede dikwels visueel uitgebeeld (die tabernakel, die verskillende offers, die klere wat die priesters en die hoëpriester gedra het, die besnydenis, ens.)
b. Onder die Nuwe Verbond het die meeste van hierdie uitbeelding weggeval, maar ten minste drie nuwes is daargestel:

i. Die waterdoop van gelowiges, wat die Christen se sterwe met, en opstanding in Christus uitbeeld.
ii. Die Nagmaal wat die gelowige se deelname aan die lewe van Christus verkondig.
iii. Die dra, al dan nie, van ‘n hoofbedekking deur vroue tydens gemeentebyeenkomste om die eerbiediging van gesag te verklaar. 

~ Wat die man betref het die Here beveel dat hy nie ‘n hoofbedekking moet dra nie, want hy moet die beeld van God (Christus) weerspieël. Deur sy hoof te bedek, sou hy sy Hoof (Christus) oneer aandoen deur Hom nie as hoof te erken nie.
~ Wat die vrou betref, het Hy beveel dat sy ‘n hoofbedekking moet dra om aan te dui dat sy onderworpe is aan die gesag van die man. Deur dit nie te doen nie, doen sy haar hoof (haar man) oneer aan en deurdat sy nie die Here se opdrag nakom nie, doen sy Hom ook oneer aan.)
~ In ons gehoorsaamheid aan hierdie opdrag van God, sal selfs die engele sien wie aan wie onderworpe is.
~ Hoe die hoofbedekking moet lyk, word nie voorgeskryf nie, maar aan vroue se kreatiwiteit oorgelaat.

~ (Oor die dra van hoofbedekkings deur vroue is nie alle Christengemeenskappe dit eens nie).

3. Argumente aangevoer deur Paulus vir die dra/nie dra van ‘n hoofbedekking:

a. Hy wys daarop dat dit die natuurlike instink van mense was dat mans hul hare kort sny en dat vrouens dit lank dra. Sodoende het hulle getoon dat hulle besef dat God mans en vrouens geskep het om verskillend van mekaar te wees en verskillende rolle in die samelewing te vertolk.
b. Deur haar hare lank te dra, sou ‘n vrou haarself simbolies bedek en beskut voel voor die oë van mans in die algemeen, haarself kuis hou vir haar man of toekomstige man, terwyl die sny daarvan haar ontbloot en weerloos sou laat voel.
c. Hy sê beslis nie dat ‘n vrou se dra van lang hare al is wat vereis word in terme van haar onderdanigheid aan haar man nie. Die dra van ‘n hoofbedekking bo en behalwe lang hare, maak sin, aangesien die natuurlike haargroei van sommige nasies, soos Afrikane, wat kort gekroesde hare het, nie lang “bedekkende” hare toelaat nie, tensy hulle “onnatuurlik” gestrek word.

4. Verdere Skrifverwysings oor die kwessie van hare om aan te dui dat die manier waarop ‘n persoon sy/haar hare getooi, inderdaad ‘n boodskap uitgedra het (in die Ou Verbond bedeling):

a. Lev 13:45 bepaal dat ‘n melaatse persoon sy klere moes skeur, sy hare moes laat los hang en sy baard/mond moes bedek.
b. Lev 5:18 het beveel dat ‘n vrou wat van egbreuk verdink was, na die priester gebring moes word wat haar hare moes losmaak en dan haar skuld moes bepaal.
c. Num 6:5: ‘n Persoon wat die gelofte van ‘n Nasarener aan God gemaak het, moes sy hare vrylik laat groei totdat die tydperk van die gelofte verstryk het.
d. Rig 16:19: Simson, die rigter, wat ‘n Nasarener van geboorte af was, het sy lang hare in 7 lokke gedra en toe hulle geskeer is, het hy God se salwende fisiese krag verloor.

5. Gevolgtrekkings:

a. Die voorskrifte soos in par 2,iii met betrekking tot die bedekking van die hoof, staan ​​steeds en behoort tans in gemeentelike byeenkomste gevolg te word.
b. Christenmans en -vroue sal goed doen deur aan te trek en hul hare te dra volgens dit wat hul geslag, in ooreenstemming met hul kultuur, duidelik sal weerspieël. (Sien Deut 22:5)

F. AANWYSINGS AANGAANDE DIE NAGMAAL

11:17-34

1. Daar moet ‘n duidelike onderskeid wees tussen:

a. Saamkom om ‘n maaltyd te geniet vir die voeding van die liggaam (insluitend ‘n Christelike “Liefdesfees” om gemeenskap onder Christene te bevorder) en
b. Byeenkom om die Nagmaal te deel (die maal ter herdenking van Jesus se offerdood aan die kruis wat ‘n geestelike konnotasie het.)

2. Hulle etes was onaanvaarbaar deurdat:

a. Hulle baie kieskeurig was met betrekking tot met wie hulle saam sou eet, en met wie nie.
b. Hulle nie hul kos met mekaar gedeel het nie.
c. Diegene wat nie kos gehad het nie, skaam en honger gestaan ​​en toekyk het hoe die ander smul.
d. Sommige hulself selfs dronk gedrink het.

3. Aangesien hulle terselfdertyd aan die nagmaal deelgeneem het, het hierdie wanordelike gedrag daarin oorgespoel en die Naam, en inderdaad die liggaam van Christus wat vir hulle geoffer was, in die skande gebring.
4. Hoe kon hulle dan nog met hul Christenskap spog?
5. By die gebruik van die nagmaal:

a. Doen dit soos die Here Jesus dit self gedoen het (11:23-26). Volg sy voorbeeld.
b. Berei die hart vooraf voor (kyk of daar enige onbelyde sonde is).
c. Moenie dit onnadenkend gebruik nie – dink diep na oor die grootheid van Sy opoffering en verlang na sy terugkeer.

6. Gevolge van deelname aan die nagmaal op ‘n oneerbiedige wyse:

a. Dit het tot gevolg dat God sy kinders moet tugtig deur toe te laat dat hulle deur allerhande siektes geteister word.
b. Bring God se oordeel oor die ongelowige.
c. Het die effek dat sommige oortreders voortdurend in swak gesondheid verkeer en ander gesterf het.

//////////

TERUG NA INDEKS                                                                                          NA VOLGENDE HOOFSTUK



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha