2025-05-28A
A. DIE EVANGELIE MAAK VRY VAN DIE WET
4.1-19
- Paulus borduur nou verder uit oor hulle toestand terwyl hulle onder die Wet was.
- Hulle was soos minderjarige kinders wie se ouers oorlede was en alles geërf het wat in hul testament aan hulle nagelaat was, maar hoewel hulle die regmatige eienaars van die boedel was, sou hulle eers toegelaat word om dit te beheer (bestuur) sodra (wanneer) hulle meerderjarig sou word.
- ‘n Minderjarige kind se posisie is in werklikheid niks anders as dié van ‘n dienskneg nie, want hy word heeltyd deur sy voog beheer en voorgeskryf wat om te doen en wat nie.
- Gedurende daardie tydperk was hulle onder die eerste (vroeëre) lewensbeginsels wat bestaan het uit lyste van “Doens en moenies”.
- Die meeste van hulle het nie eers die enige God gedien nie, maar afgode van hulle eie verbeelding.
- Israel se volwassenheid het eers gekom toe Christus, op die regte tyd, gesterf en uit die graf opgestaan het; dit was die oomblik toe hulle bevry was van die beheer van die Wet om, deur geloof in Christus, volle beheer oor hul erfenis in Abraham (vanweë sy verbond met God) te neem .
- Toe eers het hulle volwasse geword en is dié van hulle wat Christus in geloof aangeneem het, bevry deur sy dood en opstanding en het sy Gees ontvang deur wie hulle harte uitroep “Abba Vader” en het hulle volle besit van hulle erfenis geneem.
- Waarom keer hulle, die Galasiërs, dan nou terug na daardie eerste armoedige beginsels en slawerny van spesiale godsdienstige dae, maande, tye en jare wat voorgeskryf was deur die Wet wat deur Moses voorgeskryf was, weer te onderhou?
- Deur dit te doen, is hulle op die punt om hul verlossing in Christus te verwerp, en daardeur verwerp hulle Christus self en verydel hulle al die moeite wat Paulus gedoen het om hulle na vryheid te lei.
- Toe hy by hulle was, was hy siek en was daar so ‘n intieme verhouding dat hulle hom vertroetel het en so besorg oor hom was dat hulle, hul oë sou gegee het om hom te kon help; hulle het hom soos ‘n engel behandel, soos Christus self; waarom draai hulle nou skielik teen hom en dit net omdat hy heeltemal openhartig met hulle was oor die waarheid van die Evangelie?
- Die ywer van diegene wat hierdie valse lering in hulle inprent, is nie vir hulle beswil nie, want wat hulle probeer doen, is om hulle van hom te vervreem sodat hulle, hul (die Galasiërs) vir hulself kan hê.
- Paulus se hart teenoor hulle is egter soos dié van ‘n ouer teenoor ‘n kind wat nie vra nie, maar gee, en meer nog: soos ‘n moeder in geboortepyne span hy sy hele wese in sodat Christus ‘n lewende, werklike persoon vir hulle kan word en hulle visie kan vul sodat hulle nie meer in die versoeking sou kom om hulle na die ou beginsels van die Wet te wend wat hulle nie kan red nie.
B. DIE VERBOND VAN SARA EN HAGAR GEKONTRASTEER
4.20-31
- Voordat hy sy volgende argument aanvoer, toon Paulus die emosie en frustrasie wat hy ervaar omdat hy nie van aangesig tot aangesig met hulle kan praat nie; hy moet terugval op die stadige proses om sy gedagtes woord vir woord neer te skryf en dit dan per hand te stuur met ‘n persoon wat per skip of te voet na hulle sal moet reis, wat so baie tyd neem om hulle te bereik.
- (Laat ons daarop let hoe ons frustrasies, in God se wysheid, in sy beplanning vasgevang word: die feit dat Paulus die gedagtes wat hy van God ontvang het, op papier moes vaslê, het die Here die geleentheid gebied om sy briewe vir duisende jare daarna te bewaar, sodat miljoene van God se kinders dit kan lees en (daardie kardinale lering kan) benut. Prys die Here dat ons altyd aan die wenkant is, maak nie saak hoe swak ons bedieningsinstrumente soms lyk nie!)
- Paulus gebruik nou nog ‘n stuk Ou-Testamentiese geskiedenis om hierdie twee teenoorgestelde beginsels te verduidelik: aan die een kant die Wet, wat verlossing deur ‘n mens se werke bied, en aan die ander kant die Evangelie, wat verlossing deur geloof gebaseer op Christus se kruiswerk bied.
- Die historiese gebeurtenis wat hy gebruik, is die lewensverhale van Sara, haar slavin Hagar en hulle onderskeie seuns Isak en Ismael; hy begin by Abraham, die vader van die Joodse volk.
- Abraham het twee seuns gehad: Isak en Ismael.
- God het aan hom en sy vrou ‘n seun belowe wat erfgenaam sou wees van sy boedel en van al die beloftes wat God hom as ‘n vaste verbond gegee het.
- Nadat hulle jare lank op die geboorte van die beloofde seun gewag het sonder om die vervulling van die belofte te beleef, het Abraham en Sara hul eie plan beraam om ‘n kind te verwek deur Abraham by Sara se slavin Hagar te laat ingaan. Hagar het ‘n seun genaamd Ismael gebaar, wat natuurlik ‘n slaaf was soos sy moeder; so sou sy nageslag ook slawe wees. Paulus verbind hierdie gebeurtenis met die Wet wat aan die volk Israel op die berg Sinai gegee is, wat hulle saam met hulle na hul hoofstad, Jerusalem, gebring het. Die Wet baar slawe, net soos Hagar gedoen het. Elkeen wat probeer om gered te word of ‘n lewe te lei wat God behaag deur die letter van die Wet na te kom, “slaap met die Wet” en word ‘n slaaf van die Wet en baar Wetslawe.
- Op ‘n baie later datum het God sy belofte aan Abraham en sy vrou Sara, die vrye vrou, vervul en vir hulle ‘n seun met die naam Isak geskenk. Aangesien Isak uit ‘n vrye huwelikspaar gebore was, was hy ook vry van geboorte af. Hy is nie gebore as gevolg van Abraham en Sara se eie fisiese vermoë en inspanning nie, maar deur God se wonderbaarlike bonatuurlike ingryping. Toe hulle twee hul geloof om ‘n kind te kon hê (want Sara was onvrugbaar) in God geplaas het, het Hy ‘n wonderwerk gedoen en is Isak verwek. Daar kan dus tereg gesê word dat Isak uit ‘n hemelse bron uit die Nuwe Jerusalem daarbo gebore is.
- ‘n Ruk later het Ismael begin om vir Isak te bespot (met hom gek te skeer) waarop God, Abraham beveel het om die slavin en haar seun weg te stuur, want Hy sou nie toelaat dat die slaaf, Ismael, ‘n deel erf van wat Hy aan die vrye kind, Isak, wat uit geloof gebore was, belowe het nie.
- Paulus wys vervolgens daarop dat daar eweneens geen moontlikheid is vir ‘n persoon om homself te probeer red deur op sy eie vermoë te vertrou om die Wet van Moses te onderhou en terselfdertyd op Jesus vertrou om hom uit genade te red nie. Dit is óf die een óf die ander. Jy is óf ‘n seun van Hagar (’n slaaf wat probeer om die ewige lewe te beërwe deur baie hard te werk om elke stukkie van die Wet te onderhou) óf jy is ‘n seun van Sara (’n kind van God wat die ewige lewe beërwe deur dit in geloof in Christus te aanvaar, sonder om daarvoor te werk.)
- Elke Christen word van Bo verwek en gebore uit die hemelse Jerusalem waaruit die Gees van vryheid vloei en nie uit die aardse Jerusalem vanwaar die Wet van slawerny heers nie.
C. STAAN VAS IN DIE VRYHEID VAN CHRISTUS
5:1-12
- Nadat Paulus die redes verduidelik het waarom hulle nie na die beginsels van die Wet mag terugkeer nie, moedig hy nou die Galasiërs aan en vermaan hulle om hulle vryheid in Christus te koester en nie neer te buig en andere toe te laat om die swaar juk van die Wet op hulle nekke te plaas wat, soos jy met ‘n os doen wat jy vir jou wil laat werk nie.
- As iemand terugkeer na die nakoming van sekere bepalings van die Wet, soos byvoorbeeld die besnydenis, sal hy hoegenaamd niks deur Christus baat nie. Hy moet dan voluit gaan en elke jota van die Wet nakom om sy redding so te verdien.
- Iemand wat deur die Wet geregverdig wil word, maak homself los van Christus en verloor sy saligheid; hy sny nie net ‘n deel van sy liggaam af nie maar homself algeheel; hy het van die genade van God verval.
- Sodra jy in Christus is, tel dit geensins of jy besny is of nie, maar jou geloof en die Gees wat in jou woon, sal jou lei tot dade van liefde, nie om verlossing te verdien nie, maar as gevólg van verlossing. Isak sou soos sy vader Abraham leef, nie om sy erfenis te verdien nie, maar omdat hy uit Abraham gebore was, het hy Abraham se visie en natuur gehad.
- Hulle (Galasiërs) het so mooi op die pad van geregtigheid deur geloof gewandel, wie was dit wat hulle gedagtes verwar het? Beslis nie die God wat hulle tot vryheid geroep het nie.
- Net ‘n paar woorde van valse lering werk in ‘n persoon se gedagtes soos ‘n suurdeeg wat die hele deeg suur maak; dit verslind die soete gemeenskap met Christus en verander die persoon in ‘n suur, knorrige dienaar van die Wet, wat daaraan verslaaf is om homself deur sy eie pogings te red.
- Mag hy wat hierdie slegte suurdeeg in hulle harte ingeknie het, homself nie net besny nie, maar ook vermink en die oordeel vir sy bose daad dra.
- As Paulus homself nie heeltemal gedistansiëer het van die nakoming van die vereistes van die Wet en die gawe van verlossing wat deur Christus aangebied is, aanvaar het nie, waarom het hy dan soveel teenstand in die gesig gestaar van beide die Jode (diegene wat Christus heeltemal verwerp) en die Judaïste (diegene wat leer dat dit goed is om Christus te aanvaar, maar dat jy ook steeds die ou Joodse wette moet onderhou)?
- Christus se vrye gawe van verlossing was juis die struikelblok waaroor Paulus so erg vervolg was.
D. LEWE DEUR DIE GEES
5:13-26
- Nadat Paulus gehandel het met die negatiewe gevolge van slawerny, wend hy hom nou tot die positiewe kant, wat betrekking het op die wandel in die vryheid van die Gees.
- As slawerny behels om God deur jou eie pogings te probeer behaag en die eindelose wette te onderhou, wat behels die vryheid om in die Gees te wandel dan?
- Eerstens bied hierdie vryheid nie aan jou sondige vlees die vryheid om aan sy bose begeertes toe te gee nie.
- Dit bevry jou eintlik van jou begeertes van haat en wraak en stel jou in staat om andere soos jouself lief te hê en te dien.
- Dit bied jou beslis nie die vryheid om jou naaste te byt en te verslind nie; ja, wees versigtig, hy kan dan dieselfde doen en jou ook doodbyt en opeet!
- Die antwoord is om deur die Heilige Gees gelei te word, om op sy aansporings en waarskuwings (sy gefluisterde leiding) te reageer, want dan sal jy nooit swig voor die sondige begeertes van die vlees nie.
- Die vlees en die Gees het teenoorgestelde doelwitte en hulle staan mekaar teë sodat jy tussenin vasgevang is en dit moeilik sal vind na om na een of ander kant toe te gaan: die vlees wil hê dat jy óf onder die ondraaglike las van die Wet moet wandel óf moet swig voor die onbeheersde begeertes van die gevalle menslike natuur; die Gees, aan die ander kant, bemagtig en lei jou om lief te hê en in reinheid van hart en in gemeenskap met God te wandel.
- As jy voortdurend kies om die leiding van die Gees te volg, sal jy nooit in die slawerny van die Wet beland nie.
- Sommige begeertes van die sondige natuur is die volgende: seksuele immoraliteit, onreinheid, wellustige plesiere, afgodsdiens, towery, vyandigheid, twis, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en dies meer.
- Soos voorheen gemeld, sal diegene wat daardie soort lewe lei, nie die Koninkryk van God beërwe nie.
- Die vrug van die Heilige Gees, aan die ander kant, is liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, waarteen die Wet nie is nie.
- Diegene wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig.
- As ons dan God se lewe ontvang het, wat deur sy Gees aan ons gegee is, laat ons bewustelik en voortdurend die leiding van die Gees soek en volkome op Hom staatmaak om ons te bemagtig en in staat te stel om in pas te bly met ons heilige God.
- Laat ons nie soekers van persoonlike verheerliking word, jaloers wees op ander wat meer voorspoedig is as ons, of grootpraters word wat ander uitlok om jaloers op ons te wees nie.
E. DIE WANDELING IN DIE GEES
6:1-10
- Paulus gee nou raad oor hoe om die wandel in die Gees te beoefen.
- Om die waarheid te ken, is geen waarborg dat jy nooit sal struikel en tydelik in ‘n sloot sal beland nie.
- Die ander reisigers na die hemel, diegene wat in die Gees wandel, moet dan stop en ‘n helpende hand uitreik in ‘n gees van teerheid terwyl hulle let op hul eie voetstappe sodat hulle nie self in die modder beland nie.
- Christus se wet van liefde vereis van jou om die las van die gevalle een op jou eie skouers te neem totdat hy sy krag herwin het en weer in staat is om dit self te dra soos hy veronderstel is om te doen, want hy moet nie afhanklik word van ander Christene om sy verantwoordelikhede te dra nie.
- Moenie spog met jou eie geestelike krag wanneer jy vir ander berading gee en bid nie; jy mislei niemand behalwe jouself deur voor te gee dat jy ‘n “superheilige” is nie.
- Konsentreer daarop om jou eie verpligtinge na die beste van jou vermoë na te kom, dan sal jy min tyd oor hê om krities te let op wat ander doen, dit met jou eie poging te vergelyk en daaroor te spog.
- Wanneer iemand jou op geestelike vlak help, wees vrygewig teenoor hom en gee hom van elke goeie ding (materiële middel) wat jy beskikbaar het.
- Moenie jouself mislei en God minag deur jouself te oortuig dat Hy onbewus is van jou dade nie, Hy weet ten volle wat jy doen en dit sal meebring dat jy presies dieselfde soort dinge oes as wat jy gesaai het.
- Hy wat saad saai (gedagtes, houdings, woorde en dade) wat uit sy vlees (sondige natuur) gebore is, sal ‘n bose karakter, verval, en uiteindelike vernietiging van sy lewe maai, maar hy wat saad saai wat van die Gees is, sal die ewige lewe maai.
- Laat ons dus nooit moeg word, met ‘n trae (suinige) hand saai of selfs ophou om goed te doen nie, want as ons volhard, sal die saad wat ons gesaai het op God se perfekte tyd ontkiem, tot volwassenheid groei en sal ‘n ryke oes gereed wees om geoes te word.
- Laat ons ook eerstens in die lewens van mede-Christene saai wanneer ons goeie dade doen, want ons is almal broers en susters van God se huisgesin.
F. PAULUS SE AFSKEIDSWOORD EN ADVIES
6:11-18
- Dit lyk asof die brief tot op hierdie stadium deur iemand anders neergeskryf was, met Paulus wat dit dikteer het, maar nou neem hy self die pen op om die dokument te bekragtig (bevestig) en dit ook ‘n persoonlike karakter te gee.
- Voordat hy ‘n paar algemeenhede oordra, beklemtoon hy weereens die hoofsaak van hierdie brief, naamlik om hulle te waarsku om nie terug te keer na die juk van die Wet nie, maar om die vryheid in Christus te behou.
- Vir hierdie doel praat hy spesifiek oor die hoofsaak waarop die Judiste aangedring het, naamlik dat die Galasiese Christene besny moes word.
- Hy ontbloot hulle bose motiewe, naamlik:
- Om vervolging deur die Jode te voorkom.
- Om die aantal Galasiërs wat oortuig geraak het om hulle te laat besny, te tel, en dan rond te gaan en te spog oor die sukses van hulle bediening.
- Die tragedie van dit alles was egter dat hulle self nie kon doen wat hulle van ander verwag het nie, naamlik om elke bepaling van die wet na te kom nie.
- Om lof toe te swaai is goed, maar dan moet dit gedoen word waar dit toekom, naamlik aan die gekruidigde Christus deur wie ons gesterf het vir die sondige verleidinge van hierdie wêreld en deur Wie die aantrekkingskrag van die wêreld ook vir ons gesterf het, en dit, sê Paulus, is hoe hy sou roem.
- Want nóg besnydenis nóg onbesnydenheid is van enige waarde, maar wat tel, is waarvoor die besnydenis gestaan het, en dit is die geestelike besnydenis van die hart van die mens, waardeur hy ‘n splinternuwe geestelike wese word.
- Ten slotte spreek Paulus God se vrede en genade uit oor elkeen wat volgens hierdie leerreël wandel, dit wil sê oor elkeen wat deur geloof in Christus ‘n lid van die geestelike Israel van God geword het.
- En, as laaste argument, versoek Paulus hulle om te let op die littekens aan sy liggaam wat hy opgedoen het met die verkondiging van hierdie boodskap; laat hulle sien hoe ernstig hy hieroor is, en laat hulle hom nie meer rede gee om sy siel te bedroef uit vrees dat hulle hul saligheid kan verloor nie.
- Hy het sy brief begin deur God se seën oor hulle uit te spreek en sluit dit nou af deur weer woorde van vertroosting te spreek wat deur die Gees op sy lippe gelê is, naamlik: “Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle, broeders in die Gees!”
///////////