HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
“Pennie vir jou gedagtes.” Iemand het sekerlik ook al vir jou hierdie vraag gevra wanneer jy diep in gedagte versonke met ‘n frons op jou voorkop sit. ‘n Mens antwoord dan mos maar so half verleë asof jy op heterdaad met iets onheiligs betrap is: “Nee wat, ek dink sommer net.” Selde of ooit sal jy daardie diep verborge gedagtes met ‘n ander deel.
In die Skrif praat die Here nie net oor die mens se dade nie, maar ook oor sy gedagtes wat tot daardie dade aanleiding gee. In Jes 57:20 sê Hy die volgende van hulle wat Hom nie as God erken en dien nie: “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” As hierdie woelende gedagtes haatdraend van aard is, kan dit uitbreek in ongelooflike dade van geweld soos wat in die media gerapporteer word.
Maar laat ons eerlik wees; ook ons as Christene loop by tye rond met óf ‘n verontwaardigde, ontstoke gemoed, óf ‘n kloppende, pynende gemoed, óf ‘n verslae, bedrukte gemoed. Hoe ontstaan dit? Soms deur iets wat so pas met my gebeur het maar meer dikwels deur negatiewe gedagtes wat sommer van nêrens af in my gedagtewêreld inwaai en aandring om bedink te word. Sulke negatiewe gedagtes wek natuurlik negatiewe emosies op, en binnekort is my gemoedstoestand so troebel soos ‘n onstuimige see wat tussen die rotsklowe instorm, vasslaan, maal en terugtrek; oor en oor, uur na uur.
Wanneer ek eers in so ‘n stemming is, moet alles en almal van my af wegbly; die kat mag nie op my skoot spring en miaauend sy stert oor my gesig vee om vir ‘n piering melk te pleit nie. Nog minder mag my kleuter seuntjie vir my die pragtige bont, stink sprinkaan in sy vuisie kom wys wat hy in die tuin gevang het; nee ek wil net alleen gelaat word met my gedagtes sodat die storm waarvan andere onbewus is, in my sy gang kan gaan en kan uitwoed. Daardie negatiewe gedagtes wil nou en hier gedink wees; hulle “demand,” dring aan, eis om gehoor en verhoor te word. Sou ek toegee en hulle vir ‘n tydlank “entertain,” te woord staan, laat hulle my uitgeput agter sonder dat al die dinkery my enigsins nader aan ‘n oplossing gebring het. Vir die volgende paar uur is ek nie meer op die speelveld nie, maar sit ek met ‘n bloedneus op die pawiljoen. Warrelende gedagtes is verskriklik vermoeiend. En hulle is nie soos ‘n tandpyn wat by uitsondering by my intrek neem nie maar eerder soos ‘n swerm katlagters wat rasend in ‘n boom intrek, na ‘n rukkie rasend vertrek, om net-nou maar weer rasend terug te keer.
Van die vroegste tye af het selfs gelowiges met hierdie probleem geworstel. In Ps 94:19 skryf die digter: “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig … .“ Ja sy gedagtes het nie bietjie vir bietjie bygekom nie, maar sommer eensklaps ge-eskaleer: 9+9=18, maar 9×9 is sommer al 81. Wanneer jy eers aan die dink raak, wemel jou kop sommer nou-nou van al die gedagtes. Een nag het ek gedroom dat ek aangestel was om die voorrade van ‘n reuse pakhuis netjies te berg maar net toe ek begin, stroom groot vragmotors met derduisend items by al die deure in en laai hul vragte op elke oop ruimte af. Binne minute was alles in chaos en het ek radeloos rondgedwaal. Soms gaan dit so in die pakhuis van my brein.
Wanneer ‘n persoon tot bekering kom en die genadegawe van die wedergeboorte ontvang, kom woon die Heilige Gees in sy gees en maak dié lewend en nuut, maar nie die siel komponent van sy lewe nie; nie sy gedagtes, wil en emosie nie; dié moet stukkie vir stukkie deur die werking van die Gees in samewerking van die bekeerde se gees herwin word. Die goddelike lewe moet nou na elke faset van sy lewe deurwerk. Gewoonlik begin dit by die uiterlike dinge, die sigbare dinge. ‘n Mens voel skaam oor wat jy doen en pleit by die Here om daarvan verlos te word. In mý geval het ek gestoei om te kon nee sê vir ‘n drankie wat my elke nou en dan na ‘n partytjie as ‘n dronkie agtergelaat het. Daarna het my dierbare pyp aan die beurt gekom. En so aan en so aan sodat ek later aan, uiterlik, taamlik respektabelik voorgekom het en sonder skaamte tussen die pastore aan tafel kon gaan, maar my kop … my kop … my gedagtes. Wat ‘n genade dat ons brein waterdig is en onvanpaste gedagtes nie per ongeluk kan uitlek nie; behalwe .. behalwe natuurlik oor ons tong en deur ons lippe.
Hierdie brandkluis waarvan ek die sleutel so sorgsaam wegsteek, is natuurlik vir die Heer 24/7 toegangklik. Gedurigdeur “sien” en “hoor” hy wat daarbinne aangaan want Dawid skryf in Ps 139:1,2: “U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.” Dat Hy dit dag na dag kan verdra, spreek van Sy oneindige lankmoedigheid, maar daar is ‘n groot verskil tussen verdra en aanvaar! Gedagtes wat nie in die hemel hardop gedink sou kon word nie, bly steeds sonde wat Hy net so min as sondige dade sal duld. Tewens Hy beoordeel ons eerstens aan ons gedagtes en daarna aan ons dade. So staan dit opgeteken in Spr 23:7 (soos vertaal uit die Amplified Bible): “Soos ‘n mens in sy hart dink, so is hy … .“ Lees dit weer stadig en dink daaroor na: “Soos … ‘n … mens … in … sy … hart … dink … so … is … hy.” Jesus het dit in Matt 5:28 soos volg gestel: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”
Daarom, as ek wil weet wie ek nou eintlik is, moet ek “my brandkluis” oopsluit, die lig van God se Woord en Gees aanskakel en ‘n slag deeglik staan en rondkyk na die gaste wat ek daar in die geheim onthaal. In my gedagtes sien ek myself doen, en hoor ek myself praat, daarom kan ek myself baie duideliker en helderder uit my gedagtes as uit my dade en woorde leer ken. My dade en woorde gaan deur die sif van my rede. “Wat sal die mense van my dink as ek dít doen of daárdie woord sê?” Sommige uitgesproke woorde kan my selfs in die tronk laat beland maar in my gedagtes pla hulle my gladnie. Hoekom nie? Omdat ek eintlik net besorg is oor wat andere sal sê as hulle moet weet en nie omdat die gedagtes self vir my verkeerd is nie. Hulle is eintlik my ou huisvriende.
Maar die Here wil dit nie daarby laat nie en ek mag ook nie. Gedagtes van bitterheid, wraak, seksuele onreinheid, vrese vir alles en nog wat, wat met my of my geliefdes kan gebeur, dit alles tas Sy eer aan, al is dit net Hy en ek wat daarvan weet. Jesus wil hê dat ons soos Sy Vader en ons Vader moet wees: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (Matt 5:48).
Maar is dit enigsins moontlik om soos Jesus te dink!? Is dit nie maar genoeg as ons dit net begeer nie? Nee, dit is moontlik want Hy het ordelik en rein soos Sy Vader oor alles gedink en Hy woon in ons, daarom kan ons ook so dink. In Christus beskik ons oor baie effektiewe wapens waarmee ons die oorwinning kan behaal. Hoor wat sê Paulus hieroor: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, …” (2 Cor 10:3-5).
Kom ons kyk na die gedeeltes wat ek in vetdruk beklemtoon het. God het tot ons beskikking gestel, kragtige wapens om ons elke gedagte gevange te neem om aan Hom gehoorsaam te wees. Die beeld wat hier gebruik word, is van soldate wat ‘n vyand of ontsnapte slaaf agternajaag, inhaal, oorweldig, boei en dan teen wil en dank terugneem na hul heer om voortaan gedwing te word of sy wil te doen. God het die mag aan ons gegee om so met elkeen van ons gedagtes wat teen Hom rebelleer, af te reken. Let wel: ons moet dit self doen, so nie sal dit nooit gebeur nie! Die Here sal dit nie vir ons doen nie!
Van watter wapens word hier gepraat? Kom ons noem net twee. Eerstens gee Hy ons Sy Woord. In die Woord kan ons sien waaroor die Vader dink en hoe hy daaroor dink en dan ons eie gedagtes daarmee vergelyk. Tweedens het ons die wapen van gebed. Gebed stel ons in staat om direk met ons Vader te kan praat. Wat moet ons vir Hom sê? Eerstens moet ons vir Hom vertel waar ons gedagtes nie soos Sy gedagtes is nie. Vertel Hom van jou verborge woede, jou swak selfbeeld wat maak dat jy jaloers is op andere, jou pyn oor dinge wat in die verlede gebeur het of wat jy nog daagliks moet verduur. Dit is natuurlik niks nuuts vir Hom nie; Hy weet dit reeds lankal maar Hy wil dit uit jou eie mond hoor sodat jy nie later weer daarop kan teruggaan nie. Gebed is ook die middel waarmee ons Sy genade en krag in ons lewens vrystel. Daarmee bely ek my eie onvermoë om my rebellerende gedagtes in bedwang te bring en vra ek dat Hy my bystaan. Ek bely dus my magteloosheid en beroep my op Sy krag soos die Skrif sê: “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here.” (Sag 4:6).
Weghol gedagtes maak kinders van God verskriklik ongelukkig en as ons aanhoudend daaraan toegee, verloor ons later bykans alle bewustheid van die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons, en van God se liefde vir ons. Selfs die weghol gedagte van vrees vir wat met my kan gebeur, kan later so kragtig word soos ‘n trop skape wat verskrik probeer om by ‘n hek uit te kom, bo-oor mekaar beur en die lammers of swakkeres doodtrap. ‘n Mens wie se gedagtes werklik op hol gaan, voel later of hy deur die bose self oorweldig word en is genoodsaak om medikasie te neem om tydelike verligting te kry. Ons liggame is so sensitief vir wat in ons gemoed aangaan dat die storm wat in ons gedagtes woed met ‘n poligraaf op ons vel gemeet kan word.
Die gemoed wat besig is om in God tot ruste te kom, is selfs ook minder gejaagd om sy daaglikse werk afgehandel te kry. Daar kom ‘n kalmte en blymoedigheid oor so ‘n kind van God, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. (Fil 4:7). Dit is ‘n uiters kosbare belewenis. Dit is ‘n stukkie hemel, ‘n stukkie ewigheid wat ons reeds hier en nou kan beleef.
Maar laat ons nie ontmoedig word as dit nie in ‘n dag se tyd gebeur nie. Ons wriemelende gedagtewêreld het oor baie jare tot stand gekom en sal stukkie vir stukkie geëdentifiseer, gevange geneem en aan Christus gehoorsaam gemaak moet word. Volhard net! Solank jy volhard, sal God die werk stilweg in jou binneste doen. Dit is moontlik; ek kan persoonlik daarvan getuig al weet ek ook dat ek hierin nog ‘n lang pad het om te loop en veel meer oorwinnings om te belewe!
……….