WATERPYPLYN
Die waterpyplyn vorder fluks alhoewel daar hard gewerk word om plek-plek deur die klipformasies te breek. Op twee plekke sal plofstof gebruik moet word om die rots te kraak. Kennisgewings is, na verneem word, reeds in dié verband in die dorp versprei. Die pompstasie is dakhoogte voltooi en twee pompe is geinstalleer. ‘n Aantal kleppe en “breathers” is ook geinstalleer. Die kontrakteur verwag om die projek teen middel Augustus af te gee.
REëNVAL
Volgens berigte ontvang was die gemiddelde reënval gedurende die afgelope 30 dae sowat 4mm.
SIEKES
• Daan Pretorius is nog in sy woonstel in Krugersdorp maar dit gaan sommer baie beter met hom. Hy kan nou self die dialise toerusting hanteer en kan deur die dag vryelik rondbeweeg.
• Danie en Chrisna van den Berg is weer tuis. Die heupoperasie op Chrisna was ‘n groot sukses. Sy herstel goed en loop met behulp van ‘n loopraam. Danie worstel met verskeie kwale en ‘n verpleegster woon by hulle in om hom te versorg terwyl Chrisna buite aksie is .
• Rina le Roux word nog behandel om haar voor te berei vir twee operasies wat sy waarskynlik sal moet ondergaan.
• Klein Beneke is deur sy seun na Pretoria vir verdere mediese ondersoek geneem om te bepaal wat die oorsaak vir sy ylhoofdigheid is.
OORLEDE
• Tannie Andriette (Andrie) Fourie is op Vrydag 3 Julie in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Sy is vanuit die NG Kerk deur Ds. Carin van Schalkwyk begrawe en op hul plaas Kalkfontein ter ruste gelê.
• Marcell Mellet van Gariep (De Stijl Hotel) wat plaaslik ook goed bekend was, is verlede Saterdag in die ouderdom van 40 jaar oorlede nadat hy op die N1 snelweg met ‘n vragmotor in ‘n botsing betrokke was. Hy was ongetroud.
• Mag die Heer die oorledenes se geliefdes vertroos soos Hy alleen dit kan doen.
GEBOORTES
Bennie en Lettie Breytenbach het op 11 Junie ‘n tweeling (Bennie en Lené) ryker geword. Hulle het ‘n maand en ‘n half voor die bestemde tyd gearriveer en toe slegs 1,7 kg en 1,9 kg onderskeidelik geweeg. Dit was benoude oomblikke vir Lettie toe sy vir ‘n nood keiser in die operasiesaal ingestoot was. Omdat die babas so vroeg gekom het, was daar ‘n wesentlike gevaar van bloeding op die brein en ander komplikasies. Lettie vertel hoe sy dit alles maar net in gebed aan die Here opgedra en later met groot verligting verneem het dat alles goed afgeloop het en dat dit nie eers nodig was om suurstof toe te dien nie. Die tweetjies is in ‘n broeikas versorg tot op 3kg, voordat hulle huis toe gebring kon word. Baie geluk aan die trotse ouers.
VERJAARSDAE
• Kobie Gouws en Annette Look het op 9 Julie hul 80ste verjaarsdae gevier. Albei is nog baie aktief. Mag die Heer vir hul nog baie goue jare toevoeg.
• Sovêr ons weet is Rina se moeder, Marie Coetzee, in die ouderdom van 91 jaar, nou ons oudste Blanke inwoner.
BESIGHEDE
Alle aanduidings is dat FOODZONE binnekort sal oorgaan in die hande van een van ons bekende plaaslike inwoners, wie beoog om voort te gaan om dit as ‘n kruideniersware besigheid te bedryf.
POSDUIF WEDVLUGNUUS
Een van Danie Cilliers se duiwe het op die onlangse Mahikeng – Philippolis wedvlug uit 110 duiwe die eerste plek in die Colesbergklub behaal en die afstand teen ‘n gemiddelde spoed van 132,18km per uur afgelê. Baie geluk (ook aan die duif)!
CHRISTELIKE AKTIWITEITE
• APK eredienste word Sondae om 10 vm gehou in die Waterkloof kerkgebou. Elke 1ste en 3de Sondag van die maand word die dienste deur ‘n leeraar gelei.
• NG Kerk Sondagoggenddienste is om 10vm.
• Gereformeerde Kerk Sondagoggenddienste is normaalweg om 9.30vm.
• Fanie en Adelé Venter se huisbyeenkoms is op Dinsdagaande om 6.30; almal welkom. Skakel hulle by 051 773 7049.
• Vir gebed en geestelike berading, skakel Ben Lubbe by 083 276 1887.
• “Soldiers 4 Christ”, ‘n interkerklike Christelike bediening onder leiding van Dr. Gideon Niemand, ‘n vroeëre satanis, het ‘n seminaar, KEN JOU VYAND, in die lapa by die skouterrein gehou vanaf 26-28 Junie. Johan en Amanda le Roux doen verdere opvolgwerk. (Skakel 072 549 8954).
DIE GROOTSTE FLATER OOIT?
Elkeen van ons het een of ander tyd in ons lewens al iets gedoen wat ons duur te staan gekom het; ‘n storie wat ons nie graag oorvertel nie. Die geskiedenis van die Hubble teleskoop is so ‘n storie.
Die Hubble was die die duurste teleskoop wat ooit in die ruimte geplaas was; in ‘n baan 575 km bo die aarde. Dit het R5 000 000 000 gekos maar van die begin af was die beelde wollerig en onduidelik – wat ‘n skok en teleurstelling. Ondersoek na die oorsaak van die probleem, het aan die lig gebring dat die hoofspieël van 2,5 m in deursnee, verkeerd geslyp was; die holte was te vlak. Die rede hiervoor was dat die tegnikus wat die slypwerk gedoen het, die slyptoestel verkeerd gemonteer het deurdat hy ‘n sekere skroef onderstebo vasgebout het en boonop het niemand agterna getoets of die spieël korrek gefunksioneer het nie. Ongelooflik. Vyfduisend miljoen rand het waardeloos om die aarde gewentel.
Gelukkig kon die fout ‘n jaar en agt maande later herstel word, maar teen ‘n prys: R3 332 040 000! Om dit te doen, moes sewe ruimtereisigers na die Hubble reis, die tuig met ‘n ruimte-arm gryp, nadertrek en herstel. ‘n Duur fout; maar ten miste kon dit reggestel word en daarna het die ruimteteleskoop tot nou toe nog, asemrowende inligting van die ruimte na die aarde teruggesein.
Ek en jy loop gevaar om selfs nog ‘n groter flater te begaan want ons besit elkeen ‘n lewe wat meer werd is as selfs die dure Hubble en boonop het God ons ontwerp om vir ewig te bly voortleef. Met die sondeval het ons lewens erg beskadig geraak; ja, tot so ‘n mate dat ons algeheel onbruikbaar is vir die doel waarvoor die Heer ons geskape het en gevolglik nie in die hemel toegelaat sal word nie maar op die heelal se ashoop sal beland.
Die goeie nuus is egter dat ons oor ‘n handboek beskik wat vir ons stap vir stap lei om ons geestelike spieël weer reg te slyp sodat dit die volmaakte beeld van God kan weerkaats.
Daardie handboek is natuurlik God se Woord. Maar Paulus skryf aan die jong Timótheüs hy moet leer om hierdie Woord “reg te sny,” met ander woorde om dit reg te gebruik en om nie soos die tegnikus ‘n skroef onderstebo in te draai en die kosbare spieël te verongeluk nie. Wanneer ons die Woord verkeerd verstaan, monteer ons God se slyptoestel verkeerd en sal ons lewens verkeerd geslyp word. Elke mens is eerstens sy eie tegnikus, slyper, van sy eie lewe. Die Heilige Gees sal wel Sy hande op ons hande plaas as ons Hom toelaat en ons leer hoe om te slyp. Nou waarsku Paulus ook dat daar in die laaste dae leeraars sal wees wat fabels (dwaalleringe) sal uitdink en opdis na die smaak van elke mens, dws. leraars wat die Woord verdraai; wat Dit verkeerd aanmekaarsit, verkeerd vertolk.
Om die Woord stelselmatig te bestudeer en te bepeins, kos tyd en toewyding, maar so kan ek sekermaak dat ek die waarheid in diepte verstaan en as ek my siel verder wil verkwik deur ook na ‘n preek te luister, sal ek gou-gou agterkom as die prediker ‘n “skroef onderstebo indraai” en die Beeld van my Heer en die waarheid van Sy leer vertroebel en verwring, in plaas daarvan om dit op te helder.
Om die diep ruimte van die heelal deur die Hubble te bekyk, is asemrowend maar om die Heer en die diepte van Sy verborgenhede deur die Skrif te aanskou, is nog groter. Dit is wat God ons belowe in 2 Tim 3:16,17: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Wanneer ek dan verseker weet wat die Woord leer, moet ek toelaat dat die Woord my lewe slyp totdat dit presies inpas in God se wil. Dit kan nogal seer wees! Die vonke sal spat want daar is dele van my ou natuur wat deur die jare so hard soos ‘n diamant geword het. Die holte in die Hubble was te vlak geslyp. Ons is miskien gewillig dat die Woord ons so ‘n bietjie bolangs poleer dat ons darem nie te sleg lyk vir die mense hier om ons nie maar, “Oe Here, tog net nie so diep in my siel, in my trots, in my ou gewoontes inslyp nie. Here dit is baie seer soos wanneer die tandards deur die been in die senuwee inboor.” Ja, Hy weet dit is pynlik maar Hy wil dat ons: onberispelik en opreg sal (kan) wees, kinders van God sonder gebrek, te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,… .” (Filip 2:15) en Kol 1:22: om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; …” Ons Hemelse Tegnikus weet presies wat Hy doen!
BYBELSTUDIE-MATERIAAL
Kos vir die siel. Kyk gerus ‘n bietjie na die Bybelstudie-materiaal en ander leestof in Afrikaans op hierdie webwerf . Dit bevat Bybelstudies oor die boek Genesis en die Evangelies, asook korter onderwerpstudies en “Kort Gedagtes” vir die haastige leser. Studiemateriaal kan gratis uitgedruk word sodat jy dit rustig kan bestudeer.
RUIMTENUUS
Die James Webb infrarooi ruimteteleskoop wat as opvolger vir die Hubble in aanbou is en hopelik in 2018 gelanseer sal word, se spieëldeursnee is 6 meter teenoor die Hubble se 2,5 meter en bestaan uit 18 segmente wat na lansering eers sal ontvou. Dit sal oor ‘n sonskerm so groot soos ‘n tennisbaan beskik om die instrumente koud genoeg te hou dat hulle op 5K behoorlik kan funksioneer. Daar word gehoop om daarmee dieper as ooit in die ruimte in te kyk en inligting te bekom oor toestande kort na die skepping van die heelal.
Die New Horizons ruimtetuig het nou die planeet Pluto, die verste in ons sonnestelsel na ‘n vlug van meer as 8 jaar bereik en is besig om asemrowende fotos terug te sein wat sowat 4 uur neem om ons te bereik. Die tuig het ‘n afstand van meer as 3 biljoen myl afgelê.
Om teleurstelling te voorkom moet persone wat die 2030 retoervlug na Mars wil meemaak, nou al bespreek, deposito’s betaal en plase in die mark sit om die balans by te bring. (En testamente regkry vir geval van ‘n foutjie op pad.)
UITGEWER
Hierdie nuusblaadjie word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe.
Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.