2025-12-09A
A. DIE UNIEKE BAND TUSSEN MAN EN VROU BINNE DIE HUWELIK
Dink ons aan die huwelik, kom die woord LIEFDE onmiddellik in ons gedagte op. Eerstens is daar die liefde tussen mens en dier; jou troeteldier. Jy het daardie onooglike harige wesentjie wat gedurig op jou skoot spring en vir almal wat naby jou kom, knor en blaf, verseker lief. Van sy kant af het hy jou seker ook lief; wat anders kan hom so laat optree; besitlikheid ten opsigte van die hand wat hom voer?
Liefde speel verseker ‘n groot rol in die méns se lewe. Ons is immers na die beeld van God geskape en God is liefde. Die verhouding tussen Vader, Seun en Heige Gees kan nie anders beskryf word nie as ‘n band van intense liefde.
Maar wat is liefde? In 1 Kor 13 word die een en ander oor die liefde gesê. Ons haal net ‘n paar versies aan:
1Kor 13:4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, 5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, 6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Kosbaar, maar dit vertel net vir ons hoe liefde in die praktyk uitspeel, sigbaar word, en nie wat die wese van liefde is nie want woorde kan dit nie beskryf nie; liefde kan net beoefen en beleef word.
Binne die huwelik is dit ‘n onsigbare, ontasbare, ewig onveranderlike aantrekkingskrag (of so iets) wat twee mense van teenoorgestelde geslagte tot een wese saamsnoer. Dit is die eksklusiewe genieting van mekaar bo alle andere. Daar is iets unieks aan elke mens; so uniek soos hul vingerafdrukke en dit is daardie stukkie uniekheid wat hulle met mekaar in die huwelik laat konnekteer. Ek begeer my vrou bo alle ander vroue in die ganse wêreld, nie omdat sy die mooiste, lieftalligste, skranderste of wat ookal-ste is nie, maar omdat sy, sý is. Soos wat die Heer vir Eva spesiaal vir Adam geskape het, het Hy haar spesiaal vir my geskape en my vir haar en daarom bind ons op ‘n spesiale, ewige manier met mekaar. Wanneer ek haar in ‘n groep van ‘n duisend skoonheidskoninginne opmerk, klop my hart dadelik vinniger. Sy is myne en ek is hare. Ons het een geword. Daardie liefde sluit dan ook in die onselfsugtige gee van die een aan die ander. Dit sluit ook alle, alle andere uit. Dit vloei so diep dat selfs wanneer een of albei van hulle hul fisiese aantreklikheid weens siekte of ouderdom, of hul denk- of kommunikasievermoë verloor, hulle nog bewus bly van die vloei van hierdie genotvolle stroom van unieke liefde vir mekaar.
1 Kor 13:8 Die liefde vergaan nimmermeer: …
Met die sondeval is hierdie volmaakte verhouding erg beskadig. Beide die vrou en die man het egter wel hul fisiese aantrekkingskrag vir die teenoorgestelde geslag behou en kon dit ook buite die liefdesraamwerk beoefen, maar dit het in wellus ontaard; ‘n monster wat onberekenbare skade binne en buite die huwelik en daardeur aan die welsyn van die ganse mensdom aangerig het.
Deur wellus het God se geliefde koning Dawid sy buurman se vrou onteer en haar man vermoor in ‘n desperate poging om sy sonde te bedek (2Sam 11). Daardeur het ‘n vloek oor Israel gekom en groot tragedies tot gevolg gehad. Deur wellus het sy seun, prins Amnon behoorlik siek gevoel weens sy fisiese begeerte na sy suster Tamar, haar op bedrieglike wyse na sy slaapkamer gelok en daar verkrag. Onmiddelik daarna het hy ‘n afkeer in haar gekry wat groter was as die sogenaamde liefde wat hy tevore vir haar gekoester het en sy kneg beveel om haar by die deur uit te sit en dit agter haar te sluit (2 Sam 13).
Wellus is ‘n onbeteulbare drang tot selfbevrediging, terwyl seksuele omgang binne die raamwerk van ware liefde die bevrediging van die huweliksmaat eweveel ten doel het.
B. DIE KRAG VAN VERLEIDING: DIE DIEP KUIL EN DIE NOU PUT
Koning Salomo het ‘n hele Bybelboek, die kosbare Boek Hooglied, aan die verhouding van Jesus, die Bruidegom en die wedergebore mens as bruid gewy. (U kan die studiegidsreeks daaroor lees by https://pottebakker.co.za/hooglied/ ).
Oor die mens se seksuele wandade skryf hy omvattend in die Boek Spreuke en gebruik die optrede van die “Ontugtige Vrou” om die mag en gevolge van sonde in die algemeen daardeur uit te beeld. Hoofstuk 7:6-22 en vers 27 is een so ‘n gedeelte.
23:27 Want ‘n hoer is ‘n diep kuil, en ‘n ontugtige vrou is ‘n nou put.
Ek sien ‘n man wat op ‘n snikhete dag met ‘n stofpad deur ‘n woestyn na sy bestemming stap. Dan bemerk hy iets wat na ‘n waterbron lyk ‘n ent van die pad af. Kan dit ‘n kuil of put met helder koel lawende water wees? O, hoe heerlik sal dit tog nie wees nie. Hy smag daarna.
Maar dan onthou hy dat hy gewaarsku was teen ‘n verraderlike waterbron neffens die pad en dat hy eerder na die oase vorentoe moes deurdruk. Maar, dink hy, hy sal mos versigtig wees. Hy is nog jonk en sterk. Die oumense is ook vir alles bang. En niemand sal tog weet nie. Net een skeppie water kan mos geen skade doen nie.
Hy kan die versoeking net nie weerstaan nie, onderbreek sy reis, draai van die pad af, gaan kniel op die rand van die kuil en staar na die water wat aanloklik daar onder blink. Sy mond is tog so droog; sy tong kleef aan sy verhemelte. Hy haal ‘n skepding uit sy reissak, bind dit aan ‘n tou en laat dit al verder en verder na onder sak. Hy lê later op sy maag teen die skuinste; kop na onder; voete hoog na bo. Nog net so ‘n klein bietjie verder, dan is hy by die blinkende water.
Skielik gee die gruis egter onder hom mee. Hy gryp wild na vashouplek, maar, di’s te laat. Kop eerste tuimel hy na benede, binne in die kuil in. Hy spartel met alle mag maar daar is geen vastrapplek nie; die water is te diep en die hoë wande loodreg na benede. Hy word al moeër, sink weg tot sy kop onder die water verdwyn en sy desperate uitroepe verstil.
Of het hy in ‘n put geval? Dit is so nou dat dit hom van alle kante af vasdruk. Hy kan nie beweeg of sy arms gebruik nie en sak onderstebo al laer af totdat sy kop onder die aanloklike koel water verdwyn en sy gille smoor.
So eindig die onversigtige, onverstandige, onwyse soeker na bevrediging se lewe. Het hy tog maar deurgedruk tot by die veilige oase ‘n entjie verderaan.
Watter kuile en putte is vir jou ‘n versoeking of het jy reeds in geval? Seksueel, finansieël, dwelms? Jy was dwaas; jy het die herhaaldelike waarskuwings verontagsaam en nou is jou lewe op die spel. Maar hier is die goeie nuus: daar is geen put of kuil waaruit die arm en hand van God jou nie kan red nie:
Psa 69:16 Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie!
Psa 40:2 Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; 3 en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. 4 En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.
Selfs toe Jona weens sy eie hardkoppige ongehoorsaamheid aan God deur die bemanning van ‘n skip oorboord gegooi en hy tot op die bodem van die see gesink het, het die Here sy hulpkrete gehoor en ‘n vis gestuur om hom in te sluk en op die droë land uit te spuug (Jona 2:1-10). Dieper as dit kan jy nie gesink het nie. Die Heer se arm is nie te kort om jou daar by te kom nie. Hy kan elke sweem van dwelms uit jou sisteem uitwas, die herinneringe daarna uit jou geheue uitvee en jou as ‘n nuwe mens vry op jou lewenspad laat gaan. Het jy uit eie wil of onder dwang in prostitusie beland? Hy kan jou klee met ‘n kleed van volmaakte reinheid en die gevangenisdeure se grendels oopruk sodat jy vry in ‘n nuwe lewe in kan stap. Het jy gedobbel of gewaagde finansiële transaksies aangegaan wat jou tot oor jou ore in die skuld laat beland het? Roep tot Hom, roep nou en beleef sy wonderwerkende krag. Dit mag tyd neem, maar Hy weet van ‘n pad wat na ‘n vaste rots lei.
C. DIE VERLEIDE EN SY VERLIES: DIE BESOEDELDE PUT EN VERSPILDE FONTEINWATER
5:15 Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. 16 Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? 17 Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. 18 Mag jou fontein geseënd wees, …
In minderontwikkelde landelike gebiede is ‘n gesin se waterput ‘n bate wat met groot sorg bewaar word. In Gen 29 lees ons dat daar ‘n groot klip op Laban se put geplaas was (om dit teen misbruik deur andere te beskerm) en eers wanneer al sy troppe vee daar aangekom het, het die herders kragte saamgesnoer om dit weg te skuif sodat die water toeganklik kon wees. Die eienaar het dus toegesien dat die water nie besoedel word nie. ‘n Vreemde sou nie belang daarby hê om dit te bewaar nie en vullis daarin laat beland. ‘n Persoon sou ook nie maklik water uit ‘n onbekende se put drink nie want hoe weet hy of dit skoon is en of hy nie daarvan sou siek word en selfs sou sterf nie.
Die tweede beeld is van kosbare fonteinwater wat verspil word deurdat dit toegelaat word om sommer weg te vloei na die omgewing of na ‘n plein waar diere dit tot modder met hul pote sou vertrap. ‘n Fontein van onderaardse waters moet met sorg na ‘n krip, dam of tuin weggelei en tot voordeel van die eienaar benut word. Iemand wat nie na sy fonteinwater omsien nie, sou as ‘n dwaas of verkwister beskou word.
Beide beelde, die put en die fontein, hou verband met die huwelk en die boodskap is duidelik: moet nie toelaat dat jou put besoedel of die opbrengs van jou fontein verkwis word nie.
Oor die besoedeling van die liggaam deur buite huwelikse omgang, hoof ons min te sê want ons word daagliks op verskillende wyses daarvan bewus gemaak. Die Heer onthou sy beskerming aan hulle wat daaraan skuldig is. Selfs ‘n dodelike nuwe geslagsiekte wat in Bybelse tye onbekend was, het gedurende die laaste dekades soos ‘n plaag in sommige gemeenskappe versprei. Middele word nou voorsien (selfs gratis) om dit moontlik te maak om met hierdie sonde voort te kan gaan en die gevolge vry te spring. Groot moeite word gedoen om medikasie te ontwikkel om die gevolge minder pynlik te maak maar, die hart van die probleem, naamlik onbeteulde omgang buite die veiligheid van die huwelik, word nie aangespreek nie. Volkere is deurtrek van liggaamlik besoedelde manne en vroue. En wat van die kinders wat uit sulke besoedeldes gebore word? En wat van die onskuldige persoon wat onwetend deur haar of sy gade besmet word? Die Here het dit voorsien toe Hy van die begin af geslagsomgang tot die huwelik beperk het. Sy gebooie spruit uit sy hart van liefde vir hulle wat Hy geskape het.
Minder sigbaar is die geestelike skade wat aan jou huweliksfontein toegebring word deur buite huwelikse verhoudings. Aan elke persoon met wie jy omgang het, gee jy iets van jouself, iets van jou hart weg. Jy laat jou fonteiwater wegvloei uit jou huwelik en op die plein van ontugtiges tot modder vetrap word deur hulle wat nie voor God ‘n verbond aangaan het om lewenslank jou beswil te soek nie. Jy sal nooit die heerlikheid van huweliksliefde smaak as jy ontrou is aan jou maat nie; selfs nie eers as jy net in jou gedagtes met iemand anders flankeer nie. Jy wou so ‘n bietjie ekstra opwinding hê maar nou eindig alles wat van jou fontein van lewe uitvloei, as modderwater. Huweliksliefde bestaan juis daarin dat ek weet, dat ek absoluut verseker is dat my maat my bo alle andere begeer. As jy ‘n kosbare porseleinvaas van bo na onder deursny, vernietig jy albei helftes.
En wat van jou kinders? Jou ontrou sal ook in hulle voortgeplant word.
D. DIE LEWENSLANGE HUWELIKSGENOT
5:18 ,,, verheug jou oor die vrou van jou jeug — 19 die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees. 20 Maar waarom sou jy, my seun, by ‘n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ‘n ontugtige omhels? 5:21 Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange. 22 Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou. 23 Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
Sommige jongmanne en -meisies is voorwaar ‘n lus vir die oog. Wanneer twee van hulle met mekaar trou is dit maklik om mekaar hartstogtelik lief te hê en te geniet, maar kan hierdie heerlike, goddelike ervaring voordeur tot in die gryse ouderdom toe? My antwoord, hierop, gebaseer op die Skrif, sowel as uit persoonlike ervaring, is ‘n ongekwalifiseerde “Ja!”
In God’s Woord vind ons verskeie voorbeelde van vroue wat tot op ‘n hoë ouderdom nieteenstaande hul onvrugbaarheid, deur hul mans bemin was. ‘n Insident uit Abraham en sy vrou Sara se lewens toe God hul besoek het, is in Gen 18 vir ons opgeteken:
10 En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. 11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. 12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?
Nieteenstaande die onooglike toestand van hul liggame, het hierdie egpaar aangehou om aan hul liefde vir mekaar deur middel van die liefdeshandeling uiting te gee en het die Here hul met ‘n unieke seun, Isak, beloon.
Nog ‘n voorbeeld van onverwelkte liefde is dié van Élkana en sy vrou Hanna. Sy kon ook nie vir hom kinders baar nie, maar sy liefde vir haar het nie verkoel nie.
1Sa 1:4 En op ‘n dag het Élkana geoffer en aan sy vrou Peninna en al haar seuns en haar dogters dele van die offervleis gegee; 5 maar aan Hanna het hy ‘n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit. 6 En haar mededingster het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het. 7 So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. Só het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie. 8 En haar man Élkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?
Ja, die ware liefde tussen man en vrou vloei diep, stil en rustig bo-oor die rimpels van die ouderdom. Élkana en Hanna het deur hul volgehoue liefdesomgang ook die Here behaag sodat Hy vir hulle ‘n besondere seun naamlik Samuel gegee het.
Sit my vrou en ek eendag in die kerk reg agter ‘n hoogbejaarde, verrimpelde, gehoorgestremde egpaar. Skuif die tannie na links tot vas teenaan die oom, lê sy haar hand in syne, draai sy haar kop op na hom, kyk hom met teer, verliefde oë aan, prewel sy hardop, “My ou mooiste”.
Hang die vlae halfmas? Roep maar in herinnering die jare van die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; toe die Spitsberge jou bloed warm deur jou are laat bruis het.
Liefde is lewend en groei en is bestem om aan die einde van ‘n egpaar se lewens sy klimaks te bereik, selfs al sou die veroudering van die liggame nie meer die fisiese omgang moontlik maak nie. Daar is ‘n ongelooflike heerlikheid selfs net in die omhelsing en koestering van mekaar. Beleef u dit nog?
Die liefdesboom is sterk soos die dood.
Hooglied 8:6 Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE. 7 Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie;
Om die volle vrug van die liefde te kan smaak moet dit natuurlik gedurigdeur gekoester word. Wanneer een van die partye liggaamlik of geestelik so gestremd raak dat hulle nie meer bymekaar kan woon nie, moet hulle mekaar besoek. Wanneer ook dit nie moontlik is nie omdat julle bedgebonde is, hang jul huweliks- en ander fotos reg voor julle aan die muur en hou daardie herinneringe so lewend totdat die dag aanbreek dat julle mekaar in sprankelende heerlikheid anderkant die Groot Rivier sal herontmoet.
//////////