1 Korintiërs 4 tot 8

.

2025-04-18A

TERUG NA INDEKS                                                                                             NA VOLGENDE HOOFSTUK

A. DIE DIENS VAN CHRISTUS EN VAN DIE MENS

4:1-5

1. Bo alles dien ons die Hére en dit met ons aanbidding, lofprysing, liefde en gehoorsaamheid.
2. Tweedens dien ons die mensdom deur God se verborge geestelike geheime aan hul te openbaar.
3. Die dienaar van God moet aan sy Meester getrou wees.
4. Laat ons nie onsself en andere oordeel aan die hand van ons blote menslike wysheid nie maar eerder staatmaak op die wysheid van God wat die geheime van die hart ken.

B. DIE TROTS VAN DIE KORINTHIËRS TEENOOR DIE NEDERIGE POSISIE VAN DIE APOSTELS.

4:6-21

1. God se pad vir ‘n Christen deur hierdie lewe, is ‘n nederige pad.
2. In die lewe hierna sal die Here elkeen verhef na die mate wat hy bereid was om homself in hierdie lewe te verootmoedig; die houer sal dan gevul word met die hoeveelheid waarvan hy homself hier benede leeggemaak het.
3. Die Korintiërs het die hoë pad gekies deur vir hulself alles toe te eien wat begeerlik was: rykdom, heerskappy en ook roem oor die dinge wat hulle van God ontvang het asof hulle dit deur hul eie vernuf verkry het.
4. Deur hulself aan God te onderwerp, is Paulus en Apollos deur die Here uitgelei op die nederige weg wat ingesluit het om ‘n skouspel gemaak te word in die oë van mense en engele, by wyse van honger, dors, naaktheid, veragting, slae, handearbeid, rondswerf, ter dood veroordeling, valse beskuldiging; ja, hulle is behandel soos vullis, soos gemors, tog het hulle op dit alles gereageer deur seën en welwillendheid in ruil te gee.
5. Paulus skryf hierdie dinge nie om hulle te beskaam nie, maar omdat hy ‘n liefdevolle vader en hulle sy dierbare kinders is vir wie se opvoeding hy verantwoordelik is.
6. Hy bied hulle die geleentheid om hul te bekeer en hierdie dinge reg te stel voordat hy hulle besoek.
7. In God se Koninkryk is dit nie die een wat die luidrugtigste oor homself kan spog wat die hoogste geag word nie, maar hy wat homself nie vermeld nie maar die krag van die Heilige Gees in sy bediening demonstreer. Die effek van sy bediening spreek vir hom.

C. SEKSUELE SONDE EN GEESTELIKE TROTS

5:1-13

Daar is berig dat een van hulle ‘n seksuele verhouding met sy stiefma gehad het; iets wat selfs die heidene nie sou doen nie, tog is hulle so trots op hulleself.
Die manier waarop Paulus dit sou hanteer, is om die persoon uit die gemeente te verwyder en hom aan satan oor te gee vir vernietiging van die vlees sodat sy gees gered kan word.

Dit kan beteken:

  1. Fisiese siekte uit die hand van die duiwel wat die persoon tot besinning en bekering sou bring.
  2. Geestelike pyniging deur die duiwel wat sou veroorsaak dat die persoon wegdraai van sonde en reiniging en vrede in Christus vind.

Die gemeente moet gesuiwer word van die ou suurdeeg van onsedelikheid, gierigheid, afgodery, agterbaksheid en dronkenskap deur diegene wat hierdie ondeugde bedryf, te verwyder, nieteenstaande die feit dat hulle as broers in die Here gesien word. Selfs ‘n klein hoeveelheid “slegte suurdeeg” sal die ganse gemeente raak.

  1. In die hantering van sonde binne ‘n gemeente, moet die welstand van die hele gemeente in ag geneem word en nie net dié van die oortreder nie.
  2. Ja, die persoon moet op ‘n liefdevolle manier hanteer word, nie uit wraak nie; die doel moet wees om sy geestelike gesondheid te herstel.
  3. Terselfdertyd moet die morele en geestelike welstand van die gemeente bewaar word. Om sonde toe te laat om ongehinderd te gedy, kan daartoe lei dat lidmate die heiligheid van God waartoe hulle geroep is, uit die oog verloor en ongelowiges die Kerk, en die Here van die Kerk, verag. Dit verg wyse en sterk leierskap.

Om ‘n eiesinnige broer of suster tot so ‘n mate te verwyder dat hulle nie eers saam met hom eet nie, impliseer nie dat hulle ook geen kontak met ongelowiges wat hieraan skuldig is, moet hê nie.

Wees ten volle in die wêreld om sondaars na Christus te lok, maar wees nie van die wêreld deur daardeur besoedel te word nie.

Om oor hulle redding te spog terwyl sulke gruwelike sondes nie aangespreek word nie, voeg die sonde van hoogmoed ook nog by.
Hulle moet eerder hul verlossing vier deur die ongesuurde brood van reinheid en waarheid te eet.

Vier fees, verheug en dans wanneer jy sien dat die Heilige Gees jou bystaan om jou ou vleeslike lewe af te skud en jou in die nuwe lewe van reinheid, waarheid en nederigheid te laat ingaan.

D. REGSGEDINGE TUSSEN CHRISTENE

6:1-11

1. Deur ‘n Christen te word, verwerp ‘n persoon die sondige lewenstyl van seksuele sonde, diefstal, gierigheid, dronkenskap, ens. want diegene wat sonde beoefen, sal nie die Koninkryk van God beërwe nie.
2. In die lewe hierna sal gesien word tot watter hoogte Christus sy volgelinge verhef wanneer Hy hulle as regters aanstel om die sonde van gevalle engele te bereg.
3. Die lewe in Christus is dus, moreel, lewe op ‘n verhewe vlak en dit dring deur tot elke area van ons lewens, insluitend ons houding teenoor materiële dinge.
4. ‘n Toekomstige regter van engele:

a. Moet nie sy broers beroof nie.
b. Word liewer self beroof as om in die skande te kom deur by regsgedinge teen sy broers in Christus betrokke te raak.
c. As broers in Christus wel ‘n geskil het, moet hulle dit onderwerp aan die arbitrasie van mede-Christene wat toegerus is met die wysheid van die Gees en nie geregtigheid soek by ongelowiges wat moreel op ‘n laer vlak leef en volgens laer standaarde oordeel nie.

E. DIE LIGGAAM, ‘N LEDEMAAT (LID) EN TEMPEL VAN CHRISTUS

6:12-20

1 . Jy is vry om jou liggaam te gebruik soos jy wil, maar doen dit op ‘n wyse wat die beste vir jouself en vir Christus is.
2. Jy is vry om te eet wat jy wil, want die maag is gemaak om kos te ontvang, maar eet net dit waarby die liggaam sal baat; weerhou jou daarvan om te eet wat skadelik of verslawend is en moenie te veel eet nie.
3. Moenie lewe vir kos en vir jou maag nie, want die dag sal kom wanneer God aan beide ‘n einde sal bring – dan sal jy niks oorhou nie.
4. Die liggaam is, afgesien van ander dinge, ook gemaak vir seksuele omgang en seksuele omgang vir die liggaam, maar beoefen dit op ‘n wyse waarby jy sal baat en nie benadeel word nie.
5. Op die opstandingsdag sal hierdie liggaam van vlees vervang word deur ‘n nuwe geestelike liggaam, so gebruik jou huidige liggaam op ‘n manier waardeur jy op daardie dag sal baat.
6. Deur seksuele omgang met ‘n prostituut te hê, sondig jy teen jou liggaam want jou liggaam word een vlees met haar – jy word deel van die prostituut!
7. Jy betrek ook Christus daarby, want Hy woon in jou en jy het een gees met Hom geword.
8. Hy leef binne jou; jy is sy tempel en deel van sy liggaam; Hy is baie intiem deel van jou en daarom teenwoordig en betrokke wanneer jy ‘n seksuele sonde pleeg. Dink aan die pyn, woede en weersin wat dit vir hom veroorsaak.
9. Hardloop weg van seksuele sonde.
10. Christus het meer reg op jou liggaam as selfs jyself, want Hy het jou teen ‘n geweldige hoë prys gekoop – ja, met sy eie lewe!
11. Om hierdie redes, verheerlik Hom beide in jou gees en in jou liggaam deur saam te vloei met die Heilige Gees wat in jou woon.
12. (Paulus weerlê hiermee die leerstelling dat ‘n mens met jou liggaam kan doen wat jy ook al wil, want dit is net ‘n tydelike dop. Hy wys daaarop dat wat ons met ons liggame doen, beide in hierdie lewe en in die lewe hierna tel.)
13. Seksuele sonde het veroorsaak dat menige Christenleier in skande beland wat hom lewenslank soos ‘n skadu bygebly het. Wees waaksaam: as jy hierdie versoeking sien aankom, hardloop weg so vinnig as wat jy kan! Dit is goddelike wysheid, nie lafhartigheid nie.
14. ‘n Immorele seksuele lewenswyse is die grondoorsaak van siektes wat deur seksuele omgang versprei word, maar die samelewing konsentreer meer op sy pogings om die bitter vrug daarvan (die siekte) te genees of te verlig as om na die wortel af te grawe en dit te verwyder wat beteken om die sonde self uit te roei.

F. DIE CHRISTELIKE HUWELIK

7:1-40

1. Kies die soort lewenswyse wat die voordeligste is vir jou persoonlike wandel met Christus.
2. Verantwoordelikhede soos dié van ‘n slaaf teenoor sy heer en eggenote teenoor mekaar, sal baie van jou tyd en energie in beslag neem en bydra tot jou vrag verantwoordelikhede, veral in moeilike tye; moet jou dus nie gewilliglik hiermee inlaat nie.
3. Dit beteken dat ongetroude Christene (insluitend weduwees) dit ernstig moet oorweeg om in daardie ongetroude staat te bly.
4. In die nastrewing van die ideaal van vryheid van wêreldse verantwoordelikhede om Christus beter te dien, wees realisties:

a. Moenie jouself dwing tot ‘n leefstyl van onthouding van seksuele omgang as jy weet dat jy nie in staat is om dit te kan verduur nie en heeldag lank van begeerte sal brand.
b. As jy, wanneer jy ‘n Christen word (Jesus as Verlosser aannneem), ‘n slaaf in iemand se diens is, gaan voort om jou eienaar in daardie hoedanigheid te dien, maar, as die geleentheid hom voordoen dat jy vry kan word, maak daarvan gebruik.
c. As jy met ‘n ongelowige getroud is en dié tevrede is om voort te gaan om saam met jou te lewe, gaan voort om dit van harte te doen.
d. Moenie bekommerd wees oor jou kinders as jy met ‘n ongelowige getroud is nie, want hulle is gedek deur jou Christelike invloed tot tyd en wyl dat hulle hul eie besluit vir Christus kan neem.
e. Maar as ‘n ongelowige eggenoot of eggenote verlang om van jou te skei, voldoen aan dié versoek want jy het geen waarborg dat hy of sy gered sal word nie.
f. Moenie ’n ongetroude meisie wat onder jou voogdyskap is daarvan weerhou om te trou as dit haar begeerte is nie.
g. As jy besny is, kan jy dit nie verander nie, so bly so en as jy onbesnede in die vlees is, is dit nie nodig vir so ‘n besnydenis nie, want jou hart is besny; konsentreer daarop om in gehoorsaamheid aan God te lewe, dit is waaroor die besnydenis gaan.

G. VLEIS AAN AFGODE GEOFFER

8:1-13

1 . Daar is maar een God wat alles geskep het.
2. Diegene wat afgode aanbid deur aan hulle te offer, aanbid dinge wat nie bestaan ​​nie.
3. Hulle offer het geen betekenis nie en moet verontagsaam word deur diegene wat die waarheid ken.
4. ‘n Christen mag dus vryelik eet van enige vleis wat na bewering aan een of ander god geoffer was, want dit is so goed asof dit glad nie geoffer was nie. (As ‘n leë emmer oor my omgekeer word, sal ek hoegenaamd niks daarvan oorkom nie, want niks het immers oor my gekom nie.)
5. ‘n Christen wat pas uit die heidendom bekeer is, kan egter steeds baie bewus wees van die afgode wat hy aanbid het, en kan skuldig voel teenoor God deur sulke vleis te eet.
6. Deur te doen wat hy glo verkeerd is in die oë van God, sondig hy wel teen God.
7. Wanneer ‘n meer volwasse Christen sulke vleis in ‘n heidense tempel eet, kan die swakker Christen tot die gevolgtrekking kom dat daar geen kwaad in die aanbidding van beide die Christen se God en die heidense sogenaamde gode is nie, en kan hy op ‘n dwaalspoor gelei word tot dié mate dat hy uiteindelik Christus verloën.
8. Sodoende sal die meer volwasse Christen sondig teen Christus wat ook vir die swakker broer gesterf het.
9. Volwasse Christene, wat in liefde wandel, sal eerder hul vryheid om te eet wat hulle ook al wil, opoffer, om nie ‘n swakker broer te laat struikel nie.
10. Kennis wat nie in liefde gewortel is nie, maak ‘n mens net trots maar bereik niks verder nie.
11. Kennis moet in diepte nagevors, maar dan in liefde toegepas word.
12. Vir sommige van die Korintiërs kon dit in praktyk tot gevolg hê dat hulle glad nie vleis sou kon eet nie want hulle het in ‘n stad gewoon waar hulle hul vleis by ‘n slagter moes koop wat dit waarskynlik by ‘n heidense priester gekry het en almal het dit geweet.

//////////

TERUG NA INDEKS                                                                                              NA VOLGENDE STUDIEGIDS



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha