2025-09-13A
DIE ROEP VAN WYSHEID
Spr 1:20 Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, 21 op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: 22 Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? 23 Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. 24 Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, 25 en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, 26 daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; 27 as julle verskrikking kom soos ‘n onweer, en julle ondergang soos ‘n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.
28 Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. 29 Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, 30 van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, 31 daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. 32 Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde; 33 maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.
Die Woord openbaar ons Skepper as Vader, Seun en Heilige Gees. Die Vader en Seun is duidelik manlik. Wat van die Heilige Gees? Hier, in Spreuke, word na WYSHEID as ‘n persoon verwys:
1:20 Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, .
Dit kan net die derde persoon van die Drie-Eenheid, die Heilige Gees wees. SY (vroulik) bedien die mens in goddelike wysheid en tere liefde.
In die Paradys het Eva, die aardse vrou, in hierdie konteks gesimboliseer deur dwaashied, na die mens gekom waar hy, op die “plein” van die Paradys besig was om die Heer se opdrag uit te voer om die Tuin te bewerk en te bewaak, en hom verlei om te glo dat hy vir homself beter in sy behoeftes kan voorsien as wat sy Skepper, God, besig was om dit te doen. Sy was beklee met besondere liggaamlike skoonheid om hom te kon bekoor en na haar te trek sodat hulle een vlees kon word en kinders, prinse en prinsesse, vir die hemele kon baar. Hierdie skoonheid het sy gebruik om hom, haar leier, te mislei en so het hulle albei in dwaasheid verval en ‘n geslag van dwase kinders voortgebring.
Die Hemelse Vrou, die lieflike, bekoorlike HEILIGE GEES, hier gesimboliseer deur WYSHEID, wandel sedertdien dag en nag oor die pleine van hierdie wêreld en roep na die mens om hom terug te lei na sy Formeerder. Vir Adam en Eva het SY in Jesus geroep waar hulle in vyeblare vir hul Skepper in vrees weggekruip het. Die aardse Paradys was vir ewig vir hulle gesluit maar Hy het ‘n nuwe Paradys in hul harte geopen deur ‘n dier se bloed te stort en vir hulle skorte daarvan te maak. So het die GEES deur al die eeue heen na die dwase mens geroep en die bekeerdes met heerlikheid beklee en innerlik met wysheid vervul. Mettertyd sou hulle eers verstaan dat Jesus dit alles deur Sy kruisdood vir hulle bewerk het.
Die HEMELSE VROU WYSHEID roep ook vir jou; sy roep jou nou. Maak gou. Verlore geleenthede kan nie weer herwin word nie. Draai jou rug op die dwases; word een met die wyses in wie die Gees van God woon. Laat Sy jou in wysheid na die ewige heerlikheid wat die Vader vir jou beskik het, lei. Net Sy ken die weg deur Jesus, die Seun.
Hulle wat Haar roep ignoreer is dwaas, vir ewig dwaas. Sommige haat behoorlik HAAR boodskap van oorgawe; hulle geniet die sondige lewe van, “Ek maak soos ek wil”. Andere besef die wysheid daarvan maar stel uit om op HAAR roepstem te reageer. Hulle is net eenvoudig te besig om nou te luister. Vir hulle sê SY:
Mat 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Sy het eindelose geduld maar waarsku dat daar vir elkeen ‘n afsnypunt is. Lees net weer hierbo die perikoop vanaf vers 24 tot 32. Haar liefde noop haar om nogtans af te sluit met die woorde:
33 maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.
Wat meer kan ek sê? Alhoewel Salomo die Evangelie uit ‘n ander hoek benader, lei sy boodskap, net soos al die ander Skrifgedeeltes, na die God van Wysheid self.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS