2025-05-20A
A. ‘N SKAT IN SKOON MAAR BROSE ERDEKRUIKE
4:1-15
1. Aangesien ons hierdie bediening deur God se barmharigheid ontvang het, gee ons nooit moed op nie, want sy genade stel ons in staat om voort te gaan.
2. Om hierin te kan vloei, vereis absolute reinheid en deursigtigheid, daarom:
a. Laat vaar ons alle verborge, skandelike dinge in ons lewenswandel.
b. Suiwer ons, ons van geheime valse motiewe vir die verkondiging van die Woord (byvoorbeeld om onsself te verryk).
c. Weerhou ons, ons daarvan om die Woord van God te verdraai (soos dit ons pas).
d. Openbaar ons die waarheid deur dit uit die duisternis na die lig te bring (dit op ‘n manier aan te bied dat dit verstaan kan word).
e. Wandel ons in die lig voor God en mens.
f. Maak ons ‘n appél op elke hoorder om ons voor God deur sy eie gewete te beoordeel en as eg te aanvaar.
3. Nadat al hierdie voorsorg getref is om die suiwer Evangelie aan die mens deur te gee:
a. Is daar geen sluier meer wat dit bedek of verduister nie.
b. As sommige dit steeds nie kan insien nie, is dit as gevolg van hulle ongeloof.
c. Lê die probleem binne hulleself (nie by dit wat hulle aanhoor nie).
d. Het die god van hierdie wêreld (satan) hulle geestelike persepsie verblind sodat die lig van Christus wat God se heerlikheid aan die mens bring, nie in hulle lewens kan skyn nie.
4. Paulus se motief vir sy bediening aan die Korintiërs is suiwer:
a. Hy probeer hulle nie oorreed om sý dissipels (volgelinge) te word nie.
b. Hy wys hulle heen na Christus, wat geen voordeel vir homself inhou nie.
c. Hy het geen voorneme om oor hulle te heers nie; inteendeel, hy wil hulle dienaar wees.
5. Hy (die Een) wat Paulus na hulle gestuur het, is God:
a. Die God van lig wat, toe Hy hierdie wêreld geskep het, lig uit die duisternis laat skyn het. Hy het die lig van die kennis van sy heerlikheid soos ervaar by die aanskoue van die aangesig van Jesus Christus, laat opgaan in hulle harte toe hulle in duisternis was, net soos wat Hy gedoen het met hierdie wêreld op die eerste skeppingsdag toe Hy sy lig in daardie stikke duisternis laat skyn en die aardbol verlig het.
b. Hy laat nou daardie Lig van Hom in hulle skyn.
6. Hierdie bediening is God se kosbare skat:
a. Hy laat toe dat dit in ons gehou (bewaar) en rondgedra word; ons wat so broos en onaantreklik is soos erdekruike wat normaalweg gebruik word om water in te dra; kruike wat goedkoop en vervangbaar is.
b. Hy het dit so verorden sodat die mens die salf, die olie, die verlossing wat in die kruik is, kan soek (begeer) en nie opgewonde raak oor die skoonheid (die uiterlike voorkoms) van die kruik nie.
7. Die aanslag op God se kruike (sy dienaars); die houe wat hulle moet verduur:
a. Hulle is onder druk, maar nie depressief (terneergedruk) nie (onder druk van buite, maar nie somber van binne nie).
b. Benoud, verleë, sit soms met die hand in die hare, maar nie radeloos om ‘n uitweg te vind nie.
c. Vervolg deur die mens, maar nie deur God verlate nie.
d. In die stof neergewerp, maar nie tot niet nie want hulle word deur God weer opgerig.
8. God se redes vir die toelating van hierdie aanslae:
a. Daar is ‘n geestelike beginsel dat die dood die lewe voorafgaan.
b. Christus moes aan die kruis sterf voordat Hy in heerlikheid kon opstaan.
c. Die dood van Christus bewerk in die hart van die Christen die dood van die ou sondige mens (natuur) sodat die nuwe mens (natuur) kan opstaan en in oorwinning kan lewe.
d. Die aanslae (houe) dien dus ‘n goeie doel, naamlik om hierdie ou sondige natuur te laat sterf.
e. Die feit dat Christene (en veral Christen-predikers) sulke slae kan verduur en nie daardeur tot niet gaan of moed verloor en opgee nie, bring eer aan hulle God wat hulle in stand hou.
f. Hoe meer die prediker hierdie “dood van Christus” in homself ervaar, hoe groter is die rivier van geestelike lewe wat van hom af vloei na diegene aan wie hy bedien. (V11, 12)
g. Soos wat die dood in Paulus gewerk het, het die lewe in die Korintiërs gewerk.
h. Ons benodig die dood van Christus net soveel as wat ons die lewe van Christus nodig het.
9. Hierdie bediening spruit uit die Heilige Gees wat geloof in ons opwek:
a. Hy bewerk in ons die diepe oortuiging van die waarheid van die boodskap wat ons verkondig.
b. Dit was Hy wat die geloof in God se mense van ouds ook bewerk het, die geloof waardeur hulle sy Woord verkondig het (Ps. 116:10).
c. Hierdie Gees van Geloof openbaar ook aan ons die glorieryke opstanding van alle heiliges aan die einde van die tyd en daardie vooruitsig bewerk in ons die geloof om te volhard.
10. Hoe meer mense deur hierdie bediening aangeraak word, hoe weliger sal die genade van God soos bloeisels uitspruit en hoe groter sal die lof en eer wees wat Hy daarvoor sal ontvang.
11. Om hierdie redes gee ons nie moed op nie, want:
a. Alhoewel die uiterlike mens geleidelik vergaan en uitfasseer word, word die innerlike mens daagliks vernuwe (en groei dit na volwassenheid).
b. Die gewig van die druk wat ons nou ervaar, is baie klein in vergelyking met die gewig van die heerlikheid wat ons in ruil daarvoor sal ontvang.
c. Die sigbare dinge wat nou doodgemaak word, is tydelik, maar die onsigbare innerlike dinge van die gees wat vernuwe word en groei, is ewig.
B. MY TENT, MY HUIS EN MY BELONING
5:1-10
1. Om hier op aarde te woon is soos om in ‘n tent te vertoef; met penne is dit aan die aarde vasgeheg, opgeslaan as ‘n tydelike woning en vinnig om weer af te breek.
2. Wanneer dit afgebreek word, beweeg ons aan na ons ware, permanente huise in die hemel wat deur God self gebou is.
3. Die ongemak en swak skuiling wat ons tentwoning bied, laat ons soms sug en verlang om die behoorlike bedekking van ons ewige tuiste te mag betrek.
4. Laat ons egter seker maak dat ons nie naak en skaam voor God sal staan in ons sondige lewens nie, maar bekleed sal wees met die geregtigheid van Christus, want slegs diegene wat so bekleed is, kan hoop op daardie ewige tuiste.
5. Inderdaad, niemand wil hê dat die dood hom selfs die bietjie vreugde wat hy op aarde geniet ontneem nie, maar eerder dat hierdie tydelike tent (genot) verswelg word in God se ewige lewe van totale vervulling.
6. Terwyl ons die Heilige Gees wat in ons woon, belewe (Hý wat God ons gegee het as ‘n voorsmakie van daardie ewige glorieryke genot) word ons geloof daardeur versterk, en laat dit ons uitsien na die tuiste op die verre horison en verlang om daar saam met die Here te kan woon.
7. Sou ons die keuse gehad het, sou ons sommer nou dadelik al daarheen vertrek het, maar, terwyl ons deur die besluit van God nog hier benede vertoef, span ons, ons in om Hom te behaag, net so veel as wat ons sal wanneer ons eers daar saam met Hom woon (by Hom inwoon).
8. Om Hom nou te behaag is baie belangrik, want wanneer ons na ons ewige tuiste gaan, sal ons ook voor die regterstoel van Christus verskyn om van Hom te ontvang ooreenkomstig wat ons gedoen het terwyl ons in die liggaam hier benede geleef het; of dit nou goed was of sleg.
C. DIE BEDIENING VAN VERSOENING
5:11-18
1. Aangesien ons eerbied vir God het, probeer ons Hom op ‘n oortuigende wyse aan die mens te openbaar.
2. Paulus vertrou dus dat hulle bediening en lewens vir die Korintiërs net so deursigtig is, as vir God.
3. Boonop vertrou hy dat die Korintiërs met hulle sal kan spog teenoor diegene wat spog oor wie hulle in die vlees is en geen agting het vir die werk wat God in die hart doen nie.
4. Wanneer ons waarhede bedien wat bo die begrip van sommige van die luisteraars is, verstaan God dit tog wel en word Hy nogtans daardeur verheerlik.
5. Die meeste van dit (die lering) wat ons bedien, is verstaanbaar en maak sin vir die gemiddelde luisteraar sodat hulle daarby kan baat.
6. Die liefde wat uit Christus vloei, motiveer ons in ons bediening en dring ons om daarmee voort te gaan (daarin te volhard).
7. Dit is ook hierdie liefde wat Christus gemotiveer het om vir ons almal te gesterf het.
8. Sy dood was ‘n wederkerige dood, wat beteken dat toe Hy gesterf het, dit presies dieselfde was asof elkeen vir wie Hy gesterf het, (in Hom) persoonlik gesterf het.
9. Dit beteken dat diegene vir wie Hy gesterf het, persoonlik op daardie dag en uur gesterf het en nie meer lewe nie; hulle ou natuur is dood en begrawe, sodat hulle nou leef vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is, want ‘n dooie liggaam is algeheel nie in staat om vir homself te lewe of enigiets vir homself te doen nie.
10. Ons aanskou (sien) dus nie meer diegene vir wie Christus gesterf het soos hulle was voordat hulle wedergebore was nie; ons sien hulle as nuwe opgestane geestelike wesens, net soos ons, ons nou nie met Christus assosieer (met Hom omgaan) soos dit was toe Hy hier benede in die vlees geleef het nie, maar ons assosieer (wandel) nou met Hom as geestelike wese (op ‘n geestelike wyse).
11. Wanneer iemand deur geloof geestelik in Christus ingaan (opgeneem, geabsorbeer word), word hy deur God opnuut geskape tot ‘n heeltemal nuwe geestelike wese; die ou natuur van die vlees is iets van die verlede; alles het nuut geword.
12. Die bewerking daarvan is ‘n daad (‘n handeling) van God.
13. Deur hierdie daad het God die vyandskap wat sedert Adam se val tussen Hom en die mens bestaan, verwyder en die mens met homself versoen, wat beteken dat die herskepte mens nou weer in intieme vriendskap en gemeenskap met God is.
14. Die wetlike basis waarop God dit gedoen het, was die aanvaarding van die offerdood van sy Seun aan die kruis as afdoende straf, waardeur die sonde van die mens heeltemal betaal en uitgewis is asof dit nooit bestaan het nie.
D. AMBASSADEURS VIR CHRISTUS
6:1-10
1. Hierdie bediening van versoening van God met die mens is nou aan Paulus en sy medewerkers toevertrou.
2. Hulle tree dus op as God se ambassadeurs, asof God persoonlik deur hulle spreek (praat) en die Korintiërs smeek om met God versoen te word.
3. (Versoening is nie net ‘n eenmalige gebeurtenis wanneer die mens se skuld verwyder word en hy beklee word met die geregtigheid van Christus nie, dit is ook ‘n voortdurende proses waardeur die ou natuur dag vir dag deur geloof gedood en Christus se natuur in die hart ingeplant word. Dit wat op die dag van die nuwe geboorte wettiglik ontvang is, word daarna geleidelik in die praktyk in die wedergeborene uitgewerk.)
4. Die boodskap wat Paulus van die Koning ontvang het en aan hulle oordra, is dat God die sonde van die mensdom geneem en dit op Christus gewerp (uitgegiet) het, sodat Hy die beliggaming geword het van al die sonde wat die mens ooit gepleeg het; omgekeerd het die Vader die regte ingesteldheid, die perfekte lewenswandel, die suiwer motiewe, die volkome heiligheid van sy Seun geneem en die mens daarin toegevou sodat hy presies so heilig en glorieryk sou lyk as sy Seun in Wie Hy ‘n welbehae het.
5. Maar Paulus en sy medewerkers is nie net ambassadeurs vir Christus nie, maar ook die Korintiërs se medewerkers in hulle heiligmaking en smeek hulle daarom om nie die genade van God wat hulle aangebied is, gering te skat nie.
6. God kies die gepaste tyd om sy helpende hand na mense uit te steek (met sy hand na ‘n persoon uit te reik).
7. Daardie tyd van God se goedhartigheid teenoor hulle het aangebreek en hulle moet nie hierdie gulde geleentheid laat verbygaan nie.
8. As medewerkers in hulle heiligmaking, sorg Paulus en sy geselskap dat hulle in noulettendheid wandel om nie vir hulle struikelblokke te wees in die toe-eiening van God se genade nie.
9. Hulle beveel hulself selfs aan as navolgenswaardige voorbeelde van Christelike uitnemendheid en:
a. Toon groot geduld en uithouvermoë (lankmoedigheid) onder alle soorte van druk, byvoorbeeld:
i. Wanneer hulle verdruk (ingedoen) word (die normale geriewe van die lewe ontsê word).
ii. Wanneer hulle in vrees verkeer (om gemartel of doodgemaak te word).
iii. Wanneer hulle geslaan word (soos in die tronk).
iv. Wanneer hulle onregverdig gearresteer en in die tronk opgesluit word.
v. Wanneer hulle deur woedende skares beseer word.
vi. Deur hulle eindelose arbeid vir Christus en die mens.
vii. Wanneer hulle snags wakker lê (as gevolg van die ongemak van hulle omgewing, pyn veroorsaak deur slae en steniging of wanneer hulle bid vir die gemeentes wat aan hulle toevertrou is).
viii. Deur hongerpyne te verduur.
b. Reflekteer al die eienskappe van Christus in hul gesindheid, lewenstyl en bedieningsvaardigheid naamlik:
i. Reinheid (seksueel: geen verhoudings met die dames wat hulle bedien het nie, geen misbruik van bedwelmende stowwe nie, geen deelname aan wêreldse partytjies nie).
ii. Uitsonderlike kennis van die Evangelie en vaardigheid in die oordra van daardie waarhede.
iii. Vriendelikheid teenoor alle mense.
iv. Verdra van diegene wat stadig (traag) is om op die Evangelie te reageer.
v. Vervul te wees van die Heilige Gees.
vi. Die liefde van God sonder bybedoelings te betoon.
vii. Deur eer op so ‘n wyse te aanvaar dat dit nooit afbreuk doen aan die eer wat God toekom nie.
viii. Deur belastering en oneer te verdra sonder om terug te kap.
ix. Deur mense uit die wêreld weg te lok en hulle met Christus te bevriend, maar dit in absolute integriteit te doen.
x. Deur algaande, wat die vlees betref, te sterf maar terselfdertyd springlewendig te wees in die gees!
xi. Deur God gekasty te word, maar nie daaronder te beswyk nie.
xii. Deur gedurig te rou (oor die verlorenes en onbekeerlikes) maar aanhoudend blymoedig te wees.
xiii. Alhoewel arm in wêreldse besittings, besig om hemelse rykdom aan andere uit te deel.
xiv. Mense te wees wat materiëel niks het nie, maar tog alles besit wat die moeite werd is naamlik die rykdom wat deur Christus nagelaat is.
10. Nadat hy dit alles aan hulle uitgewys het, neem Paulus dit ‘n stappie verder deur hulle daarop te wys dat hy so eerlik met hulle gepraat het, juis omdat sy hart so wyd oop is vir hulle; omdat hulle soveel van sy hartsruimte vir hulle self het .
11. Dieselfde kan egter nie van hulle gesê word nie: daardie deel van hulle harte wat liefde vir hom en sy metgeselle bevat, is maar baie eng en moet verbreed word, want Christen-bedienaars en hulle lidmate moet ‘n intieme, liefdevolle verhouding met mekaar hê.
12. Hulle moet vir hom en sy medewerkers oopmaak, soos ‘n kind vir sy ouer.
E. TEMPELS VAN GOD
6:11-7:1
1. Alhoewel Paulus aanbeveel dat hulle met ongelowiges kontak moet behou om hulle na Christus te trek, waarsku hy teen ‘n te noue verbintenis, want hulle is in twee heeltemal verskillende wêrelde soos gesien kan word in die volgende voorbeelde:
a. Daar is geen oorvleueling tussen geregtigheid en ongeregtigheid nie.
b. Lig het geen deel aan duisternis nie.
c. Daar is niks in Christus wat ook in die duiwel gesien kan word nie.
d. Watter geestelike grond deel die gelowige met die ongelowige?
e. Watter ooreenkoms deel aanbidding in die tempel van God met dié van aanbidding in heidense tempels?
2. ‘n Christen is ‘n tempel van God in wie sy Gees woon en beweeg.
3. Vir hulle is Hy God (wat hulle beskerm en vir hulle voorsien) en hulle is sy volk (wat Hom dien en liefhet) soos selfs van sy volk van ouds gesê is (Lev 26:12).
4. Om daardie redes en om volle gemeenskap met God te hê, moet hulle hulself geestelik, emosioneel en selfs fisies uit hulle midde verwyder en nie betrokke raak by enige van hulle sondige praatjies en praktyke nie.
5. Deur dit te doen, sal die Here nie net hulle geboude tempel met hulle deel nie, maar ook hulle innerlike tuiste en vir hulle ‘n vader wees en hulle sal vir hom seuns en dogters wees.
6. Terwyl ons dan hierdie glorieryke beloftes van die Here het, laat elke Christen homself reinig van alle besoedeling, beide van die liggaam en van die gees, en homself in eerbied algeheel vir God afsonder.
F. PAULUS SE VREUGDE OOR DIE POSITIEWE REAKSIE OP SY EERSTE BRIEF
7:2-16
1. Paulus gaan nou voort waar hy in 2:13 afgebreek het, waar hy vertel het van sy vertrek na Masedonië om vir Titus te soek.
2. Eerstens berig hy oor die ontberinge wat hulle verduur het sedert hul aankoms daar.
3. Hulle het nie net fisiese aanslae gely nie, maar ook innerlike verdrukking (beklemming).
4. Innerlike onrus van die siel kan veroorsaak word deur toe te laat dat jou omstandighede bekommernis, vrees, ens. tot gevolg het. Kan dit dalk ook wees as gevolg van ‘n direkte demoniese aanslag, ‘n innerlike, onbeskryfbare worsteling met die magte van die bose waarvan in Efesiërs 6:11 gepraat word: “… want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, die magte, die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, die bose magte in die lug.”
5. Te midde van hierdie lyding, het die opsporing van sy vriend Titus, sowel as die ontvangs van die goeie nuus van die Korintiërs se bekering, ‘n oorweldigende vreugde vir Paulus meegebring.
6. Eerstens het dit sy droefheid omdat hy hulle moes seermaak deur so hard met hulle te moes praat, weggeneem, want hy het gesien dat hulle droefheid, wat vir ‘n baie kort tydjie geduur het, mettertyd tot hulle voordeel blyk te gewees het, want dit het tot hulle inkeer gelei.
7. Droefheid deur lewensomstandighede kan tot ‘n persoon se dood lei, tensy dit deur vertroosting getemper word.
8. Droefheid wat deur God bewerk word, het egter betrekking op sonde en lei tot inkeer wat die stres van ‘n persoon se siel verlig en sy droefheid in vreugde verander.
9. Die droefheid wat deur Paulus se brief meegebring is, was volgens God se wil bewerk en het in sy lesers bewerkstellig:
a. Verontwaardiging teenoor die skuldige.
b. Aanvaarding van verantwoordelikheid vir wat gebeur het.
c. Die wil om die probleem aan te spreek deur die oortreder aan te vat.
d. ‘n Drang om die gemeente van die wolk van skuld en skaamte te reinig.
10. Deur dit te doen, het hulle duidelik geïllustreer dat hulle hierdie sondige daad verafsku en sulke gedrag nie sou duld nie.
11. Titus was ook met vreugde vervul toe hy hulle sterk positiewe reaksie op sy en Paulus se optrede waarneem.
12. Paulus was dus nou:
a. Vertroos.
b. Vervul met vreugde.
c. Trots op hierdie gemeente wat hy gestig het.
d. Gretig en vry om voort te gaan om hulle te bedien.
13. (In hierdie Skrifgedeelte sien ons die sielewroeging waardeur pastore wat getrou aan God is, gaan wanneer hulle kuddes in sonde val en hulle baie streng met hulle moet handel; maar ons sien ook hulle oorvloedige vreugde wanneer die skuldiges hulle bekeer en die gemeente weereens, van skande gereinig deur die Bloed van die Lam, kan voortgaan op die weg na volmaaktheid.)
///////////
NA INDEKS NA VOLGENDE HOOFSTUK