VERFILMING VAN TELEVISIEPRENT
‘n Televisiespan van 23 onder leiding van lynbestuurder Beverley, begin op 13 April plaaslik met die verfilming van ‘n rolprent genaamd “Roer Jou Voete” vir SABC3. Hulle sal 26 episodes van 48 minute elk skiet. Dit handel oor ‘n jongman wat ‘n dansklub van sy pa erf. Hy besoek die klub met die doel om dit te verkoop maar raak verlief op ‘n meisie en besluit om te bly. Die hoofrol word vertolk deur Dillon Pretorius en ander rolle deur Marno v.d. Merwe, Nicole Fortuin, Ilsa Klink en Greté Fox. Die prent sal vertoon vanaf einde Julie. Die span is in vier gastehuise gehuisves terwyl ‘n plaaslike spysenier sal sorg vir hul etes.
REЁN
• Van Zyl Lubbe; Merino (Gariep); April 42mm.
• Schalk Straus; Strydfontein; 2 x 37= 74mm vanaf 1 April.
• Heinrich Funck; tierplaas; Maart 55mm; April geen
WATERPYPLYN
Nadat goeie vordering gemaak is met die lê van die waterpyplyn vanaf die pompstasie na die opgaardam (die sloot teen die bult op is ook so te sê voltooi) het verskeie moeilik voorsienbare faktore vertraging tot gevolg gehad.
Die gedeelte van die pypleiding wat aan die westekant van Justisiestraat sal loop, bemoeilik ook die taak aangesien die bestaande watertoevoerpype na die aangrensende erwe, asook riool afvoerpype, ens. slegs 30cm onder die padoppervlak is en baie maklik beskadig kan word, veral omdat geen kaarte daarvan beskikbaar is nie.
Die projekbestuurder verwag dat die projek teen Augustus afgehandel sal wees.
Toe die Israeliete ’n waternood in die woestyn beleef het, het Moses, in opdrag van God, ’n sekere rots met sy staf geslaan en het ‘n rivier van water daaruit gestroom. Deesdae neem sulke dinge ‘n bietjie langer maar ons glo dat die krane hier by ons ook mettertyd weer heeldag sal loop.
SPORT
• Iemand wat aan die Comrades gaan deelneem? SMS na Ben by 0832761887.
• Lus vir rolbal? Trompsburg het ‘n mooi baan. Kontak Kobus by 0826936319
INTREKKERS EN WEGTREKKERS
• Katrina van Zyl, moeder/skoonmoeder van Andre en Lida van Zyl het haar in Philippolis kom vestig en onlangs ingetrek in die huis reg oorkant Jobhuis.
• Sakkie en Alfreda Smit van Parys beplan om die eerste week in Mei hierheen te verhuis: Tobie Mullerstraat 57/8. Sakkie het hier gematrikuleer en Alfreda het ook hier grootgeword. Hulle oorweeg om met ‘n besigheid te begin.
• Suzanne Pienaar is in die proses om haar huis te verkoop en verhuis eersdaags na Serenitas aftree-oord in Bloemfontein. Sy het vir 62 jaar lank diep spore in Philippolis getrap; die afgelope 15 jaar o.a. as eiendomsagent.
HUWELIKE
• Louis en Annelie Blom (Birdshaven) se dogter, Alecia, is op 28 Maart getroud met Hanre Basson. Die egpaar woon in Johannesburg.
• Stephan (veearts) en Annamarie Vermeulen se oudste dogter, Wilmien, is op 21 Maart getroud met Tristan Heinze en hulle woon nou in Centurion.
STERFGEVALLE
Ons betuig ons innige meegevoel met die naasbestaandes van die volgende persone wat heengegaan het:
• Gerald van der Westhuizen. Oorlede op 16 Februarie na ‘n kort siekbed.
• Koos Koekemoer (eggenoot van Isabel) is na ‘n siekbed van vier jaar, oorlede op 11 Feb.
• Kent Forster (vroeëre eienaar van Foodzone) wat in ‘n vliegongeluk naby PE. omgekom het. Terwyl hy met sy “Gyrocopter” ingekom het om te land het ‘n voël in die rotor vasgevlieg sodat die lemme gebreek en die vliegtuig neergestort het.
SIEKES
• Johan Lampbrecht het beserings opgedoen toe ‘n perdevul wat hy besig was om af te rig, deur ‘n hek gebreek en bo-oor hom gehardloop het. Hy is plaaslik, sowel as in Universitas behandel en is besig om te herstel.
• Daan Pretorius verkeer tans nog in ‘n hospital in Bloemfontein waar hy ‘n operasie ondergaan het weens nierversaking maar verwag om eerskomende Dinsdag weer tuis te wees.
TE KOOP
• Pampoene: drie variante. Skakel Gerda by ………………………. .
• Skilderye. Kunstenaars Chris en Susan Haw. Tel 082 858 0499. Chris bied ook klasse aan in skilderkuns, so hier is ‘n geleentheid om jou verborge kunstalent te ontwikkel.
DIE ONREGVERDIGSTE VERHOOR OOIT
Dat daar deur die eeue talle onskuldige mense ter dood veroordeel was, is gewis. Dit het dikwels gebeur as gevolg van getuies wat leuens vertel het om hul eie lewens te red. Ander redes was die aanvaarding van die getuienis van sogenaamde “deskundiges”. So is ene Claude Jones in die jaar 2000 in Amerika terreggestel omdat so ‘n kundige getuig het dat ‘n haar wat op die misdaad toneel gevind is, aan hom behoort het. Later jare toe vordering met DNA toetse gemaak is, het dit geblyk dat dié haar die vermoorde se eie was. Hoe tragies so ‘n voorval ookal is, kan ‘n mens ten miste sê dat die arme man ook maar ‘n sondaar soos ons almal was.
Die onregverdigste verhoor en veroordeling wat egter ooit plaasgevind het, was dié van Jesus Christus, die Seun van God. Kom ons kyk na net ‘n paar ongerymdhede:
In die eerste plek was Hy die enigste volmaak regverdige Persoon wat ooit geleef het. Sy ganse lewe het getuig van eerbied teenoor God die Vader en welwillendheid teen die mensdom. Sonder vergoeding het Hy rondgegaan en goed gedoen teenoor een en elk. Net Hý kon te midde van ‘n skare staan en uitroep: “Wie oortuig My van sonde?”
Nie een van die drie howe wat Hom verhoor het, het die jurisdiksie gehad om dit te doen nie. Dit is ‘n vaste internasionale beginsel dat geen land die reg het om die ambassadeur van ‘n ander land tereg te laat staan nie; hy moet aan sy eie land uitgelewer word om daar verhoor te word.
Hy was die Alleen-eienaar van die land en die mense wat Hom aangekla het. Watter reg het ‘n skepsel om sy Skepper te arresteer, aan te kla, te verhoor en tereg te stel?
Hy is onmiddellik na Sy arrestasie, gedurende die nag, in die vroeë oggendure verhoor wat algeheel in stryd was met die Sanhedrin se hofreëls wat bepaal het dat geen verhoor voor die oggend offer gehou mog word nie.
By ‘n strafverhoor moet die klag waarop die beskuldigde teregstaan, by die aanvang van die verhoor duidelik aan hom gestel word sodat hy weet waarop hy moet antwoord en watter getuienis hy moet voorlê. Dit is nie gedoen nie, maar getuies is na willekeur geroep wat elk met ‘n ander klag gekom het. Die hele ding was vooraf beplan en Hy was skuldig geag nog voor Hy by die hof aangekom het.
In ‘n gesonde juridiese sisteem moet die regter na afloop van die staat se saak, besluit of daar voldoende getuienis teen die beskuldigde ingebring is om hom skuldig te vind; so nie, moet hy hom laat gaan. Hy mag die beskuldigde nie dwing om teen homself te getuig nie, maar dit is presies wat Kajafas gedoen het toe hy sien dat daar geen geldige getuienis wat die doodstraf regverdig, teen Jesus ingebring was nie.
Deur sy klere te skeur toe Jesus verklaar dat Hy die Seun van God was, het Kajafas duidelik gedemonstrrer hoe intens emosioneel hy by die saak betrokke was. Hy was geensinds ‘n onpartydige regter nie maar eerstens die klaer, die verontregte en dan sommer ook nog die regter.
Die beskuldigde moes in drie howe direk na mekaar teregstaan: eers is hy onderwerp aan ‘n voorlopige ondervraging deur Annas, toe is Hy ondervra deur Kajafas, die hoëpriester wat later die die Joodse Raad, die Sanhedrin, bygesleep het. Nadat Hy hier veroordeel is, is Hy voor die Romeinse regter Pontius Pilatus gebring wat verklaar het dat hy geen skuld in Hom kon vind nie en Hom na Herodus gestuur wat tot dieselfde slotsom gekom het en Hom teruggestuur het om verder voor Pilatus tereg te staan.
Pilatus het ten einde rade en om homself te red, ‘n skottel water laat kom en sy hande gewas van die bloed van “dié regverdige Man” en Hom oorgegee om gekruisig te word.
Hierdie is maar net enkele voorbeelde van die uiterste onreg wat ooit deur ‘n geregshof gepleeg is.
God die Vader het dit maar laat begaan en Jesus die Seun het aarde toe gekom, welwetende dit dit was wat met Hom sou gebeur. Die rede? Sodat jou en my skuld voor God tot die laaste krieseltjie toe, betaal kon word en ons as vrygekoopte sondaars, as ‘n regverdiges, uit die hemelhof kon uitstap en die Ewige Lewe deelagtig kon word.
Die aanbod van hierdie offer staan nog; moet dit nie misloop nie!
BYBELSTUDIE-MATERIAAL
Kos vir die siel. Kyk gerus ook ‘n bietjie na die Bybelstudie-materiaal en ander leestof in Afrikaans op hierdie webwerf.
Dit bevat diepgaande Bybelstudies oor die boek Genesis en die Evangelies, asook korter onderwerpstudies en “Kort Gedagtes” vir die haastige leser. Dit alles kan gratis uitgedruk word sodat jy dit rustig onder die peperboom kan sit en bestudeer.
UITGEWER
Philippolis Nuus word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe. Kontak ons gerus by ………………………. vir navrae, of met kommentaar, wenke en nuusbrokkies. Ben is ook beskikbaar vir geestelike gesprekvoering.
Comments are disabled.