Die Grootste Flater Ooit?

Hubble Telescope

DIE HUBBLE TELESKOOP

Elkeen van ons het een of ander tyd in ons lewens al iets gedoen wat ons duur te staan gekom het; ‘n storie wat ons nie graag oorvertel nie. Die geskiedenis van die Hubble teleskoop is so ‘n storie.

Die Hubble was die die duurste teleskoop wat ooit in die ruimte geplaas was; in ‘n baan 575 km bo die aarde. Dit het R5 000 000 000 gekos maar van die begin af was die beelde wollerig en onduidelik – wat ‘n skok en teleurstelling. Ondersoek na die oorsaak van die probleem, het aan die lig gebring dat die hoofspieël van 2,5 m in deursnee, verkeerd geslyp was; die holte was te vlak. Die rede hiervoor was dat die tegnikus wat die slypwerk gedoen het, die slyptoestel verkeerd gemonteer het deurdat hy ‘n sekere skroef onderstebo vasgebout het en boonop het niemand agterna getoets of die spieël korrek gefunksioneer het nie. Ongelooflik. Vyfduisend miljoen rand het waardeloos om die aarde gewentel.

Gelukkig kon die fout ‘n jaar en agt maande later herstel word, maar teen ‘n koste: R3 332 040 000! Om dit te doen, moes sewe ruimtereisigers na die Hubble reis, die tuig met ‘n ruimte-arm gryp, nadertrek en herstel. ‘n Duur fout; maar ten miste kon dit reggestel word en daarna het die ruimteteleskoop tot nou toe nog, asemrowende inligting van die ruimte na die aarde teruggesein.

Ek en jy loop gevaar om selfs nog ‘n groter flater te begaan want ons besit elkeen ‘n lewe wat meer werd is as selfs die dure Hubble en boonop het God ons ontwerp om vir ewig te bly voortleef. Met die sondeval het ons lewens erg beskadig geraak; ja, tot so ‘n mate dat ons algeheel onbruikbaar is vir die doel waarvoor die Heer ons geskape het en gevolglik nie in die hemel toegelaat sal word nie maar op die heelal se ashoop sal beland.

Die goeie nuus is egter dat ons oor ‘n handboek beskik wat vir ons stap vir stap lei om ons geestelike spieël weer reg te slyp sodat dit die volmaakte beeld van God kan weerkaats.

Daardie handboek is natuurlik God se Woord. Maar Paulus skryf aan die jong Timótheüs hy moet leer om hierdie Woord “reg te sny,” met ander woorde om dit reg te gebruik en om nie soos die tegnikus ‘n skroef onderstebo in te draai en die kosbare spieël te verongeluk nie. Wanneer ons die Woord verkeerd verstaan, monteer ons God se slyptoestel verkeerd en sal ons lewens verkeerd geslyp word. Elke mens is eerstens sy eie tegnikus, slyper, van sy eie lewe. Die Heilige Gees sal wel Sy hande op ons hande plaas as ons Hom toelaat en ons leer hoe om te slyp. Nou waarsku Paulus ook dat daar in die laaste dae leraars sal wees wat fabels (dwaalleringe) sal uitdink en opdis na die smaak van elke mens, dws. leraars wat die Woord verdraai; wat Dit verkeerd aanmekaarsit, verkeerd vertolk.

Om die Woord stelselmatig te bestudeer en te bepeins, kos tyd en toewyding, maar so kan ek sekermaak dat ek die waarheid in diepte verstaan en as ek my siel verder wil verkwik deur ook na ‘n preek te luister, sal ek gou-gou agterkom as die prediker ‘n “skroef onderstebo indraai” en die Beeld van my Heer en die waarheid van Sy leer vertroebel en verwring, in plaas daarvan om dit op te helder.

Om die diep ruimte van die heelal deur die Hubble te bekyk, is asemrowend maar om die Heer en die diepte van Sy verborgenhede deur die Skrif te aanskou, is nog groter. Dit is wat God ons belowe in 2 Tim 3:16,17: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Wanneer ek dan verseker weet wat die Woord leer, moet ek toelaat dat die Woord my lewe slyp totdat dit presies inpas in God se wil. Dit kan nogal seer wees! Die vonke sal spat want daar is dele van my ou natuur wat deur die jare so hard soos ‘n diamant geword het. Die holte in die Hubble was te vlak geslyp. Ons is miskien gewillig dat die Woord ons so ‘n bietjie bolangs poleer dat ons darem nie te sleg lyk vir die mense hier om ons nie maar, “Oe Here, tog net nie so diep in my siel, in my trots, in my ou gewoontes inslyp nie. Here dit is baie seer soos wanneer die tandards deur die been in die senuwee inboor.” Ja, Hy weet dit is pynlik maar Hy wil dat ons: onberispelik en opreg sal (kan) wees, kinders van God sonder gebrek, te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,… .” (Filip 2:15) en Kol 1:22: om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; …” Ons Hemelse Tegnikus weet presies wat Hy doen!


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → GROOTSTE FLATER OOIT . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    ……….