1 KORINTIëRS 12 en 13

TERUG NA INDEKS                                                                                               NA VOLGENDE HOOFSTUK

A. GEESTELIKE GAWES EN BEDIENINGE

12:1-11

1. Die Heer gee natuurlike en geestelike gawes aan die mensdom:

a. Natuurlike gawes is dié wat Hy aan een en almal gee soos ‘n welluidende stem om te kan sing, die vermoë om musiek te komponeer, beeldhouwerk te doen, prosa en poësie te kan skryf, uit te munt in sport, ‘n organisasie te kan administreer en bestuur, navorsing te doen, nuwe dinge uit te vind, ens.. Hierna word gewoonlik as talente verwys en is tot voordeel van die mensdom in geheel.
b. Die gawes van die Gees, daarenteen is vir gebruik in God se Koninkryk, word slegs aan sy kinders geskenk, is bonatuurlik en kan duidelik onderskei word as ‘n daad van God, wat sy teenwoordigheid openbaar.
c. Die gawes is geskenke en nie belonings wat verdien word deur uitsonderlike gehoorsaamheid aan die Here nie. Om hierdie rede kan niemand spog oor sy gawes nie.

2. Kennis met betrekking tot geestelike gawes is noodsaaklik vir die behoorlike beoefening daarvan.

a. ’n Gebrek aan kennis kan daartoe lei dat demoniese insette as gawes van die Gees gesien  en toegelaat word.
b. Lede van die Liggaam van Christus wat tevore mediums vir bose magte was, kan veral kwesbaar wees vir demoniese aktiwiteite, omdat hulle tevore daaraan toegegee het.
c. Byvoorbeeld: ‘n persoon wat deur die Gees van God te spreek, sal die Here Jesus nooit ‘n vervloeking noem nie.
d. Geestelike kennis aangaande die werking van die Heilige Gees, sal so ‘n woord onmiddellik as demonies identifiseer, want presies die teenoorgestelde is juis waar: die Heilige Gees verhef Jesus altyd as Here; meer nog, niemand kan oortuig word dat Jesus God is nie, tensy die Heilige Gees hierdie waarheid aan hom openbaar.

3. Die doel van die gawes is die opbou van die kerk, dit wil sê van die gelowiges; hulle is self hiertoe werktuie van die Heilige Gees.

a. ’n Bouer sal vir sy messelaar ’n troffel gee, ’n graaf en kruiwa vir sy werker wat die beton meng en aanry, ’n saag, hamer en beitel vir die skrynwerker en ’n stopverfmes vir hom wat die ruite insit, maar vir dié een wat neffens teen ’n boom leun en toekyk hoe die ander werk, sal hy niks gee nie, want hy is nie betrokke by die bouery nie. Hoe meer soorte werk ‘n werker bereid is om te doen, met hoe meer gereedskap sal hy toegerus word. Net so rus die Heilige Gees sy dienaars toe volgens wat nodig is vir die werk waartoe hulle geroep en begerig is om te doen.
b. ’n Werker wat sy graaf en kruiwa oorbodig ag en eerder sy hande gebruik om die beton te meng en na die bouwerk toe aan te dra, sal as verstandelik gestremd beskou word en sal bitter min tot die bouwerk bydra. Dieselfde geld in die opbou van God se Koninkryk, en die rede waarom sommige denominasies nie groei nie, is omdat hulle die gebruik van die gawes van die Heilige Gees, wat die Meesterbouer noodsaaklik ag, gering skat, as onnodig in ons moderne samelewing met al sy hulpmiddele sien en sommige gawes selfs as bose namaaksels beskou.

4. Nege gawes word in hierdie Skrifgedeelte vermeld en hulle kan in drie kategorië groepeer word:

a. Inspirerende gawes (Gawes om woorde van God te hoor en dit aan die luisteraars oor te dra).

i. Allerhande tale. Normaalweg is dit ‘n taal of woorde wat nêrens op aarde gebruik word nie – ‘n geestes taal. Daarom moet dit vir die luisteraars geïnterpreteer word, anders sal hulle geen sin daarvan maak nie. Soos “Mené, mené tekél ufarsin” in Dan 5:27.
ii. Uitleg van tale. Dit is nie ‘n letterlike vertaling nie maar ‘n uitleg, soos die uitleg van ‘n beeld of gebeurtenis wat in ‘n droom gesien is en kan baie meer woorde as die oorspronklike kommunikasie bevat. Bogenoemde vier woorde is byvoorbeeld as volg uitgelê:
Mené, mené”: beteken “Getel”: “God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak;”
tekél”: beteken “geweeg”: “U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;”
Perés (Ufarsin)“: beteken “verdeel” “U koninkryk is verdeel en aan die Meders en die Perse gegee.”
iii. Profesie. Soms behels dit die voorspelling van toekomstige gebeure, maar meer dikwels woorde wat God’s Gees deur een van sy dienaars spreek om die gemeente te bemoedig, te versterk, vertroos of te waarsku (14:3). Dit is nie lering uit die Skrif nie.

b. Krag gawes (Krag om iets bonatuurliks te verrig).

i. Gawes van genesing. Verskillende mense kan gawes hê vir die genesing van verskillende kwale.
ii. Verrigting van wonderwerke. Dink byvoorbeeld aan die wonderwerke wat Moses gedoen het (Eks 7-11 ens.).
iii. Geloof. Alle Christene het geloof, maar hierdie is ‘n buitengewone toesegging van vertroue in God, gewoonlik ‘n vloed van geloof om ‘n situasie wat ontstaan ​​het die hoof te bied, soos toe Jesus die storm stilgemaak het (Mark. 4:39).

c. Gawes van Openbaring (Die vermoë om bonatuurlik te weet).

i. Onderskeiding van Geeste. Sien Handelinge 16:16. Paulus het gesien dat die meisie deur ‘n waarsêende gees beheer was. Hierdie gawe waaroor Paulus beskik het, gaan egter verder as net die onderskeiding van bose geeste, dit is ook baie nuttig om die motiewe te onderskei van mense wat die leiers van ‘n gemeente met een of ander versoek nader.
ii. ‘n Woord van kennis. Sien Dan 2:5 ens.. Daniël moes vloei in die gawe van bonatuurlike kennis om die inhoud van die droom te kon weet en ook te weet wat dit beteken het.
iii. ‘n Woord van wysheid. Hierdie is ‘n Godgegewe woord van bonatuurlike wysheid om ‘n probleem op te los of ‘n vraag te beantwoord wat ‘n bonatuurlike effek tot gevolg sal hê. Dink aan die antwoorde wat Jesus gegee op strikvrae wat bedoel was om hom te dwing om antwoorde te gee waardeur Hy homself sou inkrimineer sodat hulle hom voor die hof kon daag (Matt 22:23-46). Hulle het weggegaan, verstom oor die wysheid van sy antwoorde.

5. Oorvleueling. Met die bestudering van die gawes van die Gees, sal opgemerk word dat baie van hulle oorvleuel. Die belangrikheid is nie om die gawe wat op daardie oomblik benodig word om die Koninkryk van God te bou, korrek te kan bepaal nie, maar eerder om spontaan deur die Gees daarin te kan vloei.

12:12-31

.
1. Die Menslike liggaam (as voorbeeld):

a. Het baie ledemate of komponente: ‘n kop (een), twee ore, twee oë, ‘n neus, ‘n tong, twee lippe, twee arms, twee hande, tien vingers, ‘n liggaam wat hart, longe, maag, niere en baie ander organe bevat en, laastens, ook bene, voete en tone.
b. Sommige van hulle mag baie onbeduidend lyk, maar God wat die liggaam ontwerp het, weet dat selfs die mees onbeduidende komponent ‘n definitiewe funksie het.
c. Dit is ondenkbaar vir die oor om te sê “Aangesien ek nie so belangrik soos die oog is wat heeltyd gesien word (in die oog is) nie, gaan ek ophou om my funksie van gehoor te vervul (ek word tog nie gesien nie).
d. Net so sal dit dom wees vir die duim om vir die pinkie te sê, “In vergelyking met my, doen jy baie min, so hoekom bly jy nog deel van die hand, droog op en val af?”
e. Selfs die kop, sonder ‘n liggaam, sal totaal en al hulpeloos wees.

f. Die maag en ingewande wat hulle werk algeheel in verborgenheid doen, voorsien krag aan elke deel van die liggaam; daarsonder sal die pragtige oë dof word, sluit en sterf.
.

2. So is ook die Liggaam van Christus:

a. Dit bestaan ​​uit soveel verskillende mense, elkeen met ‘n ander bediening.
b. Die volgende is ‘n lys van sommige bedieninge:

i. Apostels: Kerkplanters, pioniers en leiers van groot bedieninge of groepe bedieninge.
ii. Profete: Wat woorde, direk van die Troon af, aan die gemeente oordra.
iii. Leraars: Gees gesalfde uitleggers van die Woord en vaardig om dit op so ‘n wyse oor te dra dat dit ‘n kragtige impak op die luisteraars het.
iv. Diegene deur wie God wonderwerke doen.
v. Hulle wat gawes van genesing het,
vi. Persone wat ‘n besondere salwing het om andere te kan help. Hulle het dalk self nie uitstaande sterk eienskappe nie, maar het wel die vermoë om uit te blink in die ondersteuning van diegene wat dit wel het.
vii. Hulle wat ‘n bonatuurlike gawe van leierskap het.
viii. Lede van die liggaam wat in bonatuurlike tale boodskappe van God aan die luisteraars oordra.

c. Die leierskap van die liggaam van Christus moet elke lid goed leer ken om te kan bepaal vir watter doel God daardie lid gegee het, en dié lid dan in daardie hoedanigheid aanwend. Die rede waarom ‘n gemeente nie groei nie, kan wees omdat net een of twee lede, miskien net een oog en een toon daarvan gebruik word. ‘n Gemeente kan ‘n baie groot en bekwame hoof, maar baie klein hande, bene en voete hê. te klein om daardie groot hoof te dra of uitvoering aan sy visie te gee. Die arms en bene moet ontwikkel word sodat die hele gemeente kan rondbeweeg op soek na mense wat nooit die byeenkomste bywoon nie.
d. Net so moet elke lid van die liggaam God se leiding soek om sy/haar geestelike gawes te ontdek en hom/haar dan aan die leierskap te onderwerp om saam met die ander lede vir die opbou van die liggaam gebruik te word. Sodoende moet elke lid poog om die vloei van die gawes wat die nuttigste vir sy bediening is, te ontwikkel.
e. Probleme ontstaan ​​ook wanneer ‘n lid probeer doen waarvoor hy nie toegerus is nie. As my neus probeer om ‘n lepel vas te hou, pap te skep en dit na my mond te bring, sal dit ‘n groot gemors afgee, maar as dit sy gawe om te ruik, gebruik  en ‘n boodskap na die brein stuur: “Die vleis ruik heerlik”, sal die brein ‘n dringende boodskap na die hand stuur: “Gryp ‘n stukkie vleis voor iemand anders dit in die hande kry en voer dit na die mond.” Die hand doen dan sy deel en so baat die hele liggaam daarby.
f. Uit wat hierbo gesê is, is dit ook duidelik dat dit geen sin maak dat een lid op ‘n jaloers is of met sy eie gawe spog nie.

B. LIEFDE, DIE MOEDER VAN ALLE SEËNINGE

13:1-13

1. Doel van die gawes: Paulus onderbreek sy lering oor die diversiteit van gawes en bedieninge van die Gees en praat oor die rede of motivering vir die uitoefening van hierdie gawes en bedieninge.

a. Die rede waarom ons bedien, moet altyd ons liefde vir God en mens wees.
b. Dit is waar die Korintiërs verkeerd gegaan het: hulle het die gawes beoefen om hulself te verhef.
c. Wanneer ‘n bouer rondloop en spog met sy graaf, troffel, kruiwa, ens., gaan die bouwerk nie voort nie. Vir die dienskneg van God om heen en weer oor die verhoog te loop terwyl hy in die een hemelse taal na die ander praat, woorde van bonatuurlike kennis spreek wat die diep verborge geheime van die lewens van die luisteraars openbaar, of ‘n groot maroelaboom deur geloof van een plek na ‘n ander verskuif, sal die gemeente sprakeloos laat en in verwodering laat uitroep en hande klap, maar tensy die begaafde dienaar gemotiveer is deur ‘n diepe liefde vir God en mens sal nie ‘n enkele siel na Jesus getrek word nie.
d. Selfs om al jou besittings weg te gee, dan petrol oor jouself te gooi en dit aan die brand te steek, sal niemand beïndruk nie, tensy hulle oortuig is dat jou bedoeling is om hulle te seën omdat jy hulle liefhet.

2. Selfondersoek: Om die diepte van sy liefde vir die mense wat hy bedien te bepaal, moet ‘n Christenwerker homself dus vrae vra soos:

a. Kan ek geduldig wag dat iemand sy belofte aan my nakom vir iets wat ek dringend nodig het?
b. Is ek selfs vriendelik teenoor diegene wat my soos ‘n rondloperhond behandel, of wat my bloot ignoreer?
c. Raak ek jaloers as my vrou en kinders ‘n ander dominee toejuig en vir hom hande klap omdat hy so ‘n kragtige preek gepreek het?
d. Vind ek dat my lippe styf span as die pastoor van my nabygeleë gemeente wie se kudde vinniger as myne groei, geprys word?
e. Raak ek maklik ontsteld as die teenoorgestelde geslag oormatige aandag aan my vrou/man gee?
f. Loop ek te koop met hoe goed ek gepreek, hoeveel mense daardeur gered en my kom bedank het?
g. Gedra ek my soms op ‘n wyse wat maak dat my familie of vriende hulle vir my skaam?
h. Wanneer ek na ‘n ete genooi word, haas ek my om die sitplek naaste aan my gasheer te bekom en is ek eerste om die keurigste gereg vir myself in te skep?
i. Wanneer iemand my kwaad aandoen, probeer ek ‘n goeie verskoning vind waarom hy so opgetree het, of is dit soos ‘n bitter kruid in my mond wat my gesig laat vertrek van ergerlikheid wanneer ek aan hom dink?
j. Wat laat my gelukkig glimlag: wanneer my teëstander ‘n fout maak wat hom in die skande bring, of wanneer hy dit regkry om goed te doen en lof daarvoor ontvang?
k. Hou ek daarvan om slegte gerugte oor andere te hoor – laat dit my goed voel oor myself?
l. Wanneer ‘n goeie man se foute aan die kaak gestel word, verlustig ek my daarin en vestig ek andere se aandag daarop of probeer ek om hom te beskut en sy skande te bedek voor die oë van die verwytende skare?
m. Wat glo ek eerder oor ‘n ander: ‘n goeie of ‘n slegte gerug?
n. Wanneer ek hoor van iemand wat in sonde geval het, sê ek “Goed so, goed so, hy het sy verdiende loon gekry!” Of sê ek “Jammer tog, ek hoop hy sal binnekort weer in ere herstel word?”

3. Perspektief: Kom ons kry ‘n behoorlike perspektief op geestelike gawes deur ons huidige en ewige toestande te vergelyk:

a. Profesieë en Woorde van kennis: Selfs die duidelikste van openbarings wat ons deur ‘n woord van kennis ontvang, is soos om ‘n raaisel te lees wat van agter na voor geskryf is (soos gesien in ‘n spieël). In die lewe hierna sal ons alles wat geken moet word so volledig ken as wat ons nou deur God geken word.
b. Tale en die uitleg daarvan: In die lewe wat kom, sal ons so duidelik met mekaar kommunikeer dat daar geen behoefte aan enige taal sal wees nie, dus sal die gawe van tale en uitleg daarvan ten einde loop.
c. (‘n Bril is ‘n groot hulp vir diegene wat nie behoorlik kan sien nie; gehoorapparate vir die gedeeltelik dowes, krukke en  prosteses vir  kreupeles, maar van watter nut sal dit in die hemel wees?)
d. Om ons hede met ons ewige toestand te vergelyk is soos om die sien, hoor, praat en verstaan ​​van ‘n pasgebore baba met dié van ‘n volwasse man te vergelyk. In die ewigheid sal alles ‘n toestand van absolute volmaaktheid bereik het.
e. Wanneer die huis voltooi is:

i. Is daar geen verdere gebruik vir die gereedskap nie.
ii. Word dit deur mense bewoon; is dit nie ‘n stoorplek vir gereedskap nie.
iii. Word dit bewoon deur liefdevolle mense.
iv. Sal net een substansie oorbly naamlik liefde; hierdie kwaliteit wat nou in ons lewens met behulp van die gereedskap van die Geestelike gawes ontwikkel word.

f. Wat vir die ewigheid behou bly, is die drie belangrikste deugde: geloof, hoop en liefde. Hiervan is liefde die grootste omdat:

i. God liefde is: van al sy eienskappe (wesensvoortreflikhede) beskryf liefde hom die beste.
ii. Geloof en hoop kan vir persoonlike doeleindes beoefen word, maar liefde reik uit na ander.
iii. Liefde is die rede vir geloof en hoop om beoefen te word.
iv. Liefde was dit wat God gemotiveer het om hemel en aarde te skep en die mensdom te verlos.

4. Die omvang van jou liefde: Die vraag is dus nie hoeveel wonderlike gereedskap jy nou het nie, maar hoe hoog en wyd en diep die liefde ryk wat jy met hierdie gereedskap, met hierdie geestelike gawes gekweek het?

//////////

TERUG NA INDEKS                                                                                                NA VOLGENDE HOOFSTUK



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha