2024-08-21
DIE BRUID OP SOEK NA HAAR BRUIDEGOM
DIE BRUID: 1 Op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
So tussen die briewe tik vir haar werkgewer, aankopies doen, broodbak en kinders help met hul skoolwerk, (of ‘n rugbywedstryd, raadsvergadering, ‘n klopjag op ‘n dwelmsmous se huis, ‘n vlug na die Internasiale ruimtestasie) het sy weer die omgang met haar Bruidegom verloor. Sy soek Hom nou, maar nie in erns, in haar binnekamer, op haar knieë nie. Dit is ietwat van ‘n luilekker soek – meer van ‘n dink aan Hom as ‘n soeke na Hom. Op haar bed, so tussen slaap en wakker deur, mis sy hom, maar nie intens nie. Haar gedagtes oor ander dinge hou haar besig. Sy is rustig binne haar mensheid, haar geestelike gemaksone.
In die Skrif beloof Hy dat dié wat Hom soek, Hom sal vind, maar die soeker moet weet hoe om Hom te soek.
Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. (Deut 4:29).
‘n Halfhartige soeker kan ‘n leeftyd lank soek na intieme omgang met Hom, sonder om dit te vind en dit net omdat sy liefde lou geword het (Open 3:16). Die Bruidegom het by wyse van ‘n gelykenis verduidelik hoe ernstig sy Bruid na hom moet soek:
Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? (Luk 15:8).
Wat Hy hiermee sê, is dat die vrou (bruid) nie op haar bed lê en wonder het wat van haar kosbare penning geword het nie, nee, sy het opgestaan, lig gemaak, haar besem gevat en elke hoekie uitgevee tot sy hom gevind het. Dit is nou vir jou soek! ( Sien: Die verlore penning. )
Di’s hoe Hy gesoek moet word. Is Hy dan nie veel kosbaarder as n penning nie? Is Hy nie soos die kosbare pêrel waarvoor die koopman alles wat syne was, verkoop het om dit te kon koop nie (Matt 13:46)? En het die Vader nie sy Beste, sy Enige, as losprys vir sy Seun se Bruid gegee nie? En het Hy, die Kroonprins, nie die heerlikheid Daarbo verlaat, al die pad aarde toe gekom, die spot en verwerping van die mensdom en selfs die kruisiging vir Haar verduur nie? In hierdie verhouding staan die saak so: as jy Sy alles wil beleef, moet jy jou alles gee. Toegang tot die hemel is gratis, op sy koste, maar intiemheid met Hom word alleenlik deur wederkerige, hartstogtelike liefde bekom.
DIE BRUID: 2 Ek wil dan opstaan en in die stad rondgaan, in die strate en op die pleine wil ek na my sielsbeminde soek; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
Uiteindelik kan sy die smagting na die kusse van sy mond (die geestelike belewenis van sy liefde) nie langer verduur nie. Die wedersydse liefde, gewerk deur die Heilige Gees, die God van die liefde, brand soos ‘n vlammende vuur in haar binneste. ‘n Ander bruid, die profeet Jeremia, het hierdie brandpyn van verwydering (in sy geval weens onwilligheid om Sy woorde aan andere oor te dra) soos volg beskryf:
En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie. (Jer 20:9).
Sy trek die deur agter haar toe en koers die stad in.
In hierdie perikoop is die stad simbolies van wat die mens tot stand bring om in sy behoeftes te voorsien en sy begeertes te bevredig. Vir die oorgrote meerderheid is dit die vlees in aksie; die verstandelike oplossing vir sy soeke na vrede, genot en sekuriteit. Hierin vertrou hy op homself. Dit maak van die mens sy eie god en sluit sy Skepper uit of ken aan hom ‘n ondergeskikte rol toe.
Die geestelik antipool, die teenoorgestelde van die stad, is die natuur; die berge, wild, valktes met blomme, herders met hul skape wat in ‘n vroeëre teks vermeld is . Dít is die handewerk van God; dinge wat nie deur die mens geskep kan word nie en word hier gebruik as beeld van Hom en van die geestelike werk wat Hy in die mens verrig.
[ONS SLUIT NOU AAN BY DIE SKRYWER VAN DIE VERHAAL EN BOU DIE STORIE VERDER UIT ASOF DIT FISIES GEBEUR HET.]
Straat af stap sy; haastig loer sy in by winkeldeure; deurkruis die pleine waar oud en jonk rondluier, kyk ondersoekend in elke gesig, vra dieselfde vraag oor en oor: “Het julle nie miskien my Beminde gesien nie?” Dan beskryf sy Hom: “Sagmoedig, rustig, vredeliewend, nederig, rein, opreg, iemand wat kwaad kan verdra, vriendelik, ‘n vredemaker, gedurig opgewek, met ‘n wyse en vetroostende woord vir elkeen. Dit is soos ‘n heerlike geur wat Hom omring. Hy staan uit bo alle ander. Niemand kan Hom miskyk of nie van Hom bewus raak nie!
Jerusalem is tog die Godstad; iemand behoort te weet waar Hy hom bevind. Maar, party spot met haar, ander kyk haar suur aan of is verbaas, verstom. ‘n Jolige jongman roep oor die skouer: “Dame, hierdie is die stadsplein, die plek van handel en jolyt, gaan vind uit by die tempel, by die priesters. Neem ‘n tortelduif saam as offer”. ‘n Man met ‘n kleurryke mantel en en talle ringe aan sy vingers, haal ‘n leersakkie uit, skud ‘n aantal blinkende goue munte in sy handpalm en hou dit na haar toe uit: “Mevrou, hier is my geliefde: Goud. Hoe liewer ek hom en sy kinders het, hoe meer ek versamel, hoe lekkerder leef ek. Hierdie skitterende diamant in my ring het ek miskien onder die tafel deur bekom, maar dit pryk nou aan my vinger. Nee vrou, jy weet nie wat jy mis nie. Kan hy dít vir jou doen? Nee, ek ken jou minnaar nie en stel nie belang om Hom te ontmoet nie.”.
Andere sien haar aan as ‘n bedelaar of ‘n smous; iemand om te vermy of te bejammer. Hulle het geen tyd om na haar vraag te luister nie. Almal jaag na iets. Sy wonder of sy alleen reg is en of hulle nie dalk iets weet wat sy nie weet nie, maar ‘n Stem fluister in haar oor:
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. (1Joh 2:15-17).
‘n Verliefde paartjie wil verby haar stap, maar sy keer hulle voor. Hulle verstaan tog wat die liefde is en sal haar kan help. Weer stel sy haar vraag. Ja, hulle ken Hom en Hy is hier op die plein. Waarom soek hulle Hom dan nie op nie, wil sy verbaas weet. Hulle glimlag veelseggend vir mekaar. Nee, ‘n mens kan nie openlik, in die openbaar, jou liefde aan Hom betuig nie. Die meisie bloos eintlik deur net daaraan te dink. “Jou vriende sal geskok wees, hulle vir jou skaam”. Die jongman voeg by dat as jou werkgewer dit moet sien, jy nooit weer bevordering sal kry nie. Sy firma sal kliënte verloor. “Nee”, verduidelik hy verder, “so ‘n omgang met Hom is ‘n baie persoonlike saak; ‘n mens praat nie voor of met andere daaroor nie. Maar, hulle twee staan nie koud teenoor Hom nie, hulle doen wel dinge waarvan Hy hou. Daarteen het niemand beswaar nie. Hulle is juis nou op pad om hierde houer met beskuit en gemmerkoekies vir ‘n ou tannie in ‘n tehuis te gaan afgee. Sondag gaan hulle ook na ‘n byeenkoms in daardie gebou met die hoë toring. Daar mag ‘n mens maar by Hom gesien word. Daar is dit gepas en doen almal dit en ontvang van mekaar erkenning en lof daarvoor. Maar, sy hoof Hom nie so te loop en soek nie. Hy sal verstaan”. Hulle groet vriendelik en stap verder.
In haar hart fluister dieselfde Stem woorde wat sy êrens gelees het:
Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. (Luk 9:26).
Skielik voel sy baie eensaam. “Dit kom nou daarvan as ‘n mens Hom so liefhet,” dink sy “jy het later nie meer ‘n vriend of vriendin met wie jy ‘n naweek soos hierdie kan deurbring nie. Hulle wuif net haastig en slaan ‘n ander koers in”. Weer kom ‘n woord op in haar hart:
… weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. … Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? (Jak 4:4,5).
Haar oë vul met trane en sy soek verder. Maar laat sy self verder vertel:
DIE BRUID: 3 Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref. Het julle my sielsbeminde nie gesien nie?
Die wagte het haar bemerk. Haar optrede is vreemd. Hulle tree nader om haar te ondervra, desnoods te arresteer. Hulle dra die uniform van vroomheid . Hulle misbruik die Wet en verordeninge van God. Hy het dit gegee om die afgedwaalde mens na Hom toe te trek. Dit moes soos bakens of straatlampe sy volmaakte weg belig. Die sondaar sou daardeur kon agterkom dat hy homself op ‘n dwaalweg bevind wat na die afgrond lei en hom tot God bekeer. Vir die berouvolle mens was daar onmiddellike vergifnis en bekragtiging deur sy Gees om die pad van die liefde te bewandel.
Maar hierdie sogenaamde wagte het hulself egter nooit so verootmoedig nie, maar eerder die Wet tot hul eie voordeel gebruik. Hulle het gebod op gebod en reël op reël bygevoeg en dit soos swepe gebruik om die mens mee stukkend te slaan. Die arme luisteraar was dan so oorweldig deur sy skuldgevoel dat hy net verder van God af weggevlug het. Deur die genade van God te verswyg, het hulle die mens van Hom af weggedryf, hulself tussen Hom en sy skepsels geplaas. Wat meer is, omdat hulle hierdie verordeninge uit die hoof geken het, het almal gedink dat hulle hoog heiliges was wat dit alles ook nagekom het. So het hulle die gewone mens gedwing om die knie in eerbied voor hulle te buig, in plaas van voor Hom die hoog-helige liefdevolle Ontfermer.
Hulle moes ook toesien dat die Koning en sy Seun nie weer die Koninkryk wat hulle hoof in die Paradys op slinkse wyse van Hom afgerokkel het, terugwen nie. Sodra hulle iemand gewaar wat moontlik ‘n bruid van die Seun kan wees, val hulle hom of haar met alle mag aan.
Die Bruid van ons verhaal is egter waaksaam. Een kyk in hul staalharde oë laat haar dadelik besef dat sy hulle nooit moes geraadpleeg het nie. Sy draai haastig weg en glip terug tussen die skare in.
Skaars het sy dit gedoen of sy sien ‘n man ‘n entjie weg staan. Hy lyk heel gewoon; nie soos die belangrikes van die stad, die vooraanstaandes nie. Hy hou sy oë stip op haar, vriendelik, vraend. Die skares op die plein stroom wyd om hom, vermy hom, kyk hom vies aan. Sommige dames bedek die neus met ‘n sakdoek.
… Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. … (Jes 53:2).
As mens was die Here Jesus waarskynlik nie besonder lank en begeerlik soos koning Saul of aantreklik, handvaardig of musikaal soos koning Dawid nie. Dit was eers wanneer Hy die skares toegespreek, dat hul verstom gestaan het oor die wysheid van sy woorde en die gesag waarmee Hy gepraat het.
Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. (Isa 53:3).
Dit is hoe die mense Hom gesien het toe Hy aan die kruis gehang het. Hulle het Hom verag, min wetende dat Hy besig was om die grootste van alle werke te verrig; ‘n werk wat net Hy, die vlekkelose Lam van God kon volbring. Hulle wat Hom reeds ken, herken Hom egter dadelik aan die heerlikheid wat sy karakter uitstraal; die geur van ewig volhoubare lewe; die geur van die liefde.
Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. … (2Kor 2:15,16).
Elkeen in wie Hy woon, versprei dieselfde geur. Hulle word vermy want die lering en voorbeeld wat van hulle uitgaan, veroordeel die sonde in elke vorm en herinner die mens aan die ewige dood wat op verlorenes wag. Vir hulle is sy mirre en nardus dus ‘n geur van die dood.
Nou slaan die Bruid in ons verhaal egter geen ag meer op die skares nie, want Hy boei haar geweldig. Sy gee ‘n tree vorentoe. Dadelik doen hy dieselde. Sy gee nog een; hy ook. Ineens is hulle by mekaar.
Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. … (Jak 4:8).
DIE BRUID: 4 Skaars het ek van hulle af verder gegaan, of ek het my sielsbeminde gevind; ek het hom vasgehou en hom nie gelos voordat ek hom gebring het in die huis van my moeder en in die binnekamer van haar wat my gebaar het nie.
Ja, toe ontdek sy: Di’s Hy, di’s Hy, haar Bruidegom. Sy herken Hom aan die geur van sy mirre; so anders as die reuk van die goedkoop parfuum van die mense van die stad. Hy neem haar hande in syne, kyk diep in haar oë en skielik verdwyn die pyn uit haar hart. Haar oë straal. Sy gryp sy mantel vas en pleit dat Hy met haar saamkom. So bring sy hom in haar moederhuis, die geboortehuis van haar mensheid.
[En nou moet ons byvoeg dat sy Hom nie in die vlees nie, maar in haar gees, diep binne-in haarself gevind het. Dit is waar Hy na vore getree, na haar toe gekom en sy Hom in geloof vasgegryp het – maar dit verstaan u mos.]
DIE BRUID: 5 Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
Weer stroom soortgelyke woorde as tevore deur haar gedagte: “Die liefde is jaloers; as jy eenmaal daaraan toegegee het, laat dit jou nooit weer gaan nie.”
Ook het sy ‘n belangrike les geleer: Soek Hom nie in die stad, die simbool van menslike wysheid nie. Die mens leer jou, òf om die kwaad te omhels want dit bring vir jou voordele, òf om te probeer om dit deur die krag van jou eie wil te weerstaan. Ook om te poog om deur die inspanning van jou eie vermoëns jou lewe sonder hulp van jou Skepper te beplan en vervulling daarin te vind. In kort: Die mens wil jou oorreed om onafhanklik van God te leef.
Soek hom in die werking van sy Gees waarvan die natuur simbolies is: die weivelde en kuddes van skape, die wingerde waar hennablomme bloei en in die dale van narsings en lelies. Soek Hom in die geestelike tuin van jou eie hart waar sy Gees in beheer is. Vergesel Hom deur voorbidding in die wingerde van jou mede bruide waar Hy besig is om te snoei en die klein jakkalsies te vang. Stap met hom saam deur sy Woord en let op die paaie wat Hy bewandel. Laat sy Gees jou aan die hand vat en jou na sy binnekamer van intieme verkeer lei. Laat Hy jou ook bring in sy troonkamer van aanbidding. Wanneer jy met jou motor of in ‘n vliegtuig op pad huis- of werk toe is, laat Hy jou gedagtes lei soos ‘n herder sy skape om die dinge wat daarbo is, te bedink en nie die sorge of verleidinge van die wêreld om jou nie. So sal jy gedurig by Hom wees. Rus in Hom soos die narsing en die lelie en jy sal geestelik ‘n lus vir die oog wees en sy geur oral versprei. Vertrou jouself aan Hom toe en rus in sy vrede.
… Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. … (Rom 10:6-8).
HY IS NADER AAN JOU AS JOU OUER, VROU OF KIND: HY IS BINNE-IN JOU.
Dink diep daaroor na sodat dit vir jou betekenis kan kry.
~~~~~~~~~~
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.