2024-10-15
A. DIE BRUIDEGOM GENIET WAT SY BRUID HOM BIED
DIE BRUIDEGOM: 5:1 Ek het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk; eet, vriende, drink en word dronk, bemindes.
In die vorige vers (4:16) het ons gelees hoe die Bruid tot die Heilige Gees gebid het om haar gees op te wek om die vrug en geur van die liefde voort te bring sodat haar beminde daardeur na haar hartstuin gelok en verkwik kan word.
Nou sien ons dat dit net so gebeur het. Hy het die lieflike geur waargeneem en na haar tuin gegaan en na hartelus geniet van die oorvloed wat daar was. Let egter daarop dat Hy dit wat Hy daar gevind het, sýne noem: “Mý mirre, mý balsem, mý heuningkoek, mý heuning, mý wyn, mý melk.” So is dit natuurlik ook want dit alles, is die opbrengs van sy kruiswerk. Die Heilige Gees het daarna dit wat Hy verwerf het en aan hom behoort, geneem en sy Bruid se hartstuin daarmee versier, bevrug en met geur belaai. Verwysende na die Heilige Gees, het Hy self gesê:
Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. (Joh 16:14).
Alle geestelike gawes kom van die Vader (Jak 1:17) maar Hy gee dit aan die mens deur en kragtens sy Seun se verdienste, waarna dit ‘n werklikheid in ons lewens word deur die werking van die Gees.
Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. (Efe 4:7,8).
Verder let ons daarop dat die Bruidegom sy vriende en ander bemindes nooi om saam te kom feesvier. Hulle het nie toegang tot die hartstuin van sy Bruid nie, maar word uitgenooi om, om die tuin te vergader en die liefdesgeure en vrugte uit die hand van die Bruidegom te geniet.
B. DIE BRUID SLAAP EN DIE BRUIDEGOM IS UITGESLUIT.
DIE BRUID: 5:2 Ek het geslaap, maar my hart het gewaak. Hoor, my beminde klop: Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte! Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels.
Agge nee, netnou nog het die Bruid gevloei en geblom in alles wat mooi, lieflik en loflik is, en nou lê sy ver van haar tuin en Bruidegom af en slaap agter ‘n toe deur. Wat het tog gebeur?
In die natuurlike lewe is die slaap ‘n Godgegewe seën wat gegee is om die fisiese liggaam ‘n ruskans te gee. (Interessantheidshalwe: Daar is ‘n mierspesie waarvan die hele nes vir 8min elke 12 uur hul werk staak en ‘n blaaskansie geniet.) Die Heer sluimer of slaap egter nooit nie (Ps121:4). In hierdie opsig is ons dus nie na die Belld van God geskape nie.
Nou is dit interessant om te let op wat die Bruid sê: “Ek het geslaap, maar my hart het gewaak”. Hieruit kan ons die afleiding maak dat die wedergebore kind van God se lewendgemaakte gees, wel volkomelik na die beeld van God geskape is en ook nooit slaap nie. Die skadukant daarvan is egter dat die mens vir solank hy in die liggaam is, net soos die res van die skepping, aan die nietigheid onderworpe is (Rom 8:20) en dat die gees, alhoewel wakker, deur die slapende liggaam ingeperk is en nie met sy Skepper in bewustelike kontak kan bly nie. (Die Here kan natuurlik by wyse van ‘n droom na hom toe kom. ‘n Persoon wat slaap is, soos ons weet, totaal onbewus van wie ook al by sy bed staan en hom dophou. Die slaap verplaas hom in heel ‘n ander wêreld. Selfs as jy saggies met hom sou praat, sal hy dit nie waarneem nie. Iets moet gebeur om hom uit sy slaap op te wek.
En dit is presies die geestelike toestand waarin die Bruid van ons verhaal verkeer. Die slaap waarin sy is, is egter nie heilsaam om haar geestelik te laat uitrus nie; nee, dit is ‘n doodse slaap wat oor haar gekom het deurdat sy toegegee het aan haar ou natuur (die vlees) wat onophoudelik probeer om die oorhand wat hy in haar lewe verloor het, te herwin. Hieroor skryf die apostel Paulus soos volg:
Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. (Rom 7:18,19).
Waar die Bruid van Christus net soms in so ‘n slaap versink, verkeer die onwedergeborene gedurig daarin. Daarom maan Paulus ook in Efes 5:14:
Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
Terug na die teksvers wat ons voor oë het. Die arme Bruidegom het die heel nag buite haar kamer sit en wag dat sy te voorskyn moet kom want dit is gewoonlik wanneer ‘n voorwerp nie rondbeweeg nie dat dou daarop neerslaan. Vir dou om op ‘n persoon se hare te vorm is veral vreemd.
Hoe sou sy Bruid tog in so ‘n slaap beland het? In Matt 26:38-40 lees ons ook van so ‘n geval waar Jesus se uitverkorenes aan die slaap geraak en hom in die donker nag in ‘n tuin, genaamd Getsémané, alleen gelaat het.
Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. … En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Die dissipels het fisies aan die slaap geraak omdat hulle geestelik reeds aan die slaap was en nie sy vroeëre waarskuwings dat Hy daardie nag gearresteer, ter dood veroordeel en gekruisig sou word, ter harte geneem het nie. Hulle was so gewoond om gedurig onder sy beskerming te wees, dat hulle versuim het om tot God die Vader vir hul eie geestesbeskerming te bid. Hulle was gevolglik aan die slaap betrap toe die vyand se bende skielik opdaag om hul Meester te arresteer en het skandelik van hul Bruidegom af weggevlug.
Wanneer die Bruid op ‘n hoogtepunt van geestelike oorwinning verkeer, is sy dikwels nie bedag op die gevaar wat haar deurentyd bedreig nie. Daarom waarsku die Bruidegom:
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. (Efe 6:11,12).
Die Bruidegom het sy eerste twee skepsele van die begin af al gewaarsku om hul tuin, die Paradys, nie net te bewerk nie, maar ook te bewaak. Omdat hulle hul waaksaamheid verslap het, het hulle hul Eden verloor en is die hek agter hulle gesluit. Die slang hou ons elke oomblik dop vir ‘n geleentheid om ons hartstuin te herower. Sluimerende Bruid, hoe mooier jou tuin, hoe begeerliker is dit vir hom wat snags rondsluip om te roof en te steel.
C. DIE BRUID WORD WAKKER GEMAAK.
Terug na ons teks. Moeg en koud van sy naglange waak, besluit die Bruidegom om te probeer om haar wakker te maak. Hy staan op, stap nader en klop aan haar deur. Hy hoor haar beweeg. Sy het blykbaar wakker geword, maar reageer nie op sy klop nie. Miskien dink sy dit is sommer ‘n vreemde wat iets wil leen en hoop dat hy sal dink sy het nie gehoor nie en weggaan en later, op ‘n meer geleë tyd, sal terugkom.
Maar, daar voor die deur, smag sy hart na haar, daarom roep Hy:
Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte! Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels.
Sy herken sy stem. Wonderlik is sy woorde: geen verwyt daarin nie; soos altyd, slegs lofprysing. Nou kan sy nie langer voorgee dat sy nie gehoor het nie. Maar sy is gladnie lus om op te staan nie want dit is nog diep in die nag en sy wil haar slaap eers voluit geniet, daarom antwoord sy lusteloos:
DIE BRUID: 5:3 Ek het my kleed uitgetrek, hoe kan ek dit weer aantrek? Ek het my voete gewas, hoe kan ek dit weer vuil maak?
Haar woorde maak seer maar sy verlange na haar oorheers. Wat kan Hy tog doen? Die deurknop oopdraai en instap, dit sal Hy nooit nie. Sy is sy susterbruid nie sy bedbruid nie. Haar privaatheid is vir hom baie, baie belangrik. Sy moet uit eie keuse lewenslank aanhou om hom lief te hê en om hom bo sy teenstander, wat haar gedurig allerhande genietinge aanbied, te verkies.
Wat nou gemaak? As sy naglange wag in die koue nag nie haar hart raak nie, wat meer kan Hy doen? ‘n Gedagte skiet hom te binne; Hy sal nie soos sy opponent net vir haar beloftes maak nie, maar eerder ‘n bewys gee van wat Hy reeds vir haar gedoen het. Hy stoot die bo-deur effens oop en steek net sy hand daardeur sodat sy dit kan sien. Waarom sy hand? Daarin is nog duidelik te sien die skeurmerk van die spyker waarmee Hy aan die kruis vir haar vasgenael was. Toe hoor Hy ‘n snik-uitroep:
DIE BRUID 5:4 My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom; 5 ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel.
In ‘n oogwink het Hy haar uit haar sieleslaap wakker geskud, haar gefokusde liefde herwin.
D. DIE BRUIDEGOM VERDWYN.
DIE BRUID 5:6a Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; …
Wat ‘n totaal onverwagte wending in hierdie opwindende verhaal! ‘n Mens sou gedink het dat hulle die volgende oomblik in mekaar se arms sou wees in hartstogtelike omhelsing en “kusse van die mond”, soos in 1:2, maar nee, Hy het homself vinnig uit die voete gemaak; totaal verdwyn, sonder om ‘n woord met haar te wissel. Was Hy dan nou skielik kwaad vir haar? Wou Hy haar terugkry, seermaak, vergeld, straf vir haar koudheid teenoor hom? O, nee, die liefde is nie kleinlik nie, dit:
… soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, … 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. (1Kor13:5,7).
Nou wat is dan die rede? Goddelike liefde moet soms iets kosbaars van iemand weerhou sodat hy kan besef hoe uniek die item is wat hy deur sy nalatigheid verloor het. Dan sal hy in die toekoms sorgvuldiger daaroor waak. Die Bruid het haar Bruidegom se passievolle liefde as vanselfsprekend begin aanvaar. En, Hy het haar nog net so lief, maar sy moet eers op ‘n pynvolle wyse leer om sy liefde te waardeer sodat sy, Hom en sy Gees nie weer sal bedroef nie.
En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. (Eph 4:30).
Sy optrede om van haar af weg te stap is fyn beplan. Dit is soos tugtiging: die ienddoel is dat hul liefdesverhouding daardeur sal verdiep:
Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. (Heb 12:11).
E. DIE BRUID OP SOEK NA DIE BRUIDEGOM.
DIE BRUID: 5:6b … ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.
Vir elkeen wat eenmaal die teenwoordigheid van God gesmaak het, is dit ‘n ondraaglik, pynlike belewenis om van hom verlate te wees. Die Bruid sê dat sy haar besinning verloor het. Dawid het dit ook beleef toe hy owerspel gepleeg en daarna ‘n regverdige man vermoor het. Luister na sy droewige, desperate, soekende gebed:
Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. (Ps51:13,14).
Jesus het dit ook aan die kruis belewe toe ons aaklige skuldlas op hom gerus en sy Vader sy aangesig van hom af weggedraai het. In angs het Hy luid uitgeroep:
Eloi, Eloi, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 27:46).
F. DIE BRUID LOOP DEUR ONDER DIE WAGTE VAN DIE STAD.
DIE BRUID: 7 Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref; hulle het my geslaan, my gewond; die wagte by die mure het my mantel van my afgeneem
Die Bruid is weer terug tussen die wagte van die stad wat ons in 3:3 agtergelaat het. Ons kyk eers na fisiese wagte soos polisie- of sekuriteitsbeamptes. Hulle is deur die stadsowerhede aangestel om toe te sien dat wet en orde ooreenkomstig die regulasies wat deur daardie owerhede opgestel is, nagekom word. ‘n Vrou wat alleen in die oggendure in die strate ronddwaal, sal as ‘n straatvrou aangesien en (vroeër jare) gearresteer en in ‘n tronksel aangehou gewees het.
In ons verhaal egter, is die stad die godstad, Jerusalem, waar die Bruid welkom en veilig behoort te wees. Die Wet wat daar geld, is immers deur die Heer self gegee. Dit is bedoel as ‘n wegwyser na Christus. Die probleem het egter ontstaan dat van die vroegste tye af, die meerderheid van die volk en sy leiers die Wet liefdeloos, hardvogtig toegepas het. Hulle het dit as ‘n sweep in plaas van ‘n herderstaf gebruik; reël op reël en gebod op gebod.
In die teks onder bespreking (5:7) sien ons hoe dat die wagte die Bruid van Christus verwond, haar oorkleed afstroop en haar half nakend laat. Die predikers van die Wet stel onmoontlike eise en laat die Bruid al skuldiger en stukkender voel. Hulle erken nie die Kleed van Geregtigheid wat Jesus aan die kruis verdien en self tydens wedergeboorte om die skouers van sy Bruid gehang het nie (Sag 3:3,4). Hulle skeur dit van haar af deur hul aanklagte wat haar selfs laat twyfel of haar skuld ooit vergewe is.
G. DIE PAD TERUG NA HOM
God is Gees. Die mens bestaan uit gees, siel en ‘n fisiese liggaam. Ons is gewoond om in ‘n fisiese wêreld te leef. Daarom is dit makliker om na my verlore knipmes te soek, as om in die gees na Hom soek, alhoewel hy nie ver van ons af is nie:
Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. 12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 14 Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen. (Deu 30:11-14).
Die gebod van God is in die Woord en Jesus is die Lewende Woord wat uit die hemel na ons neergedaal het. In dié wat hul lewensdeur vir hom oopgemaak het, se harte het Hy kom woon. Ons hoof dus nie soos hierdie Bruid “in die stad” rond te gaan op soek na hom nie. Hy is steeds in ons hart maar het net die manifestasie van sy teenwoordigheid onttrek om ons te leer om daardie kosbare kleinnood nie gering te skat nie. Daardeur bedroef ons hom nie net nie, maar blokkeer ons ook die verdere, diepere omgang met hom. Ons moet dus nie na bo of na buite soek nie, maar na binne; in ons hartstuin.
Tydens sy verblyf op aarde het die Bruidegom persoonlik belowe dat niemand tevergeefs sal soek nie.
Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. (Mat 7:7)
Wanneer die Bruid wegdwaal, vervaag haar geloofsbeoefening egter en wanneer sy daarna na hom toe wil terugkeer, is sy geneig om op ‘n vleeslike wyse na Hom te soek. Daarteen waarsku Jakobus ons:
Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. (Jak 1:6).
Alle vleeslike pogings om deur “goeie werke” die Bruidegom te vind en Hom nader aan jouself te trek, is vrugteloos. Sulke soekes en pogings sal jou in die een doodloopstraat na die ander laat beland. Selftransformasie laat jou net al verder in die doolhowe van die stad laat wegdwaal.
Die grondoorsaak van geestelike verflouing is die vleeslike drang om selfstandig, onafhanklik van God te lewe. Om na ‘n hartsverhouding met Hom terug te keer, moet die Bruid die Skriftuurlike weg van sondebelydenis en rustige kinderlike geloof volg.
As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. (1Joh 1:9).
En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. (Jes 58:11).
Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. (Jes 40:11).
Die geheim om die Bruidegom te vind, of opnuut te vind, is om jou hand in die hand van die Heilige Gees te plaas. Sy funksie en taak is om die Seun te verheerlik deur die mens na Hom te lei en al meer na sy Beeld te transformeer. Die Gees woon in die hart van die Bruid, so sy hoof maar net na binne te kyk, te bely dat sy afgedwaal het en te vra dat Hy sy taak in haar volbring.
MAG ONS LEER OM NET IN DIE ARMS VAN SY GEES TE ONTSPAN.
~~~~~~~~~~