2024-10-25
DIE BRUID ONTMOET DIE DOGTERS VAN JEUSALEM EN HULLE PRAAT OOR HAAR BRUIDEGOM.
DIE BRUID: Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde. Wat is u beminde meer as ‘n ander beminde, o skoonste onder die vroue—wat is u beminde meer as ‘n ander beminde, dat u ons so besweer het? (5:8,9).
In die gelese gedeelte gaan die Bruid nog voort om in die stad na haar Beminde te soek. Hier word dit duidelike omskryf, naamlik as die fisiese stad Jerusalem. Wat sê die Skrif omtrent hierdie stad?
… want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal. (Gal 4:25,26).
Hagar was ‘n slavin en die seun, Ismael, wat sy gebaar het, was dus, volgens die reg van daardie tyd, ook ‘n slaaf en so sou dit voortgaan van geslag tot geslag, totdat iemand vrygekoop was. Sy kon ook nie as slaaf enige geld verdien waarmee sy haarself mettertyd kon loskoop nie. Sy het haarself dag vir dag afgesloof, bloot om aan die lewe te bly.
Jerusalem en sy inwoners word aan hierdie toestand gelykgestel. Sinaï is die berg waarop God sy Wet aan Moses gegee het en Jerusalem word hier aan Sinaï gelykgestel omdat Jerusalem se geestelike leiers die Wet misbruik en daardeur slawe van sy inwoners gemaak het. Hulle het Jesus, hul godgegewe Messias en Verlosser, gekruisig en verkondig dat die mens in eie krag, die Wet kon onderhou en daardeur die ewige lewe kon beërwe.
Die aardse Jerusalem is dus nie net ‘n fisiese stad in Palestina nie, maar ‘n geestelike dwaallering wat elkeen wat dit navolg, ‘n lewenslange slaaf maak wat dag vir dag probeer om volmaak te lewe maar dit nooit regkry nie. So ‘n persoon kan nie in die Koninkryk van die hemel ingaan nie, want die Koninkryk van die hemele kan slegs beërf word. En, ‘n slaaf is nooit ‘n erfgenaam van sy eienaar se boedel nie. Om van God te kan erf, moet jy sy kind wees, weergebore deur sy Heilige Gees. Kinders van God is vrolike, vrygekoopte slawe. So word dit verder uiteengesit in die Boek Hebreërs:
Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel. (Heb 12:22-24).
Terug na die Bruid. Eers was sy met die wagte van Jerusalem slaags en nou ontmoet sy van die burgers van die stad: die dogters van Jerusalem. Na die vlees is hulle uit die volk van Israel gebore maar geestelik is hulle nie uit God gebore en dus nie hemelburgers, burgers van die Nuwe Jerusalem nie.
Hulle het ‘n ontsag vir God; Hy is immers die Gewer van die Wet, maar glo nie dat ‘n mens ‘n persoon tot Persoon verhouding met Hom kan hê nie. Toe Hy vanaf die berg Sinai in ‘n hoorbare stem met hul voorsate gepraat het, het hulle bevrees weggevlug en vir Moses gevra om tog maar liewer te hoor wat die Here sê en dan vir hulle te kom vertel wat hulle moet doen (Ex 20;19). Hulle wou Hom nie, soos Moses, Aäron en Joshua persoonlik ontmoet nie. Hulle was gewillig om dag vir dag te probeer om die belangrikste van sy gebooie na te kom, maar daar moes ‘n veilige afstand tussen hulle en Hom wees. Hy moes nie daar by hul tente wees en sien wat hulle doen en hoor wat hulle praat nie.
Hedendaags is daar steeds miljoene sulke ongelukkige mense. Hulle vertoon uiterlik vroom en godvresend omdat hulle sekere van die Heer se gebooie nakom. Hulle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Sodoende is hulle soms moeilik te onderskei van onlangs wedergebore kinders van God wat ‘n hewige stryd teen diep gewortelde sondes van vroeër jare voer.
Dit is eintlik eers wanneer jy in diepte sommer net lekker met hulle oor die Koning probeer gesels, dat hul ware kleure aan die lig kom. Hulle sal ongemaklik en bedreig voel deur so ‘n gesprek en antwoord: “Moenie vir my preek nie. Ek lees my Bybel en ek het my kerk. My ma het vir my geleer ‘n mens praat nie oor politiek en oor kerk nie – dit bring net twis. Jy is heeltemaal te ernstig. Elke ding het sy plek. Ek loop nie met my Bybel onder my arm nie. Almal is mos maar kinders van God. Ons dien almal dieselfde Here. Ons moet nie mekaar oordeel nie. Jesus het ook wyn gemaak. Dit staan ook mos iewers in die Bybel geskryf.” Sondag gaan hulle so dan en wan kerk toe, maar is bly wanneer dit verby is.
Hulle het beslis nie dieselfde Beminde as die Bruid nie, maar het elkeen sy of haar haar eie beminde; ‘n eie iemand of iets aan wie of waaraan hul harte behoort: Plesier, Loopbaan, Vleeslike Genot, Rykdom, Eer, Eie Wil, of wat ookal. Die Bruid se Beminde ken hulle nie.
Nêrens waarheen die Bruid haar wend, vind sy iemand wat haar Bruidegom ken, of Hom selfs net al gesien het nie, om nie eers te praat van in staat te wees om vir haar die pad na Hom te verduidelik nie. Hulle gee wel geredelik toe dat sy ‘n “Groot Christen” is, want haar optrede en gesprekke getuig duidelik daarvan. “O, skoonste onder die vroue”, noem hulle haar.
Sy wil verder gaan om na Hom te soek, maar dalk loop hulle Hom toevallig raak en kan hulle vir Hom sê dat sy op soek is na Hom. Sodoende sal Hy te wete kom dat sy berou het omdat sy nie die kamerdeur vir Hom oopgemaak het nie. Dit mag maak dat Hy haar kom soek. Maar sal hierdie afsydige mense ag gee op haar versoek, wonder sy? Daarom besweer sy hulle om haar boodskap aan Hom oor te dra. Dit beteken dat as hulle versuim om haar opdrag uit te voer, een of ander onheil hulle sal tref. Maar wat presies moet hulle van haar sê? “Dat ek Hom so liefhet dat my menslike liggaam dit nie langer kan dra om sonder Hom te wees nie; ek voel behoorlik siek van verlange. Soos ek nou voel, begeer ek niks anders nie as net om in sy arms te kan wees”.
(Mede Bruid van Christus, laat hierdie woorde van die Bruid, diep, diep in ons harte insink; laat ons daaroor peins en bid, totdat dit vir ons in ‘n geestelike werklikheid omskep is.)
Haar woorde wek ‘n wrewel in hul gemoedere op: “Wat verbeel dié vrou haar tog nie. Sy dink sy staan vêr bo ons uit in haar godsdiens”. Snedig vra hulle haar: “Wat is u beminde meer as ‘n ander beminde, dat u ons so besweer het?”
Sy slaan haar oë droomverlore op na bo en sonder om ‘n oomblik te aarsel, begin sy om oor haar Beminde te getuig, Hom aan hulle te beskryf:
DIE BRUID PRYS HAAR BEMINDE; HY TROON UIT BO ALLE ANDER.
DIE BRUID: My beminde is skitterend wit en rooi, uitnemender as tien duisend. (5:10).
Hy is heilig, nie net vlekkeloos wit nie maar skitterend soos blink gepoetste metaal soos verblindende lig en sy Bloed reining almal met wie Hy in kontak kom om net so rein soos Hy te wees.
DIE BRUID: Sy hoof is goud, suiwer goud; sy haarlokke is golwende, swart soos ‘n raaf, (5:11).
Die hoof is die sentrum van die mens se fakulteite soos sy denke, sig, reuk, smaak, gehoor, stem en spraak. Dit gee aan hom die vermoë om sy emosies by wyse van sy gesigsuitdrukking te openbaar en bied aan hom die geleentheid om sy algehele voorkoms deur middel van sy haarkapsel en baard (in die geval van ‘n manspersoon) te manipuleer en te verfraai. Goud is ‘n edelmetaal wat nie verweer nie en in daardie tyd, die duurste en begeerlikste van alle metale. ‘n Hoof van goud simboliseer uitnemendheid in elke opsig. ‘n Raaf se vere is algeheel swart, glansend swart. Dit simboliseer, elegansie, status en krag. Staatsmotors van volksleiers soos presidente en konings, is dikwels swart. Die golwing van sy hare dui op gedurige versorging daarvan. In menslike terme: “Jy kan Hom deur ‘n ring trek”.
DIE BRUID: … sy oë soos duiwe by waterstrome, in melk gewas, sittend by ‘n volle bron. (5:12).
Sy oë weerspieël sy gedagtes. Hulle is soos duiwe wat kom water drink: vreedsaam, rustig. Met sy doping in die Jordaan het sy Hemelse Vader Hom ook so getipeer deur die Gees wat in die gedaante van ‘n duif op Hom neergedaal het (Luk 4:22). Sy bediening aan sy beminde is sag, vertoostend, liefdevol. Sy uitnodiging is:
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. (Mat 11:28).
Die duiwe is in melk gewas. Hulle is spierwit, soos wol, soos sneeu (Jes 1:18). So is Hy: gedurend sy drie en dertig en ‘n half jaar van mensheid het Hy nie ‘n enkele keer in dade, woorde of gedagtes gesondig nie – net so ‘n groot wonder as sy opstanding uit die dode.
Hy drink uit ‘n rustig vloeiende rivier en ‘n volle bron, naamlik die volheid van sy Vader Wie die Bron van alle goeie dinge is.
DIE BRUID: Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup. (5:13).
Die wange gee vorm, aantreklikheid, skoonheid en karakter aan die gesig. Vervalle wange spreek van ‘n siek liggaam, bekommerde gemoed of ouderdom. Hoë wangbene in ‘n dame word deur sommige skoonheidkundiges as bevordelik vir mooiheid geag. Haar beminde se wange is nie net aantreklik soos talle terrasbeddings wat met oorleg, die een bo die ander teen die berg uitgelê is nie, maar ook multimaal geurig soos beddings wat ‘n menigte van balsem- en talle ander soorte geurige plante bevat.
Met sy lippe dra Hy sy liefde by wyse van ‘n sagte woordelose kus aan sy beminde oor en met sy lippe fluister Hy liefdeswoorde in haar ore.
DIE BRUID: Sy hande is ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet, sy liggaam ‘n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene. (5:14).
Die ronde stawe dui waarskynlik op die tien vingers wat almal van mekaar verskil en elk ‘n unieke doel het sodat Sy hande, soos ons sê, “Vir niks verkeerd staan nie”. Niks is vir Hom te groot om te doen nie: die son, maan en al die menigte sterrestelsels het Hy met sy vingers berei (Ps 8:4). Ook is niks te klein en nietig vir sy vingers nie. Hy het hulle in ‘n dowe man se ore gedruk en die senuwees, haarsensors en dromme aangeraak sodat hy ineens kon hoor. Toe spuug hy op sy vinger en raak die man se tong daarmee aan en, … daar praat hy (Mar 7:33).
Deur ‘n miljoener se vingers vloei baie goud, maar die Bruidegom se hande, ís goud. Daarmee het Hy al sy goud in besit van die mens gegee (Hag 2:8). Sy hande bewerk beide lewe en dood. Met sy vinger het Hy sy wil vir sy volk op kliptafels gegraveer (Deut 9:10) en met sy hand het Hy vir Koning Bélsasar sy vonnis voor sy oë op die muur van sy banketsaal neergeskryf (Dan 5:5).
Hy dra nie net soos ‘n aardse koning twee of drie ringe met edelgesteentes aan sy vingers nie; sy hande skitter met inlegsels van deurskynende groen of rooi sierstene van chrisoliet soos wat op die borstas van Aäron, in die visies van Esegiël en die fondamentstene van die Nuwe Jerusalem gesien word.
Sy liggaam van skouers tot heupe is van ivoor, nog ‘n kosbare kleinood wat deur konings bietjie vir bietjie teen groot koste versamel is. Koning Salomo se troon was van ivoor (1Kon 10:18). Net die super rykes kon dit bekostig. Boonop was haar beminde se “romp” bedek met saffierstene wat, net soos chrisoliet op verskeie plekke in die Woord in die konteks van uitnemendheid vermeld word.
Wat die Bruid se Beminde bo ander besonders maak, is dit: die konings van die aarde kan hul huise, trone, klere en krone met goud en edelgesteentes versier, maar Hy is sèlf die goud en die begeerlike gesteentes. Hierdie aarde kosbare items is slegs beeldend van die skoonheid van sy geestelike wesensvoortreflikhede, karaktertrekke. Die goud, chrisoliet en saffier is die prentjie; Hy is die werklikheid. Hy is die hemelse, goud, chrisoliet, saffier en ivoor.
DIE BRUID: Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyn goud; sy gestalte is soos die Líbanon, uitgesoek soos die seders. (5:15).
Marmer kom in baie verskillende kleure voor en is gepoleerde graniet, sorgvuldig gekap en voorberei vir ‘n spesifieke doel, in hierdie geval om te dien as pilare vir ‘n belangrike gebou. Dit kan gewig dra sonder om daaronder te swig. So is haar beminde se bene: soos hoë, breë, marmerpilare. Hy dra die onberekenbare gewig van die heelal op sy skouers, stap dag vir dag daarmee deur die eeue. Vir sy kneg Moses het Hy gehelp om die las van sy volk, Israel te dra (Num 11:14). Die afgedwaalde skaap tel Hy op sy skouers en dra hom terug na sy kraal toe (Luk 15:14). Ook sy swakke bruidjie, wat so dikwels knak onder die druk van haar daaglikse lewe en verantwoordelikhede, dra Hy, sonder haar medewete, dag vir dag, soos wat ‘n man sy seun dra, (Deu 1:31). Vir sy kneg Moses het Hy gehelp om die las van sy volk, Israel te dra (Num 11:14).
Sy gestalte is regop soos die seder; dit wys altyd na bo, na die hemele waar God die Vader woon; dit groei hoog uit bo die ander bome; dit is ‘n gesogte boom vir elke meester skrynwerker.
Soos die Libanon berg uittroon bo die omringende laagliggende gebiede, troon Hy uit bo elke mens wat was en is en ooit sal wees. Selfs die skeptiese inwoners van Jerusalem moes dit erken.
En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa. (Mar 1:27,28).
DIE BRUID: Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is geheel en al die lieflikheid self. Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem. (5:16).
Hy is nie net ‘n fynproewer vir wat soet en mooi en reg is nie, maar geestelike soetigheid gaan van Hom af uit soos heuning uit die korf van die by. Hy is die bron van soetigheid: liefde, blydskap, optimisme, vrolikheid, vriendelikheid, mededeelsaamheid, vergewensgesindheid.
Maar genoeg daarvan. Wat kan sy meer sê; HY IS DIE LIEFLIKHEID SELF!
NOU DAT DIE DOGTERS VAN JERUSALEM VAN HOM GEHOOR HET, WIL SOMMIGE WEET WAAR HY TE VINDE IS.
Waar het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek? (6:1).
Na hierdie asemrowende beskrywing van die Bruidegom, het die meerderheid van die dogters van Jerusalem hulself waarskynlik verleë uit die voete gemaak, maar miskien het een of twee dalk bekoord agtergebly om saam met die Bruid na haar begeerlike Beminde te soek omdat ‘n onweerstaanbare begeerte na Hom ineens in hul harte opgevlam het.
My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel. (6:2).
Nee, hier in die stad Jerusalem is Hy nie tuis nie. Hy het na sy Bruidstuine, die harte en lewens van sy Bruid gegaan.
Ek is my beminde s’n, en my beminde is myne—hy wat herder is onder die lelies. (6:3).
Na haar desperate, pynlike soektog, vul sy Gees haar hart met ‘n heerlike gloed van stille sekerheid: “Ek is my Beminde s’n en Hy is myne. Ek is sy lieflike lelie en Hy is my bekoorlike Herder:
Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. (Ps 23:4).
~~~~~~~~~~