Philippolis Nuus No 12; 2015-10-15

PHILIPPOLIS

PHILIPPOLIS

BESOEKERS

  • Dr Bruce Copley, ‘n internasionaal bekende motiveringspreker, het op uitnodiging van Deon Beneke, op 4 Oktober ‘n “AAHA LEARNERSHOP” by Otterskloof Wildreservaat aangebied. Dit is deur 8 persone bygewoon. Een van hulle, Eugenie Jacobs sê hieroor: “Ek het dit baie interessant gevind en my perspektief is verbreed in dié sin dat ek besef het dat ‘n mens meer ruimte moet laat vir ander mense en hul sieninge, omdat elkeen die lewe weens sy eie agtergrond en lewenservaring verskillend benader.” Sansie Geel se kommentaar was: “Ons is nuwe lewensvaardighede geleer bv om, wanneer jy met iemand anders in ‘n konflik situasie beland, oopkop te dink en te probeer om die onenigheid so op te los dat dit vir beide partye positief sal eindig.”
  • Geleerdes op trapfietse. Onlangs is ons verras deur ses advokate en ‘n prokureur wat vanaf Garieb met hul trapfietse hierheen gery, ‘n nag oorgebly en toe verder is na Otterskloof, Van der Kloof en Orania. Hulle is nie vennote nie, maar het hul kantore almal in dieselde gebou en op een vloer in Johannesburg en het ‘n tydjie gelede besluit om saam so ‘n kort fietstoer deur die Karoo te onderneem. Ek het die geleentheid aangegryp en hulle vir sowat 15 km met my fiets op die Luckhoffpad vergesel. Dit was so ‘n voorreg om, al was dit nou maar vir die eerste keer hierdie jaar, die stofpad in geselskap van andere te kon aandurf, en wat ‘n gawe groep om saam mee die wiele te laat sing! (Ben Lubbe) Hier volg twee uittreksels uit ‘n artikel wat een van die groep, Cor Grobler, geskryf het en wat moontlik mettertyd in die tydskrif “Advocate” sal verskyn.
    Over many years I have watched passing Karoo landscapes from the comfort of an air-conditioned vehicle, thinking that, one day, I would like to cycle through the Karoo – not on roads but through the veld, not racing – just cruising and enjoying nature.
    Then, in November 2014 I mentioned my dream to Du Toit Maritz over a cup of coffee and his enthusiasm prompted me to start planning. Initially we thought that we would be only two, perhaps three, cyclists. The qualifying criteria would be that a participant had to be over 55, over weight and must have smoked at least 50 cigarettes per day at some stage in his life. The tour would be named “Karoo Kruip”. It would be a cruise with no competition elements and maximum distances of 50 kilometres per day. “
    Cor vertel dan verder van al hul wedervaringe, die lekker en die “eina” en sluit af met die woorde “ hierdie was ‘n wonderlike ervaring en ek hoop ek het die voorreg om dit weer te doen .”

OORLEDE

  • Chris Diedericks is op 2015-09-16 in die ouderdom van 77 jaar oorlede as gevolg van vog op die longe. In sy jonger dae het hy in Brittanje onderwys gegee, na SA teruggekeer en vir 22 jaar tale gedoseer by Kearsney College, Bothas Hill, naby Durban waar hy ook as koshuisvader diens gedoen het. Na sy aftrede het hy en sy vrou Mariet hulle in Philippolis gevestig waar hy verveeld geraak en by die plaaslike hoërskool vir nog ‘n aantal jare klas gegee het. Hy het ook Engelse Veghoenders geteel en saam met sy vriend Brinley Pritchard, wyd en syd gaan skou bv in Pretoria, Durban en Worcester. Hy was ook lief vir musiek, ‘n goeie ghitaarspeler en het in die kerkkoor gesing. ‘n Periode na Mariet se afsterwe is hy met ‘n ou skool vriendin, Susan, getroud en het hy by haar in ‘n aftree-oord in Parys gaan woon. (Chris was ook ‘n entoesiatiese fietsryer en ek en hy het meermale saam ente uit die dorp uit gery – Ben Lubbe.)
  • Louise Jansen is op 2015-10-08 in die ouderdom van ongeveer 85 jaar oorlede, nadat sy ‘n rukkie tevore ‘n beroerte aanval gehad het. Sy en haar man, Johan, het vroeër op die plaas Bloedfontein geboer waarna hulle sowat 12 jaar gelede na Philippolis verhuis het. Na sy afsterwe, het sy vir die afgelope twee jaar in die Wilgers aftree-oord in Pretoria gewoon. Louise was ook ‘n kenner van medisinale plante.

SIEKES

  • Daan Pretorius is na ‘n kort kuiertjie by sy huis in Philippolis, weer in die Rosepark hospitaal in Bloemfontein opgeneem omdat die ingeplante dialise apparaat nie na behore gefunksioneer het nie. Daar het hy duiselig geword, geval en sy heup gebreek waarna ‘n operasie op hom uitgevoer is. Hy is nog baie swak. Op sy versoek plaas ons die volgende nota wat van hom en sy broer, Jan, wat hom ondersteun, ontvang is: “Ons wil graag teenoor die gemeenskap van Philippolis ons hartlike dank uitspreek vir al hul gebede, telefoonoproepe en besoeke.” Jan voeg by: “Hier het ek nuwe vriende gemaak en is ek ook as familie aanvaar.”
  • Danie van den Berg het op 14 Oktober ‘n klein inplantingsoperasie in Medi Kliniek, Bloemfontein ondergaan en hoop om eersdaags weer tuis te wees.

GEBOORTES

PD en Berina Jacobs het op 30 September ‘n baba van 3,62 kg ryker geword. Berina kuier tans by haar ouers op Brandvlei. Mag die Heer se seën op die gesin rus.

SPORT

  • Die VVA se Otterskloof Charity Challenge vind vanjaar plaas op Sat. 17 Oktober. Dit behels fietswedrenne, padwedlope en daarna sommer net ‘n gesellig saam verkeer. Skakel Lulani by 078 801 9776.
  • Die Cape Argus Fietswedren is geskeduleer vir 6 Maart 2016 en maak voorsiening vir 35000 deelnemers. Die 109km roete sal gevolg word. Inskrywings sluit op 26 Oktober.
  • Die PPA Mangaung padfietswedren vind plaas op 1 Nov 2015 met Grey Kollege as vertrekpunt. Inskrywings sluit op 19 Oktober.

TROETELDIERE

  • Die Camdebo Sterilisation Initiative (Graaf-Reinet) beywer hulle vir die sterilisasie van troeteldiere in arm gebiede. (Sien hul webwerf by http://www.graaffreinet.co.za/listing/camdeboo_sterilization_initiative) Doreen Atkinson tree vir die organisasie as verteenwoordiger op in Philippolis en kan gekontak word by 083 274 5461. Hulle soek op die oomblik ‘n tuiste vir Eva, ‘n 3 jaar oue Bull Terrier teef.
  • Carin Pienaar (slaghuis) verskaf tydelike huisvesting aan ‘n pragtige Basset teef wat met pleitende, hang-oë soek na ‘n tuiste waar sy vertroetel sal word. Skakel 0834747124.

REЁNVAL

Behalwe vir los buitjies hier en daar, het ons geen reën gehad nie. Alhoewel die veld, danksy die ligte winterreën nog gangbaar is, is die hitte besig om die landskap uit te droog en moet ons die Here saam vertrou om die hemelse reënvesters vir ons te open.

PHILIPPOLIS SKOU

Die Skou word gereël vir 5-7 November – sommer net om die draai. Laat ons betyds ons sake so reël dat ons hierdie aanbieding na behore kan ondersteun.

MUNISIPALE AANGELEENTHEDE

  • Die waterpyplyn is voltooi. Nou word daar gewag op Centlec wat ‘n substasie moet oprig en ‘n oorhoofse lyn bou om die pompstasie van elektrisiteit te voorsien. Dit kan nog twee maande duur om te voltooi.
  • ‘n Hele aantal inwoners het skokkende waterrekeninge van meer as R2000 ontvang nadat hulle watermeters vir baie lang periodes nooit gelees was nie.
  • Die rioolstelsel het verstop geraak met die gevolg dat rioolafval in die spruit gestort word en oor die suidelike laagwaterbrug tussen die dorp en Poding Tse Rolo stroom. ‘n Kontrakteur is aangestel om hieraan aandag te gee maar indien dit nie spoedig opgeklaar word nie, kan die rioolwater terugstoot in die pype en die stelsel tot stilstand kom.

TE KOOP

TWO PROPERTIES FOR THE PRICE OF ONE!
Secure, 3-bedroomed original Karoo house in historic street of Colin Fraser. Oregan pine ceilings and floors. Beautiful light fittings. Completely re-wired. Private back courtyard with garden shed, dam and spacious studio, ideal for artist, hobbiest or writer. Large back yard and garage.
Vacant land – 6 kms from Philippolis at Waterkloof (4461 square metres). R520 000 for both properties. Contact streetjenny9@gmail.com; +27 76 726 8647.

STINKHOUT BOOMPIES: R30 tot R60. Skakel Doreen Atkinson by 083 274 5461.

LIEFDE IN AKSIE

Daar is ‘n gesegde wat lui: “Ek het goed groot geword, maar groot sleg geword.” As dit die geval is, het ‘n mens dan net jouself daarvoor te blameer as jy as volwassene jarelank duur daarvoor betaal.
Deesdae is daar egter al hoe meer kinders wat nie “goed” grootword nie omdat hul ouers self die pad byster geraak het en nie in staat is om ‘n behoorlike opvoeding aan hulle te bied nie. Húlle kanse om tot voorbeeldige volwassenes en verantwoordelike landsburgers te ontwikkel, is skraal, en so word ‘n nageslag van verwronge mense gekweek.
Hier in ons midde het ons die afgelope tyd gewaar geword van ‘n groeiende groep kinders wat nie net gewoonweg stout is nie, maar lelike dinge doen waarvoor hulle eintlik in ‘n kinderhof verhoor behoort te word; maar is dit die antwoord, en kan dit nie voorkom word nie? Ly hulle nie dalk honger nie? Voel hulle nie verwerp deur hul ouers en selfs deur hul mede skoliere nie?
‘n Groepie van nege besorgde inwoners, waarop die skole en polisie ook verteenwoordig was, het onlangs bymekaar gekom om te bepaal wat reeds in dié verband gedoen word (soos bv deur die VVA) en te besin oor wat meer nog gedoen kan word. Na ‘n lang debat is besluit om nie ‘n groot struktuur met verantwoordelikhede te skep nie maar om eerder van individue wat die hart daarvoor het, gebruik te maak, om onder andere, sê eenmaal per week, met klein groepies kinders en ouers in Doreen Atkinson se kantoor te ontmoet, op informele wyse bande met hulle te smee en hulle dan te help om geleidelik ‘n beter waardestelsel in hul lewens gevestig te kry. Die groep wil basies ware liefde gee en die uitreik toelaat om self verder te ontwikkel.

Enigiemand wat ’n roering in sy of haar hart vir hierdie saak voel, kan vir Doreen skakel by 083 274 5461 of vir Deon by 082 956 9291.

BYBELSTUDIE-MATERIAAL
Blaai gerus ‘n bietjie deur hierdie webwerf. Daar is heelwat kos vir die siel.

UITGEWER
Hierdie nuusblad word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe. Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *