2025-09-07A
WAT ONDERSKEI DIE BOEK SPREUKE VAN DIE ANDER BYBELBOEKE
A. UITLEWING EN NIE VERHOUDING NIE
Die klem, in Spreuke, is nie soseer op die liefdevolle verhouding met God, die hartstoewyding aan Hom soos wat Salomo die godvrugtige lewe in Hooglied beskryf nie. Hier laat hy die kollig val op die uitlewing van Sy wysheid. Hy praat nie oor die Bruidegom/bruid verhouding nie maar oor dié van die landsburger tot die koning. Hy wys vir ons dat die uitlewing van God’s wyse wil, die regte ding vir die mens is om te doen, beide vir die hier en nou, en ook vir die hiernamaals. Ons vind hierdie benadering natuurlik ook in talle ander Bybelboeke maar dit is besonder tuis in die Ou-Testament en dus besonder tuis in Spreuke.
B. WYSHEID WAT SKEEF GELOOP HET
Die mens is van nature leergierig; nie soos ‘n dier wat tevrede is met kos water, veiligheid en so n bietjie skuiling teen die elemente nie. Nee, hy wil die wêreld waarin hy leef, verstaan, bemeester en beheer. Dit is ook reg so, want die Here het vir Adam opdrag gegee om hierdie wêreld te bewerk, te bewaak en vir die diere name te gee; sodoende moes hy die wêreld waarin hy leef, leer verstaan en ontwikkel. Ons slaag ook uitstekend daarin sodat ons nie net vir die sterre name gee nie, maar ruimtetuie bou en en hulle gaan besoek.
Die mens benut die skepping dus eerstens, regtens, tot sy eie voordeel en is gevolglik selfversorgend, soos wat hy bedoel was om te wees. Maar, maar, weens die verwringing van sy natuur tydens die sondeval, benut hy dit egter, tweedens, baie anders as wat God dit wou hê. Selfsug het ingesluip en elkeen kyk hoeveel hy vir homself kan inpalm, ongeag of ander nou genoeg kry of nie. Selfversorging het by baie aardsbewoners oorgegaan in selfsugtige selfbevrediging, gierigheid.
So is dit nie met ons Skepper nie. Die wysheid van God stel andere bo homself soos wat die Vader sy Seun vir ons welsyn opgeoffer het. Daardie lewensuitkyk noem God wysheid en selfsug noem Hy dwaasheid.
C. ‘N LEGKAART VAN WYSHEID EN DWAASHEID
Dit is dan hoe Salomo die lewensbrokkies beskryf – stukkies wysheid, stukkies dwaasheid. Verwronge intellektuele-, geestes-, en liggaamsbegeertes is alles dwaasheid; bevrediging van die vlees. Selfopoffering is goddelike wysheid. Hy plaas regmerkies op sommige lewenswyses en kruisies op andere – so leer hy vir ons wat wysheid en wat dwaasheid is. Dié met die kruisies lei nie tot selfverwesentliking nie, alhoewel ons so mag dink. Wat wys is vir God, is dwaas vir die mens, en andersom. Die stukkies met die kruisies op, moet vervang word met regmerk stukkies.
Spreuke is ‘n versameling van honderde sulke kort, kragtige, voorbeelde vanuit die alledaagse lewe. Dit skets vir ons die wysheid van God in aksie in die lewe van ‘n jongmens, in die familielewe, in selfbeheer, in die weerstaan van versoeking, in die besigheidswêreld, in gesprekvoering, in die huwelik, in die soeke na rykdom, in belewing van armoede, ens.
Alhoewel Spreuke nie filosofies oor die godsvrees besin of bedoel is om dogma oor te dra nie, sal jy, as jy die pad wat Salomo beskryf, bewandel, ook ‘n al nouer wordende band met God ontwikkel. Die mens wat die goeie liefhet en beoefen, sal God ook liefhê maar die slegte mens, wat die goeie, wat in stryd is met sy vleeslike begeertes haat, sal ook God en Sy wysheid haat.
Goddelike wysheid is eintlik niks anders nie as gesonde logika.
C. ONDERHOU DIE WET
Spreuke is amper soos ‘n menslike wetboek, sê nou maar ‘n verkeersordonnansie, wat presies beskryf waar en wanneer jy moet stilhou, hoe vinnig om te ry, hoe dik die rubber op jou kar se bande moet wees, waar jy nie rommel mag strooi nie. stilte moet handhaaf en nie oor mag stap nie. Eerbiedig jy daardie voorskrifte sal jy in harmonie met jou owerheid en medeburgers lewe. So nie sal jy deur die geregsdienaars besoek en gearresteer word, boetes of tronkstraf op die hals loop en so meer. Die keuse is joue. Die klem is nie op hoe jou hartsverhouding teenoor jou owerheid en gemeenskap moet wees nie, maar eerder hoe jou óptrede moet wees (alhoewel dit waarsku dat jou innerlike gesindheid van belang is en tot die verkeerde optrede kan lei.)
Sommige ander Bybelboeke beklemtoon: Rig jou hart daarop om God lief te hê, dan sal Hy jou seën. Spreuke sê: Leef volgens die wysheid van God, dan sal dit met jou goed gaan:
Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. (Spr 1:7)
Die twee is natuurlik nie opponerend ten opsigte van mekaar nie, maar aanvullend. Daar is die Wet van Liefde sowel as die Wet van Wysheid. Dit is soos ‘n ingenieur wat ‘n brug oor ‘n breë rivier moet bou. Hy gebruik twee spanne wat van weerskante of werk om die taak vinniger te voltooi. Hulle bou in teenoorgestelde rigtings, na mekaar toe, maar nie teen mekaar, in opposisie tot mekaar nie; tewens die ingenieur beplan die projek so fyn dat hulle tot op ‘n haarbreedte na in die middel van die rivier ontmoet; perfekte samewerking. So werk die liefde en wysheid van God saam in die bou van sy Koninkryk.
D. NAME VIR GODDELIKE WYSHEID
Net soos wat die vrug van die Gees benoem word as liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22), word goddelike wysheid in die onderskeie tekse beskryf as: verstand, insig, lig, beleid, oorleg, kennis, onderwysing, gebooie, verstandigheid, skranderheid; en dan is daar die teenoorgesteldes daarvan soos haat en dwaasheid.
Hierna begin ons om die onderskeie tekse in Spreuke van naderby te bekyk.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS