REЁNVAL
Behalwe vir los buitjies hier en daar, het ons geen reën gehad nie. Alhoewel die veld, danksy die ligte winterreën nog gangbaar is, is die hitte besig om die landskap uit te droog en moet ons die Here saam vertrou vir deurdringende reën.
WATERBEPERKINGS
Vroeër of later moes dit kom en gister is ons gemeenskap skriftelik in kennis gestel dat waterreserwes baie laag is en noodsaak dat beperkings ingestel moet word. Water sal daagliks vanaf 12h00 tot 17h00 afgesny word en addisionele afsnytye vanaf 21h00 tot 05h00, is reeds geïmplementeer.
PHILIPPOLIS SKOU
Louis Fourie, die sekretaris, berig soos volg: Die Philippolis skou wat ononderbroke sedert 1928 gehou word, is aangebied vanaf 5 tot 8 November met die skaaphondkompetisie wat vroeër reeds plaasgevind het. Dit was die eerste jaar dat Dorper skape te sien was. Daar was ook Boerbokke en die Merino inskrywings was besonder hoog, dalk meer as by die Bloemfontein skou. Verder was daar beeste en pluimvee te sien. Wat betref die saalperd- en siertuigkompetiese, was daar minder inskrywings as vorige jare omdat die skooleksamens hierdie jaar vroeër plaasvind, maar die inskrywings was van besonder hoë gehalte. Die Kwela TV span het die verrigtinge verfilm en dit sal na verwagting op die eerste Woensdag in Desember op KykNet gebeeldsaai word.
NUWE ID KAARTE
Ons huidige groen ID boek word vervang deur ‘n ID kaart. Bo 60’s kry dit gratis. Die naaste Binnelandse Sake kantoor wat dit kan uitreik, is te Koffiefontein (053 205 0924), so nie, Bloemfontein. Die masjien neem self die foto. ‘n Gratis taxidiens is na Koffiefontein ingestel om Philippolis inwoners te help. Skakel Sammy Mokone (073 784 8639) om te bespreek. (Bydrae verkort. Met dank aan Nic du Toit – Landdros.)
OORLEDE
Daan Pretorius is op 2 November in die ouderdom van 74 jaar oorlede en op 5 November is ‘n gedenkdiens vir hom in die Gereformeerde Kerk, Philippolis deur sy kleinneef, Danie Pretorius waargeneem. Huldeblyke is deur sy seuns Alex en Niël gebring waarin hulle getuig het van sy besondere opgeruimdheid en sin vir humor en aangehaal het uit wat hy by geleenthede gesê het.
Daan het aan die Rand grootgeword. Van skooldae af al was besigheid in sy bloed. Soms het hy armoedige klere aangetrek en by ‘n huis se agterdeur gaan vra of daar dan nie ‘n hoendertjie te kope was nie wat hy dan dikwels persent gekry het. ‘n Maand of wat later het hy, geklee in sy beste klere, dieselde hoender wat nou mooi vet was, geslag en by die dieselfde huis, maar by die voordeur aan dieselfde mense teen ‘n goeie wins verkwansel.
Later in sy lewe het hy ‘n finansiële terugslag belewe deurdat iemand hom verkul het, maar met vriende en familie se hulp het hy weer op die been gekom en as ‘n welgestelde man heengegaan.
Sy vrou, Lettie, het ‘n paar jaar tevore reeds gesterf. Daan self het die afgelope 7 maande aan nierversaking gely en was merentyd aan ‘n dialise apparaat gekoppel terwyl hy deur sy jonger broer, Jan, getrou versorg is. Die familie wil graag ook hul waardering betuig aan Dr du Toit Botha vir die bystand wat hy verleen het.
SIEKES
Johan Lampbrecht is tydelik in die Trompsburg Tehuis vir Bejaardes opgeneem met interne bloeding.
MUNISIPALE AANGELEENTHEDE
• Die waterpyplyn: Daar word nog steeds gewag op Centlec wat ‘n substasie moet oprig en ‘n oorhoofse lyn bou om die pompstasie van elektrisiteit te voorsien. Dit kan nog twee maande duur om te voltooi.
• Die skokkende waterrekeninge van meer as R2000 wat sommige inwoners ontvang het, was blykbaar foutief; so raadpleeg net eers die Munisipaliteit voordat jy betaal.
• Die probleem met die rioolstelsel is tydelik opgelos deurdat ‘n gedeelte van die afvoerpyp vervang is.
TIGER CANYONS LOOP DEUR ONDER RAMPE
Die plaas waar Asiatiese tiere geteel word en so ‘n gewilde toeriste aantreklikheid is, het die afgelope tyd onder verskeie aanslae deurgeloop.
• Eers het een van hul werknemers op tragiese wyse gesterf terwyl hy in Johannesburg was.
• Daarna het twee van die tiere uitgekom en by die bure drie beeste en ‘n kalf gevang en deels verorber wat uit die aard van die saak vergoed moes word. Die twee tiere moes ook geskiet word.
Verskeie moontlikhede is geopper oor hoe hulle ontsnap het, onder andere dat hulle baklei, ‘n grensdraad beskadig en so uitgekom het. ‘n Ander scenario is dat hulle in die kransgedeelte van die plaas op een of ander wyse oor die grensheining gespring het, maar ook dit is as te vêrgesog verwerp met die gevolg dat dit steeds ‘n raaisel bly wat eintlik ‘n groter probleem skep omdat dit, dit moeilik maak om ‘n herhaling te voorkom.
Dat roofdiere soms uit aanhouding ontsnap, is ‘n onomwonde feit. Selfs uit dieretuine waar dit moontlik is om hoë veiligheidsmaatreëls te handhaaf, glip hulle soms deur die net, hoeveel te meer waar hulle vrylik in groot kampe rondloop. Dit hou natuurlik groot gevaar in vir almal in die omgewing, asook vir dié wat onbeskermd in die omliggende paaie verbygaan. Al sou dit net eenmaal in tien jaar gebeur, bly dit eenmaal te veel.
‘n Paar maande gelede het ‘n fietsryer in hierdie distrik naby ‘n kamp met leeus (wat aan ‘n ander eienaar behoort) verbygery om later die dag met skok te verneem het dat ‘n vier stuks van hulle kort tevore uitgekom en dood luiters in dieselfde grootpad afgestap het. ‘n Groep advokate wat op ‘n fietstoer was, is meer onlangs ook met dieselfde pad by die leeukamp verby. Sulke persone is absoluut weerloos en wat ‘n ramp sal dit nie wees as hulle aangeval en hul lewens verloor nie. ‘n Mens verwag nou eenmaal nie leeus of tiers op die Karoo vlaktes nie, daarom rus daar ‘n baie hoë verantwoordelikheid op die eienaars om te verseker dat die diere nooit uitkom nie.
Nietemin, tiere bring pitte in vanaf verskeie lande, so laat ons vertrou dat hulle hul omheinings sal respekteer en ons as fietsryers sal maar ‘n houertjie met “pepper spray” saamvat en na Bo kyk dat die Heer sy hand oor Sy tiere sowel as oor ons sal hou.
• ‘n Derde ramp wat Tiger Canyons getref het, was dat hulle weiveld deur weerlig aan die brand gesteek is en tussen 2000 en 3000 hektaar afgebrand is. Op ‘n stadium was 80 brandslaners, insluitende ‘n groep van Bloemfontein, besig om die brand te bestry maar weens die warm weer en sterk wind, het dit 5 tot 6 dae gewoed voordat dit geblus is. Nieteenstaande die skade wat hulle self gely het, het Tiger Canyons ‘n gedeelte van hul weiveld aan ‘n buurman, wie se veld ook in die slag gebly het, beskikbaar gestel as weiding vir sy beeste totdat dit weer reën: ‘n mooi gebaar.
AANGERAND EN BEROOF
Wilma Swanepoel wat saam met haar man, Ben, in Mei vanjaar in Philippolis kom woon het, is onlangs in Bloemfontein deur grypdiewe van ‘n goue halskettingkie beroof toe sy SARS se kantore verlaat het. Sy kon gelukkig ‘n kruisie met gemonteerde diamante wat aan die kettingkie vas was, in haar hand vasklem sodat dit nie ook daarmee heen was nie; maar wat ‘n traumatiese belewenis. Boonop is sy om haar nek lig beseer in die gestoei om die ketting.
INBRAAK EN DIEFSTAL – PEP STORES
Ons klerewinkel, Pep Stores, het ook deurgeloop toe diewe oor ‘n naweek daar ingebreek, twee kluise met hoekslypers oopgesny en ‘n aansienlike bedrag in kontant gesteel het. Min klere word vermis. Die inbraak is Maandagoggend om 7.45 met die oopsluit van die winkel ontdek. Die boosdoeners het waarskynlik van elders gekom; ons plaaslike mense gaps mos maar net so ‘n ietsie van die rak af en los die res vir Melanie en haar span om van te leef.
UIT-“STEDIGES”
• Annatjie van der Westhuizen kuier by haar haar seun en dogter in die Kaap en daarna by haar seun in George tot Januarie toe.
• Annatjie Jacobs was vit ‘n heen-en-weertjie saam met haar kleinseun Kaap toe. (Hy het ‘n studiebeurs sowel as ‘n kontrak met die Leeus Rugby Unie bekom.)
SPORT
- Die VVA se Otterskloof Charity Challenge wat op Sat. 17 Oktober plaasgevind het, was ‘n groot sukses. Dit is veral deur heelwat meer fietsryers van oral af bygewoon. Die fietsroetes is taamlik tegnies maar ‘n lekker uitdaging vir die entoesiastiese bergfietsryer. Namate hierdie jaarlikse wedren wyer bekend raak, behoort dit ‘n baie populêre byeenkoms te word.
- Philippolis distrik bied verskeie moontlike interessante, distrikspad veldfietsroetes wat wissel van 45 tot 90 km. Daarbenewens kan ritte na die omliggende dorpe van tot 170km aangepak word. Fietsryers kan in een van die talle gastehuise tuisgaan en dan elke dag ‘n ander roete aanpak. Wie sal dit adverteer en organiseer?
TROETELDIERE
Die Camdebo Sterilisation Initiative (Graaf-Reinet) beywer hulle vir die sterilisasie van troeteldiere in arm gebiede. (Sien hul webwerf by http://www.graaffreinet.co.za/listing/camdeboo_sterilization_initiative) Doreen Atkinson tree vir die organisasie as verteenwoordiger op in Philippolis en kan gekontak word by 083 274 5461.
HOMOSEKSUALITEIT
Soos wat meeste van ons reeds weet, het die NG Kerk se algemene sinode met 114 stemme teen 63 goedgekeur dat homoseksuele predikante van dié kerk nie meer selibaat hoof te leef nie maar dat hulle ‘n “burgerlike verbintenis” met mekaar kan aangaan en daarbinne seksuele omgang met “burgers” van dieselfde geslag kan hê; mans met mans en vroue met vroue. Kerkrade sal die reg hê om hieroor hul eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël en predikante sal die reg hê om self te besluit of hulle sulke verbintenisse sal voltrek of nie.
DIE NG KERK PHILIPPOLIS Sê HIEROOR:
Ds. (Dr.) Carin van Schalkwyk sê dat sy die Sinode se besluit aan die Gemeente oorgedra het en dat dit op ‘n volgende kerkraadsvergadering bespreek en oor besluit sal word.
DIE GEREFORMEERDE KERK Sê HIEROOR:
Die woordvoerder van die Kerk was nie vir kommentaar beskikbaar nie. ‘n Sekere leraar van die Kerk sê dat hy nie sulke verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag sal voltrek nie maar homoseksueles geestelik sal bystaan.
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE KERK Sê HIEROOR:
“Ons treur oor die feit dat ʼn eens gereformeerde kerk die duidelike boodskap van die Skrif oor die seksuele lewe van die mens verlaat het. … Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings
moet … as in stryd met die wil van God afgewys word. Mense wat teen homoseksuele gedrag in die krag van Christus worstel en dit nie wil uitleef nie, moet met groot empatie deur die kerk ondersteun en pastoraal begelei word.” (Prof I.A Brink, verklaring 14 Okt 2015.)
‘N DAME VANUIT ONS GEMEENSKAP SÊ HIEROOR:
‘n Dame wat ‘n paar jaar gelede afgestudeer maar deur die Kerk ligitimasie geweier is, het in ‘n onderhoud gesê dat sy bly is dat die NG Kerk sinode hierdie besluit geneem het en dat sy nou weer om ligitimasie heraansoek sal doen maar nie seker is of sy haarself daarna beroepbaar sal stel nie.
DIE SKRIF Sê HIEROOR:
• God het die mens as man en vrou geskape en Sy doel was dat die mens ‘n nageslag sal voortbring: En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde… (Gen 1:27,28)
• Die Here se Ou Testamentiese uitsprake oor seksuele wanverhoudings:
a. Oor homoseksualisme: En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle. (Lev 20:13)
b. Een van die prominente sondes van Sodom was homoseksualisme onder mans: hulle wou selfs met die engele geslagsgemeenskap hê. Sodom is met vuur en swawel verdelg: En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.. (Gen 3:13)
c. Die Here se uitsprake oor seksuele wanverhoudings reik veel weier en sluit verskeie vorme van bloedskande in (Lev 17-20). Dit is duidelik dat die Here sterk sieninge het oor die mens se seksuele gedrag en God het nie verander nie, Hy is vandag nog dieselfde.
• God se uitspraak oor homoseksualisme in die NT en oor hoe ons mense wat hiermee worstel moet hanteer:
a. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. (Rom 1:26, 27) Dit is duidelik dat die daad as sulks veroordeel word, ongeag of daar nou ‘n mooi verhouding tussen die partye is, aldan nie. ‘n Man sou dus nie kon argumenteer: “My vrou is oorlede en my skoonpa ook en ek en my skoonma is lief vir mekaar en het agting vir mekaar, dus kan ons ons nou maar in ‘n geslagsverhouding met mekaar verbind word nie. Dit is bloedskande. Net so kan mans nie met mekaar, of vroue met mekaar, verbind word omdat hulle mekaar “liefhet” nie. Dit is nie reine liefde wat van God kom nie.
b. God se liefde vir die sondaar: maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (Rom 5:8)
c. God se opdrag is dat ons selfs die kleed wat met sonde bevlek is, sal haat maar die sondaar wat daarin toegewikkel is, daaruit sal ruk : … maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is. (Jud 1:23)
LAAT ONS BID
• Laat ons bid vir mense wat met hierdie probleem te kampe het. Laat ons bid dat hulle tot die oortuiging mag kom dat verlossing moontlik is en dat hulle dit sal soek. Iemand wat met ‘n gesplete verhemelte gebore is, gaan tog nie sê “God het my so gemaak,” en niks daaromtrent doen nie, nee hy gaan alle hulpmiddele tot sy bekikking aanwend om genormaliseer te word. Ons almal ly aan defekte as gevolg van die sondeval van die mens, maar in Christus is daar hoop vir verlossing. Vir die alkoholis is daar hoop en vir die homoseksualis is daar hoop. Prys die Here!
• Laat ons vir bid dat ons plaaslike NG kerkraad dieper insig in die wil van God sal openbaar as die Sinode en hulle van die sinodale besluit sal distansieer.
• Die Sinodale besluit raak tewens nie net die NG Kerk en sy gemeentes nie, maar die ganse Christendom in SA. Dit raak elke weergebore kind van God wat die vaandel van die Here Jesus Christus hoog hou en poog om Sy opdrag uit te leef om vir Hom die sout en lig in hierdie wêreld te wees.
LIEFDE IN AKSIE
In die vorige uitgawe van hierdie nuusblad is berig dat ‘n groep besorgde inwoners besluit het om uit te reik na kinders in die gemeenskap wat gebrek gaan aan behoorlike opvoeding, hongerly of andersinds nie behoorlik na omgesien word nie.‘n Paar bemoedigende verwikkelinge het plaasgevind:
- Die kleuterskool in Bergmanshoogte is nou weer in volle swang.
- Itumeleng, (oorkant die motorhawe) ontvang weer befondsing van die Staat sodat hulle kan voortgaan om kos aan hulpbehoewende kinders te verskaf.
- ‘n Groepie van drie kinders oorreed om terug te gaan skooltoe. Dit is bewerkstellig deur op ‘n informele wyse met hulle kontak te maak.
Met die Desember skoolvakansie wat voorlê, sal baie kinders weer hongerly omdat hulle die kos wat hulle by die skole ontvang, sal verbeur.
UITGEWER
Hierdie nuusblad word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe. Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.