2024-10-21
VOORAF.
(Indien u nie ‘n redelike grondige kennis het van die hoofstukke wat nou bespreek gaan word nie, sal u nie baat vind by die gedagtes en opinies wat uitgespreek word nie. Ons kan nie in die loop van ‘n enkele studiestuk volledige aanhalings uit die materiaal waarna verwys word, gee nie. Miskien moes u dan oorweeg om die hoofstukke eers te lees of u geheue te verfris deur dit net rustig deur te blaai.)
A. BELANGRIKHEID VAN HIERDIE HOOFSTUKKE.
Aangesien die Skrif bedoel is om deur die mens gelees en sovêr moontlik, deurgelees te word, was die Skrywer daarvan genoodsaak om die inhoud tot die allerbelangrikste onderwerpe te beperk. Dit volg dan logies, eerstens, dat elke deeltjie daarvan baie belangrik is en tweedens, dat die belangrikheid van ‘n onderwerp of gebeurtenis gemeet kan word aan die ruimte wat daaraan afgestaan is. Die feit dat die laaste gedeelte van Handelinge sewe volle hoofstukke beslaan (ongeveer ‘n kwart van die Boek) beteken dus dat die inhoud daarvan baie belangrik is en met sorg bestudeer moet word.
Maar nou, oppervlakkig beskou, vertoon die inhoud van hierdie hoofstukke effe blekerig in vergelyking met die voriges. Die rede hiervoor is dat Paulus, die hoofkarakter, die groot dissipelmaker, homself vir ten minste vier jaar lank (die termyn waaroor die hoofstukke strek) in aanhouding van die Romeinse owerhede bevind. Dit het sy bediening geweldig beperk. Geen nuwe sendingreise is onderneem en geen gemeentes gestig nie.
Dan weer, nieteenstaande Paulus se ingeperkte bediening, het die Hemelse Skrywer sy betroubare, vermaarde geskiedskrywer, Lukas, afgesonder om by Paulus te wees en die gebeure wat tydens sy gevangenisjare plaasgevind het, noukeurig aan te teken, op te som en na te laat sodat dit mettertyd in een van die 66 Boeke van die Woord geïnkorporeer kon word.
Dit bevestig weer ons vermoede dat hierdie stukkie Skrif ook baie belangrik moet wees. Kom ons kyk of ons sommige van die goud en silwer lering daaruit kan ontgin. Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is waarom Jesus vir Paulus na Jerusalem gestuur het, wel wetende dat dit vir hom jarelange gevangenisskap tot gevolg sou hê.
B. PAULUS HET EERSTENS GEGAAN OM EENHEID BINNE DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS TE BEWERK.
Soos ons weet, het die Kerk van Jesus Christus deur die uitstorting van die Heilige Gees in die bokamer in Jerusalem beslag gekry. Aanvanklik het die apostel Petrus aan die hoof daarvan gestaan en die eerste hoofstukke van Handelinge gaan dan ook grootliks oor sy bediening in die suidelike dele van die land. Na Paulus se bekering, en latere bediening in Antiochië, noord van Palestina, word hy deur die Here afgesonder vir ‘n bediening onder die heidene (nie-Jode). Hy onderneem daarna drie sendingreise na verskillende gebiede in Klein-Asië (huidiglik Europa) en stig talle gemeenstes. Ook skryf hy ‘n hele aantal sendbriewe waarin hy baie belangrike lering oor ‘n groot verskeidenheid van onderwerpe met hulle deel.
Intussen het Jakobus as leier van die Jerusalem gemeente na vore getree, terwyl die ander apostels versprei het om in ander wêrelddele dissipels vir die Here Jesus te gaan maak. Van die begin af het die Christene uit die Jodendom, en dié uit die heidendom, dit moeilik gevind om met mekaar saam te leef. Die Joodse Christene wou hê dat hul geestelike broers en susters uit die heidendom die wette wat voor Jesus se kruisiging en opstanding vir hulle gegeld het, moes nakom; in besonder die besnydenis. Hulle kon net nie die volle sprong van die Ou- na die Nuwe bedeling maak nie. Hulle het die oue soos onnodige bagsie saamgesleep. Die nie-Joodse Christene wou niks daarvan weet nie.
So is die Liggaam van Christus, naamlik die Kerk, in twee faksies verdeel wat natuurlik vir buitestaanders verwarrend was en ook baie nadelig vir die maak van nuwe dissipels, beide onder die Jode- en in die heidendom. Dit was dan waarskynlik een van die redes waarom Jesus, as Hoof van die Kerk, vir Paulus, die leier van die nie-Joodse Christen groepering, na Jerusalem gestuur het. Hy moes poog om hierdie twee groepe saam te snoer. Jare tevore het hy ook na Jerusalem gereis om aan hierdie strydpunt aandag te gee, maar toe was dit meer ter wille van die heidense Christene. Hy het toe ten doel gehad om die Wettiese juk vanuit die Jodendom vir hulle te verlig – nou was dit om eenheid in die Kerk te bewerk.
Onmin binne die Liggaam is nadeliger en pynliker as aanvalle van buite. Ons sien dit deesdae ook in die ontstaan van talle Christen denominasies waarvan sommige in kompetiese met mekaar is en die vraag onder buitestaanders laat ontstaan of Christus dan verdeeld is.
Jesus het vooraf geweet dat die nie-Christen Jode Paulus onmiddellik sou teiken en het dit ook by wyse van verskeie profesië aan hom te kenne gegee. Hul geloof in die Wet van God, was eintlik maar net ‘n dekmantel vir hul persoonlike soeke na mag en eer. Hulle het hul “godsdiens” gebruik om hulself op ‘n mensgemaakte troon te plaas. Met ware God’s verering het hulle ywer niks te doen gehad nie. Sy Seun het hulle gekruisig.
Daarom dan ook het hulle Paulus, moontlik die blinkste ster aan die Christus hemel, met ‘n blinde woede gehaat. Enkele dae na sy aankoms, was hy reeds in boeie en het hulle saamgesweer om hom te vermoor omdat hulle geen geldige klag teen hom kon inbring nie. Toe dit faal, het hulle na Cesaréa gereis om hom voor ‘n Romeinse hof te daag. Mettertyd het hulle hom voor ‘n tweede Romeinse tribunaal aangekla maar ook dit het gefaal.
Is die Kerk in Jerusalem darem toe intern deur Paulus se besoek verening? Ons lees niks spesifieks hieroor nie, maar daar is twee sterk argumente ten gunste daarvan.
Paulus se getuienis oor wat die Here deur sy bediening in die “heidendom” vermag het.
Eerstens was daar Paulus en sy metgeselle se persoonlike besoek aan hul leier, die apostel Jakobus (Hand 21:18,19) waartydens hy getuig het van al die wonderlike dinge wat die Heilige Gees in die vêrre lande daar bo in die noorde onder heidene gedoen het. Dit sou enige ware volgeling van Jesus se hart vinniger laat klop en laat besef het dat die Here daar net so teenwoordig en net so kragtig aan die werk was as hier onder in Jerusalem, die bakermat van die Christendom. Hul wantroue en agterdog sou omgeswaai word na waardering, vertroue en agting. Die Jerusalem kinders van God sou ook daarin bemoediging vind. Hulle sou dieper as ooit besef dat die Evangelie nie maar ‘n uitvloeisel of ontwikkeling van Judaisme was nie, maar die aanbreek van ‘n algeheel nuwe bedeling (die Nuwe Testament, Luk 22:20; 2Kor 3:6) wat deur die profete voorspel, en deur die opstanding van Jesus uit die dode bevestig is.
Paulus se voorbeeld, naamlik dat Hy gewillig was om sy lewe vir Jesus af te lê.
Tweedens was daar die aanval wat die Jode op Paulus geloods het en sy heldhaftige verdediging van hul gemeenskaplike geloof in die Here Jesus Christus. Ons persoonlike voorbeeld spreek soms sterker as ons woorde. Elke Joodse Christen wat dit met eie oë aanskou het, se hart sou geswel het van trots en bewondering. Deur sy heldhaftige optrede het Paulus sekerlik hul vooroordeel teen hom uit die weg geruim. Van daardie dag af sou hy vir hulle net so kosbaar of selfs kosbaarder as hul eie leiers wees. So het dit mos ook later deur die eeue heen gegaan. Wanneer die Christendom van buite aangeval was, het die Christene verenig en laer getrek teen die gemeenskaplike vyand. Ons lees dan ook nêrens dat hul verskille twee parallelle Kerke tot gevolg gehad het nie.
Hierdie kragtige stap tot opklaring van die twispunt, sou in die jare wat kom ook die maak van dissipels wêreldwyd vergemaklik.
Jesus se stuur van Paulus na Jerusalem, maak dus eerstens sin deurdat dit tot vereniging van die Kerk gedien het. Dit was nie ‘n verkwisting van Paulus se potensiaal en tyd soos wat dit op die oog af lyk nie. Dit was, soos alles wat onse Here doen, fyn beplan en daarom verdien die verhaling daarvan ook ‘n plek in sy Woord.
C. PAULUS HET TWEEDENS GEGAAN OM NOGMAALS DIE VERLOSSING AAN DIE NAGESLAG VAN ABRAHAM AAN TE BIED EN HULLE TOT BEKERING OP TE ROEP.
Die hoofdoel van die verkondiging van die Evangelie, is dat die mens hom sal bekeer en dissipels van Jesus Christus sal word. Ons is, met reg, so ingestel op hierdie doelwit, dat ons soms vergeet dat die wedergeboorte van sommiges ‘n duidelike streep van verdeling deur mensemassa trek. Die gereddenes gaan hemel toe maar die ongereddenes moet, voordat hulle vir ewig na die verdoemenis verplaas word, eers in die Wit Troon oordeel voor God verskyn, skuldig bevind en elk na die maat van sy skuld gestraf word.
Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat die Wet en verlossingsweg van God so herhaaldelik moontlik aan hulle verkondig word. Ons verkondig dus die Evangelie nie net tot redding van die mens nie, maar ook tot sy veroordeling. Elke keer wat ‘n persoon die Evangelie hoor en verwerp, of dit net ignoreer, sal dit in die eindoordeel teen hom gereken word. Elke insident sal soos in ‘n video ten aanskoue van een en almal voor die Regter in gedagtenis geroep word. Skrikwekkend!
Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. (Rom 3:19,20). (Beklemtoning is deur onsself aangebring.)
En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag.
Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (Han 20:22-24).
Vir laas nog, voordat hy na Rome sou gaan, het sy Heer hom na sy eie land en mense gestuur om hulle ‘n geleentheid te gee om hul Messias en Verlosser aan te neem. Tydens sy besoek het hy vier maal die Evangelie aan hul leiers verkondig: tweemaal by die tempel, eenmaal tydens sy verhoor deur Felix en eenmaal tydens sy verhoor deur Festus.
Maar ook die Romeinse owerhede wat van die begin af deel gehad het Jesus se kruisiging, is ruim geleenthede gebied om hul saak met God reg te maak. Dink maar aan goewerneur Felix:
En ‘n paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusílla, sy vrou, wat ‘n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus. Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: Gaan vir hierdie keer heen, en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep. En tegelykertyd het hy ook gehoop dat geld aan hom deur Paulus sou gegee word om hom los te laat. Daarom het hy hom ook dikwels laat haal en met hom gesprekke gehad. Maar twee jaar het verbygegaan, en toe kry Felix vir Porcius Festus as opvolger; en omdat Felix aan die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat. (Hand 24:24-27).
Festus het dus ook tydens Paulus se verhoor die Boodskap van Jesus se opstanding gehoor alhoewel hy reeds daarmee vertroud was. Toe het hy hom weer voor Koning Agrippa en sy vrou Bernice verhoor waartydens die volgende gesprek plaasgevind en Agrippa uitgeroep het:
Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo. En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word. En Paulus sê: Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie. (Hand 26:27-29). (Die beklemtoning is deur onsself aangebring).
Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word. Hoe sal daardie woorde nie tot in alle ewigheid in Koning Agrippa se ore weergalm nie.
Dit was dan ook die laaste kans wat hierdie wêrelddeel gegun was om die Blye Boodskap by monde van deur Here Jesus se prima gesant, apostel en profeet, Paulus, die eertydse Fariseër en Christen moordenaar te verneem. Daarna is hy onder toesig van ‘n Romeinse offisier per skip na Rome geneem om daar vir sy Heer te getuig. Oor daardie verhaal het ons reeds in ‘n vorige hoofstuk gesels.
D. NOG ‘N GELEENTHEID VIR PAULUS OM VIR JESUS TE LY.
Hierdie stelling laat u en my frons. Hoe kan ‘n mens bly wees om ‘n geleentheid te kry om vir Jesus te kan ly? Ons kyk na twee verse:
… omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, (Fil 1:29).
En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. (Han 5:40,41).
Verbasende mededelings:
- Dat dit ‘n genadegawe van God is wanneer aan ons die geleentheid gebied word om vir Hom te kan ly.
- Dat dit ‘n besondere eer is om vir Hom oneer te ly; dws dat nie elkeen deur die Here waardig geag word om vir Hom oneer te ly nie.
Dit is dan ook so dat daar tydperke in die geskiedenis van die Kerk was dat gelowiges begeer het om as martelare vir Christus te mag sterf. Mag die Heer gee dat ons elkeen gereed mag wees indien ons onverwags hiertoe groep word.
(Meer oor LYDING.)
E. GOD SE BEWARING EN VERSORGING VAN SY DIENSKNEG.
Al wat miskien oorbly om hier uitgewys te word is, met watter gemak die Heer sy geliefde dienskneg bewaar en sy relatiewe gerief bewerk het.
- Twee maal stuur Hy ‘n Romeinse garnisoen van soldate om hom uit die mag van die briesende Jode te verlos en veilig in hul barakke te bewaar.
- Wanneer die Romeinse soldate reeds besig is om hom met rieme uit te rek sodat hy met ‘n kats of sweep gekasty kan word, lê die Heilige Gees die regte woorde in sy mond wat hom die marteling spaar en verder met agting behandel laat word.
- Wanner ‘n komplot gesmee word om hom voor te lê en te vermoor, laat die Heer ‘n seun dit hoor en open Hy die offisier in bevel se hart om hom te woord te staan en op sy woorde ag te slaan.
- Daarna kommandeer die Heer 300 voetsoldate en 70 ruiters om hom van voor en van agter in te sluit en veilig in Cesaréa te besorg. Self geniet hy die voorreg om op ‘n pakdier te ry. (Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe – Ps 23:6).
- Ook daar, in die gevangenis, word hy menslik, indien nie mensliewend nie, behandel.
- Die drie staatshoof regters wat sy saak by verskillende geleenthede aanhoor, kom al drie tot ‘n regverdige gevolgtrekking, naamlik dat hy onskuldig is, alhoewel hulle om selfsugtige selfbevoordelende redes hom nie loslaat nie.
- Die hoofman oor honderd wat hom as gevangene na Rome neem, behandel hom goed en tree selfs teen die wil van sy manskappe op deur sy lewe te spaar toe hulle hom, soos gebruiklik in gevalle van skipbreuk, wou doodmaak.
- Tydens die skipbreuk kom hy ongedeerd aan land.
- Die inboorlinge van Melíte en hul leier betoon buitengewone gunste aan hom (en sy metgeselle, terwille van hom).
- In Rome aangekom, word hy toegelaat om in sy eie huurhuis onder toesig te woon en ongehinderd met sy bediening voort te gaan.
Die veiligste plek op aarde is in die brandpunt van God se wil.
Ons sien dus hoedat die Heer se sending van Paulus na Jerusalem met vrug bekroon is en tot aan die einde van die dae vrug sal dra. Laat elke dienskneg van God wat soms deur hom aangewys word om moeilik begrypbare take te verrig, deur hierdie verhaal moed skep. Mag u volhard in die geloof en uiteindelik, al is dit eers in die ewigheid, die doel vir u onverstaanbare opdrag ontdek en mag u dan loon vir u gelowige volharding ontvang.
~~~~~~~~~~