2025-10-12A
LEES SPREUKE HOOFSTUK 4 ASB AANDAGTIG DEUR.
A. ‘N VADER SE VERANTWOORDELIKHEID VIR DIE WYSHEID VAN SY GESIN
Salomo was die koning van ‘n wêreldmoondheid van weleer en ‘n baie besige man. Hy moes gereed staan met antwoorde op al die vrae wat daagliks opgeduik het en konings en ander leiers van oor groot dele van die ontwikkelde wêreld te woord staan en trakteer. Nogtans het hy tyd afgesonder om sy seuns in lewenswysheid te onderrig, nie net mondelings nie, maar by wyse van honderde wyse leringe wat hy op skrif gestel het. Dat hy diep daaroor gepeins en op God vir inspirasie gewag het, blyk daaruit dat die 30 hoofstukke van sy boek in die Bybel as woorde van God opgeneem is.
Sommige van die goddelike wyshede wat in die Bybel opgeteken is, kom natuurlik ‘n lang pad. Hulle dateer terug na die gesprekke wat Adam en Eva met God gehad het. Daarna, gedurende die honderde jare van die aartsvaders tot op Noag, toe die mens nog tot 969 jare oud geword het, is die kennis en insig wat gelowiges van God ontvang het, ook mondeling van geslag tot geslag oorgedra. Uit die gesprekke tussen Job en sy vriende sien ons dat hulle sommer baie geestelike insig reeds ontvang gehad het. Mettertyd was dit in skrif vasgelê. Moses het daaruit geput om die eerste vyf boeke van ons hedendaagse Woord op te teken.
Salomo vertel ook hoedat hy van kleins af deur sy vader, Dawid in die weë van God onderrig is:
Spr 4:3 Want toe ek ‘n seun was by my vader, teer en ‘n enigste voor my moeder, 4 het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe.
Dawid was ‘n koning na die hart van God (Hand 13;22). Hy was aanvanklik ook die aanvoerder van sy weermag en vir lang tye weg van sy huis, nogtans het hy ‘n punt daarvan gemaak om sy seuns van kleins af in die weë van God te onderrig; om die wysheid van God in hulle harte in te prent. Hy het hierdie taak nie aan sy vroue oorgelaat nie. Moontlik is dit ook die rede waarom, toe die Heer sy seun Salomo die keuse gelaat het om te kies wat sy hart ookal begeer, hy goddelike wysheid gekies het (1Kon3:5-15).
Wat leer ons uit die voorsfgaande bespreking? Dat dit die vader en hoof van die huis se verantwoordelikheid is om sy kinders in die wyshede van die Woord te onderrig. Hy mag dit nie aan sy vrou delegeer of afwentel nie. Hierin moet sy hom na die beste van haar vermoë bystaan want sy is geskape as ‘n hulp wat by hom pas (Gen 2:18). Veral wanneer die kinders nog baie klein is, bind hulle eerder met die moeder wat hulle ook fisies versorg. Daarom kan sy ‘n onskatbare bydrae lewer tot die geestelike fundering van hul gesin. Wanneer vader en moeder so kombineer tot een hegte span, sal die Heilige Gees pragtige vrugte in hul kroos voortbring; kinders met sierlike kranse op hul hoofde (4:9); prinse en prinsesse van die Hemelse Koninkryk gekroon met krone van geregtigheid, eerlikheid en betroubaarheid en sal hul huis gekenmerk word deur rustigheid en vrede. Maar wee die vader wat sy beroep bo sy gesin se geestelike welsyn stel.
B. DIE BEGINSEL VAN WYSHEID
Spr 4:7 Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. 4:8 Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels.
Wysheid is soos die kosbare pêrel en die verborge skat in die saailand (Mat 13:46): om dit te bekom moet jy al jou bates inboet: tyd, populariteit en wêreldse genot.
Jas 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. 4:5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?
C. DIE TWEE WEË
Wysheid en dwaashied is in werklikhied nie net sporadiese insidente nie; nee, dit is twee weë, twee paaie, twee lewenswyses, elk met sy eie ewige bestemming. Jesus het ook vertel van die breë weg wat na die wye poort, die ingang tot die verderf lei (Mat 7:13,14). Wanneer die mens die ouderdom bereik dat hy tussen goed en kwaad kan onderskei, kies hy uit vrye wil die wye pad omdat dit hom ruimte laat om na hartelus teuels te gee aan sy eie wil en ingebore sondige begeertes. Almal van ons was dus vir die eerste gedeelte van ons lewens op daardie pad en die oorgrote meerderheid bewandel dit nog steeds.
D. DIE WEG VAN DIE DWASES
4:19 … die weg van die goddelose (is) soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie
Hierdie weg is is in die mag van die bose en is in duisternis gehul. Op hierdie pad is daar geen straatligte of padtekens nie; elkeen wat dit bewandel besluit vir homself wat reg en verkeerd is; wandel in sy eie lig. Daar is wel baie roepstemme van afgode en uitnodigings om toe te gee aan allerhande vleeslike begeerlikhede. In hierdie duisternis struikel die voetganger gedurig omdat hy nie kan sien wat voor hom lê nie. Hy probeer sy eie pad (heil) uitwerk maar kry nie koers nie omdat daar geen ligbaken op die horison is waarheen hy kan mik nie. Elke dag, maand en jaar dwaal hy dieper in die duisternis in, vou dit agter hom toe en sluit hom in sodat hy dit al moeiliker vind om terug te draai na waar hy die skemerte van onskuld verlaat het:
4:16 … hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ‘n val bring nie. 17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
Om sleg te dink en te praat van andere, nors op te tree, af te jak, vrees in te boesem, verdag te maak, is waarin hulle vreugde vind. Dit word ‘n obsessie, ‘n leefwyse. Hoe later hoe kwater. Hulle het ‘n renons in dié wat die goeie najaag en verag die nederiges.
Daarteenoor is daar die weg van die Regverdiges, die wyses.
E. DIE WEG VAN DIE WYSES
Spr 4:18 … die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe,
Die regverdiges is hulle wat die roepstem van Wysheid gehoor en gehoorsaam het (Spr 1:20-23). Hulle het oorgestap en bevind hulle nou op die Weg van Wysheid. Hierdie weg word duidelik uitgestippel in die 66 boeke van God’s Woord en verder belig deur sy Heilige Gees. Dit is die duurste weg wat ooit gebou is; gebou met die Liggaam en die Bloed van die Seun van God:
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Dit is die weg van wysheid waarop die wyses soos Abraham en Salomo deur die eeue onderweg na die Hemelstad gewandel het:
Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. 14 Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.
Vanaf daardie dag van ommekeer het die wyse sy vorige weg versigtig vermy:
Spr 4:14 Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. 4:15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
Alhoewel die hemelwyse mens soms in swakheid ‘n dwase stap neem, is dit nie sy gewoonte of keuse om dit te doen nie. Hy het berou daaroor, bely dit en gaan voort om daarteen te veg en openlik standpunt daarteen in te neem en behaal die oorwinning, selfs oor diepgewortelde sondes.
Spr 4:25 Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. 26 Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, 27 wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.
Met wat die wyse die Skrif intens bestudeer en deur die bekratiging van die Heilige Gees bewandel, leer hy om nie links of regs na die begeerlikhede wat hom in die verlede laat struikel het, te loer nie, weet hy presies waar die slaggate van versoeking is en hoe om dit te vermy. Gaandeweg word die pad van heiligmaking vir hom al helderder om te verstaan, kan hy groter treë daarop gee en en bereik hy die volle lig wanneer hy deur die Pêrelpoort in hardloop om die Bron van wysheid self te aanskou.
F. DIE HART VAN DIE WYSE
Pro 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
Op hierdie pad sluit die wyse die kosbare wyshede wat Hy van God, soms onder pynlike tugtiging, ontvang het, weg in sy hart soos in ‘n sterk kluis waarvan net hy die sleutel dra. Ja, geestelike wysheid kan nie met geld of selfs met inspannende studie alleen bekom word nie; dit is die beloning vir ‘n daaglikse gehoorsame wandel met die God van alle wysheid.
VREDE, VREUGDE EN WYSHEID U TOEGEBID.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS