SIEN NUUSBRIEF IN BREËR FORMAAT
WATERPYPLYN
Die lê van die waterpyplyn is nog op koers en behoort voor einde Augustus voltooi te wees, maar gaan gepaard met heelwat frustrasie van inwoners wanneer elektriese kabels en waterpype beskadig word. ‘n Vergadering met verteenwoordigers van Kopanong en Bloem Waterraad, is op 10/6 gehou en verskeie probleme is bespreek, onder andere die vervanging van die asbespype waarmee die water vanaf die opgaardam na die huise herlei word.
REëNVAL (Ongeveer 1-10 Junie)
Nicolaas du Plessis, Klein Waaihoek, 17mm; Fanie Venter, Kareepoort, 17 mm; Neil Lubbe, Pypersfontein, 11mm; Schalk Strauss, Strydfontein, 12mm; Danny Gouws, Vissershoek, 30mm.
SIEKES
- Daan Pretorius is nog in sy woonstel in Krugersdorp, naby sy kinders en ook naby mediese fasiliteite waar hy voordurende behandeling vir nierversaking ontvang.
- Lulu du Plessis het longvliesontsteking opgedoen en het mooi herstel.
- Chrisna van den Berg het in Bloemfontein geval by ‘n Wimpy waar sy en Danie saam geëet het en haar heup gebreek. Na mediese ondersoek het sy voorlopig teruggekeer huis toe in afwagting van die prostese wat van Amerika bestel was. Die inplanting is intussen gedoen en sy en Danie kuier by haar kinders in Bloemfontein terwyl sy aansterk.
- Rina le Roux is n rukkie gelede in ‘n hospitaal in Bloemfontein opgeneem waar sy onder andere vir ‘n maagseer behandel is. Na ontslag word sy nou in die Trompsburg Tehuis vir bejaardes versorg.
- Hannes Kok is weer tuis nadat hy in Medi Kliniek, Bloemfontein vir long- en hartversaking behandel was. Hy word tuis versorg.
BESOEKERS
- ‘n Televisiespan het op ‘n plaas in die distrik vir SANRAL ‘n advertensie opname gedoen .
- ‘n Studentespan fisioteurapeute het ons weer vir ‘n weeklank besoek; vriendelike meelewende jongmense wat ook by ‘n Bybelstudiegroep inskakel.
- Starry Nights Karoo Cottages: Sunette Fourie berig dat hulle gedurende die afgelope 2 maande tuisgangers gehad het van die VSA, Brasilië, Duitsland, Holland, Die Ukraine, Singapoer, Engeland, Australië en Indië wat almal die tier en luiperd projek, Tiger Canyons (John Varty) kom besigtig het, sommige spesifiek om fotos te neem.
SPORT EN STOKPERDJIES
POSDUIF WEDVLUG NUUS
Uitslag Warrenton 2, Ope, 2015-05-30, Colesbergklub (waaronder Philippolis deelnemers ressorteer)
- 1ste Plek: Danie Cilliers se duif: afstand 222 km; tyd 2:25.
- 2de Plek: Willie en Gerda Carstens se duif: afstand 241km; tyd 2:38; gem snelheid: 1530 met/min (91,80km/u).
Baie geluk! Ander Philippolis entoesiaste wat aan hierdie sport deelneem, is Pietie Cilliers, Kobus Naude en Koot Snyman.
Die duiwe word die vorige dag na Colesberg geneem en vandaar, gedurende die nag, per vragmotor vervoer na die sentrum waar hulle die volgende dag losgelaat word. Die afstand na die duif se tuishok word sorgvuldig bereken en die tyd waarin hy dit afgelê het, word dan met die van die ander duiwe vergelyk om die wenvolgorde te bepaal. Elke duif is toegerus met ‘n bandjie met mikroskyfie. Sodra die duif tuis arriveer, word die besonderhede van die skyfie deur ‘n antenna of kussing opgetel, op ‘n inklokapparaat geregisteer en dan na die sentrale beheerpunt se databasis oorgedra. Dit is deesdae selfs moontlik om die duif in vlug te volg deur middel van die GPS stelsel.
Die posduif sport dateer moontlik so vêr terug as 220 VC. Later jare is posduiwe waarskynlik uit die kransduif geteel. Hulle is vroeër veral in oorloë gebruik om boodskappe te dra. Die Rothschilds het hulle ook gebruik om dringende boodskappe tussen hul uitgebreide sakesentrums te dra. Posduifvlugte oor ‘n afstand van 1800 km is al aangeteken en so ‘n duif kan oor kort afstande tot 140km/u haal.
COMRADES ULTRA-MARATHON
Datum: 2015-05-31; Afstand: 87.7km. Vanaf Durban na Pietermaritzburg. Baie geluk aan elkeen wat die afstand binne die toegelate 12 uur kon aflê. Dit is ‘n moordende wedloop.
- Lulani Vermeulen: 11;49;37;
- Ben en Martie Lubbe se seun en skoondogter van Pretoria: Debbie-Anne Lubbe 11:44:57; Jaco Lubbe: 11:57:58.
ROLBAL
Ben en Martie Lubbe het weer ‘n slag of wat op Trompsburg gaan rolbal speel. Hulle het maar nou eers met die spel begin. Wie wil nog deelneem, dan maak ons beurte om te ry? Balle kan by die klub geleen word. Kontak Ben by ……………………….. .
VRYSTAAT SKAAKTOERNOOI
Op Saterdag 6 Junie is ‘n Vrystaat Skaaktoernooi wat deur Anita Muller gereël is, by die skougronde gehou. Daar was 32 deelnemers, merendeels vanaf Bloemfontein skole. Ons 8 plaaslike deelnemers het heel goed gevaar. Gedurende ontspanningstye kon skaakspelers ook perdry, skyfskiet en Chris Haw se klasse in skilderkuns bywoon.
RESEPTE VAN LESERS ONTVANG (Nie persoonlik getoets)
BEESSTERT POTJIE KOS RESEP
Bestanddele: Beessstert 2kg; Varkspek 100g; Vars room 250ml; Ui (groot); Soetrissie; Geelrissie; Aartappels (klein) 500g; Wortels 300g; Broccoli 100g; Sampioene 50g; Kaas 100g; “Mrs Balls’ blatjang 100g; Sout, peper, “Bisto” en Kookolie.
Metode: Sny die ui en rissies op in ringe en braai saam met varkspek tot gaar. Skep uit en hou tot later. Kook beesstert in water (sout na smaak) vir ten minste 4 ure tot amper sag. Sny wortels op in groot stukke van + 5cm. Voeg wortels (en sout na smaak) by en kook vir + 10 min. Voeg aartappels (en sout na smaak) by en kook tot amper sag – nie te sag nie. Voeg broccoli (en sout na smaak) by en stoom vir ‘n paar minute. Die kuns met die groente is om die hardste groente eerste te kook en die ander by te voeg sonder dat die eerstes pap kook. Hou die pot te alle tye toe en moet nie roer nie.Voeg sampioene (en sout na smaak), varkspek, uie en rissies by. Voeg blatjang by, en Bisto indien die sous te dun (loperig) is. Raspe kaas en strooi oor. Voeg room by. Laat stoom vir ‘n paar minute. Moet nie die groente wat vroeër bygevoeg is te pap laat kook nie. (Die wortels en broccoli moet nog kraak as jy dit byt.) Steek ‘n houtlepel aan die kant in en roer die pot een of twee keer liggies om, sonder om die groente stukkend te druk. Bedien met potbrood of rys en ‘n slaai van jou keuse.
CHRISTELIKE AKTIWITEITE
- NG Kerk Sondagoggenddienste is om 10vm.
- Gereformeerde Kerk Sondagoggenddienste is normaalweg om 9.30vm.
- Fanie en Adelé Venter se huisbyeenkoms is op Dinsdagaande om 6.30; almal welkom. Skakel hulle by …………………………. .
- Vir gebed en geestelike berading, skakel Ben Lubbe by 083 276 1887.
- ‘n Dissipelskapkursus groepie bestaande uit volwassenes uit Bergmanshoogte en Poding Tse Rolo het hul tweedejaarskursus oor die vier Evangelies suksesvol afgelê met slaagsyfers wat gewissel het van 65% tot 85%. Hulle het dit met ‘n gesellige ete gevier.
- “Soldiers for Christ”, ‘n interkerklike Christelike bediening onder leiding van Dr. Gideon Niemand, ‘n vroeëre satanis, hou ‘n seminaar, KEN JOU VYAND, in die lapa by die skouterrein; 26-28 Junie. Die Vrydagaand-byeenkoms om 18h00 is gratis. Skakel Amanda by …………………………. .
OORDENKING
GOD SE BELOFTES VIR JOU EN MY
Deuteronòmeum 28 bevat 13 versies met meer as 14 beloftes van wonderlike seëninge van God aan Sy volk Israel wat “oor hulle sou kom” en hulle sou “inhaal” as hulle Hom sou dien. Ons kan hierdie beloftes ook vir onsself toeëien as ons aan Hom behoort en ag gee op Sy leiding. Wonderlik! Kom ons kyk na ‘n paar daarvan.
En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, ... (V13a) Jy sal nie deur ‘n ander rondgeswaai word nie maar jy sal die oë wees wat die toekoms sien, die ore wat hoor wat aangaan, die mond wat die praatwerk doen, die brein wat die beluite neem en waar nodig, die rondswaaiwerk doen; kortweg: jy sal in beheer wees en nie beheer word nie.
… en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie…” (V13b) Jy sal nie al af, al af, hoe hard jy ookal swoeg, al af ondertoe gaan totdat jy verwese in die stof bly lê nie maar jy sal boontoe gaan, opstyg, jou posisie sal gedurig verbeter, jy sal uitstyg bo die omstandighede wat andere gevange hou, jy sal nuwe horisonne sien en nuwe rigtings uit knellend omstandighede vind.
God se beloftes is soos goue drade deur Sy ganse Woord gevleg. Kom ons kyk na nog ‘n paar voorbeelde.
Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. (Jer 29:11) Lekker! Die duiwel koester vir my ‘n nagdonker toekoms; ekself sien my toekoms dalk maar gryserig en onseker, maar God koester (beplan met sorg) vir my ‘n blink helder sonskyn toekoms waarop ek kan hoop en waarheen ek kan hardloop.
As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. (Jes 43:2) Ons leef op ‘n aarde van tsunamies, oorstromende riviere, swiepende veldbrande, vuurspuwende berge, motorongelukke, finansiële ineenstortings en wat nog meer. Dit is onrealisties om te verwag dat ons nooit deur toetse sal gaan nie maar hoe versterkend is dit nie om te weet dat die Heer nie uit die hemel sit en toekyk hoe ek spartel in die water of vlamme probeer doodslaan nie, maar dat Hy saam met my binne–in die situasie is.
Ons seun het die onlangse Comrades se wenstreep oorgesteek met net nog 2min en 2sek oor. Van die laaste kilometer weet hy algeheel niks en net oor die lyn, het hy sy bewussyn verloor en moes hy 3 maal vir 10 minute lank in ‘n bad met ys gelê word om sy koors af te kry en daarna per ambulans na ‘n hospitaal vir verdere behandeling geneem word, maar hy het geen beinskade of skade aan sy hartspier oorgehou nie. “… as jy deur die vuur gaan …” !
Selfs wanneer die kind van God op ‘n siekbed beland, laat die Here hom nie net aan die mediese personeel oor nie maar staan hom persoonlik by. Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is. (Ps 41:4)
Daar is geen, maar geen behoefte wat ons mag beleef, waarin die Here nie sal voorsien nie. En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. (Fil 4:19) Selfs na die dood skenk Hy ons die ewige lewe.
Met soveel beloftes en waarborge is dit dom om nie die Here te dien nie en behoort elke kind van God elke dag met ‘n huppel deur die lewe te stap.
BYBELSTUDIE-MATERIAAL
Kos vir die siel. Kyk gerus ‘n bietjie na die Bybelstudie-materiaal en ander leestof in Afrikaans op hierdie webwerf. Dit bevat diepgaande Bybelstudies oor die boek Genesis en die Evangelies, asook korter onderwerpstudies en “Kort Gedagtes” vir die haastige leser. Studiemateriaal kan gratis uitgedruk word sodat jy dit rustig in jou gemakstoel kan sit en bestudeer.
UITGEWER
Hierdie nuusblaadjie is uitgegee deur Ben en Martie Lubbe.
Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.
Comments are disabled.