EFÉSIËRS 5

A. DIE CHRISTELIKE LEWENSWANDEL IN KONTRAS MET DIE HEIDENSE LEWENSWYSE (Deel 2)

 5:1-21

  1. Die Christelike lewenswandel kan verder soos volg uitgebeeld word:
    1. Dit is soos die lewe van ‘n kind wat sy ouers werklik liefhet en respekteer en hulle vreugde verskaf deur hulle uitmuntende voorbeeld in elke opsig noukeurig na te volg (5:1).
    2. Dit kan ook vergelyk word met Christus, wat, weens sy liefde vir ons en vir God sy Vader, homself as ‘n lieflike offer aan beide oorgegee het (5:2).
  2.  Voorbeelde vanuit die praktiese lewe om hierdie intense soeke na God se begeertes betreffende ons opofferende, heilige lewe:
    1. Tensy dit nodig is, moet selfs nie onderwerpe soos pornografie en gierigheid bespreek nie; vermy growwe grappe, onwelvoeglike stories en ligsinnige praatjies , want dit betaam nie die heiliges om genot te vind in gesprekke oor dinge waaroor die toorn van God uitgespreek is nie; vul jul gesprekke eerder met danksegging oor wat God vir jul gedoen het (5:3-5).
    2. Daar is dinge wat mense in die geheim doen, wat so afskuwelik is dat ‘n ordentlike mens skaam moet wees om dit selfs te noem (5:12).
    3. Moenie dronk word nie (5:18).
    4. Wees baie versigtig om nie mislei te word deur die ydele woorde van mense wat probeer om kwaad te regverdig, dit aanvaarbaar en goed te laat lyk, verskonings daarvoor te vind nie; moenie dat hulle lewenswyse jou enigsins beinvloed nie (5:6,7).
    5. Moenie deelneem aan die werke van die duisternis nie, maar neem eerder standpunt daarteen in, opponeer dit met alle mag, openbaar dit vir wat dit is deur dit te belig met God se Woord en dit openlik te veroordeel (te bestraf) (5:11).
    6. As kinders van die lig (wat uit die duisternis te voorskyn gekom het):
      • Toets elke gesindheid, gedagte, woord en daad noukeurig om seker te maak dat God dit goedkeur (5:10).
      • Kyk of hulle voldoen aan die standaarde van goedheid, geregtigheid en waarheid; indien wel, slaag hulle die toets; dan is hulle die vrug van die Heilige Gees (5:9).
    7. Wees wawyd wakker (opgewek uit die slaap van die dood waarin julle vroeër was), maak julle oë wyd oop en sien alles duidelik vir wat dit is, want die lig wat Christus uitstraal, sal helder oor julle lewens skyn (5:14).
    8. Wees versigtig in elke tree wat jy daagliks gee, en maak seker dat jy jou voet op vaste grond plaas, in die voetspore van Jesus (5:15).
    9. Neem toe (groei) in hemelse wysheid wat jou in staat sal stel om die wil van God in alles duidelik te onderskei (5:17).
    10. Koop die tyd uit; dit wil sê, gebruik jou beperkte tyd op aarde wyslik sodat elke oomblik vir jou ‘n ewige voordeel sal inhou (5:16).
    11. Wees heeltemal oorgegee aan die Gees van God soos wat ‘n dronkaard homself vrylik oorgee aan alkohol en in sy liggaam die oorweldigende gevolge daarvan ervaar en buite hohself optree (5:18).
    12. Wanneer julle as lede bymekaarkom, sing allerhande psalms, lof- en ander geestelike liedere; meer nog, oral waar julle selfs daagliks rondbeweeg, sing in julle harte tot eer van God (5:19).
    13. Dank God die Vader gedurig en vir alles wat jy ervaar in die Naam van onse Here Jesus Christus. (5:20)
    14. Laat dit julle, ter wille van julle eerbied vir God, nie ‘n probleem wees om aan mekaar onderdanig te wees wanneer dit nodig is nie. (5:21)

B CHRISTELIKE LEWE TOEGEPAS OP DIE HUWELIK

 5:22-33

  1. Om die huweliksverhouding tussen man en vrou te verduidelik, gebruik Paulus die voorbeeld van die verhouding tussen Christus en sy Bruid, wat die Kerk is:
    1. Christus is die hoof van die kerk. (5:23)
    2. Die lede is die geraamte en vlees wat sy liggaam uitmaak. (5:30)
    3. Hy het die gemeente lief. (5:25)
    4. Hy het sy hele lewe gegee om haar te verlos. (5:25)
    5. Hy het haar van onreinheid gereinig deur middel van die waterbad van sy Woord. (5:26)
    6. Sy doel is dat sy op die laaste dag (deur die Heilige Gees wat nou haar skoonheid voorberei) aan Hom voorgestel mag word, sonder vlek of gebrek, heilig en verheerlik. (5:27)
  2. Aan die hand van bostaande, is die man/vrou-verhouding dus soos volg:
    1. Die man is die hoof (leier) van die vrou (het gesag oor haar) (5:23).
    2. Hy moet so sterk en intiem aan sy vrou verkleef raak, dat hy en sy een liggaam word, en hierdie band moet voorkeur geniet bo die band wat hy as kind met sy ouers het (5:31).
    3. Hy moet sy vrou net so liefhê soos homself, soos wat hy sy eie liggaam liefhet (haar hare soos sy hare; haar gesig soos sy gesig; haar arms soos sy arms, haar bene soos sy bene, ens.) (5:28,29).
    4. (Sy liefde vir homself moet gesien word, nie in die wyse waarop hy homself pamperlang nie, maar in hoe hy vir sy vrou sorg en haar beskerm.)
    5. Hy moet daagliks sy gerief, tyd, middele, ens. ter wille van haar opoffer (5:25).
    6. Hy moet alles in sy vermoë doen sodat sy vrou fisies, emosioneel, sosiaal, intellektueel en geestelik opgebou kan word om alles te bereik wat God bedoel het dat sy moet wees op die dag wanneer sy as bruid aan Christus voorgestel sal word (5:27).
    7. Om hierdie intieme verhouding te bewerkstellig, is ‘n huwelik van een man, een vrou die enigste aanvaarbare verbintenis (5:33).
    8. Die vrou, van haar kant, moet haar man respekteer (lojaal teenoor hom wees, kennis neem van en verstaan wat hy doen, waardeer wat hy vir die gesin doen, hom bystaan waar moontlik, hom aanmoedig, hom verdedig wanneer ander sleg van hom praat, hom bewonder, hom prys en haar met graagte aan sy leierskap onderwerp soos sy aan die Here sou doen (5:24,33).

///////////

TERUG NA INDEKS                                                                                          NA VOLGENDE HOOFSTUK



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha