2025-10-20A
LEES PSALM 88 ASSEBLIEF VOORAF AANDAGTIG DEUR
BEANTWOORD DAN DIE VOLGENDE VRAAG:
IN WATTER OPSIG VERSKIL HIERDIE PSALM VAN AL DIE ANDER?
A. DIE SKRYWER
Die skrywer identifiseer homself as Heman. In 1Ko 4:31 lees ons dat Etan in Israel, saam met Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, as besonder wys gereken was, amper net so wys as koning Salomo self. Dat so ‘n uitsonderlike man nou in so ‘n verskriklike depressie kon verval, so ‘n morbiede gedig kon skryf. Die Psalm bevat nie ‘n enkele sprankie hoop nie!
B. DIE SKRYWER SE TOESTAND
Hy beskryf sy toestand as dat hy van jongs af ellendig en deurentyd op die punt was om te sterwe. Lewenslank het teëspoede hom agterhaal en gery tot op hierdie punt dat hy behoorlik voos was daarvan. Nou is hy op die punt om te sterwe. Die doderyk waarin die afgestorwenes verkeer, is reg langs hom; hy skuur daarteen. Hy is onder die lewendes gevange geneem en verban na die ryk van die dooies, na dié wat in die oorlog verslaan is; na die kuil van gesneuweldes wat reeds in die graf lê; hy kan enige oomblik met grond bedek of die steen agter hom toegerol word.
Hy is daar waar die hand van God nie meer reik en werksaam is nie; tewens die Here het hom reeds afgeskryf as ‘n lewende mens en dink nie meer aan hom as iemand aan wie aandag gegee moet word nie. Hier lê hy magteloos en kragteloos in ‘n ontsaglike diep kuil. Daar is geen moontlikheid om teen die steil wande na bo uit te klim nie. Elkeen van sy probleme is soos ‘n nagtelike duisternis voor sy oë. Rondom hom is dit donkerte op donkerte; geen ligstraaltjie van hoop dring tot hom deur nie. Dit voel asof die lewenstou wat hom met God verbind afgekap is sodat hy nooit weer deur die Almagtige uit die kuil opgetrek sal kan word nie.
Ja, hy voel asof die Here onbeskryflik toornig op hom is en dat hierdie woede van God hom nog dieper na onder toe afdruk. Dit is soos wanneer woeste golwe van die see ‘n desperate, spartelende drenkeling, elke keer wanneer hy sy kop uitsteek om asem te skep, net weer tref en dieper in die kolkende water inforseer sodat dit hom algeheel omvou. So gaan die golwe van God se toorngloed oor hom.
So afstootlik, so afskuwelik, is sy fisiese toestand dat selfs hulle wat hom goed ken, sy vriende, haastig en vêr van hom af weg vlug. Hy het ‘n punt van totale radeloosheid bereik.
C. HEMAN SE OPROEP TOT GOD
Maar …
Maar hy, Heman, is ‘n gelowige. Hy glo in die enige, ware God. In wysheid het hy homself lank tevore al onlosmaaklik in geloof aan die God van Abraham, Isak en Jakob verbind en nou, in sy desperaatheid, roep hy tot Hom, die God van sy heil (sy welsyn, sy verlossing). Hy roep dag en nag; hy smeek. Daar waar hy magteloos in duisternis lê, hef hy sy hande op na Bo. En daarbo waar die Here deur die hemelruim beweeg, kom sy gebed Hom tegemoet, staan sy gebed Hom voor op die weg; roep hy Hom aan om hulp.
Ja, die koord van sy geloof het dun gerek; hy proklameer nie meer soos vroeër rondborstig dat God alles kan doen nie, nee hy vra nog net of God kan:
11 Kan U aan die dooies ‘n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela. 12 Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering? 13 Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid?
Dit klink amper soos die gebed van die man wat met sy duiwelbeste seun na Jesus gekom het:
Mar 9:23 En Jesus sê vir hom: Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. 24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
En dan kom sy vraag, dié vraag wat elke gelowige so dikwels vra wanneer onverklaarbare onheil hom tref: WAAROM?
88:15 HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?
D. DIE WAAROMS IN ONS LEWENS
Waarom, waarom, waarom? Dit is die vraag wat Job ook in hoofstuk na hoofstuk gevra het: “Here, ek weet ek is nie volmaak nie maar het ek so verskriklik gesondig dat U al tien my kinders en bykans al my vee in u toorn moes neem?” Job het gedink dat sonde moontlik die oorsaak van sy verskriklike ellende was. Sy vriende was sommer heeltemal oortuig daarvan dat hy heimlike sondes gepleeg het en dat dié hom nou ingehaal het. Met hierdie pynlike veroordeling het hulle hom verder gegesel. Maar sy sonde was nie die oorsaak nie; daar was ‘n ander, dieperliggende rede. Die bose het die Here uitgedaag dat Job hom net ter wille van die seëninge wat hy van Hom ontvang, dien. As Hy dit van hom sou wegneem sou Job hom verwerp. Die Here het toe hierdie toets oor die egtheid van Job se geloof toegelaat en die duiwel moes bedroë wegvlug.
Alle kinders van God word nie so intens soos Job en Heman getoets nie maar niemand sal nie soms deur hewige storms gaan nie. Dan vra ons “WAAROM”, maar kry nie antwoorde nie, want as ons die antwoord ontvang, sal die storm sy mag en waarde verloor.
Psalm 88 word deur sommige kommentators beskou as een van die mees sombere, morbiede van almal. Talle ander Psalms bevat ook klagtes oor die omstandighede waarin die skrywer verkeer maar, hul gedigte of liedere eindig gewoonlik met hoop dat die Heer op hul bedes ag sal gee en dat dit spoedig met hulle beter sal gaan. Maar nie so in Heman die Esrahiet se komposisie nie. Soos wat die Psalm begin, so gaan hy voort en so eindig hy ook; sonder ‘n sprankie van hoop. Dit is die Psalm van verlatenheid.
E. DIE REDE VIR HIERDIE PSALM
Waarom het die Heer dit in sy Psalmbundel opgeneem sodat dit vandag in die Heilige Skrif as geïnspireerde Woord van God verskyn? Daarmee sê Hy vir ons dat Hy intens by, en in elk van sy kinders teenwoordig is wanneer hulle ly. Hy was so diep in Heman se situsie betrokke dat Hy hierdie lied deur hom geïnspireer en hom die krag gegee het om dit neer te skryf. Hy het selfs verder gegaan en aan die kinders van Korag die toonsetting daarvoor gegee sodat dit in die tempel gesing kon word. Dit is tydens eredienste gesing!
Selfs wanneer ons voel dat die hele gebou van ons lewe op ons ingestort het en dat ons in die duisternis op ons rug in die rommel lê, moet ons weet dat die Heer deur sy Gees met ons daar is. Soms, soos in die geval van Job, haal Hy ons uit en bou vir ons ‘n nuwe, mooier huis en lewe hier op aarde en eindig ons Psalm met lofprysing, maar anders neem Hy ons daaruit hemeltoe soos vir Lasarus (Luk 16:22) en klink ons loflied daarbo saam met die engelekore.
F. HEMAN OF PAULUS?
Laat ons dan eerder maar ons mismoedigheid aflê en Paulus, wat ook geweldig ter wille van Jesus moes ly, se raad navolg al slaag ons net 10% daarin:
Fil 4:4 VERBLY JULLE ALTYD IN DIE HERE, EK HERHAAL: VERBLY JULLE!
//////////