ROOF, KORRUPSIE, BEDROG, DIEFSTAL, SMOKKELARY, DOBBELARY, SWENDELARY, EN HUL MAKKERS
1:10 My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; 11 as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, 12 laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; 14 jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê — 15 my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; 16 want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; 17 want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: 18 so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor.
19 So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
Sjoe, maar dit klink gewelddadig. Die meeste van ons wat Bybelstudies soos hierdie lees, ken nie so ‘n leefwêreld nie en wil sommer aanblaai op soek na ‘n meer toepaslike dagstukkie; iets vir die hart. Maar, nie so haastig nie, Salomo se seuns het soveel rykdom in sy paleis geniet dat hulle sekerlik nie juis nodig gehad het om meer daarvan op ‘n gewelddadige wyse te bekom nie, maar vanaf sy troon en regterstoel waar hy dag vir dag sake verhoor het, het hy ‘n uitsig oor sy ganse koninkryk gehad. Hy het goed geweet wat in die seuns van sy volk se harte broei en aan watter versoekings hulle blootgestel was en het dus hierdie waarskuwing aan hulle almal gerig.
Nog meer: die Hemelse Vader en Regter weet nog veel meer van wat in sy kinders en sy kinders se vriende se gedagtes omgaan en het ook hierdie stukkie Skrif geinspireer en in sy Boek laat opneem. Wees nou eerlik, het u nie al gedroom daarvan om vinnig ryk te word nie, al is dit dan nou ook op so ‘n ietwat gewaagde wyse? Geniet u die liedjie, “Ek sou kon doen met ‘n miljoen?” Het een van u voorvaders uit die verre verlede nie dalk as seerower met ‘n klappie oor die oog, ‘n papegaai op die skouer en ‘n “Jolly Roger” skedel en doodsbeendere vlag bo sy seilskip sy rykdom versamel nie? Nee, dit is darem seker onwaarskynlik.
Oneerlikheid is wel eie aan alle tye, en kulture. Sommige hooggeplaastes in ons samelewing, beoefen hierdie bedryf nie met ‘n krom sabel en rokende pistool nie, maar sit rustig met ‘n vroom gelaat, boordjie en das in die land se boonste bestuurskajuit en spreek groot en mooi woorde uit oor die mikrofoon terwyl ‘n stroom van munte besig is om op korrupte wyse uit die Staatskas in hul bankrekeninge in te vloei. Di’s verseker; die nuusblaaie is ryk aan berigte daaroor.
Boewery, en selfs gewelddadige misdaad, is ook nie net tot jongmense of skurke beperk nie; dit kan jou in jou latere lewe en weens ‘n sameloop van omstandighede oorval. ‘n Man wat ek baie goed geken het, het in so ‘n strik getrap. Hy was ‘n Christen broer, het in die aanbiddingspan van ons gemeente gedien. Sy gelaat was sag, sy geaardheid innemend. Sy vrou aan sy sy. Sy kinders reeds uit die skool. Toe begin dinge vir hulle finansieel skeef loop by die huis en besluit hy om so ‘n bietjie te dobbel om sy state weer te laat klop. Niemand sal mos weet nie! Maar, hy verloor en verloor.
Desperaat neem hy ‘n tweede stap in die verkeerde rigting, iets wat niemand ooit van hom sou kon dink nie: hy besluit om ‘n kassier in ‘n bank te beroof. Met ‘n masker oor die gesig, ‘n pistool in die hand en ‘n bewende hart, beveel hy die dametjie om alles wat sy het aan hom te oorhandig. Sy skrik haar boeglam en sekondes later stap hy dood luiters met ‘n sak vol geld by die deur uit, direk na sy ou bakkie toe en daar trek hy. So maklik as dit.
Daarvandaan, vol moed na sy oorwinning, direk na die naaste dobbelhuis waar hy sy gelukkige dag verder wil voortsit. Maar o weë, nie lank daarna nie, keer hy met die eens leë sak, en ‘n mismoedige gemoed weer huistoe. Wat nou? Nog net eenkeer weer; miskien sal sy geluk dan hou. Hy besoek ‘n ander tak en weer is die “geluk” met hom maar weer verloor hy alles in die dobbelsaal. Net nog eenkeer weer; hy weet mos nou hoe om dit te doen. So hou hy aan.
En toe, met die sesde keer, loop dinge skeef. Later vertel hy vir my met ‘n wrange glimlag dat sy bakkie te stadig was, en trek die poslisie hom vas. Sy vonnis vir die herhaalde bankrowe was 28 jaar, dws. die res van sy lewe. Op laas word hy vrygelaat; ‘n aantal dae voor sy sterfdag. Was dit die moeite werd? Selfs nou baie, baie jare later, skiet my oë vol trane as ek aan my broer in Christus dink wie se lewe so tragies geeindig het.
Dobbel jy ook? “Verantwoordelik?” Net so ‘n klein bekostigbare bedraggie maandeliks? Dobbel is dobbel, ‘n lid van die vinnig ryk word familie. Dit is verslawend; trappies wat soms na misdaad lei. Hoeveel kinders van God sit vandag met skuld omdat hulle in ‘n swendelaar se skema belê het; weens gierigheid selfs leengeld daarin gestort het.
Die Heer se wyse van selfvoorsiening is dat ons uit ons diens aan andere ‘n lewensonderhoud moet verkry; daarop rus sy seën. Die duiwel se advies is egter om kortpad te kies, maar soos die voëls die voëlvanger wat die net uitsprei vanuit hoë bome dophou, hou die bose jou gedurig in die oog en laat hy jou in jou eie strik trap. Wat sê die teks hierbo van iemand wat die net vir vinnige wins uitsprei?:
1:18 so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. 19 So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
Nee, my broer en suster, draai sommer hier en nou om, voor jy in die net beland:
Spr 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.
BELY EN LAAT STAAN: DÍT IS DIE ANTWOORD.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS