2024-08-08
LEES ASB HIERDIE NOTA VOORDAT U VERDER GAAN
Hierdie studiegids (blad) is saamgestel vir hulle wat die Skrif graag in diepte, teologies, bestudeer. Indien u meer net voedsel vir u gees soek, wil ons u aanraai om dit oor te slaan en sommer dadelik met die volgende gids (blad) te begin. Daarin word die Boek teks vir teks bespreek. Klik op die volgende skakel om u daarheen te neem: Hooglied 1 . U kan altyd weer op ‘n later stadium na hierdie blad terugblaai.
So nie, indien u graag eers die inleidende en oorsigtelike opmerkings wil lees, wil ons u daarop attent maak dat hierdie Boek voorwaar nie maklik is om te verstaan en op uself toe te pas nie. Daarom is dit noodsaaklik dat u dit eers noukeurig deurlees en oorsigtelik bedink sodat u ons onderstaande gedagtes beter kan evalueer.
A. DIE TITEL.
1:1 Die hooglied van Salomo.
Die “Hooglied ”: Dit is die skrywer se titel vir sy boek. In die Engelse vertalings word daarna verwys as, “Song of Songs”, die lied van alle liedere. Met ander woorde die lied wat groter, wonderliker, heerliker as enige ander lied is. Salomo het self 1005 liedere geskryf (1Konings 4:32). Enkele daarvan is in die boek Psalms opgeneem. Toe hy hierdie Boek geskryf het, was ‘n groot deel van die boek van Psalms reeds geskrywe en baie van daardie liedere, deur sy vader, Dawid. Sekere van hulle is veral besonders. Hier dink ons bv. aan Ps. 23 wat miskien die mees bekende en geliefde Skrif in die ganse Woord is; Psalm 22 wat handel oor Jesus se kruisiging; Ps. 103 waarin lof gebring word aan God die Almagtige. Bedoel Salomo dat Hooglied groter as al hierdie liedere is? Miskien net dat dit die grootste, die heerlikste van alles is wat hý tot op daardie oomblik deur God geinspireer was om vir die mensdom op te teken.
B. DIE TEMA.
Laat ons onsself dan die vraag afvra waarom hierdie lied so hoog deur die skrywer (en deur God) aangeslaan word? Dit is omdat dit by uitstek die lied van die liefde is – en wat kan groter as liefde wees? God ís liefde en sy liefde is waarskynlik die sentrale tema van die ganse Woord. Eerstens handel dit oor die Heer se onbegryplike liefde vir die mens en tweedens oor die mens se wederkerige, maar onvolmaakte, liefde vir Hom en vir mekaar.
Daar is sommige skrifgeleerdes (teoloë) wat gladnie die God-mens verhouding van die Boek insien nie. Hulle sê dit gaan bloot om die eksotiese liefdesverhouding tussen ‘n jongman en ‘n meisie. Hiermee kan ons nie saamstem nie. Die hoofrede waarom ons dit sê is dat die tema van die hele Bybel in een woord saamgevat kan word naamlik: GOD. Voordat enigiets daar was, “IS” Hy. Hy was die begin van ons alles. God was daar, God het die mens geskape; die mens het in sonde verval; God het ‘n plan beraam om die mens te herstel en is steeds besig om dit te volbring en wanneer Hy dit volbring het, skep Hy ‘n nuwe hemel en aarde waar God en mens saam kan woon: ales gaan eerstens om God. So ook hierdie kosbare boek waarin sy Bruidegom-bruid verhouding met die mens uitgebeeld word.
“Having said that” dws., nou dat daardie feit vasstaan, kan ons nie anders as om die sekondêre les uit hierdie boek te vermeld nie en dit is die les wat dit vir ons aardse verlowings- en huweliksverhouding inhou. Uit die lesse oor die gelowige se verhouding met sy of haar hemelse Bruidegom, leer ons hoe ons aardse huwelik moet verloop, en andersom – dit is twee paralellopende bane; die een baat by die ander. ‘n Les wat in die een geleer en bemeester word, kom in die ander handig te pas. Die beginsels van die liefde is dieselfde. Die hemel en die aarde is gladnie so vêr van mekaar verwyderd as wat ons dink nie!
C. DIE BEELD WAT GEBRUIK WORD.
Die boodskap word geweef om die romantiese verhaal van ‘n koning en ‘n eenvoudige boeremeisie wat op mekaar verlief raak en hoe hulle verhouding verloop.
Let egter daarop dat dit nie oor die lewensverhouding van ‘n getròude paartjie gaan nie. Ons sal sien dat die liefdesomgang tussen hierdie twee karakters nooit so vêr gaan as die volle intimiteit van die slaapkamer nie. Daar is wel baie intieme insidente tussen hulle, omhelsings, kusse (soene) mond-tot-mond, maar verder as dit gaan dit nie. Daarom moet die verhaal gesien word as die verhouding van verloofdes. Hulle het klaar besluit; dis ‘n uitgemaakte saak dat hulle gaan trou; hulle is besig om voor te berei vir die huweliksdag en daarom veroorloof hulle hulself groter vryhede met mekaar; intiemheid waarby andere uitgesluit is. Hulle soek mekaar op, hulle hunkering is na mekaar.
So is dit dan ook met die mens wat sy lewe aan God oorgee en sy bruid word. In hierdie lewe is ons net sy verloofdes; ons is nog nie met hom getroud nie. Ons huwelik sal eers op ‘n baie later stadium voltrek word. Wanneer die bruilofsmaal van die Lam, waarvan ons in Openb 19:19 lees, plaasvind, sal die huwelik voltrek word en dit lê nog vêr vorentoe, in die ewigheid. Daarop wil ons nie hier ingaan nie. Nou is ons eers hard besig met die verlowing (en die borduring van ons bruidstabberd en hooftooisel). Opsommend: die beeld is dié van ‘n verloofde paartjie.
D. ’N WARE VERHAAL?
(Kyk net weer vlugtig na 1:1-6). Is hierdie werklik die verhaal van ‘n verhouding waarin Salomo as koning met ‘n sonverbrande, landelike, Sulamitiese meisie betrokke geraak het? Het dit werklik gebeur? Onwaarskynlik, om die volgende redes.
Die volk Israel was op daardie stadium die mees glorieryke en hoogsaangeskrewe van alle volke en gedurig in die kalklig. Tot in Ethiopië was Salomo se ryk en sy wysheid bekend en vandaar het hul koningin gekom om hom te ontmoet. Maar Hy en sy volk was ook God se lig vir die nasies; daarom moes hy hom waardig, ooreenkomstig die Wet van God, gedra.
In vroeër tye was dit ‘n koning se aangestelde ampsdraers (veral jong manne) wat onder die volk mooi meisies vir hom moes uitsoek. So ‘n meisie is dan vir ‘n jaar of twee voorberei met allerhande skoonheidsmiddele en kosse en sekerlik ook, afhangende van die tipe van koninkryk, eties en gedragsgewys voorberei om ‘n waardige bruid vir die Koning te wees. Dan eers het hulle as man en vrou bymekaargekom. Daar was geen tussentydse kontak nie. Ook het die koning self geen rol gespeel in die voorbereiding van sy bruid nie. Daar was geen verlowing nie (Ester 2:1-4). So was dit die gebruik van daardie tyd.
Alhoewel konings van weleer hulle nie veel aan etiket gesteur het nie, is dit om gemelde redes onwaarskynlik dat Salomo in so ‘n openlik onaanvaarbare verhouding betrokke sou raak. (Hy het tewens reeds sewe honderd vroue, vorstinne, en drie honderd byvroue gehad met wie hy homself kon vermaak (1 Kon 11:3). Hy sou nie so ‘n meisie in sy binnekamers ingebring, omhels en intiem met kusse van sy mond die hof gemaak het nie. (Dink net hoe die paleis se diensmeisies nie hieroor sou skinder nie!)
Kom ons kyk na ‘n tweede rede. (1:7,8). Hier word vertel dat die meisie se beminde ‘n skaapherder is en dat hy vir haar sê om hom by sy kudde te gaan soek. Sou Salomo, koning van so ‘n besige ryk, ‘n heerser met soveel verantwoordelikhede, tyd kry om vir periodes weg te breek en sy eie troppie skape of bokke daelank te gaan lei? En, sou sy lyfwagte hom soveel vryheid, onbeskermde ruimte, toelaat?
Hierdie is maar twee redes waarom ons meen dat hierdie verhaal anders gesien moet word. Hierdie is, vanuit die staanspoor, die verhaal van Jesus, die Hemelse Bruidegom en die uitgesoektes uit die mensdom, sy bruid.
Die verhaal van Salomo en sy Sulamitiese meisie is dus fiktief. Dit is geskep om luisterrykheid aan die Groter verhaal te verleen en fasette daarvan te verduidelik op ‘n wyse wat aan die mens bekend is en waarmee hy homself kan vereenselwig. Dit is die verhaal van Jesus, die Hemelse Bruidegom en sy aardse mens-bruidjie. As ons die Boek so vertolk, maak elke vers sin; so nie, val ons vas in onverklaarbare strofes. (Terloops, in die aardse verhaal is Salomo die bruidegom; in die hemelse verhaal is hy die bruid. Hy beskryf eintlik vir ons hoe hy die Heer op daardie stadium van sy lewe beleef het.)
E. DIE VERHAAL VAN JESUS EN SY BRUID.
Laat ons dan by die begin, begin en eers kyk na wat die belangrike aanloop tot hierdie Hemel-aardse verlowing was. Vêr terug, in die ewigheid, het God die Vader geen bruid vir sy Seun gehad nie en toe besluit om, uit sy volheid, ‘n mens as bruid vir Hom te skep. Hierdie mens sou na sy ewebeeld wees. Sy moes ‘n waardige, vervullende metgesel vir hom wees. Met haar sou Hy moes kon gesels en gedagtes uitruil soos ‘n man en ‘n vrou wat goed bymekaar pas. Sy sou haar eie opinies moes kon lug en haar eie keuses kon maak. Sy moes saam met hom oor hul Koninkryk kon besin.
Die eerste stap was om vir hierdie koninklike bruid, in samewerking met sy Seun, ‘n bruiskat te berei. Die rykheid van die bruidskat wat ‘n koning aan sy dogter gee wanneer hy haar in die huwelik uitgee, het sy eie grootheid weerspieël. So ook sou die bruidskat wat die Vader vir sy Seun en sy bruid, die mens berei het, ‘n toonbeeld van sy heerlikheid wees. Dit het Hy gedoen deur die sterreryk en aarde te beplan en deur bemiddeling van sy Seun en Gees te skep.
Daarna het hulle die bruid self, die mens, Adam geskape en in daardie Paradys geplaas. Jesus het alles deurgekyk en bevind dat dit, gemeet aan goddelike standaard, goed was. Later het Hul die vrou geskape. Soos wat die Seun ‘n aandeel in die skepping van sy bruid gehad het, het ook Adam deel gehad in die skepping van sý bruid, Eva, deurdat sy uit sy ribbebeen geskape was.
Uiteindelik was Christus se bruid voltooi. Met groot genot kon Jesus en Sy bruid hul Koninkryk in besit neem. Sy (AdamEva) het haar bruiskat geniet, van die vrugte besigtig, versamel en geëet; die diere bestudeer en vir hulle name bedink waarmee die Bruidegom van harte akkoord gegaan het. Sy bruid hulle was nie net asemrowend mooi nie maar ook skerp, briljant. Ook het hulle hom geniet en in die aandskemering sommer net lekker met Hom sit en gesels. Alles het so pragtig verloop. Hy het haar volkomelik vertrou en die dag tot dag bestuur van die Paradys net so aan haar oorgelaat om te bewerk en te bewaak.
Daar was geen konflik tussen hulle nie – tewens, daar was geen rede vir konflik nie. Jesus het nie nodig gehad om vir Adam te sê hy moet ‘n bietjie oplet hierna of daarna nie. Hy en Eva het die Bruidegom ook as volmaak gesien. Hierdie eerste verhouding tussen bruid en bruidegom was in elke opsig volmaak. Dit was loutere genot. Dit kon nie beter nie. Geen verhouding is vandag naastenby so ryk en vervullend as wat daardie een was nie.
Maar daar was tog een kinkel in die kabel: Die bruid, Adam/Eva, was deur die Bruidegom geskape en as bruid gekies, maar sy moes nog eers ‘n geleentheid kry om self te kies of sy hom wel as haar bruidegom wou hê of nie; of sy haarself vir ewig aan sy sorg en besluite sou wou oorgee? So plant Hy toe vir haar ‘n boom van keuse in die tuin. Sy sou haar kruisie vir of teen hom trek deur ‘n vrug van die boom te pluk en te eet of, vir ‘n voldoende proeftydperk, nie te pluk en te eet nie. Hy het haar ook nie dopgehou, haar van die boom af weggehou nie, maar aan haarself oorgelaat. Sy moes vry wees om te kies. Voordat hulle kon trou moes sy eers tot die punt kom om hom uit eie keuse, oortuiging en liefde as Bruidegom te aanvaar.
Die Bruidegom se vyand, die duiwel, het egter van die toets te hore gekom en hierin sy kans gesien. Terwyl Eva die vrugte op ‘n dag staan en bekyk, het hy skielik verskyn, vir haar vertel dat haar bruidegom besig was om haar te bedrieg en dat sy eerder na hòm moes luister; hy sou dan vir haar baie meer kon gee as wat sy toe gehad het.
Dit is soos ‘n vreemde man, ‘n buitestaander, wat in ‘n verlowing inkom en vir die meisie kom wysmaak dat hy baie beter is as die man aan wie sy haarself verloof het – haar mislei met allerhande valse beloftes. En sy twyfel en dan kom hierdie verskriklike breuk, ‘n vertrouensbreuk, ‘n liefdesbreuk tussen bruidegom en bruid.
So het dit ook in die Paradys gebeur; die tragedie wat die gang van die eeue sou bepaal en bruid en Bruidegom in diepe ellende sou dompel. Die oomblik toe Eva in die verbode vrug inbyt, het sy haar Bruidegom verloën en haarself aan sy vyand verkoop. Haar man, Adam het in haar voetspore gevolg. Toe, ineens, het hul oë oopgegaan en het hulle geweet dat hul verkeerd gedoen het, maar dit was te laat. Hulle kon nie terugtree nie.
God die Vader kon nie anders as om vir sy Seun te sê: “My Seun, my geliefde Seun, volgens ons volmaakte wet, die wet van geregtigheid, moet jou bruid sterwe; moet hulle albei sterwe”. Wat ‘n tragedie! Maar hier is die goeie nuus: so oneindig lief het die Bruidegom sy bruid gehad dat Hy onmiddelik geantwoord het, “Vader, Ek sal in haar plek sterwe en haar skuld dra sodat sy kan lewe. En haar liefde sal ek terugwen want Ek het haar lief met ‘n ewige liefde. Met my dood aan ‘n kruis sal ek aan haar bewys dat die aanklag teen my vals is. Daarmee sal ek bewys dat Ek niks van haar teruggehou het nie want geen groter liefde het iemand as dat hy sy lewe vir ‘n ander gee nie”. Hierdie aanbod het die Vader aanvaar.
So het die mens dan ‘n tweede kans gekry om Hom, die Liefling van die hemel as bruidegom te kies. Van daardie oomblik af is Jesus dag vir dag, eeu na eeu, besig om sy liefde en getrouheid aan die mens te bewys en homself aan elkeen op aarde as bruidegom aan te bied. Die boek Hooglied is dan ook die romantiese verhaal van een so ‘n bruidjie wat deur die Hemelse Bruidegom die hof gemaak word.
F. GROEPE IN DIE MENSESEE.
Die enkele mens binne die ontsaglike poel van die mensdom, staan in een van verskillende verhoudeninge tot God. Eerstens, is daar die baie klein groepie, die ateïste, wat sê dat hulle gladnie in God glo nie. Dit is so jammer dat sommige hoogs intelligente wetenskaplikes hulself in hierdie groep bevind.
Die tweede groep is die groot massa mense wat weet en bely dat daar ‘n God is, maar hom op ‘n afstand hou. Vaagweg is hulle bang vir hierdie God en maal dit in hulle gedagtes, “Daar is ‘n God. Wat moet ek omtrent hom doen?” Maar hulle kom nie daartoe om te besef dat alles wat geskape is, aan Hom behoort en dat ons eintlik soos ‘n bywoner is wat op iemand anders se grond woon nie . Hulle reageer nie op die innerlike impuls om hierdie Eienaar te soek en te vind nie. Hulle kom nie sovêr om met Hom te begin praat en te sê, “Here, Skepper, ek is op u plek, op u aardbol wat U geskape het. Wie is U dat ek U kan dien, dat ek my aan U kan oorgee, want alles behoort aan U. As ek nie ook aan U behoort nie, het ek geen plek of heenkome in die ganse heelal nie. Waarheen sal ek dan tog gaan?”
In hierdie groot massa is daar min wat tot hierdie punt van oorgawe kom. Jesus het gesê dat die pad breed en die poort wyd is wat na die verderf lei en dat daar baie is wat daarop wandel. Ook dat die pad smal en die poort nou is wat na die hemel lei en min daarop gevind word. Tog is daar diesulkes. Hulle begin om geestelik na Hom te soek. In hulle harte is daar ‘n begeerte om om die Eienaar van hierdie heelal persoonlik te ontmoet. Hy laat hulle ‘n proeseltjie van sy liefde smaak. Dit laat hulle smag na meer, na Hom die gewer van hierdie heuningstroop. Hulle neem Hom gretiglik aan; gee hulself vir ewig aan Hom oor. Hul gebed is dalk prewelend, onsamehangend. Dit kan in een woordjie saamgevat word, die woordjie “JA”. God verstaan die bedoeling van hul harte. Hulle tree in geloof oor ‘n lyn en die die Poort se hek klap agter hulle toe. Hulle behoort vir ewig aan Hom en Hy aan hulle. Op daardie stadium verstaan hulle waarskynlik nie eers dat dit die Hemelse Bruidegom was wat hulle agter die skerms deur die die werking van die Heilige Gees die hof gemaak het nie.
So ontstaan ‘n derde groep, die groep van wedergeborenes; die ware kinders van God. Ja, die Heer vergelyk hierdie gebeurtenis met die aardse geboorte van ‘n kind. Daar is ‘n aanloop van verwagting; dan pyn; uiteindelik, die geboorte. ‘n Baba huil; ‘n nuwe wese is op aarde gebore. Vanaf sy geboortedag behoort daardie kind aan sy natuurlike ouers. Geestelik werk dit ook so. Wanneer ek my lewe onvoorwaardelik aan die Here oorgee, kom die Gees van God in my woon, van my besit neem. Ek word Syne. Ek word gebore as God se geestelike kind. Hy neem my in Sy arms, gee my ‘n hemelse naam en prewel, “Jy is myne”. Dit bevestg Hy in sy Woord:
Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. (1Joh 3:1).
en
Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. (Joh 1:12,1).
G. FASES IN DIE KIND VAN GOD SE VERHOUDING MET HOM.
‘n Baba word eers met melk gevoed, later met vaster kos. In die begin dra sy moeder hom in haar arms of op haar rug rond. Gedurende hierdie periode word daar nie van hom verwag om besluite te neem of vir homself te sorg of enige werk te doen nie. Hy moet maar net eet, lag, geluidjies maak en slaap. Die belangrikste gedurende hierdie periode is om die moeder te leer ken, haar te vertrou en, sonder dat hy dit weet, ook lief te kry. So klein as wat hy is, weet hy presies wie sy ma is en sal hy nie sommer in ‘n ander se arms tevrede wees nie. Ook ken hy haar stem uit tussen honderde andere. Dit is die bandsmee periode. So ook met die geestelik gebore baba van God. Hy moet eers sy geestelike ouer, die Here a’stware van aangesig tot aangesig ontmoet, leer ken, leer vertrou en leer liefkry.
Algou egter begin die proses van onafhanklikheidswording. Jannie begin kruip, opstaan, loop, praat, soet- en stout wees. Skooltoe. Lees en skryf, draadjies om die tande, sport, hoërskool, tienerjare, matriekafskeid, universiteit en/of beroep, maat soek, bruid en bruidegom. Dit is die weg van ‘n gesonde kind.
Die geestelike kind van God groei ook na volwassenheid. Let op hoe dat in die volgende vers van drie fases van geestelike ontwikkeling gepraat word naamlik kinders, jong manne en vaders:
Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken. (1Joh 2:13).
Geestelike groei kom egter nie vanself soos natuurlike groei nie. Die kind van God moet dit begeer en hom dag vir dag daarvoor beywer. Sommige doen dit nie en wanneer hul sterf op 70 of 90, gaan hulle wel hemeltoe, maar, as geestelike kleutertjies. Andere groei. Vir hulle kry hul Vader se Koninkryk besondere betekenis. Ongeag in watter aardse beroep hulle ookal staan, werf hulle ook burgers, dws. maak hulle dissipels, is hulle ook dikwels as soldate in geestelike oorlogvoering betrokke. In die gelese vers, sien ons dan ook dat hierdie jong krygers in God se weermag, manne sowel as vroue, in hul eie lewens sowel as in die samelewing, oorwinnings oor die magte van die bose behaal het. Hierdie is fase twee, drie, vier of vyf in die wedergeborene se lewe.
Miskien kon ons waag om te sê dat, in hierdie fase, die kind van God se verhouding meer met God die Vader is.
H. DIE BRUIDEGOM-BRUID FASE/BELEWENISSE.
Maar, in elke meisie se lewe kom die tyd dat sy die begeerte het na ‘n bruidegom. Wanneer sy daardie punt van volwassenheid bereik, kom ons sê op 21, begin sy die verlange kry na ‘n hartsmaat, ‘n huweliksmaat met wie sy een kan word. Niks anders as ‘n bruidegom kan dan daardie brandende innerlike begeerte meer bevredig nie.
Hooglied beeld hierdie veel latere fase in die lewe van die kind van God uit. Die geestelike baba stadium is verby, so ook die kleuter-, jeug- en vroeë volwasse stadium. Nou kom daar ‘n brandende begeerte om Jesus as Bruidegom te beleef – om vir Hom ‘n bruid te wees soos wat ons oorspronklik bestem was om te wees; soos wat Adam en Eva in die Paradys vir hom gewees het en nog veel meer. Selfs die wêreldberoemde evangelis wat tienduisende siele na Jesus gelei het, smag na hierdie diep, diep rustigvloeiende rivier van God se liefde, na die omhelsing van God die Seun.
Die kind van God is nou lank nie meer op die punt dat hy skrik wanneer die pastoor swawel en vuur preek nie, as ek dit so mag stel. Hy is daarby verby. Hy kan immers nie nog ‘n keer gered word nie. Ek het my oorgegee aan die Here, ek het ‘n smagting om verander te word na die beeld van my Bruidegom. Ons twee moet eenders lyk. ‘n Seun van twaalf kan miskien doen met ‘n paar goeie houe op die sitvlak (Heb 12:6,7) maar vir ‘n verloofde jong dame is dit ondenkbaar om oor die bruidegom se skoon getrek en met die plathand tereggewys te word! Nou smag ek na ‘n liefdesverhouding met my Bruidegom. Ek doen my bes en versier myself met geestelike versierings sodat Hy hom in my kan verlustig, nie omdat ek bang is dat Hy my sal straf as ek ‘n fout maak nie. O ja, soms faal ek, maar het dadelik berou. Soos wat ‘n meisie deur die skoonheid van haar liggaam haar verloofde na haar trek, trek ek Hom deur my geestelike skoonheid, die produk van sy liefde in my. Net so trek Hy my ook na Hom, nie deur teregwysings nie, maar deur die gloed van sy liefde, die geur van sy heerlikheid en die skoonheid van sy heiligheid.
Dit alles sien ons in die Bruidegom en bruidjie van hierdie boek. Vir hulle is dit die tyd van die liefde. Dit is waarom dit die Hooglied genoem word, die Hoogboek, miskien die grootste, die heerlikste boek van die Bybel omdat dit die liefde so helder en in soveel diepte uitbeeld. Dit spreek van die kruin van jou omgang met God. By uitstek is dit die beskrywing van die bruid wat gereedgemaak word om in die ewigheid in te gaan, om in die volle teenwoordigheid van die Koning in te gaan. Sy gaan om saam met Hom voor die hemelse leërskare van engele “voor die kansel te staan”; sy wil Hom trots maak; haar hooftooisel, grimering, halssnoer, tabberd, sleep, skoene, ruiker moet van die allerbeste wees.
Ons let ook daarop dat hierdie bruid nie ‘n enkele maal vir die Bruidegom vra om vir haar een of ander iets te gee nie; ‘n mooi rok of skoene of huis of oorsese reis of gesondheid of ‘n trop bokke of ‘n wingerd nie, maar net om by haar te wees. Sy soek HOM, nie sy eiendom of gawes nie en Salomo was skat, skat ryk; hy sou kon gee net wat die Sulamitiese boerinnetjie ookal kon begeer. Maar nee, sy soek meer, sy soek Hom. Let net so daarop dat die bruidegom nie sy bruidjie vra om allerhande take vir hom te verrig, sy skape op te pas of sy wingerd te skoffel en te snoei om daardeur sy guns te verdien nie, nee, daarvoor gebruik hy sy arbeiders; Hy soek HAAR as persoon, haar liefde, haar teenwoordigheid, die skoonheid van haar golwende hare, die kurwes van haar liggaam, die sagtheid van haar lippe. Sy moet net gedurig by hom wees, met hom saamgaan waar hy ookal rondreis. Ons sê nie dat die werke wat ons vir Jesus verrig hom nie behaag nie maar dat die motief, die rede daarvoor moet wees, ons rivier vol liefde vir Hom. Hy kyk meer in sy bruidjie se vonkelende oë, as na die beker koffie in haar hand.
I. KAN DIT WAAR WEES?
‘n Vraag wat sekerlik in u gedagte opkom is dit: “Ek kan verstaan dat die bruid gefassineerd is deur die skoonheid van die Seun van God maar hoe kan Hy so hartstogtelik verlief raak en soveel mooi dinge sê van sy aardse bruid; so onvolmaak, dikwels so bevlek met sonde, elke nou en dan in die dal van mismoedigheid? Aggenee, die verhaal is nie realisties nie!”
Die antwoord is tweërlei: Eerstens lê dit in die wonder van die wese van die liefde wat alles in die beste moontlike lig sien – lees byvoorbeeld 1 Kor 13:7:
Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Lees dit ‘n paar maal aandagtig deur en vra u Bruidegom om u geestelike begrip deur sy Gees te verruim sodat u dit van harte kan glo. Peins en bid totdat die son vir u opkom oor hierdie kosbare waarheid; totdat dit gedurig in skitter-blink hoofletters op u kamermuur geskryf staan.
Tweedens is die verhaal waar omdat Hy haar nou al sien soos wat sy eendag in die hemel sal wees – sonder vlek of rimpel! O, glo asseblief dat jy werklik beeldskoon is in Sy oë – soos toe jy in Adam en Eva in die Paradys voor Hom gestaan het. Bid nog dringender dat die Heilige Gees u oë vir hierdie waarheid sal open en u geestelike omgang met Jesus sal nooit weer dieselfde wees nie. U sal net meer en meer wil word soos wat Hy u nou reeds sien – halleluja.
J. DIE EROTIESE BESKRYWINGS VAN DIE BRUID.
Daar is mense wat skrik vir die eksplisiete beskrywings van die bruid in hierdie boek en meen dat dit so beeldend is dat dit nie in die openbaar, byvoorbeeld in die kerk, gelees behoort te word nie – dat jy eers moet rondkyk om seker te maak dat andere nie sien dat jy hierdie Boek oopmaak nie.
Maar kom ons gaan net vinnig terug na die Paradys en loer hoe dit met Eva gesteld was toe Jesus haar aan die hand na Adam gebring het – sy het nie ‘n draad klere, selfs nie ‘n vyeblaar aangehad nie; niks om haarself mee te bedek nie. Dit was so bedoel, Adam moes haar so sien sodat hy haar sou begeer. Sy was asemrowend mooi van kop tot tone. Hy kon nie genoeg kry van kyk nie. Die enigste verskil was dat albei sondeloos was. In hulle het geen wellus ontvlam nie. Die eenwording van hul vlees sou spruit uit hul liefde, nie uit liefdelose vleeslike begeerte nie. Daarom dan word die bruid in Hooglied ten minste gedeeltelik ontbloot uitgebeeld. Voor Jesus staan ons nakend.
As ons gees dan die vlees in ons te bowe kom, vervloei ons onheilige wellus en staan ons by die lees van hierdie gedeeltes op heilige grond, kyk ons na alles om ons deur die bril van reine liefde en word ons innerlik verkwik. Kan jy dink dat dit moontlik is dat Hy smag om tyd met jou deur te bring? Kan jy dink dat dit vir Hom lekker is om geestelike met jou te verkeer, al is dit nie so diep as wat dit aan die anderkant van die aardse begrensing sal wees nie? Hier beleef ons net ten dele. Hier verbleek ons verhouding soms wanneer ek as bruid van Hom af wegdwaal, nogtans is daar ook tye van hartstogtelike oorvloed.
O, broer en suster in die Here, daar is talle groot manne en vroue van God wat al gepraat en geskryf het oor die wonder van so ‘n omgang met God, so ‘n geestelike vereniging met die Bruidegom. Hierdie verlowingservaring kan egter in woorde nie na reg beskryf word nie; dit kan slegs beleef word.
K. VIR ELKEEN BESKORE.
So ‘n bruidegom-bruid verhouding met God die Seun, is nie net vir enkele besondere manne en vroue van God beskore nie. Alhoewel dit waarskynlik eers later in die wedergeborene se lewe tot volle ontwikkeling sal kom, belewe ons vanaf die dag van ons wedergeboorte reeds dikwels so ‘n ietsie van die heerlikheid van sy teenwoordigheid. Hy bewerk dit self om ons ‘n voorsmaak te gee van wat ons verhouding met hom kan en moet wees. Hy laat ons die gloed van sy liefde smaak en lok ons tot ‘n voller en steeds voller oorgawe totdat dit vir ons ‘n daaglikse belewenis word; totdat ons mettertyd selfs in ons besige lewe daarin slaag om diep teue uit die beker van sy liefde te drink.
Hierdie heerlike omgang vervang ook nie die harde werk van maak van dissipels nie, maar stimuleer dit eerder. Die werk en die verhouding gaan hand aan hand soos wat Jesus, terwyl Hy uur na uur besig was om siekes te genees, duiwels uit te dryf en die beginsels van die Koninkryk te verduidelik, ‘n ononderbroke volmaakte band met sy Vader gehandhaaf het. Daarom ook, toe sy Vader uit die hemel oor hom gepraat het, het Hy nie na hom verwys as, “My magtige Seun” nie, maar as, “My geliefde Seun”. Hul liefdesverhouding was vir Hulle belangriker as die velossingswerk wat deur die Seun verrig moes word.
In die gelowige se lewe moet sy omgang met God ook voorrang bo alles geniet. Daarna kom die man-vrou huweliksverhouding, dan die ouer-kind verhouding. Daarna eers kom die die beroeps- en ander verhoudinge. Dit geld ook vir die Staatspresidente en anderssoortige leiers van volke. Die Here en sy gesin kom bo die staatsleier se volk en sy land (Jos 1:8) – hoe onmoontlik en onprakties dit ookal mag klink. As elke staatshoof sy beroep so beoefen, sal hierdie wêreld in ‘n paradys van vrede en voorspoed omskep word.
Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matt 6:33).
L. DIE VERBEELDINGRYKE UITBEELDINGE VAN DIE BRUIDEGOM EN BRUID.
Hier dink ons aan beskrywings soos:
2:8 Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels. 9 My beminde lyk soos ‘n gemsbok of soos ‘n jong takbok. Daar staan hy agter ons muur! Hy kyk deur die vensters in, hy speur deur die tralies heen.
4:2 U tande is soos ‘n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
4:4 U hals is soos die Dawidstoring, gebou met muurkranse waar die duisend skilde in hang, almal skilde van helde.
Ons moet geestelik rats, vinnig en soepel wees om die verbeeldingryke uitbeelding van die skrywer/Skrywer te kan volg en wys om die bedoeling te kan verstaan, te geniet en toe te pas – hierin is die Heilige Gees so gewillig om ons by te staan, maar – Hooglied is nie vir lomerige lesers nie.
M. DIE SKRYWERS
Ons sal sekerlik almal saamstem dat, aangesien hierdie een van die 66 boeke van die Bybel is, elke woord deur God geïnspireer is. Salomo is eintlik maar net die amanuensis, die mens deur wie die goddelike gedagtes gevloei het. Ons kan tereg wonder hoeveel hy daarvan verstaan het. Die Ou-Testamentiese profete het baie geprofeteer oor Jesus se koms, lewe en sterwe vir ‘n sondige wêreld maar waarskynlik min daarvan in diepte verstaan. Jesus se dissipels het selfs by sy hemelvaart nog gevra of sy koms ter wille van die bevryding van Israel was. As selfs die Heilige Gees vervulde hedendaagse teoloog dit moeilik vind om die Boek vers vir vers uit te lê, hoeveel te meer ‘n Ou-Testamentiese koning. Hy sou wel heelwat daarvan beleef het, want selfs ‘n man soos Henog het ‘n geweldig intieme wandel met God gehad.
N. DIE PROFIELE VAN DIE TWEE HOOFKARAKTERS.
Eintlik is daar net een karakter in die verhaal, naamlik Salomo. Hy simboliseer die Hemelse Bruidegom en is ook die aardse bruid.
- Salomo die gesogte Bruidegom.
Dat koning Salomo die hoofkarakter is, is duidelik, want daar word sewe maal na hom verwys. As sinnebeeld vir sy Seun kon die Vader nie beter gekies het nie.
Salomo het die Here liefgehad (1Kon 3:3) en was koning oor God’s volk, die mees gesiene volk op aarde; nogtans was hy ‘n nederige man wat nie na hoë dinge gestreef het nie maar eerder dít begeer het wat die Here se saak die beste sou dien soos verwoord in I Kon 3:5 e.v.:
Toe verskyn die HERE in Gíbeon in ‘n nagtelike droom aan Salomo; en God het gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. … 7. Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ‘n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie. 8 En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ‘n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. 9 Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?
10. En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het. 11. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ‘n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, 12 so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie. 13 Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.
Wat ‘n geseënde man; wat ‘n waardige persoon om die rol van die Prins van die heelal te vertolk. Sy grootheid waarmee God hom toe geseën het, was soos volg:
1Ki 4:20 Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.
21 Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe.
22 En Salomo se voedsel vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel; 23 tien vetgemaakte beeste en twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke en gemsbokke en gestippelde takbokke en vetgemaakte ganse.
24 Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom; 25 sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo.
26 Verder het Salomo veertig duisend krippe gehad vir sy trekperde, en twaalf duisend ryperde. 27 En daardie bestuurders het elkeen in sy maand koning Salomo onderhou en almal wat aan die tafel van koning Salomo kom; hulle het niks laat kortkom nie. 28 En die gars en die strooi vir die perde en die renperde het hulle gebring op die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy orde.
1Ki 4:29 En God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê, 30 sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte. 31 Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.
32 En hy het drie duisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend en vyf. 33 En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.
34 En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.
Salomo sou dus vir enige meisie ‘n gesogte bruidegom gewees het.
(Soos ons moontlik weet, het hy later jare van die Heer af weggedwaal maar dit val buite die bestek van hierdie boek.)
- Die Sulamitiese bruid.
Die tweede karakter in die verhaal, die Sulamitiese bruidjie, word nie by name genoem nie. In haar geestelike rol is sy een van miljoene andere wat gesamentlik die bruid van Christus uitmaak. Elke kind van God kan sy/haar naam inlees waar die bruingebrande meisietjie en haar doen en late beskryf word. Sy is nie die glorieryke Salomo nie, net ‘n gewone alledaagse, plattelandse, plaasmeisietjie wat eiehandig haar tuin versorg. Tog is sy vir Salomo uniek. Daar is nie nog een soos sy nie. Hy is dolverlief op haar. So staan jou en my saak ook met die Hemelse Bruidegom. Skep moed, sy volle aandag is op jou!
En ja, laat ons nie vergeet nie, ook die grote Salomo was ook maar net ‘n mede Sulamitiese bruidjie en dit is uit daardie oogpunt wat hy hierdie heerlike lied skryf. Sy hoogste genot in die lewe was nie sy koningskap oor Israel nie, maar sy verhouding met Jesus, die Bruidegom van die Grotere Koninkryk.
NA HIERDIE LANG INLEIDING, KAN ONS NOU UITEINDELIK OORGAAN TOT ‘N VERS VIR VERS ONTLEDING VAN DIE LIED.
//////////
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.