Uitstorting van die Heilige Gees

2011-11-07+

A. OORSIG OOR DIE BOEK HANDELINGE.

Voordat ons hierdie onderwerp behandel, laat ons net eers die inhoud van die boek Handelinge oorsigtelik bekyk. Hierdie Boek, geskryf deur Lukas (wat ook die Evangelie van Lukas geskryf het) dek ‘n tydperk van ongeveer 30 jaar. Dit begin by die hemelvaart van Christus en is ‘n akkurate historiese rekord van die verbreiding van die vroeë kerk. Dit beskryf hoe die Evangelie soos ‘n vuur wat in Jerusalem aangesteek was, geleidelik oor die bekende wêreld versprei het; net soos Jesus gesê het dat dit sou gebeur.

Dit vertel vir ons hoe verlossing uit sonde en die dood na die mens gekom het. Die Ewige Lewe is eers aan die Jode en toe aan die heidene aangebied. Die eerste 12 hoofstukke handel meestal oor Petrus se bediening. Hoewel hy sporadies na die heidene uitgereik het, was hy meestal by die Jode betrokke. Hoofstukke 13 tot 28 weer, sentreer om Paulus se bediening. Hy het begin deur die Jode te bedien, maar later drasties van rigting verander en grootliks op die heidene gefokus. Paulus word dus gesien as die apostel van die heidene.

Die boek Handelinge bevestig ook dat die werk van Christus van God was. 

Ons bestudering van hierdie boek sal soortgelyk wees aan ons vorige studies, deurdat ons nie alles wat dit bevat sal behandel nie, maar fokus op gedeeltes wat ons as meer voordelig beskou om die dieper boodskap van hierdie unieke boek te kan begryp.

B. VERKIESING VAN MATTHIAS.

Ons het reeds in ons studie van die Evangelies die meeste van die inhoud van die eerste hoofstuk van Handelinge, wat die hemelvaart van Christus beskryf, behandel. Die res van hoofstuk een vertel dat toe die dissipels teruggekeer het van die Olyfberg waar hulle die hemelvaart van Jesus aanskou, hulle na die bovertrek gegaan het waar hulle gewoond was om saam te kom. Daar het die 120 in gebed verenig.

Petrus, wat ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Christus gehad het en deur hom as leier aangewys is, het nou die leiding geneem. Onder sy aansporing en dié van die Heilige Gees, het hulle Matthias gekies om as apostel in die plek van Judas te dien. (Hy het mos, deur skuldgevoelens oorval, selfmoord gepleeg omdat hy die Here Jesus verraai het.)

C. DIE HEILIGE GEES SE KOMS.

Ons lees nou hoofstuk 2, verse 1 tot 13:

1  En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 5  En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6  En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7  en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8  En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9  Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10  Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11  Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12  En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? 13  Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. 

D. DIE EERSTE SIELE-OES.

Pinkster is ook die Fees van die Eerste Oes genoem en was ‘n fees om eer aan God te gee omdat Hy die oeste geseën het. Die Jode het hierdie fees 50 dae na die Paasfees gehou. Kyk nou hoe God toegesien het dat die Ou Testamentiese vooruitskouïngs in die Nuwe vervul is. Jesus het by die Paasfees sy eie lewe aan die kruis gesaai. Veertig dae het toe verloop tot by sy hemelvaart en nog tien tot op hierdie Oesdag. Dit is altesaam 50. Op hierdie dag sou die eerste vrugte van die geestelike oes, naamlik die redding van siele, plaasvind. Die Ou-Testamentiese Oesfees het dus eintlik heen gewys na hierdie Nuwe-Testamentiese maai van siele vir die Heer se nuwe Koninkryk.

E. DIE UITWERKING WAT DIE HEILIGE GEES OP AARDE SOU HÊ.

Waarom het God die simbole van wind en vuur gebruik om ‘n visuele illustrasie te gee van wat in die geestelike sfeer gebeur het? Soos die Here voorheen vir Nikodemus gesê het, is die Heilige Gees soos wind, want dit is ‘n magtige onsigbare krag wat waai waar hy ook al wil. Vuur is eweneens ‘n ontsagwekkende krag. Geen mens kan dit teenstaan ​​nie. Toe God op die berg Sinai neergedaal het om met Israel te praat, het hy in rook en vuur afgekom (Eks 19:16). Wanneer hierdie twee kragte saamsnoer soos wanneer ‘n sterk wind vuur in droë grasveld inwaai, is dit onkeerbaar. Alles vlug voor dit uit of word verslind.

Dit is hoe die volk van God sou wees sodra die Heilige Gees hulle sou vervul. Hulle sou in beweging gebring word deur die magtige innerlike geestelike Wind en Vuur. Hulle tonge sou aan die brand gesteek word om die Goeie Nuus van verlossing oor die aardbol te versprei. Waar hulle woorde ook al sou val, sou ‘n vuur opvlam. Hulle sou in baie verskillende rigtings haastig, onkeerbaar uitkring en waar hulle ook al gaan, sou die vuur versprei.

F. DIE HEILIGE GEES HET OP ELKE AFWAGTENDE GELOWIGE GEKOM.

Gedurende die Ou-Testamentiese bedeling het die salwing van die Gees alleen op sekere ampsdraers soos konings, priesters en profete gekom. Met olie as simbool, is hulle deur ‘n priester gesalf. So is hulle geestelik toegerus vir hul taak. Die olie het ‘n aangename geur om die gesalfde versprei en hom laat uitstaan as begenadigde van God. Met die aanbreek van die Nuwe-Testamentise bedeling sou elke gelowige ‘n profeet, priester of koning in sy Heer se ryk kon wees (Openb 1:6; 5:10).

Let dan ook op dat al 120 van hulle deur die Heilige Gees vervul is en nie net die apostels nie. Elkeen wat hierdie brandende begeerte gehad het om met Krag uit die Hoogte toegerus te word, se begeerte is bewaarheid. Elkeen wat Jesus se belofte geglo en gretig op Hom gewag het om dit na te kom, het dit ontvang. Hulle harte is vervul met geloof, visie en passie en hul tonge aangesteek met heilige vlammende vuur. Hulle het gekry wat hulle van God begeer het. Hulle het ‘n magtige salwing ontvang om die Koninkryk van God oor die ganse aarbol te vestig. 

Ons kry gewoonlik waarna ons soek; waarna ons streef. As jy desperaat na rykdom soek, sal jy dit waarskynlik kry. As jy hard genoeg soek na roem en aansien, sal jy dit ook moontlik ontvang. Veel meer, as jy op soek is na die doping met die Heilige Gees, sal jy dìt ontvang. Die Wind en Vuur van God sal al die rommel binne-in jou verbrand en jou uitstuur om die mense van hierdie wêreld dissipels van Jesus te maak. 

As dit 2 uur in die oggend is en jy word oorval deur ‘n begeerte na alkohol en jy stop jou sak vol note en jy gaan na die regte deur in die regte omgewing en slaan met albei jou vuiste teen daardie deur, en jy hou aan en aan, sal die deur oopgaan en jy sal jou bottel sterk drank kry en jy sal dit teen jou lippe bring en jou drang stil. In jou dronkenskap sal jy al singende en slingerinde na jou huis terugkeer.

En as jy desperaat is van dors na die Heilige Gees en jy val op jou knieë en klop aan die deur van die hemel deur gebed, sal daardie deur oopgemaak word en jou hele innerlike wese sal deurdrenk word van die Heilige Gees. Dan sal dit vir niemand nodig wees om by jou te pleit om uit te gaan en siele te red nie; jy sal alles wat in jou pad is, wegvee om by die verlorenes uit te kom.

Laat ons voortgaan. Toe die Here vir Moses gestuur het om Israel uit Egipte te verlos, het Hy Aäron voorsien om as sy woordvoerder op te tree. Dit was omdat Moses aangevoer het dat hy nie met die Farao kon gaan praat nie omdat hy swak van spraak was. Wel, Aäron was toe ietwat van ‘n hulp. Kyk egter net na God se oorvloedige voorsiening op Pinksterdag. Hy het aan elke begerige spreker ‘n spesiale taal gegee om teenoor spesifieke persone in die gehoor oor die Here Jesus se dood en opstanding te kon getuig. Sy volgelinge het in tale gespreek wat hulle nie geken het nie. Dit het hy gegee sodat hulle daardie begeerte in hul harte kon bevredig om getuienis te kon gee van die groot dinge wat hulle tydens Jesus se bediening gesien en gehoor het.

G. DIE TOEGERUSTE VOLK VAN GOD HET HULLE GEHAAS NA DIE WAGTENDE SKARE.

Ineens het hulle uitgestroom deur die deure waaragter hulle weggekruip het uit vrees vir die priesters en Skrifgeleerdes. Hulle het gemeng met die groot menigte mense wat saamgedrom het toe hulle die loeiende wind hoor. Elkeen het begin om sy taalgawe te gebruik om die Here groot te maak. Iedereen het in ‘n ander taal gepraat; die taal van ‘n volk wat elders in die wêreld woon. Die mense in die skare wat van daardie wêrelddele gekom het, het elk iemand in sy of haar eie taal uit volle bors hoor getuig. Hulle het elk om die spreker wat hy of sy kon verstaan, saamgedrom en die heerlike Evangelie van die gekruisigde en opgestane Christus ingedrink. Wat ‘n magtige wonderwerk. Hierdie mense wat van regoor die wêreld na Jerusalem gekom gehad het, sou elk met ‘n persoonlike verhaal terugkeer. Elkeen sou sy persoonlike getuienis aan sy familie en vriende in sy tuisdorp kon gaan oordra. 

H. DIE SPOTTERS.

Soos verwag kan word, het sommige onder die skare gespot dat die sprekers te veel wyn in gehad het. Hoe dwaas! Te veel wyn veroorsaak dat ‘n persoon onsamehangend praat, met ‘n sleeptong. Drinkers vloek, praat vuil stories of sommer net nonsens, maar om God te loof? Nooit nie. Die wyndrinker is nie ‘n Jesus-aanbidder nie.

I. PETRUS VERDUIDELIK VIR DIE SKARE WAT BESIG WAS OM TE GEBEUR SODAT HULLE KON VERSTAAN EN GLO.

Kom ons lees verder, hoofstuk 2, verse 14-36:

14  Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 

16  Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17  En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18  En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 

19  En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20  Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21  En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 

22  Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— 23  Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; 24  Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. 

25  Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. 26  Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. 27  Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. 28  U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 29  Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. 30  Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, 31  het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. 

32  Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. 2:33  Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. 34  Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand 35  totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete. 2:36  Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. 

‘n Magtige preek. Petrus gebruik die volgende argumente om sy luisteraars te oortuig dat Jesus inderdaad deur God vir hulle as Verlosser gestuur was:

  1. Die wonder wat Hy so pas gedoen het deur mense in onbekende tale te laat spreek. Asof dit op sigself nie groot genoeg is nie, het dit gebeur ter vervulling van ‘n profesie wat honderde jare tevore deur hul eie profeet Joël gebring was (Joël 2:28-33).
  2. God het Jesus as Christus geakkrediteer deur die wonderwerke wat hy deur hom gedoen het; wonderwerke waarvan hulle ten volle bewus was.
  3. Hy is gekruisig, nie omdat Hy te swak was om homself te verdedig nie, maar omdat dit vooraf so deur die Vader bestem was.
  4. Dawid, hulle voormalige geliefde koning, het in een van sy Psalms geprofeteer dat die graf Jesus nie gevange sou hou nie, omdat Hy God se gunsgenoot was (Ps 16:10).
  5. Hulle was getuies van die feit dat God hom uit die dood opgewek het.
  6. Die uitstorting van die Heilige Gees was die bewys dat God Hom verhef het om aan sy regterhand te sit en sy vyande voortaan die voetbank van sy voete sou maak.

Nadat hy al hierdie bewyse gegee het dat Jesus deur God gestuur was, wys Petrus hulle op hul dwaasheid deurdat hulle dié Een gekruisig het wat God nou verhoog het. Dit het ‘n geweldige sonde-oortuiging tot gevolg gehad.

J. DIE LIEFLIKE GEVOLG VAN DIE UITSTORTING EN PREDIKING.

Ons lees verder: verse 37-41:

Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? 38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40  En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring

Baie van hierdie luisteraars was dalk onder die menigte wat by Pilatus se paleis saamgedrom het en uitgeroep het “Kruisig, kruisig Hom.” Nou, het hulle gepleit om te weet wat om te doen om met God versoen te word. Wat was Petrus se antwoord?

  1. Bekeer julle. Dit beteken om reg om te draai; om in die teenoorgestelde rigting te kyk en te beweeg. ‘n Onbekeerde persoon volg die duiwel se gedagtes en begeertes en wandel op ‘n pad wat na die ewige verdoemenis lei. Om jou te bekeer beteken om jou rug ineens op al hierdie dinge te draai, Jesus in die oë te kyk, Hom te vertrou om jou te vergewe en jou tree vir tree hemel toe te lei. (Die stroom onbekeerde mense beweeg bv weswaarts en die stroom bekeerde mense beweeg dan ooswaarts. Hulle beweeg in teenoorgestelde rigtings. Hul einbestemmings is presies teenoorgesteld van mekaar.)
  2. Tweedens het hy vir hulle gesê om gedoop te word. Die doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n openlike belydenis van bekering en van geloof in hierdie drie-enige God.
  3. Derdens het Hy aan hulle ‘n belofte gegee dat hulle ook die Heilige Gees sou ontvang as bevestiging van God dat Hy hulle sondes vergewe het. (Let daarop dat daar ‘n verskil is tussen die ontvangs van die Heilige Gees as die inwonende God wanneer jy wedergebore word, enersyds, en andersyds om gedoop te word in die Heilige Gees wanneer Hy homself aan jou gee om jou in staat te stel om ‘n dapper en effektiewe getuie vir Christus te wees.)

Nadat hy sy boodskap afgesluit het, het Petrus ‘n magtige wonderwerk aanskou toe drieduisend mense met vreugde vorentoe gestap het om gedoop te word as ‘n uiterlike demonstrasie van hulle innerlike vernuwing.

K. DIE EERSTE CHRISTEN GEMEENTE.

Nou vir die laaste gedeelte van die Skrif, voor ons afsluit. Ons lees verse 42-47:

En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. 43  En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44  En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45  En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. 46  En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 47  terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. 

In die gelese perikoop sien ons die resultaat van ware bekering en geloof in Christus:

  1. Die toewyding aan die leer van die apostels. In ons dae beteken dit om jouself te wy aan die bestudering van God se Woord en daarop ag te gee wanneer dit by wyse van prediking aan jou verkondig word.
  2. Die samekoms met ander gelowiges ter genieting, opbouiing, onderrigting, bemoediging, en om saam te bid en God gesamentlik te aanbid.
  3. Die sosiale saam verkeer en die gesamentlike gebruik van die nagmaal.
  4. Die eensgesindheid onder bekeerdes.
  5. Die ervaring van God se wonderwerkende krag in die midde van die gemeenskap van Christene.
  6. Die deel van lewensmiddele met mekaar.
  7. Die ervaring dat ongereddenes die Christengemeenskap in guns aanneem.
  8. Die voortdurende toevoeging van nuwe bekeerdes.

Wat ‘n wonderlike seën het die Here Jesus vir ons gebring deur Sy lyding. Prys sy Naam.

L. JESUS SMAAK DIE HEERLIKE VRUG OP SY PYNLIKE KRUISWERK.

Terwyl Jesus met sy aardse bediening besig was, het Hy eendag die volgende gesê:

Luk 12:49,50: Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! 

Ja, Jesus moes met die smartlike kruisdood gedoop word voordat ons met die heerlikheid van sy Gees gedoop kon word. Wat ‘n vloed van vreugde moes deur sy gees gevloei het, toe Hy daar waar Hy aan die regterhand van God’s Troon die oorvloedige eerste oes op sy werk aanskou het!

M. DIE TRANE SAAIER.

Psa 126:5,6  Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra. 

Huil u soms, loop die trane oor u wange oor die verlorenes wanneer u op u knieë voor die Troon van God verkeer? Daar is ‘n ontsaglike oes wat ingesamel moet word, maar daar is ‘n prys wat in trane betaal moet word. Is u gereed daarvoor? Dan kwalifiseer u ook vir die magtige toerusting met die Helige Gees.

//////////

Ons hoor graag van die lesers van ons studiegidse. Deel gerus u hart met ons of vra die vraag wat u wil vra. U kan die vorm wat hieronder voorsien is, daarvoor gebruik.




    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend